Vrae oor God?
Het u al ooit gewonder of God werklik bestaan? Kan u verseker weet? Kan u dit bewys? Is daar een ware God of is daar baie gode? Is die idee van God net die produk van menslike verbeelding? Maak dit enige verskil of u aan God glo of nie? Hierdie is van die belangrikste vrae wat u ooit kan vra. In ons “moderne” wêreld vandag weet ons egter meer van televisieprogramme, beroemde persone se privaat lewens en professionele atlete se statistieke as wat ons van God weet!
Miljoene mense bely dat hulle in God glo, nogtans is die ware God egter vir die meeste mense nie ’n werklikheid nie. Hoe werklik is God vir u? Is die God wat deur u aanbid word dieselfde God wat in die bladsye van die Bybel openbaar word – of is u idee van God iets wat deur menslike idees opgetower is? Het die twyfel en skeptisisme wat ons samelewing deurdrenk, u idee oor God beïnvloed? Vandag het baie mense regtig probleme om deeglik gegronde antwoorde met betrekking tot God te vind.
Dit mag u dalk skok om uit te vind dat ons moderne, gesofistikeerde, goed opgeleide mensdom mislei is wat betref die lewe se belangrikste vrae! Die waarheid oor die ware God is verdraai en onderdruk – nie net deur ateïstiese filosowe en wêreldse wetenskaplikes nie, maar deur misleide teoloë! Dit klink dalk na ’n verregaande stelling, maar dit is presies wat die Bybel openbaar sou gebeur en dit word ook deur geskiedkundige feite gestaaf, soos ons in hierdie boekie sal verduidelik.
Ateïste beweer dat God nie bestaan nie en dat die idee van God ’n versinsel van die menslike verstand is. Agnostici sê dat dit onmoontlik is om te weet of God bestaan of nie. Evolusionêre bioloë verkies om te dink dat God nie benodig word nie. Wêreldse wetenskaplikes wil God oor die hoof sien met alle besprekings weens hulle siening dat die hele idee van God op persoonlike geloof berus en nie op bewyse nie. Onwetend speel hierdie misleide en verkeerd ingeligte teoloë so reg in die hand van hierdie misleide persone dat ’n mens God se bestaan aanvaar in blindelingse geloof – glo net – geen bewyse is nodig of moontlik nie!
Met sogenaamde kundiges wat soveel teenstrydige idees aanbied is dit dan geen wonder nie dat die gemiddelde mens twyfel en voorbehoude het aangaande God. Twyfel u enigsins? Ons vra vir ’n kwitansie as bewys wanneer ons ’n item gekoop het. Ons ontvang ’n depositostrokie wanneer ons geld in die bank deponeer. Wanneer dit egter kom by die belangrikste vraag in ons lewe, word ons vertel dat ons “dit in geloof kan aanvaar” – blindelings – sonder enige bewys dat God bestaan! Of, ons luister na “kundiges” wat beweer dat God nie bestaan nie of dat ons dit nie verseker kan weet nie. Ons bevraagteken dit nie ernstig of vereis egter geen bevestiging vir sulke dramatiese stellings nie.
Vir die grootste gedeelte van die afgelope eeu het baie mense dit as vanselfsprekend aanvaar dat die wetenskap die heelal sonder God kan verduidelik en dat Sy bestaan twyfelagtig is. Soms word beweer dat intelligente mense nie meer in God glo nie, alhoewel niks verder van die waarheid af kan wees nie! Teoloë wat verskonings maak vir die Bybel en daarvan wegskram om dogmatiese stellings oor God en Sy Woord te maak in ’n poging om wetenskap en godsdiens in harmonie te bring, het slegs daarin geslaag om hulle eie invloed te ondermyn. Georganiseerde godsdiens is vandag meestal aan die afneem bloot omdat die waarheid aangaande die ware God geïgnoreer, verdraai en onderdruk word.
Die God van die Bybel daag ons uit om te bewys dat Hy werklik bestaan en Hy wys ons op spesifieke maniere hoe om dit te doen. Die ware God voorspel die toekoms en daag enigeen uit om dieselfde te doen met enige soortgelyke mate van akkuraatheid. Die God wat die Bybel geïnspireer het, stel dit onbeskroomd dat ’n lewe in stryd met Sy instruksies, rampspoedige gevolge sal hê. Die ware God gaan Jesus Christus terugstuur om ’n einde te maak aan die mens se wanbestuur én om Sy magtige Koninkryk te vestig – hier op aarde – en nie in die hemel nie, as ’n wêreldheersende Regering met die hulp van Sy heiliges. Is dít die God wat u aanbid? Is dit die God waarvan u hoor wanneer u kerk bywoon of inskakel op ’n godsdienstige radio- of televisie-uitsending? Waarskynlik nie!
In hierdie boekie sal u sien hoe en waarom die waarheid oor die ware God verdraai en onderdruk word. U sal leer waarom ons moderne samelewing so skepties is wanneer dit kom by vrae oor God. U sal sien waarom die mensdom se vrae oor God nie bloot net sal verdwyn nie. U sal self ook sewe definitiewe bewyse kan bestudeer wat bevestig dat God sonder twyfel werklik en lewend is!
Dit is eerstens nodig om te verstaan waarom ons moderne kultuur so skepties en verward is wanneer dit kom by vrae oor God en hoe dit kon gebeur. Laat ons daarop let waarom geloof in God as onbelangrik geag word en ondersoek die gevolge van daardie misleide benadering. U kan nie bekostig om in die donker rond te tas oor sulke uiters belangrike kwessies nie. Die ware antwoorde mag u dalk skok en verras!
Oppervlakkige godsdiens
Onlangse meningsopnames het getoon dat ongeveer 95% van alle Amerikaners in God glo, maar tog leef baie van hulle hul lewens asof God nie bestaan nie. Meer as 80% Amerikaners woon selde of ooit kerk by of lees nooit die Bybel nie. Slegs omtrent 30% van hulle beskou die Woord van God – die Bybel – as die finale gesag in hulle lewens. Die meeste mense volg slegs hulle eie gewete en doen wat hulle dink die beste is of doen net wat hulle wil! In Europese lande is geloof in God veel minder en daar is die aantal mense meer wat nie gereeld godsdiens van enige aard beoefen nie. In Brittanje, Frankryk, Italië, Duitsland en Skandinawië, glo slegs 30% of minder in ’n persoonlike God (The Empty Church: The Suicide of Liberal Christianity, Reeves, 1996, bll. 51, 61-65). Hierdie statistiek dui daarop dat geloof in God vir die meeste mense tans, selfs in sogenaamde “Christelike” lande, eenvoudig nie ’n tersaaklike en praktiese deel van hulle daaglikse lewens is nie. Suid-Afrika is nie hiervan uitgesluit nie.
Belangstelling in godsdiens is aan die orde van die dag in Amerika, maar Amerika word beskryf as ’n wêreldse en materialistiese samelewing. Vanderbilt Divinity School se professor Edward Farley maak die stelling dat “godsdiens van minder belang is” in Amerikaanse kulturele instellings – regering, sakewêreld, onderwys en vermaak. George Gallup wat meningsopnames doen het bevind dat Amerika ’n “nasie van Bybelongeletterdes” is, waar minder as die helfte van alle volwassenes die name van die vier Evangelies van die Nuwe Testament kan opnoem (ibid., bll. 49, 63). Minder as die helfte van alle Amerikaners kan selfs nét vyf van die Tien Gebooie opnoem – daardie fundamentele beginsels wat die ware God vir menslike samelewing uitgestippel het. Wanneer mense nie eens die Gebooie kan opnoem nie, is dit geen wonder dat hulle nie daarvolgens kan leef nie!
Vandag beoefen baie mense ’n oppervlakkige “verbruikers-Christelikheid” of “kafeteria-godsdiens”. Dit beteken baie mense kies en keur watter godsdienstige beginsels hulle wil glo en verwerp dan daardie leerstellings wat vir hulle onaanvaarbaar is. Vir baie mense is godsdienstige oortuiging dikwels persoonlik, vaag, algemeen en onseker. Hulle vlak van oortuiging en vertroue is baie keer taamlik min. Geloofsleerstellings is gewoonlik vaag. Elke persoon neig om te glo wat vir hom of haar reg lyk. Dit is deel van die nalatenskap van die Protestantse Hervorming, waarvolgens die individu en nie die kerk of die Bybel, die enigste gesag is nie (ibid., bll. 61-62). ’n Tiener het op ’n verslaggewer se vraag wat sy van God dink geantwoord: “God is oral. God is in my. Ek is God”. Sulke menings is, soos ons sal sien, betreurenswaardige wanopvattings!
