Baie mense beweer dat die wetenskap bewys dat evolusie ’n feit is. Ontdekkings soos die komplekse strukture binne lewende selle het egter heeltemal die teendeel bewys!

Ons kultuur is deurdrenk met die aanspraak van Darwin se evolusieleer: Dit is dat natuurlike seleksie wat op mutasies reageer wat plaasvind as gevolg van blote toeval, verantwoordelik is vir lewe op ons planeet – geen God is nodig nie. Wanneer ons egter die kleinste eenheid van lewe – die sel – indringend ondersoek sien ons nie ’n wêreld wat enigsins verband hou met dit wat deur “blote toeval” voortgebring sou kon word nie! Ons sien in plaas daarvan ’n komplekse en merkwaardige wêreld van molekulêre ingenieurskap wat na ’n Opperste Ontwerper verwys.

Is Darwin se evolusieleer die vasgestelde feit soos wat dit aan u vertel was? Is daar dalk ’n rede om Darwin se teorie te betwyfel? Baie ontdekkings wat in die afgelope halfeeu gemaak is, bevraagteken die gedagte dat lewe, soos ons dit ken, moontlik die gevolg kon wees van blote toeval. Een wetenskaplike met ’n PhD in molekulêre en sellulêre biologie betwyfel beslis daardie moontlikheid.

In ’n onderhoud met Lee Strobel het dr. Jonathan Wells gesê: “Die getuienis vir Darwinisme is nie net heeltemal onvoldoende nie, dit word stelselmatig verdraai. Ek is daarvan oortuig dat een of ander tyd in die nabye toekoms – ek weet nie wanneer nie, dalk so twintig of dertig jaar van nou af – mense met verbasing sal terugkyk en sê: ‘Hoe kon enigiemand dit geglo het?’ Darwinisme is bloot materialistiese filosofie in die vermomming van wetenskap en mense is besig om dit te herken vir wat dit is” (The Case for a Creator, Strobel, bl. 79).

Daar is ’n voortdurende swartsmeerdery teen Wells, soos wat daar is teen enige wetenskaplike wat die god van Darwinisme bevraagteken, maar feite is feite en enige mens wat werklik objektief en ernstig na die bewyse kyk, behoort tot die gevolgtrekking te kom dat Darwinisme nie die ondebatteerbare saak is wat stoere evolusioniste wil hê u moet glo nie. Indien proefondervindelike bewyse nie aan Darwin se kant is nie, het dit ernstige implikasies vir die vraag van hoe ons hier gekom het en of daar ’n doel vir ons bestaan is.

Soos Michael Denton tereg skryf,

“Die idee [van evolusie] het gekom om elke aspek van die moderne denke aan te spreek. Geen ander teorie het in die afgelope jare meer gedoen om die manier waarop ons onsself en ons verhouding tot die wêreld rondom ons sien, te vorm nie ... Die oorwinning wat evolusie behaal het, het die einde beteken van die tradisionele geloof in die wêreld as ’n doelgerigte geskape orde – die sogenaamde doelleer wat vir twee millennia oorheersend was in die Westerse wêreld ... Enige bewering dat daar iets ernstigs met die Darwinistiese beskouing van die natuur verkeerd kan wees, sal verseker openbare aandag trek. Indien bioloë nie die fundamentele aansprake van Darwinisme waarop soveel van die samestelling van twintigste-eeuse denke berus, kan staaf nie, dán is die intellektuele en filosofiese implikasies werklik ontsaglik”. (Evolution: A Theory in Crisis, bll. 15-16).

In die Januarie-Februarie Wêreld van Môre-uitgawe van 2018 het ek gevra: “Het die dinosourusse God doodgemaak?” Natuurlik is die vraag verregaande, maar dit het ’n belangrike punt uitgelig. Baie mense glo dat die fossielrekord – bewyse van die wêreld van dinosourusse – Darwin se teorie van evolusie ondersteun, terwyl die presiese teendeel waar is. Weereens volgens Denton:

Die algehele prentjie van lewe op Aarde vandag is so onderbroke, die gapings tussen die verskillende tipes so voor die hand liggend, dat soos Steven Stanley ons in sy onlangse boek Macroevolution herinner, indien ons kennis van biologie beperk was tot daardie spesies wat tans op Aarde bestaan, “mag ons wonder of die evolusieleer sou kwalifiseer as enigiets meer as ’n verregaande hipotese”. Sonder intermediêre of oorgangsvorms om die enorme gapings te oorbrug wat bestaande spesies en groepe organismes van mekaar skei, kan die konsep van evolusie nooit ernstig as ’n wetenskaplike hipotese beskou word nie (Denton, bll. 157-158).

