Op 21 Mei 2023 het SpaceX sy Falcon 9-vuurpyl gelanseer – sy tweede privaat gefinansierde, bemande vlug na die internasionale ruimtestasie. Mense was verstom deur die ongelooflike krag van die vuurpyl se enjins, wat 1,7 miljoen pond se stukrag verskaf het om dit die ruimte in te stuur. Hulle was selfs meer beïndruk toe die eerste-fase vuurpyl self geland het – gereed vir hergebruik. Die tegnologie wat gebruik is om die AX-2-sending se bemanning na die ruimtestasie te stuur en weer terug te bring, is beslis indrukwekkend en baie mense droom oor ’n toekomstige sending om Mars te koloniseer. Indien ons ’n ruimtetuig na Mars sou stuur, sal dit ook nodig wees om alles te voorsien wat mense nodig sou hê vir die agt tot nege maande-lange reis, asook die voorrade wat nodig is om ’n nuwe gemeenskap op die rooi planeet te begin.

Veronderstel nou dat God se skepping rééds ’n kapsule bevat het wat nuwe plekke kon koloniseer terwyl dit lewe inhou asook al die voorrade wat nodig is om dit te onderhou? Laat ons verder bepaal of hierdie vaartuig voldoende geprogrammeerde inligting bevat om die geboorte, groei, ontwikkeling en voortplanting van die inhoud daarvan vir ongekende generasies van lewe te beheer. Laat ons dan die vermoë byvoeg om aan te pas binne die perke van sy programmering om uitdagende omgewings te trotseer. ’n Beskermende kapsule, vervoermiddels, die nodige voedselvoorraad – alles behoort ingesluit te wees.

Verder, wát as die Skepper al daardie tegnologie en lading gekrimp het tot iets so groot soos ’n potlooduitveër en dit skynbaar ligter as lug gemaak het? Kan dit moontlik wees dat al hierdie tegnologie heeltemal vervat was in ’n kwart-duim-kapsule wat minder as 500 mikrogram weeg en sonder ’n span rekenaar-ingenieurs, fisici en weerkundiges moes funksioneer? Is dit belaglik?

Glad nie! Sulke tegnologie word waarskynlik onder die skoene van mense vertrap wat in die lug staar na SpaceX-bekendstellings. Onder hulle voete, binne-in die grond, lê die algemene, maar merkwaardige perdeblomsaad.

Waarlik ’n vlieënde masjien

Perdeblomsade [Dandelions] is van die beste vlieërs in die natuur, wat van die wind gebruik maak en so ver as 150 kilometer (ongeveer 93 myl) versprei – alles sonder om ’n enkele pond stukrag te genereer. Elke saadjie is deur ’n lang buisie gekoppel aan ’n valskermagtige struktuurtjie wat bestaan uit haaragtige borseltjies. Die blomsaadjies en hulle valskermpies vorm die pofballetjies wat graag deur kinders in die wind rondgestrooi word. Onlangse navorsing skep ’n ingewikkelde prentjie van hierdie sade – onmiskenbaar ontwerp om te kan vlieg.

Gedurende ’n studie in 2018 het wetenskaplikes, die vlug van perdeblomsade nageboots met ’n windtonnel en nagemaakte silikon, tesame met werklike perdeblomsaadmonsters. Wat hulle gevind het, was ’n baie duidelike “windborrel”-patroon wat rondom die saad gevorm het namate dit in vlug gestabiliseer het – soortgelyk aan wat u in vloeiende water mag sien soos draaikolke al om ’n klip in ’n stroompie vorm. Hierdie borreltjie vorm wanneer nét die regte hoeveelheid lug deur die valskermpie deurgelaat word (“poreusheid”) en net die regte hoeveelheid lug deur die valskermpie weerstaan word. Die gevolglike lugturbulensie “verbind” met die saad net solank die poreusheid tussen 77.42 en 84.97 persent bly. Merkwaardig genoeg bereik die saad self op kundige wyse hierdie optimale sone van poreusheid! Hierdie merkwaardige balans word bereik in ontelbare suksesvolle saad-“vlugte” op ses van die aarde se vastelande. Geen regerings of private ruimteprogram het al so ’n suksesrekord behaal nie (“Innovative plant: How does the dandelion drift its seeds?,” University of Notre Dame, 2021).

Hierdie klein sweeftuigie vou egter soms van sy saadbuisies styf teen mekaar vas en verhoed dit om te vlieg. Die perdeblomsaad is in staat om aanpassings te maak wat baie ooreenkom met ’n vuurpyllansering wat op die laaste oomblik afgelas word wanneer ’n stormstelsel inbeweeg. Wanneer vogvlakke in die atmosfeer hoog is, sluit die perdeblomvalskermpie toe, wat die saad dan laat val naby die moederplant in ’n area met genoegsame watervoorsiening. Die saad is ook in staat om die valskermdakkie heeltemal oop te maak, ten einde voordeel te trek uit ligte winde wat meer geneig is om in droë atmosferiese toestande voor te kom.