Amerika en die Europese lande het ’n sogenaamde “na-Christelike era” (ibid., hoofstuk 2), betree. Ons glo nie meer aan die werklike leerstellings van Jesus Christus, soos vervat in die Woord van God nie. Die Bybel gee uitdruklik te kenne dat Jesus Christus sal terugkeer om op hierdie aarde te regeer saam met Sy heiliges (Daniël 2:44-45; 7:27; Openbaring 5:10; 11:15-18). Hoofstroom Christendom verkondig nogtans dat ons almal hemel toe gaan en die meeste belydende Christene verkies om dit te glo. God beveel ons om die Sabbat te gedenk (Exodus 20:8-11), maar die meeste mense “doen hulle eie ding” op hierdie dag. Die Bybel veroordeel voorhuwelikse seks, egbreuk en moord en tog is ons samelewing deurdrenk met hierdie gedrag. Die hoogaangeskrewe opvoedkundige, skrywer en Amerikaanse staatsamptenaar, William Bennett, het geskryf: “Ons het die soort samelewing geword waarheen beskaafde lande gewoonlik sendelinge gestuur het” (ibid., bl. 66). Dit is hoofsaaklik omdat ons die ware God vergeet, verwerp of dalk nooit eens van Hom gehoor het nie. Hoe het dit egter gebeur?
Redenasies neem die plek in van godsdiens
Amerika wat op hulle munte aan die wêreld verkondig dat hulle op God vertrou (In God We Trust), het hulle oorsprong uit Europese nasies. Europa het die kennis oor die ware God van die Apostels ontvang, wat dit vanaf Jerusalem na die Europese nasies gebring het. Ons leer op skool dat die Westerse beskawing gebou is op die edele idees van die Griekse demokrasie en Romeinse reg. Die Bybel en die geskiedenis toon tog albei hoe die misleide godsdienstige idees van hierdie antieke, heidense kulture bygedra het tot die huidige verwarring. In Handelinge lees ons dat die apostel Paulus die bygelowige heidense Atheners vertel het van die een, ware God. Ná hy ’n inskripsie gesien het wat lees: “Aan ’n onbekende God” sê hy: “Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle” (Handelinge 17:23). Hulle kon wel demokrasie beoefen het, maar hulle was ongelukkig verkeerd ingelig oor die godsdienstige waarheid!
In Rome was Paulus selfs meer op die man af. Hy vertel aan die Romeine: “want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar” (Romeine 1:18-19). Hy vertel aan dié geleerde Romeine dat hulle geen verskoning het om nie te weet van die ware God nie, “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word” (Romeine 1:20). Paulus sê verder dat misleide mense, “alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie”. Die gevolg was dat hulle begrip verduister is en “hulle het dwaas geword in hul oorlegginge … hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” (Romeine 1:21-25). Die Bybel openbaar hier ’n merkwaardige menslike neiging en die gevolge daarvan: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid,” wat gelei het tot wydverspreide geestelike verwarring, fisiese immoraliteit en maatskaplike euwels wat ons vandag steeds in die gesig staar (Romeine 1:26-32).
Baie mense van vandag besef nie dat die kennis van die ware God en ware Christenskap wat Paulus na Griekeland en Rome gebring het, spoedig deur ’n mengelmoes van heidense godsdienstige idees besmet is nie. Die Rooms-Katolieke geskiedskrywer Will Durant skryf: “Die Christendom het die heidendom nie vernietig nie, dit het dit aangeneem”. Dié vorm van Christendom wat in Europa ontwikkel het en later na Amerika en die res van die wêreld versprei het “was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (Caesar and Christ, 1944, bl. 595). Durant en ander geskiedskrywers verduidelik dat geloof in die een ware God as gevolg van die invloed van heidense filosofie, ’n geloof in ’n Drie-eenheid geword het. Hulle merk op dat verdraaide gnostiese [nie-gelowige] idees “die Christelike geloof verduister het” en dat teoloë wat opgelei was in heidense filosofie die Wese van God probeer verduidelik het deur bespiegeling, in plaas daarvan om te leer wat God oor Homself openbaar in die Skrif. Ná eeue van soortgelyke besprekings en debatte is dit nie vreemd dat die dikwels abstrakte God van die moderne Christelikheid min ooreenstem met die ware God van die Skrif nie.
Ander Europese idees het ook die leerstellings aangaande die ware God ondermyn en verander. Die Verligting van die 18de eeu en wetenskaplike ontdekkings wat klaarblyklik die Bybel weerspreek, het sommige mense tot die gevolgtrekking laat kom dat die Bybel en die God van die Bybel slegs fabels is (verwys God’s Funeral, Wilson, 1999). Darwin se beskouings oor evolusie het gelyk asof dit die behoefte aan die God van die Skepping laat verdwyn het. Julian Huxley, ’n voorstander van Darwin se idees, het selfversekerd gesê: “Daar is nie meer ’n behoefte of plek vir bonatuurlike wesens wat die verloop van gebeure volgens die patroon van evolusie of denkwyse kan beïnvloed nie. Die aarde is nie geskep nie, dit het ontwikkel. Dieselfde geld vir die diere en plante wat daarop bestaan, met inbegrip van die mense self, hulle verstand en siel, brein en liggaam”. Huxley het ook onomwonde verklaar dat “God prakties gesproke geen ooreenkoms toon met ’n heerser nie maar met iemand met ’n selfvoldane glimlag van oor tot oor”. Op grond van hierdie klaarblyklik oorweldigende ontdekkings deur die wetenskap, het teoloë die aftog geblaas en van hulle leerstellings oor God afstand gedoen.
Huxley het ’n ander opmerking gemaak wat steeds hedendaagse sienings oor God beïnvloed: “Ons konsep van God behoort godsdienstige ondervinding te beklemtoon in plaas van ’n geloof in ’n spesifieke geloofsleer”. Met ander woorde, God is daardie warm gevoel wat u in u hart voel – nie ’n Opperwese wie se bestaan u kan bewys en wat in die geskiedenis ingryp nie. Hierdie idee is in die 1600’s deur die Franse filosoof Pascal verkondig: “Dit is die hart wat God ervaar, nie die rede nie”. Die Hervormingsteoloog, John Wesley, het ook gepraat van die “warm gevoel van die hart” as ’n teken dat iemand godsdienstige waarheid ontdek het. Al hierdie idees druis nogtans in teen die vermaning van Paulus aan ’n Griekse gehoor: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die profeet Maleági haal God aan in dié woorde: “... beproef My tog” (Maleági 3:10). Bewyse behels grondige, oortuigende redes. Geloof in die ware God behels die verstand, nie bloot net ’n warm gevoel in u hart nie!
Gedurende die afgelope twee eeue het baie intellektueles in die Weste, as sogenaamde kinders van die Verligting, geloof in God aangeval. Die Duitse filosoof, Nietzsche, het aangevoer: “God is ’n gedagte”. Freud het geloof in God, ’n vorm van geestesafwyking genoem wat die mensdom met verloop van tyd sou ontgroei. Karl Marx het godsdienstige geloof “die opium van die mensdom” genoem. H. L. Mencken, ’n ateïs, het aangevoer: “God is die eeuoue toevlug van die onbevoegdes, die hulpeloses, die ellendiges”. Die dramaturg Tennessee Williams het God beskryf as ’n “seniele misdadiger”. In die 1960’s het vooraanstaande teoloë Nietzsché se vroeëre idees aangehaal en inderdaad gevra: “Is God dood?” Richard Dawkins, ’n dierkundige van Oxford, het in ’n toespraak met die titel A Scientist’s Case Against God, genoem dat daar geen bewyse is om godsdiens te steun nie en dat die meer opgevoede mense dit erken (Science, 15 Augustus 1997, bl. 892). Hy het beweer dat elkeen wat in God die Skepper glo “wetenskaplik ongeletterd” is.
Op grond van hierdie soort aanvalle teen geloof in God, die byna afwesigheid van kragtige Bybelse leerstellings deur geestelikes en die gebrek aan eerlike, objektiewe aanbiedings van fisiese bewyse deur wetenskaplikes, is dit nie vreemd dat die ware God van die heelal vandag onbekend is aan die meeste mense nie. Vrae behoort egter gevra te word. Is die kritici reg of is hulle mislei? Het die uitlatings van wêreldse ateïstiese persone ons samelewing tragies mislei oor God? Laat ons let op verskeie belangrike lesse wat ons kan leer uit die Bybel en uit ons onlangse verlede wat betrekking het op vrae oor God. Daarna sal ons dan sewe bewyse ondersoek wat die werklikheid van die ware God sal bewys.