Die gebrek aan oorgangsvorms of om dit anders te stel, die gebrek aan ontbrekende skakels, wat baie miljoene sou moes wees vir evolusie om waar te wees, is slegs een van die vele probleme met hierdie teorie.

U is nie die enigste een nie!

Evolusioniste hou nie van die term blote toeval nie en sou verkies om hulle saak as spontane natuurlike kragte aan te bied, wat gewerk het om alle lewensvorms wat ons vandag sien, te bewerkstellig. Indien blote toeval egter verwerp word, waarom dan Richard Dawkins se boek met die titel: The Blind Watchmaker? Die blote omskrywing van evolusie is geen intelligente vergissing nie. Dit werk sogenaamd deur middel van omgewingsfaktore wat op toevallige mutasies reageer, wat oor die algemeen beskou word as onvoorsiene faktore. Dit is derhalwe blote toeval – maak nie saak hoe iemand dit wil verdraai nie!

Onweerlegbare feite is besig om die wêreld van die wetenskap onderstebo te keer en baie voormalige evolusioniste en ateïste is besig om hulle vertroue in “blote toeval” te verloor. Die navorsingsjoernalis, Lee Strobel, is een van die meer bekendes onder die Darwin-skeptici. Sy verhaal is soos baie ander. Hy het tevore vas geglo in evolusie en was soos die meeste – maar sekerlik nie almal nie – ware aanhangers van die evolusieleer, ’n ateïs. Hy erken dat hy op die arme godsdienstige siele neergesien het wat so onkundig was dat hulle verwerp het wat die wetenskap lankal bewys het. Nadat hy egter deeglike navorsing oor die onderwerp gedoen het, het hy sy bevindings in The Case for a Creator geskryf.

In hierdie boek beskryf hy hoe 100 wetenskaplikes uit ’n verskeidenheid hoogs gespesialiseerde wetenskaplike vakgebiede, met PhD’s van bekende en hoog aangeskrewe universiteite, gereageer het op ’n PBS-reeks van 7 aflewerings wat beweer het dat “‘alle bekende wetenskaplike bewyse evolusie ondersteun’ net soos ‘feitlik elke betroubare wetenskaplike in die wêreld’” (Strobel, bl. 36).

In reaksie hierop het hierdie groep van 100 geloofwaardige wetenskaplikes ’n advertensie van twee bladsye in ’n nasionale tydskrif gepubliseer, wat verklaar: “Ons is skepties oor aansprake wat betref die vermoë van toevallige mutasie en natuurlike seleksie om die kompleksiteit van lewe te verklaar ... Deeglike ondersoek van die bewyse vir Darwin se teorie behoort aangemoedig te word” (Strobel, bl. 36).

Strobel verduidelik verder dat hierdie skeptici van Darwin “gerespekteerde wêreldklas wetenskaplikes was soos Henry F. Schaefer, wie genomineer was vir die Nobelprys, die derde mees aangehaalde chemikus ter wêreld; James Tour van Rice University’s Center for Nanoscale Science and Technology en Fred Figworth, professor van sellulêre en molekulêre fisiologie by Yale Graduate School” (Strobel, bl. 36). Onder hulle was ook: “Die direkteur van die Center for Computational Quantum Chemistry en wetenskaplikes by die Plasma Physics Lab in Princeton, die National Museum of Natural History by die Smithsonian Instituut, die Los Alamos National Laboratory en die Lawrence Livermore Laboratories” (Strobel, bll. 35-36).

Hierdie is nie die prentjie wat voorgehou word in tipiese hoërskool- en universiteitsbiologie-kursusse nie en beslis nie deur die media nie, maar die volgende keer wanneer een of ander beterweter ’n neerhalende aanmerking op die Internet pos om iemand wat ’n Darwin-skeptikus is, belaglik te maak, skep moed. Mans en dames wat baie meer as hierdie lafhartige aanlyn moeilikheidmakers weet, betwyfel dit ook ernstig. Baie voormalige ateïste en evolusioniste het die punt bereik om Darwinisme te verwerp – sommige openlik, terwyl ander vergelding vrees en “dit geheim hou”.

