Slagoffers van ons eie sukses

Daar sal van volgende maand af ’n verandering wees in die aantal die Wêreld van Môre-tydskrifte wat u per jaar ontvang. Laat ek verduidelik hoe ons by die Wêreld van Môre, slagoffers is van ons eie sukses.

Sukses beteken nie vir almal dieselfde nie. Vir baie mense beteken sukses om ’n gelukkige lewe te lei, ’n lewe met genoeg geld om die dinge te doen wat ’n mens graag wil doen. Vir sommige mense beteken dit ’n huwelik en kinders, wat meestal dan ook kleinkinders insluit. Vir ander mense beteken dit “om die korporatiewe leer te klim” of om beroemdheid te verwerf. In my boodskap verlede maand in die Tomorrow’s World-artikel van Julie 2023, “Where can we find true meaning”, het ek die sin van die lewe bespreek. Watter groter sukses kan daar wees as om God se doel vir u bestaan te ontdek en te vervul?

Op ’n ander vlak moet ons vra wat beteken sukses vir die Wêreld van Môre. Vir die meeste ondernemings beteken dit hoe groot die winsgrens is – meer verkope beteken groter inkomste en dit beteken groter sukses. Hier by die Wêreld van Môre meet ons sukses op ’n ánder manier. Sukses vir ons is hoeveel tydskrifte ons kan weggee en ook hoeveel mense ons kan bereik met die waarheid van die Bybel – terloops, daardie waarheid, is nie wat die meeste mense dink nie. In breë trekke beteken sukses vir ons om die Werk te doen waarvoor God ons geroep het. Dit is om die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig en om die wêreld te waarsku oor wat sekerlik sal gebeur tensy daar ’n totale ommekeer is om ’n ander rigting in te slaan. Ons sien geen bewyse van daardie verandering nie.

 

Toegewy aan die waarheid

In ons hedendaagse samelewing word waarheid dikwels as veranderlik beskou. Ons hoor daar word gesê dat “jou waarheid nie mý waarheid is nie”. Dit is waar dat almal se siening van waarheid nie dieselfde is nie. Waarheid is egter waarheid en dit word nie aan elke individu oorgelaat om dit te besluit nie. Ons bou nie brûe of vliegtuie op grond van iemand se siening van waarhede van ingenieurswese nie. Alhoewel daar verskillende ontwerpe is, is daar geen “veranderlikheid” in wat werk of wat nie werk nie, wanneer dit kom by ingenieurswese, wiskunde en ’n menigte ander onderwerpe.

Die probleem ontstaan wanneer menslike gedrag bespreek word. Dit is makliker om oor moraliteit te argumenteer as oor aërodinamika en mense hou baie daarvan om hulle eie menings van morele standaarde te opper. Indien ons die resultaat van blinde toeval deur evolusionêre prosesse is, dan kan enigiemand se idees dalk korrek wees. Selfs wanneer dit by menslike gedrag kom, werk sommige dinge en ander werk nié.

’n Getroue, monogame huwelik tussen ’n man en ’n vrou werk byvoorbeeld baie, baie beter as die groot aantal “alternatiewe” reëlings wat vandag tussen paartjies oorweeg word. Die aktiviste, Marshall Kirk en Hunter Madsen was waarskynlik die mans wat grootliks daarvoor verantwoordelik was om mense te oortuig om homoseksualiteit in Amerika en die wêreld te aanvaar en hulle invloedryke werk, After the Ball: How America Will Conquer Its Fear and Hatred of Gays in the 90’s, het ’n virtuele beskrywing vir die nuwe seksuele moraliteit van ons tyd verskaf. Hulle erken egter dat in heelwat van wat hulle waargeneem het in homoseksuele gedrag, problematies was. Hulle erken dat “verhoudings tussen gay mans gewoonlik nie baie lank hou nie ... Die romantiese verhouding van ’n man met ’n man is inherent minder stabiel as die verhouding tussen ’n man en ’n vrou. (Jammer as die waarheid seermaak.)” Hulle kom tot die gevolgtrekking dat, in vergelyking met heteroseksuele paartjies, “die ontrouheidsratio van ‘getroude’ gay mans – gegewe genoeg tyd – tans 100% is”.

Al ons pogings om reg en verkeerd sélf te definieer, maak die lewe onvermydelik slegter vir die mensdom, nie beter nie.

God alleen kan reg en verkeerd definieer (Psalm 16:2). God alleen kan die einde van die begin af bepaal (Jesaja 46:10). God alleen sal heers wanneer die verhaal volledig geskryf is (Openbaring 11:15). Die Wêreld van Môre is daartoe verbind om die waarheid van God, soos dit vervat is in Sy Woord, te verkondig met die verspreiding van ons tydskrifte, weeklikse TV-uitsendings, boekies, DVD’s, CD’s, die Bybelstudiekursus ensovoorts.

 

Wat is tans besig om te verander en waarom?