Miniaturisering op sy beste

Die wyse waarop die perdeblom se valskermvorm verander, was ’n raaisel tot 2022, toe ’n span internasionale navorsers, humiditeitsbeheerde kamers en ’n elektronmikroskoop gebruik het om hierdie aksie te bestudeer. Aan die basis van die haaragtige borseltjies wat die valskermpie vorm, het wetenskaplikes plantweefsels gevind wat die haartjies laat oop- en toegaan. Hierdie aktiverende weefsels absorbeer vog in verskillende mates. Dit dy uit in droë toestande en krimp in nat toestande – tog word geen waardevolle energie in hierdie passiewe proses gebruik nie.

Deur die valskermborseltjies onder ’n elektronmikroskoop te ondersoek, het navorsers gesien hoe die ingewikkelde manier waarop die plantweefsels geheg is, op ’n radiale patroon gerangskik is wat gekoördineerde, gelyktydige en simmetriese opening en sluiting van die valskermpie verseker. Hierdie selfgerigte, weerafhanklike voorbereiding voor die vlug, tesame met sy voortstuwingstegnologie, is nie minder merkwaardig as enige vuurpyl nie (“Dandelion pappus morphing is actuated by radially patterned material swelling,” Nature Communications, 6 Mei 2022; “Engineers uncover secret ‘thinking’ behind dandelions’ seed dispersal,” Imperial College London, Imperial.ac.uk, 1 Junie 2022).

Daar is selfs merkwaardiger kompleksiteit betrokke by die nederige perdeblomsaad as sy vlug-vlieg-apparaat. Soos alle sade, bevat dit die genetiese inligting wat nodig is om ’n nuwe plant te vorm wat weer op sy beurt self saad sal produseer. Selfs die kleinste saadjies bevat ’n geweldige hoeveelheid inligting. Volgens Scientific American sou “die 74 miljoen grepe inligting in die Library of Congress in ’n DNS-argief, so klein soos ’n papawersaad, ingebondel kon word – 6,000 keer meer” (“DNA: The Ultimate Data-Storage Solution,” 28 Mei 2021)

Die perdeblomsaad het ook ’n komponent wat die endosperm genoem word, wat al die nodige voedingstowwe bevat vir die embrio om ’n saailing te vorm en wortel te skiet in die grond waar dit beland. Die saadhuid – sónder die hulp van materiale en metale waaruit ’n vuurpylskild saamgestel is, is voldoende om die waardevolle vonk van toekomstige lewe daarbinne te beskerm. Hierdie merkwaardige omhulsel kan selfs ongeskonde bly regdeur die hele spysverteringskanaal van ’n saad-vretende voël of soogdier, sodat die saad kan ontkiem en ontwikkel wáár dit ook al in die grond beland.

Ons ongelooflik vervaardigde “lewenskapsule”

Die mensdom het vir duisende jare bestaan sonder die voordeel van vuurpyle. Wat sou egter gebeur wanneer ’n saad nie volledig was nie, nie in staat was om te ontkiem en uiteindelik volwasse te word nie? Wat sou gebeur indien selfs net een gedeelte of een stukkie van ’n ingewikkelde saad sou ontbreek of slegs gedeeltelik ontwikkel en gevorm sou word? Indien dit nie was vir die onderlinge samewerking van dele en stukke nie, sou dit nie kon dupliseer en ’n saadproduserende plant vorm om voort te bestaan nie. Dit sou so nutteloos wees soos ’n multi-miljard-dollar-ruimtetuig met ’n los skroef. Saad, wat ’n deurslaggewende basis vir lewe op aarde vorm sou ophou bestaan en lewe self sou in gevaar gestel gewees het.

Vuurpyle word deur ingenieurs, werktuigkundiges en verskeie spanne wetenskaplikes gebou. Deur wie is die eerste saad egter gebou? Indien dit vanaf ’n plant kom, waar het daardie plant vandaan gekom? Sommige welbekende wetenskaplikes soos Fred Hoyle en Richard Dawkins, het die idee van panspermie gehuldig – dat buite-aardse organismes ons planeet besaai het. Dit is ’n verbeeldingryke manier om die wiskundige onwaarskynlikheid van lewe op aarde wat toevallig ontstaan, te vermy. Die probleem bly nogtans bestaan – hoe het die veronderstelde buite-aardse wesens en organismes ontstaan?

Dit is nie nodig dat ons slegs ’n denkbeeld vorm van die wonderlike werklikheid van die perdeblomsaad nie. Selfs ’n nederige perdeblomplant laat nie sy daaropvolgende generasies sonder ’n volledige genetiese weergawe van die inligting agter wat sy lewe beheer nie. Het u Skepper dalk ’n verslag agtergelaat van hoe u begin het? Sal dit nie interessant wees om self uit te vind nie? Begin vandag met die Bybelse boek Génesis om te leer hoe God ’n “ruimtekapsule” gevorm het – selfs meer ingewikkeld as ’n perdeblomsaad. Ons noem dit Aarde.