Nuwe bewyse, nuwe lesse
Dawid het meer as 3,000 jaar gelede in die Psalms geskryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Psalm 14:1). Salomo stel dit só: “... die mond van die dwase laat sotheid uitborrel” (Spreuke 15:2). ’n Terugblik oor die laaste paar eeue toon uitdruklik dat baie van die “verligte” intellektuele wat ons moderne wêreld gevorm het, doodeenvoudig verkeerd was! Hulle het dwase aannames en belaglike stellings gemaak en baie mense het dit geglo! Hierdie misleide individue was in wese blindes wat ander blindes gelei het!
Marx se kommunisme is as ’n algehele mislukking bewys wat ongekende lyding veroorsaak het. Freud se sielkundige teorieë is grootliks in twyfel getrek. Alhoewel Freud godsdiens as ’n neurose beskryf het, het een van sy studente, Carl Jung, godsdiens baie voordelig gevind in die behandeling van geestesversteurde individue (God: The Evidence, Glynn, 1997, bl. 69). ’n Toenemende aantal wetenskaplike geskrifte dokumenteer trouens die positiewe effek van sekere godsdienstige oortuigings op persoonlike gesondheid. Marx en Freud, wie se idees baie bygedra het tot die verwêreldliking van ons samelewing – weens die ondermyning van godsdienstige en morele grondslag – was oor baie sake hopeloos verkeerd.
Dieselfde word nou gesê oor die idees van Charles Darwin en sy vrydenkende tydgenote. Die evolusionêre teorieë van Darwin wat sogenaamd weggedoen het met die noodsaaklikheid vir ’n Skepper-God, loop die afgelope paar dekades deur onder toenemende kritiek. Al hoe meer geleerdes, onder meer kosmoloë, bioloë, biochemici en paleontoloë, erken dat die teorie van evolusie eenvoudig, nie en kán ook nie, die oorsprong van die aarde, lewe en spesies verduidelik nie. Die idees van Darwin en ander geleerdes pas net nie in by die feite van die fossielrekords of by dit wat die afgelope eeu oor die heelal ontdek is nie (verwys Creation and Evolution, Hayward, 1995; “Debating Darwin,” Christian Century, 15-22 Julie 1998, bll. 678-681).
Met die dat die 20ste eeu tot ’n einde gekom het en ons toe ’n nuwe millennium betree het, is daar met hernude erns vrae oor God gevra. Daar is bewys dat evolusioniste se doellose heelal ’n sielkundige leë en neerdrukkende idee is. Verbasende ontdekkings oor die heelal dui op ’n intelligente Skepper (sien Newsweek, 20 Julie 1998, bll. 47-52; 9 November 1998, bl. 88). Daar word nou erken dat die naturalistiese wetenskap wat skynbaar antwoorde op alle vrae voorsien, ernstige tekortkominge het. In die res van hierdie boekie sal ons opmerk wat geleer kan word betreffende die ware God deur bewyse te ondersoek van die natuurlike wêreld asook die Bybel. Die bewyse is verstommend en kragtig – dit kom van “wetenskaplik-geletterde” kundiges. U kan bewys dat God wel bestaan. U hoef nie daaroor te twyfel of dit net blindelings “in geloof” te aanvaar nie. Die God van die heelal is werklik!
Bewys 1
Skepping vereis ’n Skepper
Die evolusieteorie voer aan dat die aarde en heelal oor ’n onmeetlike tydperk stadig tot stand gekom het of dat die heelal nog altyd bestaan het. Die ateïstiese sterrekundige, Carl Sagan, het eenkeer gesê: “Die heelal is al wat is of was of wat ooit sal wees”. Dit is egter glad nie waar nie! Kosmologiese studies het in onlangse jare bewys dat daar ’n tyd was toe die heelal nie bestaan het nie en dat dit ’n begin gehad het op ’n spesifieke tydstip. Dit is presies wat die Bybel sê in Génesis 1:1: “in die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die Bybel sowel as wetenskaplike ontdekkings bewys onteenseglik dat die aarde en die heelal nie altyd bestaan het nie.
Sterrekundiges wat die beweging van sterrestelsels bestudeer, het bepaal dat die heelal uitwaarts beweeg vanaf ’n gegewe punt, maar teen ’n verminderde spoed. Dit wil voorkom asof die heelal begin het met ’n reuse ontploffing. Dit word die “oerknal” [big bang] genoem. Vir wetenskaplikes was dit moontlik om eggo’s van hierdie ontploffing op te spoor wat steeds deur die heelal weergalm en dit staan bekend as uitstralingseggo’s of agtergrondgeraas. Stephen Hawking, ’n teoretiese fisikus by Cambridge Universiteit, het geskryf dat die oerknalkosmologie miskien die “denke van God” kan openbaar en Amerikaanse astrofisikus George Smoot het voorgestel dat agtergronduitstraling moontlik die “handskrif van God” kan wees (Science, 15 Augustus 1997, bl. 890). Sodanige bewyse dwing wetenskaplikes om die lank gekoesterde naturalistiese teorieë van etlike jare te heroorweeg.
Fisici het ook wette met betrekking tot termo-dinamika geformuleer. Die eerste wet van termo-dinamika verklaar dat die hoeveelheid energie in die heelal konstant bly. Die tweede wet van termo-dinamika verklaar dat die hoeveelheid bruikbare energie in ’n geslote stelsel (die heelal) afneem. Dit beteken dan dat die heelal “afloop”, dus “nie vir ewig in die verlede kon bestaan het nie en nie vir ewig in die toekoms sal bestaan nie” (When Skeptics Ask, Geisler and Brooks, 1996, bl. 220). Die heelal hét ’n begin gehad. Die bestaan van radio-aktiewe elemente (soos koolstof-14) wat ontbind teen ’n meetbare koers (die sogenaamde halfleeftyd) dui ook op ’n tydstip toe daardie elemente radio-aktief gemaak is. Weereens dui dit op ’n beginpunt. Dit is dus ook in stryd met evolusioniste, maar stem ooreen met die Skrif.
Watter veroorsakende bewerker het die heelal tot stand gebring? Die wetenskap werk volgens die beginsel dat daar ’n oorsaak is vir elke gevolg. Wat het die “oerknal” veroorsaak? Was dit bloot blindelingse natuurkragte of het ’n intelligente wese, ’n Skepper-God, dit vooraf fyn beplan? Aangesien dit ’n eenmalige gebeurtenis was wat nie waargeneem is of herhaal kan word nie, is wetenskaplike metodes nutteloos om ’n uitspraak hieroor te maak. Die onderwerp rakende oorsprong lê buite die sfeer van wetenskaplike ondersoeke. Die Bybel beskryf egter die oorsprong van die heelal en die aarde in terme wat ooreenstem met die feite wat uitgevind is deur wetenskaplikes. Die ontdekking dat die heelal ’n definitiewe begin gehad het, stem ooreen met duidelike stellings in die Bybel.
Die Skrif verwys telkens na God as die Skepper van die fisiese aarde en heelal (Génesis 1; Jesaja 40:28; Markus 13:19; Openbaring 4:11). Die ware God is egter gemoeid met veel meer as net die fisiese skepping. Die Bybel openbaar ook dat daar ’n voortgesette geestelike dimensie verbonde is aan God se skepping.
Die apostel Paulus skryf dat wanneer ’n persoon verkies om sy rug te keer op ’n selfgesentreerde lewenswyse en kies om te begin leef volgens die leerstellings van Jesus Christus, daardie persoon ’n nuwe skepping of “nuwe skepsel” (2 Korinthiërs 5:17; Galasiërs 6:15) word. Ons sal sien dat God ’n ongelooflike doel het vir diegene wat gewillig is om dié uitdagende geestelike reis aan te pak. Die Bybel dui baie duidelik aan dat daar meer aspekte verbonde is aan die lewe as wat die natuurwetenskap kan ontdek. Hierdie aspekte word deur die Skepper geopenbaar – die ware God van die heelal. Dit is nie moontlik om dit in ’n laboratorium deur middel van wetenskaplike metodes te ontdek nie! Die skepping, in al sy aspekte, vereis ’n Skepper.