Met die begin van die COVID-19 inperkings gedurende Maart 2020 het ons verwag dat donasies sou afneem en ek het dit genoem in ’n brief aan lede van die Lewende Kerk van God en ons medewerkers – die borge van die Wêreld van Môre. Hulle het mildelik reageer volgens hulle vermoëns en ons was en is steeds baie dankbaar vir hulle lojaliteit en ondersteuning sodat almal nog steeds ons hulpbronne gratis kan ontvang.

Iets het egter gedurende die volgende twee jaar gebeur wat ons glad nie te wagte was nie. ’n Man met ’n omvangryke boedel het ons as begunstigde in sy testament benoem en ons het ook ander spesiale skenkings ontvang. Ons het onsself skielik in die beste finansiële posisie in ons geskiedenis bevind en ons wou nie op ons louere rus en niks doen terwyl die wêreld besig was om uitmekaar te val nie. Ons plan was toe om hierdie reserwes aan te wend deur die Werk uit te brei. Ons het dadelik voorkeur aan die tydskrif gegee en die aantal intekenaars het meer as verdubbel vanaf 301,000 in Januarie 2020 tot 615,000 in Januarie 2023. Teen dieselfde finansiële koste het ons in 2021 die aantal tydskrifte per jaar van ses tot tien vermeerder.

Natuurlik wil ons graag ’n groot getal lesers eerder as bloot ’n groot getal intekenaars hê. Om dus finansieel verstandig te werk te gaan, vra ons van tyd tot tyd dat ’n persoon sy gratis intekening hernu. Die rede hiervoor is dat indien ons byvoorbeeld vir drie jaar nie van iemand gehoor en geen versoek vir enige literatuur ontvang het nie, wil ons graag uitvind of daardie intekenaar nog in ons literatuur belangstel. Wanneer ’n intekenaar nie op die gratis hernuwingsaanbod reageer nie, stuur ons nie langer die tydskrif aan hulle nie. Met verloop van tyd het ons die hernuwingstydperk van drie jaar na twee jaar verminder en daarom het die aantal intekenaars die afgelope maande tot onder 600,000 gedaal. Die tydskrif sal altyd gratis beskikbaar bly vir alle intekenaars – soos Jesus beveel het: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Matthéüs 10:8). Ons wil egter seker wees dat elke intekenaar wel die tydskrif wil hê.

Ons het ook verskeie personeel in televisieproduksie en redaksie aangestel wat ons nodig gehad het en ons het ons begroting verhoog vir die aankoop van uitsaaityd op televisiestasies. Ons besef egter nou dat die tyd aangebreek het om rem aan te draai met ons besteding. Drukkerskoste en posgeld het aansienlik verhoog. Selfs klein verhogings moet in berekening gebring word wanneer meer as ’n halfmiljoen tydskrifte betrokke is en vier ekstra uitgawes per jaar is geen geringe finansiële uitgawe wanneer die aantal intekenaars verdubbel nie. Dit is waarom ons nou weer die Wêreld van Môre slegs ses keer per jaar gaan publiseer, vanaf die September-Oktober-uitgawe.

In baie opsigte is ons slagoffers van ons eie sukses. Ons is opgewonde om te weet dat ons aantal intekenaars verdubbel het. Ons is ook gelukkig dat ons die aantal sowel as die kwaliteit van die televisiestasies wat die Tomorrow’s World-programme uitsaai, kon verhoog. Ons is dankbaar vir die nuwe aanstellings wat bydra tot die kwaliteit en verspreiding van ons werk. Ons is ook dankbaar dat ons vir die grootste deel van twee jaar lank die groter aantal tydskrifte aan u kon stuur. Ten spyte daarvan dat ons sekere bestedings moes verminder, gaan ons steeds vooruit.

Soos die meeste van die lesers van die Wêreld van Môre weet, is die mensdom besig om ’n baie verkeerde koers in te slaan. Die wêreld is in geopolitieke onrus vasgevang namate ou bondgenootskappe uitmekaarval en nuwes word aangegaan. Sommige mense glo dat die eerste skote van die Derde Wêreldoorlog reeds afgevuur is. Die voorblad van ons April-May Tomorrow’s World vra: “Has World War III Already Begun?” Die Verenigde State en ander lande is besig om op ’n finansiële afgrond af te stuur, waarvan die gevolge verwoestend sal wees. Europa is in ’n krisis en dit is as gevolg van krisisse dat charismatiese leiers na vore kom om hulle “oplossings” voor te stel. Hulle mag aanvanklik as redders voorkom maar soos ons uit die geskiedenis geleer het, eindig hulle pogings om mag te verkry, nie altyd goed nie. Bybelprofesie openbaar dat ’n eindtydse politieke leier en ’n charismatiese godsdiensleier in die nabye toekoms, vernietiging sal bring.

Ons moet nie nalaat om die goeie nuus te verkondig wat Jesus aangaande die toekomstige Koninkryk van God gebring het nie (Lukas 4:43; Markus 16:15) en ons moet nie nalaat om die mensdom te waarsku nie: “ ... die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug!” (Spreuke 24:11).