’n Antieke Bron van wysheid – wat ondersteun word deur die bevindings van die wetenskap en medisyne – sê dat dit nodig is om te dink oor ons gewoontes oor wat ons as “voedsel” beskou.

Vir baie mense is die dieetwette in Levítikus van die Bybel se raaiselagtigste instruksies. Hierdie Wette het vir duisende jare diegene wat dit volg, afgesonder van die algemene wêreld en was as gevolg hiervan die oorsaak van twispunt. Waarom het God mense verbied om sekere kossoorte te eet? Behoort u vandag nog dieselfde instruksies te volg?

Deur die eeue heen het kritici die Levítiese dieetriglyne as debatteerbaar en irrasioneel beskou, met die oorsprong in primitiewe bygelowe eerder as om van God af te kom. Tog beskou baie ander mense – veral diegene wat die voordele van daardie Wette self ervaar – dit as wys en redelik, soos ’n mens sou verwag van Wette wat deur God gegee is.

Wat die lasteraars ookal mag beweer, God het aangekondig dat Sy Wette vir ons eie beswil is om ons lewens te verleng (Deuteronómium 5:29, 33; 10:13). Sy dieetvoorskrifte was nie debatteerbaar nie; die doel was om tot ons voordeel te strek. Indien dit so is, waarom sou God later die Nuwe-Testamentiese Skrifte inspireer wat dit sogenaamd afskaf? Sou ’n alwyse Skepper Homself weerspreek?

Indien u al ooit oor sulke vrae nagedink het, behoort u die onderwerp te ondersoek om self vas te stel wat die waarheid is. Die Almagtige God daag u uit “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die antwoorde kan u lewe verander en u gesondheid bevoordeel!

Die Bybel openbaar verskeie belangrike redes vir sy dieetwette. In Exodus leer ons dat God die volk Israel vir ’n spesiale doel gekies het (Exodus 19:5-6). God het die dieetwette ontwerp om die Israeliete van ander nasies te onderskei, maar waarom? God het aan Moses gesê: “Ek is die Here julle God wat julle van die volke afgesonder het. Daarom moet julle ’n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere ... En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees” (Levítikus 20:24-26). God het Israel gekies om ’n model-nasie te word – ’n lig en voorbeeld vir die wêreld van wat reg en verkeerd, heilig en onheilig is (Deuteronómium 4:6-8).

God het dit gedeeltelik gedoen sodat ander volke die uitwerking van Sy Wette kon sien en Hom vir die wonderlike voordele van Sy regverdige weë kon soek. “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder” (Spreuke 3:1-2). Vermeerderde langslewendheid en verbeterde gesondheid sal net twee van die voordele wees van om die voorbeeld van Israel te volg (Deuteronómium 4:40; 7:12-15)!

God het ook met die dieetwette beoog om wyse en doeltreffende benutting van die omgewing te bevorder. Die voorskrifte oor “rein” en “onrein” voedsel is belangrik in die vervulling van God se opdrag dat die mens die aarde sal “bewerk en bewaak” (Génesis 1:28; 2:15). Om hierdie Wette ten volle te verstaan, moet ons dit in die konteks sien van God se doel vir die hele mensdom.

Bly op die gras!

Levítikus 11 en Deuteronómium 14 bevat die meeste van die Bybelse dieetwette. Dit gee spesifieke inligting wat in eenvoudige beginsels opgesom word. Soos een kommentator opgemerk het: “Hierdie was praktiese Wette wat God in Sy wysheid aan ’n volk gegee het wat nie die rede om voorsorg te tref kon verstaan nie” (The Expositor’s Bible Commentary, 1990, vol. 2, bl. 569). Vandag openbaar die moderne wetenskap egter hoe prakties en belangrik hierdie Wette werklik is.

In Levítikus 11:1-3 lees ons: “Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is ... Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou – dit mag julle eet.” Dit beskryf plantvretende soogdiere (herbivore) wat gesplete hoewe en gespesialiseerde spysverteringskanale het, wat as herkouers geklassifiseer word.

Herkouers het vierkamer pense wat grasse wat oneetbaar vir mense en ander diere is, omskep in voedsame proteïen-produkte – vleis en melk. Voorbeelde van sulke rein diere sluit beeste, skape, bokke, takbokke, buffels, elande, gemsbokke, wildsbokke, kariboe en kameelperde in. Dit is almal vreters wat op grasse en ander plante wei.

Hierdie riglyne maak die bestuur van die omgewing sinvol. Uitgestrekte terreine en grasvlaktes dek groot dele van die wêreld en word dikwels marginale lande genoem omdat die lae reënval nie geskik is vir akkerbou soos koring of mielies nie. “Herkouers het gedien en sal voortgaan om ’n waardevolle rol te speel in volhoubare landboustelsels. Hulle is veral nuttig om groot herwinbare bronne van landerye, weiveld en oorblyfsels van oeste of ander neweprodukte oor te skakel na voedsel wat vir mense eetbaar is. Met herkouers word land wat te arm is of wat te veel erosie het om te bewerk, produktief benut” (J.L. Beckett en J.W. Oltjen, “Role of ruminant livestock in sustainable agricultural systems,” Journal of Animal Science, vol. 74, nr. 6, 1996, bl. 1406). Diere wat gras vreet produseer ook vleis met ’n laer vetinhoud as diere wat graan vreet – wat welbekende voordele vir gesondheid inhou. Om vleisdiere op gras en ander plante aan te hou, is ook goedkoper.