Bewys 2
Lewe vereis ’n Lewegewer
Die oorsprong van lewe bied nog ’n uitdaging aan diegene wat die idee van ’n bonatuurlike God wil verwerp. Evolusioniste beweer dat lewe spontaan ontstaan het in ’n poel van chemikalieë namate die aarde biljoene jare gelede afgekoel het. Ons word ingelig dat koolstof, stikstof, waterstof en ammoniak, blindweg gekombineer het en met die hulp van sonenergie en kosmiese strale, lukraak verbind het om aminosure en DNA-molekules te vorm. Oor baie miljoene jare het selle blykbaar uit hierdie toevallige kombinasies ontwikkel. Hoewel dit aanneemlik klink, weet biochemici egter van beter. Wetenskaplikes wat probeer het om volgens hierdie metode lewe te skep het geleer dat dit baie moeiliker is as wat hulle teorieë sou voorstel. ’n DNA-molekule bevat soveel inligting soos ’n reeks ensiklopedieë. Om hierdie evolusionêre teorie dan voor te stel as die oorsprong van lewe is gelykstaande daaraan om te beweer dat ’n ontploffing in ’n skrootwerf ’n volledig vervaardigde voertuig sou kon produseer en dat dié voertuig dan sal begin om homself te reproduseer.
In die 1950’s het Stanley Miller ’n eenvoudige eksperiment uitgevoer om te sien of dié teorieë werklik sou werk. Hy het daarin geslaag om eenvoudige aminosure te produseer en sy eksperiment is besing as die bewys dat lewe spontaan uit nie-lewende materie voortgebring kon word. Hierdie aanspraak was egter voortydig. Niemand kon nog ooit lewe skep uit ’n poel chemiese middels (pre-biotiese sop) nie, ten spyte van talle pogings. Astrofisikus Hugh Ross se kommentaar: “Selfs onder uiters gunstige laboratoriumtoestande, het hierdie ‘soppe’ nie daarin geslaag om iets voort te bring wat naastenby na lewe lyk nie. Een probleem is dat hulle slegs ’n toevallige verspreiding van links- en regshandige voor-biotiese molekules kon voortbring … Die chemie van lewe vereis dat alle molekules óf regs- óf linkshandig is. Met al ons kennis en tegnologie kan ons nie eens naastenby daarin slaag om lewe in ’n laboratorium te skep nie” (The Creator and the Cosmos, Ross, 1993, bl. 148).
Veertig jaar ná sy aanvanklike eksperiment het Miller gesê: “Die probleem met die oorsprong van lewe was toe heelwat moeiliker as wat ek en die meeste ander mense voorsien het” (Scientific American, Februarie 1991, bl. 117). Die Duitse biochemikus Klaus Dose het gesê dat al die eksperimentele pogings “gelei het tot ’n beter begrip van die probleem van die oorsprong van lewe op aarde, eerder as tot die oplossing daarvan. Tans eindig alle besprekings oor grondslagteorieë en eksperimente oor hierdie onderwerp óf op ’n dooiepunt óf in ’n belydenis van onkunde” (The Creation Hypothesis, Moreland, 1994, bl. 176).
Dit is nie verbasend nie. Anaxamander van Miletus, die antieke Griekse filosoof, het ook bespiegel dat lewe spontaan kon ontwikkel uit nie-lewende materie. Dié bygelowige idee het die botoon gevoer tot die 1800’s toe die eksperimente van Redi en Pasteur die teendeel bewys het. Hierdie klassieke eksperimente het bewys dat maaiers in verrotte vleis nie uit die vleis kom nie, maar uit die eiers van die vlieë wat met die vleis in aanraking was. Lewe kom van lewe, nie vanuit nie-lewe nie. Tot onlangs was hierna verwys as die wet van biogenese. Tydens die afgelope paar dekades, toe wetenskaplikes probeer het om lewe spontaan voort te bring om die evolusionêre teorieë te bevestig, is dié eens aanvaarde wet geïgnoreer. Daar is steeds geen bewys dat daar uitsonderings op hierdie wet is nie.
Mense kan bespiegel dat lewe spontaan uit nie-lewende materie kon voortkom, maar die feite stem nie ooreen met hierdie bespiegelings nie. Die mens kon nie daarin slaag om lewe te skep nie, ten spyte van omvangryke pogings deur hoogs intelligente individue. Die Skrif beeld God uit as Skepper van lewe, as Lewegewer. In Génesis 2:7 lees ons: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Dit is iets wat al die gesofistikeerde laboratoriums in die wêreld nie eers kan begin naboots nie. Lewe vereis ’n Lewegewer. Daar is klaarblyklik geen ander uitweg nie.
Bewys 3
Wette vereis ’n Wetgewer
Die wetenskap bestaan omdat wetenskaplikes verstaan dat die heelal op ’n geordende wyse bedryf word, volgens wette, bv. die wette van fisika (gravitasie en beweging), die wette van chemie en wette van biologie. ’n Skrywer merk op: “Sedert Isaac Newton se tyd het die wetenskap ’n duidelike boodskap uitbasuin; die wêreld volg reëls; reëls wat gegrond is op wiskunde, reëls wat die mens kan uitwerk” (Newsweek, 20 Julie 1998, bl. 49). Selfs evolusioniste begin hulle bespiegelings met die veronderstelling dat die reëls of natuurwette van die begin af op dieselfde wyse gewerk het net soos vandag. Indien die heelal nie volgens dié reëls of wette werk nie, sou dit ophou funksioneer en in chaos uitmekaarspat. Let op hoe ’n paar van hierdie wette werk.
Aantrekkingskrag hou die planete in hulle wentelbane. Sonder dié aantrekkingskragte sou daar nie sonnestelsels wees nie. Sterre en planete sou holderstebolder deur die ruimte trek. Aantrekkingskragte hou die aarde ’n sekere afstand van die son af, wat lewe op ons planeet moontlik maak. Indien die aantrekkingskragte sterker of swakker was, sou sterre (soos ons son), nie warm genoeg brand nie of te vinnig uitbrand en sekere chemiese elemente wat onontbeerlik is vir lewe sou eenvoudig nie vervaardig word nie. Ons liggame bestaan omdat chemiese elemente net op ’n sekere wyses verbind. Indien chemiese reaksies nie elke keer op dieselfde wyse (volgens wette) plaasvind nie, sou ons ophou bestaan as lewende, asemhalende menslike wesens. Lewe sou ophou bestaan.
Vir jare lank, het biologie-studieboeke verwys na ’n ander wet bekend as die onveranderlikheid van die spesies – dat daar blykbaar ’n genetiese beperking in die aantal variasies is wat binne ’n spesie kan voorkom. Plant- en dieretelers is bewus van hierdie beperkings. Charles Darwin was bewus van die verskeidenheid wat deur die teling van huisdiere soos honde, duiwe asook beeste en perde geteel kan word. Tydens sy seereis op die Beagle het hy ook opvallende variasies opgemerk tussen vinke en skilpaaie op die eilande in die Stille Oseaan. Met die formulering van sy evolusieteorie het hy bespiegel dat indien genoeg tyd verloop, hierdie klein variasies uiteindelik totaal nuwe spesies kon voortbring – dat natuurlike kragte alleen nuwe lewensvorme kon voortbring sonder dat ’n Skepper nodig is. Dié idees het ’n geweldige invloed op die Westerse wêreld gehad – veral op godsdiens – geloof in God is ernstig ondermyn.
Mettertyd is daar egter ernstige probleme met Darwin se idees aan die kaak gestel. Niemand het nog ooit ’n nuwe spesie op hierdie manier in die natuur sien ontstaan nie. Ten spyte van vele pogings kon niemand nog daarin slaag om nuwe spesies te skep deur selektiewe teling nie. Honde mag verskillende groottes, kleure en talle ander kenmerke hê, maar hulle bly steeds honde. Perde is steeds perde. Vrugtevlieë is steeds vrugtevlieë. Die Bybel stel dit baie keer duidelik dat God elke soort plant en dier “volgens hulle soorte” (Génesis 1:11-12, 21-25) geskep het. Daar is geen bewys in die biologiese wêreld dat een spesie in ’n ander kan verander nie. Die Bybel dui ook aan dat God menslike wesens geskape het na die “gelykenis van God” wat, soos ons sal opmerk, geweldige implikasies het vir die doel van menslike lewe.