Onder die wetenskaplike ontdekkings wat veroorsaak dat so baie mense Darwin se redenasie verwerp, is diegene op die gebied van mikrobiologie baie oortuigend. Wetenskaplikes kan vandag mikroskopiese klein selle ondersoek en kan baie meer detail sien as wetenskaplikes van vorige geslagte. Sonder om doekies om te draai sê Michael Denton: “Alhoewel die kleinste bakteriese selle ongelooflik klein is ... is elkeen in werklikheid ’n ware mikro-miniatuur fabriek wat duisende pragtig ontwerpte stukkies volmaakte molekulêre masjinerie bevat ... baie ingewikkelder as enige masjien wat deur die mens gebou is en absoluut sonder weerga in die nie-lewende wêreld” (Denton, bl. 250). Dit is nie oordrewe nie!

Denton sê verder: “Die kompleksiteit van die eenvoudigste bekende soort sel is so enorm dat dit onmoontlik is om te aanvaar dat so ’n voorwerp skielik saamgegooi kon word deur ’n soort eienaardige, baie onwaarskynlike gebeurtenis. So ’n gebeurtenis sou nie onderskei kan word van ’n wonderwerk nie” (Denton, bl. 264).

’n Mens wonder werklik hoe enige geleerde persoon geloof in Darwinisme kan behou wanneer hy gekonfronteer word met die verbysterende kompleksiteit van lewe en die onoorkomelike uitdaging om te verduidelik hoe lewe uit nie-lewende materiaal ontstaan het.

Wat het eerste gekom?

U het ongetwyfeld al die vraag gehoor, “Wat het eerste gekom? Die hoender of die eier?” Dit is nie ’n onbenullige vraag met betrekking tot die oorsprong van lewe nie. Hier is die rede.

Die meeste biologie-studente is bekend met die Miller-Urey eksperiment. Stanley Miller en Harold C. Urey het daaroor gespekuleer of die aarde se vroegste atmosfeer moontlik uit waterstof, ammoniak en metaan bestaan het. Deur ’n noukeurig uitgevoerde eksperiment waarin hulle elektriese ladings deur ’n mengsel van hierdie chemikalieë gestuur het, kon hulle ’n paar aminosure produseer. Hierdie 1953-eksperiment was beskou as bewys van evolusie. Wás dit egter so?

Soos met so baie hoopvolle hoofartikels, het hierdie demonstrasie waarop staatgemaak is tekortgeskiet en hoogaangeskrewe wetenskaplikes erken dat daar groot probleme met die eksperiment is. Die uiters beheerde toestande waaronder die navorsing uitgevoer was, het iets heeltemal anders opgelewer as dít wat wetenskaplikes nou glo waaruit ’n primitiewe aardse atmosfeer saamgestel was. Dit is ook belangrik om daarop te let dat ’n aminosuur nie lewe is nie. Alle lewende wesens gebruik slegs linkshandige aminosure, wat verskil van die mengsel wat die eksperiment opgelewer het. Bowenal kan wetenskaplikes nie bewys of verduidelik hoe ’n enkele proteïen per toeval of deur enige ander proses gevorm word as dit wat ons tans in lewende organismes sien nie. Die kans om ’n toevallige proteïen te vorm, is so vergesog dat baie wetenskaplikes opgegee het en na ’n alternatiewe verduideliking op soek is. Tot dusver het hulle geen geloofwaardige alternatief om van te praat nie.

Die probleem van proteïenvorming word in Bill Bryson se A Short History of Nearly Everything, uitgelig. “Niemand weet regtig nie, maar daar mag soveel as ’n miljoen [verskillende] tipes proteïene in die menslike liggaam wees en elkeen is ’n klein wonderwerkie”, skryf Bryson. “Volgens alle wette van waarskynlikheid behoort proteïene nie te bestaan nie” (Bryson, bl. 288).

Dink noukeurig daaroor. Bryson, iemand wat in evolusie glo, verwys na elkeen van die miljoen of so verskillende soorte proteïene wat van ons lewende organismes maak, as “klein wonderwerkies”. Waarom?

Proteïene word gemaak van lang stringe aminosure wat op so ’n manier verbind is dat hulle in presiese drie-dimensionele vorms gevou kan word. Tensy aminosure in ’n behoorlike volgorde verbind is, kan hulle nie gevou word in die vorms wat nodig is om met ander proteïene te verbind om die masjiene en strukture binne selle te bou nie. Die samestelling van hierdie aminosure volgens ’n presiese volgorde is ’n noodsaaklike – maar nie voldoende – vereiste om ’n proteïen te bou.