God het hierdie “rein” diere ontwerp om voedsame kos op ’n ekonomiese en ekologies-gesonde wyse te produseer. Dit was voordele wat Hy wou hê dat Sy model-nasie aan die wêreld sou toon en Hy het hierdie riglyne aan Israel gegee lank voor die wetenskap van ekologie, ekonomie en voeding ontstaan het.

Die dieetwette verbied ook om logiese redes, die eet van vleisvretende diere. God het rein diere geskep om kos en neweprodukte vir menslike gebruik te verskaf. Hy het diere wat nie geskik vir menslike verbruik is nie vir ander doeleindes geskep. Karnivore as roofdiere, speel ’n belangrike rol in die uitdunning van ander diere-bevolkings. Wolwe en bergleeus byvoorbeeld, wat op wildsbokke jag maak, beheer die groei en gesondheid van byvoorbeeld troppe bokke deurdat hulle ou, siek of swak diere verwyder. Dit is een rede waarom ons nie vleisvreters eet nie; hulle mag dalk siek diere eet en so siektes op hierdie wyse aan mense oordra.

Hou maar die spek

Die Bybel noem spesifiek dat varke onrein is – met ander woorde nie geskik vir menslike voedselgebruik nie (Levítikus 11:7-8; Deuteronómium 14:8). Terwyl sommige teoloë nie verstaan waarom God teen varkvleis sou diskrimineer nie, vind ander mense baie logiese redes wat verband hou met ekologie, ekonomie, voeding en openbare gesondheid.

In die wildernis is varke dikwels nagdiere wat wortels uitgrawe vir kos. Hulle nagtelike vreetgewoontes was veronderstel om hulle van mense af weg te hou. Mense het egter vir eeue lank huishoudelike varke gebruik as aasvreters rondom nedersettings. Om ’n omnivoor in die nabyheid te hê, wat vinnig kan gewig optel deur enige soort gemors, aas of vullis te vreet en later vir voedsel geslag kan word – het gelyk na ’n goeie reëling vir baie samelewings. Is dit regtig so?

Vandag is “mielie en sojaboon gewasse goeie nuus vir varkprodusente, aangesien hierdie twee grane die hoofbestanddele in varkkos is”. (Kevin Schulz, “Goedkoop mielies, sojabone voorsien goed in die vark se behoeftes”, NationalHogFarmer.com, 2016). Hoewel nie-herkouers met spysverteringskanale soortgelyk aan dié van mense is, kan varke egter nie op grasse oorleef nie. Dit maak hulle ekologiese mededingers van die mens deurdat hulle grane soos koring, mielies en gars vreet. In Amerika voer boere sowat 20% van mielies wat geoes is aan varke. Dit is ’n onverstandige gebruik van hulpbronne, aangesien die wêreld se bevolking steeds druk uitoefen op ons vermoë om voedsel te produseer. Dit is nog ’n moontlike rede waarom God nie wil hê dat ons varke sal eet nie: Moontlik het Hy voorsien dat groot troppe varke kosbare graan uit die monde van arm mense sou neem!

Die wurms gaan uit!

Een van die ergste siektes wat varke en ander onrein diere oordra, is trichinose [vark masels]. Dit is ’n klein parasitiese ronde wurm wat die spierweefsel van diere en mense besmet (Richard Pearson, MD, “Trichinosis,” MerckManuals.com, 2018). Ons behoort egter daarop te let dat baie vleisvreters en omnivore die parasiet Trichinella spiralis dra en “infeksies kan die gevolg wees van wanneer varkvleis ... wildevark, beer of walrus” geëet word (ibid.). Die lys kan ook eekhorings, rotte, katte, honde, konyne, jakkalse, perde en mariene soogdiere insluit (Eugene Nester et al., Microbiology, 1995, bl. 768; “Trichinosis-Fact Sheet,” Connecticut State Department of Public Health, 2019). Dit is nie per ongeluk of toevallig dat God se goddelike dieetwette die gebruik van hierdie diere as voedsel verbied nie.

Lintwurms is nog ’n ernstige gesondheidsprobleem wat kan voortspruit uit die eet van varkvleis. Met verwysing na die vark-lintwurm-siekte, word die “hoogste voorkomssyfer in lande gesien waar varkvleis ’n groot deel van die dieet uitmaak, soos Mexiko, Latyns-Amerika, Spanje, Portugal, Afrika, Indië, Suidoos-Asië en China”. (Ellen Jo Baron et al., Medical Microbiology, 1994, bl. 887).