Selfs die fossielrekords ondersteun hierdie basiese Bybelse beginsel. Darwin het bespiegel dat die intermediêre lewensvorms van lewe moes bestaan het namate spesies ontwikkel het, maar tog het hy geweet dat dit nie werklik die geval was nie. Hy het in Origin of Species geskryf: “Waarom dan is elke geologiese formasie en elke stratum nie vol van sulke intermediêre skakels nie? Geologie wys beslis nie enige sodanige fyn gegradeerde organiese ketting nie en dit is moontlik die ooglopendste en ernstigste beswaar wat teen my teorie geopper kan word” (verwys Geisler en Brooks, bl. 228). Darwin het aangeneem dat hierdie intermediêre skakels gevind sou word, maar ’n honderd jaar na sy boek gepubliseer is, is dit steeds nie gevind nie! Hierdie afwesigheid van oorgangsvorms is die “bedryfsgeheim” van paleontologie genoem. Wanneer spesies in die geologiese rekord verskyn, verskyn hulle as ten volle gevorm. Dit maak sin indien hulle geskep is. Die bewyse uit fossielrekords ondersteun dus die Bybelse konsep van die onveranderlikheid van spesies en ’n ware God wat werk volgens wette en reëls.
Die belangrikste vraag is: Hoe het hierdie wette ontstaan? Waar kom dit vandaan? Wie het dit in werking gestel? Hoe word dit onderhou? Evolusioniste weet dit nie. Natuurwetenskaplikes het geen idee nie. Fisikus Stephen Hawking, ’n wetenskaplike wat probeer het om vrae oor die heelal te antwoord sonder die hulp van die Skrif, het erken dat “die wette (van fisika) moontlik oorspronklik deur God vasgestel is” (Ross, bl. 91). Dit is ’n interessante stelling, omdat die Bybel telkens na die ware God verwys as die “Wetgewer” (Jesaja 33:22; Jakobus 4:12). As Skepper het God die wette en kragte ontwerp en in werking gestel wat die heelal bymekaar hou (Job 28:24-27). Ons word ook in die Skrif ingelig dat God “alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3), dat Hy die wette in stand hou wat Hy ingestel en in werking gestel het.
Wat die wette betref, onthul die Bybel ’n dimensie wat verder strek as die fisiese. Terwyl God beskryf word as ’n Wetgewer in die fisiese sin, bevat die Skrif geestelike Wette wat God ontwerp het om menslike gedrag te beheer. Die Tien Gebooie vorm die basis van die geestelike Wet van God. Ons word in eenvoudige terme ingelig dat indien ons daardie Wette gehoorsaam, ons geseën sal word en wanneer ons dit verontagsaam, ons die negatiewe gevolge sal dra (Levítikus 26; Deuteronómium. 28). Salomo skryf in Spreuke dat die lewe moeilik sal wees vir iemand wat die Wette van God oortree (Spreuke 13:15). Waarom sal dit so wees, tensy daar ’n ware God is wat daardie Wette ontwerp het en in stand hou? Die evolusieteorie het nie ’n verduideliking hiervoor nie. Een van die redes waarom mense wil wegdoen met die konsep van God, is dat daar sonder God geen wette vir gedrag is nie en dat enige tipe van optrede dus toelaatbaar is. Ons leef vandag met die gevolge van daardie filosofie – dit vernietig ons samelewing! Die bestaan van wette vereis ’n Wetgewer. Vir daardie wette om in werking te wees, is ’n instandhouer nodig. Dit is hoe die ware God werk.
Bewys 4
Ontwerp vereis ’n Ontwerper
Een van die kragtigste bewyse van God se bestaan en een van die mees openbarende aspekte van die ware God, is die verbasende bewys van ontwerp wat regdeur die heelal te vinde is – van die kleinste atoom tot die kosmos. Dit is as gevolg van die kwessie van ontwerp dat die naturalistiese evolusionêre teorieë misluk het. Daar is in die afgelope jare op die gebied van ontwerp verstommende ontdekkings gemaak – selfs deur skeptiese wetenskaplikes – wat onteenseglik bewys dat die werklikheid van God oorweeg behoort te word.
Salomo het geskryf: “Die Here het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel” (Spreuke 3:19). Dawid het na die menslike liggaam verwys en gesê: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!” (Psalm 139:14). Abraham Lincoln het eens gesê: “Ek kan verstaan hoe ’n mens na die aarde kan kyk en ’n ateïs kan wees; maar ek kan nie verstaan hoe hy na die hemele kan kyk en sê daar is geen God nie”. Selfs Albert Einstein het geskryf: “God speel nie ’n dobbelspel met die heelal nie”.
Die diepgaande waarheid van hierdie verklarings begin tans posvat in wetenskaplike kringe weens onlangse verbasende ontdekkings in velde so verskillend van mekaar soos molekulêre biologie en kosmologie. Darwin het erken dat “komplekse organe soos die oog moeilik verduidelik sou kon word in terme van die geleidelike, stapsgewyse proses omskryf deur sy teorie”, maar hy het nie besef hoe kompleks die molekulêre biologie van sig uiteindelik sou wees nie (Christian Century, 15-22 Julie 1998, bll. 679-680). Die biochemikus Michael Behe skryf in Darwin’s Black Box dat evolusioniste se onvermoë om die ontwikkeling van sodanige gekompliseerde strukture en prosesse te verduidelik, ’n “baie sterk aanduiding is dat Darwinisme ’n onvoldoende raamwerk is vir begrip van komplekse biochemiese stelsels” (ibid.).
Ontdekkings oor die heelal is net so diepsinnig. Namate die mens se kennis toeneem, het die bewyse dat die heelal nie toevallig kon ontstaan nie ook toegeneem. Een skrywer het opgemerk: “Dieselfde wetenskap wat God in die oë van gelowiges ‘doodgemaak’ het, is besig om geloof her in te stel. Fisici het tekens gevind dat die kosmos nommer pas gemaak is vir lewe en bewustheid. Dit kom daarop neer dat indien konstantes van die natuur – onveranderlike getalle soos aantrekkingskrag die lading van die elektron en die massa van ’n proton, net effens verskillend was, dan sou atome nie bymekaar gebly het nie, sterre sou nie brand nie en lewe sou nooit te voorskyn gekom het nie” (Newsweek, 20 Julie 1998, bl. 48). John Polkinghorne, ’n fisikus wie ’n Anglikaanse priester geword het, het geskryf: “Wanneer ’n mens besef dat die wette van die natuur ongelooflik fyn ingestel moet wees om die heelal wat ons waarneem op te lewer, plant dit die saadjie vir die idee dat die heelal nie slegs gebeur het nie, maar dat daar wel ’n doel daarvoor moet wees” (ibid.). Astrofisikus Hugh Ross bespreek 33 van daardie ingewikkelde toestande wat lewe op hierdie aarde moontlik maak in The Creator and the Cosmos, Ross, 1993, bll. 131-145.
’n Toenemende aantal wetenskaplikes op die gebied van fisika, sterrekunde en kosmologie erken die sogenaamde “antropiese beginsel” (Grieks anthropos = mens). Hierdie beginsel wat in die 1970’s deur die fisikus Brandon Carter voorgestel is verklaar dat vir lewe om op aarde te bestaan, moes alle toestande “vooraf beplan” gewees het, vanaf die begin van die heelal. Dr. Patrick Glynn, met ’n Ph.D. van Harvard, merk op: “Die basiese verduideliking vir die heelal is dat dit ’n proses blyk te wees met die doelwit of einddoel om mense te skep” (God: The Evidence, Glynn, 1997, bll. 7, 32). Glynn het bygevoeg: “Vanuit ’n wetenskaplike oogpunt, mag die feit dat die heelal klaarblyklik ’n definitiewe beginpunt het, ontstellend genoeg wees. Wat die kosmoloë egter klaarblyklik tot raserny dryf, is die antropiese beginsel” – dat die aarde en die heelal geskape is vir die mensdom (ibid., bl. 42). Dit is ’n verstommende waarneming om te maak vir ’n hedendaagse geleerde!