Die aminosure wat gebruik word om proteïene te bou, word dikwels vergelyk met die letters in ons alfabet, wat gebruik word om woorde en sinne te bou maar in plaas van 26 letters soos in die Afrikaanse taal, is daar slegs 20 aminosure wat in die genetiese kode van lewe gebruik word. Dink aan die verband tussen aminosure en proteïene op hierdie manier: Hierdie tydskrif bevat honderde sinne, elkeen heeltemal uniek – verskillend van alle ander. Hierdie sinne word gemaak uit letters wat woorde vorm en wat op hulle beurt in ’n volgorde geplaas word wat sin maak. Oorweeg nou om tienduisende letters in ’n houer te plaas en hulle een vir een uit te haal en hulle dan in die volgorde waarin hulle uitgehaal is te plaas. Hoe lank sou u nodig hê om ’n perfek saamgestelde sin te bou, selfs ’n kort sin met ongeveer 75 letters? Dieselfde probleem geld vir proteïene. Wat is die kans dat ’n enkele proteïen toevallig kan vorm?

Bill Bryson vra en beantwoord die vraag deur kollageen – ’n uiters algemene proteïen wat in die liggame van soogdiere en mense voorkom – te bespreek.

Soos Bryson beklemtoon, “om kollageen te maak, moet mens 1,055 aminosure in presies die regte volgorde rangskik. Hier vind ons egter ’n voor die hand liggende maar beslissende punt – mens kry dit nie reg nie. Dit rangskik self spontaan, sonder aanwysings en dit is waar die onwaarskynlikhede inkom. Die toeval dat ’n 1,055-volgorde molekuul soos kollageen, spontaan self in posisie kan rangskik, is eerlikwaar nul. Dit gaan net nie gebeur nie” (Bryson, bl. 288).

Indien dit “net nie gaan gebeur nie”, dan sou ons moontlik sonder kollageen kon klaarkom. Ons kan nie, maar kom ons verbeel ons vir ’n oomblik ons kán. Daar kan miskien soveel as ’n miljoen verskillende soorte proteïene wees wat bydra tot wat ons is en miskien kan ons sonder een of twee klaarkom.

Sonder om in te veel detail in te gaan en almal dan te verwar, bereken Bryson die kans van ’n meer beskeie 200-aminosuur-proteïen om self in die regte volgorde te rangskik as een in ... wat? Een in 1,000? Een in 10,000?

Nee, die getal wat ons soek, is ’n een gevolg deur 260 nulle! Daardie getal, verduidelik Bryson behulpsaam, is “’n groter getal as al die atome in die heelal”. Soos hy sê, “Elkeen is ’n klein wonderwerkie”.

Wié glo dus nóú in geloof en wonderwerke?

Dit is waarom baie wetenskaplikes tou opgooi met “toeval”. Tot dusver kon niemand nog met ’n oortuigende verduideliking kom van hoe selfs een proteïen kon ontstaan sonder ’n intelligente ontwerper nie – afgesien van die manier waarop hulle vandag gevorm word.

Hoe word proteïene dan vandag gevorm? Dit word saamgestel volgens aanwysings wat voorsien word deur die DNS in ons selle. DNS is niks anders as ’n kode nie – of om dit anders te stel, instruksies – oor hoe om proteïene te bou. DNS is kragtig! U kan oor hierdie wonderlike molekule in ons Mei-Junie 2014 artikel lees, “Die wonder van DNA”, beskikbaar op ons webtuiste by wvm.co.za. Laat ons net eers vir nou ’n bietjie perspektief kry.

Die meeste van ons is verbaas oor hoe baie inligting ’n enkele rekenaarskyfie of hardeskyf kan bevat. ’n Mens se vernuf is egter geen gelyke vir DNS nie. “Die inligting wat nodig is om die ontwerp van al die spesies van organismes wat ooit op die planeet bestaan het te spesifiseer – ’n getal wat volgens G.G. Simpson ongeveer een duisend miljoen is – sou in ’n teelepel [van DNS] pas en daar sou nog ruimte wees vir al die inligting in elke boek wat nog ooit geskryf is” (Denton, bl. 334)!

Hoe het DNS dan ontwikkel? Dit is ’n vraag wat evolusioniste nie kan beantwoord nie. Kan enigiemand vir ons ’n voorbeeld van die kode gee (of sal ons dit “bou-instruksies” noem) wat ooit sou kon ontstaan sonder intelligensie? Indien Bill Gates hoogs-intelligente programmeerders moet huur om die kode vir Microsoft-produkte te skryf, waarom sou enigiemand dink dat die kragtigste kode wat aan die mens bekend is, per toeval sou kon ontstaan? Dit is ’n ernstige vraag wat ’n antwoord vereis!