Terwyl ’n heelal wat vooraf vir die mensdom beplan is, skokkend vir ateïste en evolusioniste mag wees, is dit presies wat die Bybel uitdruklik sê. Die Skrif dui aan dat God mense vir ’n doel geskape het. Ons lees in Génesis 1:26-28 dat God mense na Sy eie beeld geskape het (nie na die beeld van ape nie) en aan mense heerskappy oor die aarde gegee het, om dit te regeer en te bestuur. Die apostel Paulus het aan die Romeine gesê dat ons “kinders van God” en “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” kan word (Romeine 8:14-17). Dit beteken dat ons, deur oorerwing deel sal hê in dit wat Jesus Christus het, naamlik ewige lewe (1 Korinthiërs 15:50-53) en heerskappy oor hierdie aarde in die toekomstige Koninkryk van God (Openbaring 5:10). Die Bybel wys dat mense geskape is met die uiteindelike doel om deel te word van die gesin van God (1 Johannes 3:1-4; Hebreërs 2:1-11) en dan uiteindelik oor hierdie aarde te regeer saam met Jesus Christus (Openbaring 5:10; Daniël 7:27). Dít is die doel vir menslike lewe, maar hierdie opwindende inligting is deur die eeue heen verdraai en onderdruk! Dit word tot vandag steeds nie eens deur die meeste teoloë begryp nie.
Vergelyk hierdie verstommende toekoms, soos dit uiteengesit is in die Bybel, met die algemene gedagte dat ons óf hemel toe gaan en op wolke sit en harp speel óf ons gaan vir ewig in die hel brand. Vergelyk die toekoms wat die ware God aan ons openbaar met die idees van die dierkundige Richard Dawkins dat “die heelal wat ons sien het … geen ontwerp, geen doel, geen goed of sleg, niks behalwe doellose onverskilligheid nie … ons is masjiene wat DNA voortplant … dit is elke lewende wese se enigste rede vir lewe” (Science, 15 Augustus 1997, bl. 892). Dis geen wonder dat mense vandag geen werklike doel in die lewe sien of geen hoop of entoesiasme oor die toekoms het nie! Wetenskap, filosofie en teologie het misluk om die ware betekenis van lewe te begryp!
Die Bybel stel dit duidelik dat die mensdom mislei is deur ’n baie slim bedrieër (Openbaring 12:9). Evolusionêre teorieë wat geloof in die ware God ondermyn en die misleide idees van teoloë het bygedra tot hierdie misleiding asook mense wat eenvoudig nie eens daaroor wil dink dat God bestaan nie, weens die beperking van gedrag wat dit vir hulle sou inhou. Die ware God, wat hierdie heelal ontwerp het, het egter ook ’n plan en ’n doel vir die mensdom. Wetenskaplikes ontdek steeds verstommende getuienis ter stawing van die intelligente ontwerp en ’n plan in die heelal. Die Skrif toon God se verstommende, uiteindelike doel vir die mensdom. Intelligente en doelgerigte ontwerp, fisies asook geestelik, vereis ’n bonatuurlike Ontwerper – ’n ware God!
Bewys 5
Vervulde profetiese beloftes
Sommige van die onteenseglike bewyse van ’n Almagtige, bonatuurlike God vind ons in die geskiedenis en in profesie. Die verstommende akkuraatheid van Bybelprofesieë bly steeds ’n uitdaging vir skeptici. Dit is tog verbasend hoe baie mense, ook die wêreld se geleerdes, eenvoudig onbewus is daarvan hoe Bybelprofesieë deur die geskiedenis bevestig word. Nog meer verbasend is die feit dat geestelikes so selde Bybelprofesieë noem, al bewys vervulde profesie onteenseglik dat daar ’n werklike, Almagtige God is. Isaac Newton, een van die briljantste breine in die Westerse samelewing, was gefassineer deur Bybelprofesieë (Science, 15 Augustus 1997, bl. 892).
Die ware God van die Skrif, daag mense letterlik uit om die toekoms akkuraat te voorspel en tot uitvoer te bring. Die profeet, Jesaja, het God só aangehaal: “bring julle regsaak voor … Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is … Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; ’n gruwel is hy wat julle uitkies” (Jesaja 41:21-24). Diegene wat voorspellings bestudeer verstaan die dwaasheid om toekomstige gebeure in besonderhede te probeer voorspel, veral in die onbestendige politieke wetenskap en sosiologie – nogtans doen die Skrif dit herhaaldelik en met treffende akkuraatheid! Bykans 30% van die Bybel is aan profesie gewy, wat maar selde aangespreek word in Sondagpreke in die meeste kerke. Geen wonder dan dat die Almagtige God van die Bybel nie vir mense werklik is nie.
’n Treffende voorbeeld van vervulde profesie is opgeteken in die boek Eségiël en dateer uit 600 v.C. Eségiël teken vir twee groot Fenisiese stede, Tirus en Sidon, ’n heeltemal verskillende toekoms aan. Dit sal wees soos om te voorspel wat met Los Angeles, Londen, Parys en Kaapstad gaan gebeur oor die volgende 2,500 jaar! Vir Sidon is ’n bloedige geskiedenis beloof, maar gaan voort om te bestaan (Eségiël 28:22-23). In teenstelling daarmee het Eségiël baie spesifiek voorspel dat talle nasies teen Tirus sou optrek soos die golwe van die see (Eségiël 26:3). Tirus sou word soos ’n kaal rots (vers 4) en nooit weer herbou word nie (vers 14). Hierdie magtige stad, sentrum van ’n groot handelsryk, sou ’n onbeduidende plek word waar vissers hulle nette sou droogmaak (vers 5). Dit het alles net so gebeur – tot in die fynste besonderhede (verwys Evidence That Demands a Verdict, McDowell, 1979, Vol. 1, bll. 274-281). Die Ware God het die toekoms tot in die fynste besonderhede voorspel en dit het presies net so gebeur (verwys Jesaja 46:9-10).
Nog ’n reeks merkwaardige profesieë behels spesifieke beloftes rakende die geboorte, lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie profesieë is baie eeue vóór Christus se geboorte reeds opgeteken. Die eerste twee hoofstukke van Matthéüs haal profesieë aan dat Jesus uit ’n maagd gebore sou word (Jesaja 7:14), in Bethlehem (Miga 5:1). Hy sou na Egipte moes vlug (Hoséa 11:1). Voor Sy dood sou Hy Jerusalem op ’n esel binnery (Sagaría 9:9). Met Sy dood sou Sy hande en voete deurboor wees (Psalm 22:17) en die lot sou gewerp word oor Sy klere (Psalm 22:19). Dawid het geprofeteer dat Christus uit die dood opgewek sou word (verwys Psalm 16:10). Weereens het die ware God van die Bybel spesifieke toekomstige gebeure voorspel en dit tot in die fynste besonderhede laat realiseer!
Vervulde profesieë is egter nie net beperk tot antieke geskiedenis en koninkryke wat lankal nie meer bestaan nie. Vandag word bykomende profesieë vervul terwyl u hierdie boekie lees! Die sleutel tot begrip van profesieë wat op ons tyd van toepassing is, is die identiteit van die moderne Israelitiese nasies. Die God van die Bybel het aan Abraham beloof dat sy afstammelinge ’n groot nasie sou word en ’n seën sou wees vir die mense van die aarde (Génesis 12:1-3). God het voorspel dat hulle uiteindelik die poorte van hulle vyande sou besit (Génesis 22:17; 24:60).
Die moderne Israelitiese nasies is die afstammelinge van Jakob, Abraham se kleinseun, wie se naam deur God na Israel verander is (Génesis 32:28). Jakob het 12 seuns gehad en sy seun Juda was die stamvader van die Jode. Daar is egter voorspel dat twee van Jakob se kleinseuns, Efraim en Manasse, die belangrikste erfgename sou word van die geboortereg-beloftes wat oorspronklik aan Abraham gemaak is. Manasse sou ’n groot nasie word en Efraim ’n menigte van nasies (Génesis 48:14-20). Die seëninge wat belowe is aan Manasse en Efraim, is geërf deur die Verenigde State van Amerika en die lande wat die Britse Gemenebes gevorm het. Hierdie verstommende verhaal en die ontnugterende toekoms wat voorspel is vir hierdie geboortereg-volke word beskryf in ons gratis boekie wat u gerus kan aanvra: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?
Die geskiedkundige rekords, asook wêreldgebeure van vandag, bevestig die ongelooflike akkurate profesieë wat in die Woord van God opgeteken is. Die Bybel is geïnspireer deur ’n Almagtige, Bonatuurlike God. Die profesieë is nie bloot die produk van sterflike mense wat ’n filosofie of godsdiens probeer formuleer het nie. Die vervulde profetiese beloftes van die Skrif vereis ’n verduideliking – dit kan nie eenvoudig net geïgnoreer of weggeredeneer word nie. Die God wat daardie profesieë geïnspireer en dit ook laat plaasvind het moet werklik wees!