DNS is egter net die begin. Om ’n proteïen te maak is ingewikkeld en vereis die gebruik van molekulêre masjinerie wat van reeds bestaande proteïene gebou is! Proteïene word benodig om proteïene te maak! DNS kan niks doen sonder masjiene wat van proteïene gemaak is nie!

Sonder om ooit te verduidelik hoe DNS ontstaan het, verduidelik Bill Bryson die skynbare teenstrydigheid: “Proteïene kan nie sonder DNS bestaan nie en DNS dien geen doel sonder proteïene nie. Moet ons dan aanvaar dat hulle gelyktydig ontstaan het met die doel om mekaar te ondersteun? Indien wel: Fantasties!” (Bryson, bl. 289).

Mens moet regtig weer ernstig vra: “Wie maak nóú staat op geloof en wonderwerke?”

Wanneer hulle gekonfronteer word met die ontsaglike gaping tussen ’n paar aminosure – soos dié wat in die Miller/Urey laboratorium gevorm is – asook die kompleksiteit van die eenvoudigste sel, het evolusioniste ’n standaard antwoord. In plaas daarvan om te verduidelik hoe so ’n gaping oorbrug word, wat hulle nie kan doen nie, verkies baie van hulle om dit te ignoreer en te antwoord: “Ons is hier, dus het dit gebeur!”

Natuurlik betwis niemand dat ons hier is nie. Wat ons betwis, is hoe dit gebeur het en daar is ’n baie beter verduideliking: Die kode van DNS was ontwerp deur intelligensie. Die interne werking van die sel roep uit: “Ontwerp!” Elke voël, vlinder, vis en blom vertoon die onsigbare eienskappe van ’n groot, kragtige en liefdevolle God!

Die apostel Paulus verklaar dat Darwin se ondersteuners van ’n “skepping sonder ’n Skepper” geen verontskuldigings kan aanbied nie. “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Israel se koning Dawid het hom verwonder oor die wonderwerk van lewe en gesê: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14). Hy het verder verklaar: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Psalm 14:1).

Die ander kant van die saak

Om hierdie ondersoek na die huidige stand van sake af te sluit, kan die finale woord aan biochemikus en voormalige evolusionis, Michael Behe, gegee word. In sy topverkoper exposé [onthulling], Darwin’s Black Box, verduidelik Behe hoedat wetenskaplike navorsing oor die afgelope paar dekades bioloë blootgestel het aan die ongelooflik komplekse onderlinge wisselwerking tussen selle waaruit elke lewende organisme bestaan – feite wat dui op ’n “voor die hand liggende probleem” wat min mense wil bespreek. Sy gevolgtrekking?

Die resultaat van hierdie toenemende pogings om die sel te ondersoek – om lewe op molekulêre vlak te ondersoek – is ’n luide, duidelike, deurdringende uitroep van “ontwerp!” Die resultaat is so ondubbelsinnig en so betekenisvol dat dit beskou moet word as een van die grootste prestasies in die geskiedenis van die wetenskap. Hierdie oorwinning van die wetenskap behoort uitroepe van “Eureka!” uit tien duisende kele uit te lok. Dit behoort baie handeklap en “gelukwensings” te veroorsaak en mag selfs dien as verskoning om ’n dag verlof te neem.

Daar is egter geen [sjampanje]bottels oopgemaak nie en nie hande geklap nie. In plaas daarvan, hang daar ’n vreemde, verleë stilte oor die volslae kompleksiteit van die sel. Wanneer die onderwerp in die openbaar opduik, begin hulle ongemaklik rondskuif en die asemhaling raak ’n bietjie moeilik. Agter geslote deure is mense ’n bietjie meer ontspanne; baie van hulle erken openlik wat voor die hand liggend is, maar kyk dan weg, skud hulle koppe en laat dit maar daar.

Waarom verwelkom die wetenskaplike gemeenskap nie die verrassende ontdekking met ope arms nie? Waarom word die waarneming van ontwerp met soveel intellektuele versigtigheid hanteer?

Die dilemma is dat, terwyl die een kant van hierdie probleem intelligente ontwerp genoem word, die ander kant dalk God genoem word (bll. 232-233).