Bewys 6
Verhoorde gebed
Nog ’n dramatiese bewys van God is dat Hy Sy beloftes nakom om gebede te verhoor. Vir diegene wat nie in God glo nie en nog nooit gebid het nie, is dit bloot net ’n geval van twyfel en skeptisisme. Vir diegene wat egter in God glo en wel bid – wat 90% van Amerikaners insluit – is verhoorde gebed een van die kragtigste persoonlike bewyse dat God bestaan. Diegene wat weet dat hulle gebede verhoor word, steur hulle min aan die twyfelagtige skeptici.
Dit is uit die Bybel dat ons gebed leer, nie uit die naturalistiese wetenskap nie. Die Skrif bevat baie voorbeelde van verhoorde gebede. Daar is voldoen aan Salomo se versoek om wysheid, met ekstra seëninge daarby (1 Konings 3:5-13). Ons word geleer: “Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee” (Jakobus 5:17-18).
In die Nuwe Testament is baie voorbeelde opgeteken van dramatiese antwoorde op gebede. Jesus het die hele nag lank gebid om God te vra vir leiding voordat hy die 12 Apostels gekies het wat Hy sou gebruik om Sy Kerk te vestig (Lukas 6:12-13). Jesus was in ernstige gebed voordat Hy na die dissipels gekom en op die water geloop het (Matthéüs 14:23-25). Lasarus is uit die dood opgewek as gevolg van Jesus se gebed tot God (Johannes 11:41-44). Wanneer lede van die pas gestigte Nuwe-Testamentiese Kerk gebid het vir onverskrokkenheid om die Evangelie te verkondig, het God hulle versoek erken deur die gebou te skud waarin hulle vergader het (Handelinge 4:23-31).
Die Bybel leer ons ook hoe om te bid. Net soos wat ’n kind moet leer praat, moet ons leer om te bid. Jesus is deur Sy dissipels gevra: “Here, leer ons bid” (Lukas 11:1). Jesus het aan ons ’n voorbeeld gegee om te volg (Matthéüs 6:5-15). Ons kan sien uit dié voorbeeld dat gebed ’n ernstige gesprek is met God oor ons behoeftes en bekommernisse, nie bloot die herhaling van dieselfde woorde en frases nie (Matthéüs 6:7). Ons lees dat God die gebede van die regverdiges verhoor, daardie persone wat probeer om aan Hom gehoorsaam te wees (1 Petrus 3:12; 1 Johannes 3:22). Die Bybel openbaar dat die gebede van die heiliges vir God behaaglik is, soos goue skale vol reukwerk (Openbaring 5:8).
Jesus het Sy volgelinge so aangemoedig: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Matthéüs 7:7-8). ’n Uitdaging verbonde aan die proses om reg te leer bid, is om te leer om te vra dat ons versoeke sal geskied volgens God se wil (1 Johannes 5:14). Om God se wil te verstaan, moet ons die Bybel – God se handleiding vir die mens – bestudeer. Deur middel van gebed kan ons met God praat oor al ons bekommernisse.
Indien u vind dat daar ’n leemte in u lewe is, indien u eensaam en alleen voel, waarom praat u nie met God daaroor in gebed nie? Indien u ’n gebrek aan betekenis en doel in ons wêreldse, materialistiese samelewing waarneem, waarom gaan u nie op u knieë in ’n afgesonderde plek en praat met u Vader daaroor nie? Indien u die leegheid en onbelangrikheid van georganiseerde godsdiens ervaar, deel daardie gevoelens met u Skepper, die ware God van die heelal! Vra Hom om u te help om die Bybel en die ware betekenis van die lewe te verstaan. Vra Hom om u te lei na waar Hy deur Sy Kerk werk. Vra Hom om u te help om u lewe volgens Sy voorskrifte te leef, sodat u die beloning kan ontvang wat Syne is om te gee. Volg die instruksies van Jesus Christus in Matthéüs 6:6-15 en Lukas 11:1-4. Begin om te bid!
U kan self die bewys van verhoorde gebed ervaar wanneer u begin vra volgens God se instruksies. God verander nie (Maleági 3:6). Hy het in die verlede gebede verhoor. Hy verhoor vandag nog gebede. Hy sal in die toekoms gebede verhoor. Die Bybel stel dit duidelik: “... sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Verhoorde gebed is ’n kragtige, persoonlike bewys dat God inderdaad bestaan!
Bewys 7
’n Lewenswyse wat werk
Die finale bewys dat ’n ware God bestaan en dat Sy Woord waar is, is een wat ’n mens tot erns stem. Hierdie bewys mag moontlik meer betekenisvol wees vir individue wat lewenservaring het en ’n paar foute gemaak het. Dit kan egter ook ’n belangrike bewys wees vir enigeen, oud of jonk, wat “oë om te sien en ore om te hoor” het, wie kan leer deur op te let wat met ander mense gebeur. Hierdie bewyse behels om die gevolge van twee uiteenlopende lewenswyses te ontleed en met mekaar te vergelyk.
Die boodskap wat ons moderne samelewing deurdrenk, is dit wat ook al werk, reg is vir ’n persoon – dat iets soos absoluut reg en verkeerd nie bestaan nie. Die boodskap wat God in die Bybel opgeteken het, is baie anders. Die Skrif toon aan dat daar God se lewenswyse is en dat daar die wêreld se manier is waar ons net ons “eie ding” doen. Die ou gesegde sê: “Ondervinding is die beste leermeester”.
Die Skrif gee ’n duidelike beskrywing van dié twee teenstellende lewensbenaderings. Moses het God se instruksies aan die antieke Israeliete só verduidelik: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk ... Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronómium 30:15-19). Dit is vandag steeds een van die groot uitdagings van die lewe.
Ons het as mense ’n vrye keuse, daarom het ons die vryheid om te kies om God te gehoorsaam en Sy seëninge te ervaar of om Sy voorskrifte te ignoreer en in teenstelling daarmee te leef (volgens ons eie redenasies) en die gevolge daarvan te dra (Deuteronómium 28; Levítikus 26). Salomo het soortgelyke raad opgeteken: “... die weg van die ontroues is hard” en, “As die Here behae het in die weë van ’n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spreuke 13:15; 16:7). Jesus het daardie selfde keuses beskryf – ’n smal, uitdagende weg wat na die lewe lei, teenoor ’n breë, gerieflike weg wat die meeste mense kies en wat na die verderf lei (Matthéüs 7:13-14).
Die hartseer verhaal van die menslike geskiedenis is dat die meeste mense maar met die stroom saamgaan – ons doen wat reg is in ons eie oë. In plaas daarvan om daarna te streef om van ons Skepper te leer hoe om volgens Sy voorskrifte te leef, wil dit voorkom of ons verkies om dinge op ons eie manier te doen. Die gevolge van hierdie benadering word soms die “harde leerskool van die lewe” genoem. Indien u lewe tot nou toe ’n reeks probleme, teleurstellings en doodloopstrate was, waarom probeer u nie ’n ander benadering nie? Ondersoek die Woord van u Skepper en begin om dinge vir ’n verandering op Sy manier te doen. Ondervinding het al bewys dat om God se weg te volg voordele inhou – bewys dit aan uself.
Kom ons ondersoek kortliks die lewenswyse wat God aanbeveel in die Skrif, sodat u Sy lewenswyse kan beproef. Ons lees in Exodus 20 dat God op die berg Sinai Sy Wet aan die Israeliete gegee het en hulle het ingestem om dit te gehoorsaam (Exodus 19:5-8). God het beoog dat die Israeliete as ’n voorbeeld vir die hele wêreld sal wees namate hulle geleer het om volgens Sy goddelike instruksies te leef (Deuteronómium 4:1-10). Hulle het egter gefaal daarin om hierdie ooreenkoms gestand te doen en is in ballingskap weggevoer omdat hulle God se instruksies verontagsaam het (verwys Eségiël 20).
In die Nuwe Testament lees ons dat Jesus gekom het om die Wet meer volledig aan Christene te verduidelik Matthéüs 5:17). Hy het verduidelik hoe om volgens die gees van die Wet te leef, nie net volgens die letter daarvan nie (Matthéüs 5:21-28). Weereens is dit God se plan dat dié mense wat kies om Sy instruksies te volg, die voorbeelde vir die wêreld sou wees dat God se manier wel werk.
Jesus het dit uitdruklik gestel: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Hy het definitief ’n beter lewenswyse aanbeveel. Die kontras tussen wat Jesus verkondig het en die wêreld se weë kan vergelyk word met die verskil tussen dag en nag (Johannes 3:16-21). Sy dissipels het mense begin aanmoedig om uit die wêreld uit te kom en volgens Jesus se regte leerstellings te leef (2 Korinthiërs 6:11-18), toe is hulle beskuldig as “die mense wat die wêreld in opstand bring,” (Handelinge 17:5-6).
God se lewenswyse, soos dit omskryf is in die Bybel, is nie ’n vae, newelagtige, afgewaterde benadering wat mense kan aanneem of laat staan en verander soos dit húlle pas nie. God se lewenswyse is gebaseer op Sy Wette. Dit behels spesifieke gesindhede, gedrag en optrede, wat alle mense nie bereid is om te volg of getrou daaraan te bly nie. Ons lees dat die waarheid van God inderdaad vriende en families sal skei (Matthéüs 10:34-36), maar God se lewenswyse werk en dit sal gewis beloon word (Openbaring 3:10-11).
Een van die hoofredes waarom die hoofstroom Christendom vandag in Westerse lande aan die kwyn is, is omdat godsdiensleiers die leerstellings van die Bybel so afgewater het, dat godsdienstige geloof letterlik geen trefkrag het op hoe mense hulle lewens leef nie. Een van die hoof godsdienstige denominasies is beskryf as: “... ’n organisasie wat vry val ... met niks om aan vas te hou nie ... geen gemeenskaplike geloof, geen gemeenskaplik aannames nie, geen basiese riglyne, geen aanvaarde definisie” van wat dit beteken om aan daardie kerk te behoort nie (The Empty Church, Reeves, 1996, bl.10). ’n Kapelaan in daardie denominasie het verklaar dat “hy nie in die besigheid van die uitdeel van dogmatiese antwoorde aangaande enigiets is nie” (ibid,. bl. 24). Dit is eenvoudig nié dieselfde kerk wat Jesus Christus gevestig het en waarvan u in die bladsye van die Nuwe Testament lees nie! Dit werk nie om met die Skrif te kompromitteer of dit af te water nie. Kerke sterf – geestelik – wanneer hulle dit probeer doen. Dit is ook ’n lewende bewys dat God se weg wel werk: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Dit is wat die ware God baie duidelik stel in Sy Woord.
Slotsom:
’n Toekomstige oordeel
Die moderne belydende Christendom hou aan die wêreld ’n goedhartige God voor wat gaaf, liefdevol, vergewensgesind en eindeloos geduldig is. Hy laat maar die mense toe om te doen wat hulle wil en is gelukkig indien hulle so af en toe bid en ’n paar keer per jaar ’n kerk bywoon. Hierdie valse idee oor God – wat ’n produk is van die mens se verbeelding – is nie van toepassing op die lewens van die meeste mense vandag, soos ons in hierdie boekie gesien het nie.
Die ware God van die Bybel is egter in skrille kontras met die mens se idees! Die God wat uit die Bybel na vore kom, is ’n magtige Skepper, ’n intelligente Ontwerper, ’n Gewer van lewe en Wette, wat ingryp in die verloop van die geskiedenis en tog nog steeds die gebede van individue verhoor. Hy het duidelik twee uiteenlopende lewenswyses in Sy Woord omskryf. Alhoewel Hy liefdevol en genadig is, is Hy ’n God van geregtigheid en oordeel wat ons beloon volgens ons werke. Hy gee ons die geleentheid om keuses te maak en Hy laat ons maai wat ons saai. Dit is waarom die God van die Bybel Sy ware dienaars beveel: “En verkondig aan my volk hulle oortreding en ... hulle sondes” (Jesaja 58:1) en om nie “vleitaal” te preek wat mense mislei nie (Jesaja 30:9-10). God wil hê dat mense verstaan waaroor die lewe gaan, sodat hulle kan leer om die regte keuses te maak – keuses wat blywende belonings bring waarna die mens streef – belonings wat net Hy kan gee. Die ware God vergewe ons ook wanneer ons berou toon en daarna om vergifnis vra – wanneer ons ons foute besef – wanneer ons Sy Wette oortree en sondig (1 Johannes 3:4). Dit behaag God wanneer ons ons lewens begin verander en leef volgens Sy riglyne.
Die Bybel openbaar dat God ’n plan en doel op hierdie aarde uitwerk. Die ware God gaan Jesus Christus binnekort na hierdie aarde terugstuur om die Koninkryk van God hier te vestig. Dít is letterlik die kern van die ware Evangelie. Dít is wat Jesus onderrig het en wat Sy dissipels verkondig het (Markus 1:14-15; Lukas 9:1-2; Handelinge 8:12; 28:23, 31). Hierdie selfde boodskap sal ook aan die wêreld verkondig word deur God se ware Kerk net voor die einde van hierdie era (Matthéüs 24:14).
Met Sy Wederkoms sal Jesus Christus letterlik die verloop van die mens se geskiedenis op ’n baie dramatiese wyse verander. Hy sal hierdie aarde regverdig oordeel, volgens Sy goddelike Wet (Psalm 96:13; Openbaring 19:11). Hy gaan ’n einde maak aan menslike lyding en menslike wanbestuur. Die apostel Johannes skryf oor hierdie tyd wanneer God met Sy groot mag gaan regeer, Sy dienaars gaan beloon en diegene gaan uitwis wat die aarde vernietig [besoedel en verontreinig] (Openbaring 11:15-19). God sal onderskeid tref tussen diegene wat kies om dinge op Sy manier te doen en diegene wat daarop uit is om dinge op hulle eie manier te doen (Matthéüs 25:31-46). Hy sal onderskeid tref tussen diegene wat weet wat die Bybel uitdruklik leer en diegene wat mislei is deur die valse idees van misleide predikers. Daardie tyd van oordeel blyk net om die draai te wees.
Jesus Christus gaan menslike samelewings her-oriënteer tot ware vrede, regverdigheid en waarheid (Jesaja 9:6; Openbaring 11:15-18) met die hulp van Sy heiliges (Daniël 7:27). Die profeet Miga verduidelik: “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:3). Hierdie Almagtige God het deur die profeet Eségiël verduidelik: “En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, die Heilige in Israel. Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here Here” (Eségiël 39:7-8). Die misleiding, twyfel en ongelowigheid aangaande God wat ons samelewing so oorheers, sal vir ewig uit die weg geruim word.
Die ware God van die Bybel het Sy uitverkorenes beveel om nie enige ander god of gode te aanbid nie (Exodus 20:1-7). Hy het Sy uitverkorenes gewaarsku oor wat die gevolge sal wees indien hulle ander gode sou volg (Deuteronómium 8:11-20). Die apostel Paulus het aan die kerk in Rome gesê dat hulle God se toorn sou laat opvlam indien hulle sou begin om idees oor God te vorm volgens hulle eie verbeelding (Romeine 1:18-23). Hy het die Kerk in Korinthe ook teen dieselfde ding gewaarsku (2 Korinthiërs 11:1-4). Dit het nogtans alles in ons tyd gebeur. Misleide teoloë het verkies om “sogenaamde natuurlike bewyse vir die bestaan van die Skepper prys te gee en om persoonlike geloof en die teenwoordigheid van God in die menslike bewussyn te beklemtoon” (Reeves, bll. 95-96). Die ongelukkige resultaat van hierdie moderne, liberale benadering is dat baie mense mislei is aangaande die ware God.
Namate die einde van hierdie era nader kom, moenie toelaat dat u mislei word nie. Jesus het by verskeie geleenthede uitdruklik gewaarsku teen dié moontlikheid (Matthéüs 7:15-20; 24:4-5, 11, 24). Die apostel Paulus het by lede van die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk aangedring: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). U kan bewys dat God bestaan; u hoef dit nie blindelings “in geloof” te aanvaar nie. U kán ware geloof, gebaseer op ware bewyse en ’n werklike verhouding met u Skepper hê! Die God van die heelal, die God wat die Bybel geïnspireer het, bestaan werklik. Die Skepper, die Ontwerper en die Onderhouer van die heelal leef. Hy gaan volbring wat Hy in Sy Woord voorspel het. Jesus Christus gaan beslis na hierdie aarde terugkeer om die Koninkryk van God wat oor al die nasies sal regeer, te vestig. Dit is waaroor die Evangelie van die ware God gaan. U kan deel wees van hierdie opwindende toekoms as u die ware God leer ken.