Alhoewel die advies om die vleis voldoende te kook dikwels gegee word om parasitiese infeksies van varkvleis en ander onrein diere te vermy, is die effektiefste manier om hierdie siektes te vermy, om nie onrein diere te eet nie! God het 3,500 jaar gelede vir Moses en die Israeliete volgens hierdie wysheid onderrig. Indien mense vandag die Bybelse dieetkode sou toepas, kan die wêreldwye las van parasitiese siektes binne ’n generasie dramaties afneem!

Moenie die skoonmaakspan eet nie

Die volgende belangrike stel goddelike dieetinstruksies het betrekking op waterdiere. “Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet. Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie ’n gruwel is dit vir julle” (Levítikus 11:9, 12).

Daar is talle en soms sonderlinge redes vir hierdie riglyne gegee. Terwyl sommige Bybelgeleerdes erken dat die eet van onrein organismes skadelik kan wees, stel ander mense voor dat organismes sonder vinne en skubbe net te afskuwelik was om te eet, bloot omdat dit soos slange gelyk het. Wetenskaplike ontdekkings openbaar egter die gedetailleerde wysheid en voordele van God se duidelike instruksies oor geskikte voedsel.

Bybelse “rein” visse swem oor die algemeen vryelik in watermassas rond. Die meeste “onrein” visse is óf bodembewoners óf aasvreters. Die Bybelse riglyne beskerm ons teen die inname van visse waarvan die liggame giftige stowwe produseer. ’n Oorlewingshandleiding van die V.S. se weermag sê: “Die meeste giftige visse het baie soortgelyke fisiese eienskappe. Oor die algemeen is hulle vreemd gevorm – boksvormig of amper rond en hulle het ’n harde vel (dikwels met beenagtige skubbe of stekels bedek), klein bekkies, klein kieue en klein of geen buikvinne” (John Boswell, U.S. Armed Forces Survival Guide, 2007, bl. 244). Baie seediere wat as giftig beskou word, het nie ware skubbe nie (Roger Caras, Venomous Animals of the World, 1974, bl. 103).

Bybelse riglyne toon aan mense die veiligste soorte vis om te eet. Dit is selfs nodig om rein vis deeglik te kook. Rou of halfgaar vis kan verskeie soorte parasitiese lintwurms en slakke oordra (Jacquelyn en Laura Black, Microbiology, 1993, bl. 624).

’n Ander doel

Bybelse dieetwette verbied ook die eet van skulpvis, wat beide nie vinne en skubbe het nie. Waarom word krewe, krappe, varswaterkreef en garnale verbied? Dit word in groot dele van die wêreld as lekkernye beskou. Die antwoord lê daarin dat ons moet verstaan waarom God hierdie wesens ontwerp en geskape het en watter natuurlike rol hulle in die natuur moet vervul.

Krewe “is seediere en bodembewoners en die meeste van hulle is nagdiere. Krewe aas vir dooie diere, maar vreet ook lewende vis, klein weekdiertjies en ander ongewerwelde diertjies sowel as seewier” (“Lobster,Encyclopaedia Britannica, 2018).

Krappe is aasvreters wat amper enigiets vreet – veral dooie vis. Gewone garnale leef bedags in die modder of sanderige bodems van baaie en riviermondings regoor die wêreld. In die nag dien hulle as roof-aasvreters en is hulle “bodembewoners wat dooie en verrottende organiese materiaal vreet” (Keith Banister en Andrew Cambell, The Encyclopedia of Aquatic Life, 1988, bl. 235).

God het hierdie organismes geskep om die “skoonmaakspan” van mere, riviere, strande, baaie en oseane te wees. Hy het nie beoog dat mense dit eet nie. Dit is ook waarom die gebruik om rou, gepekelde of gekookte krappe, kreef, slakke of garnale te eet, mense blootstel aan parasitiese infeksies soos lewerslakke wat tot 80% van sommige landelike bevolkings in Suidoos-Asië besmet (Black, Microbiology, bl. 624).

Gevaar van die halwe skulp

Waarom het God gapermossels, oesters, mossels en kammossels gemaak, maar hulle as ongeskik vir menslike gebruik verklaar? Hierdie diertjies vervul gespesialiseerde rolle in mere, strome en kusgebiede. As stilstaande filtervoedende diertjies, “grawe hulle in modderige neerslae op dieptes van 10 tot meer as 7,000 meter (33 tot 23,000 voet) en verteer mikroörganismes asook los organiese materiaal (detritus)” (“Mollusk,” Encyclopaedia Britannica, 2019). Filter-voedende organismes is die “stofsuiers” vir waterryke gebiede, wat die water reinig.

Sodra ’n mens verstaan waarom God skulpvis geskep het, behoort die rede waarom hulle onrein is, voor die hand liggend te wees. Indien ’n mens nie die inhoud van ’n stofsuiersak, kaggelfilter of septiese tenk wil eet nie, sal mens ook nie skulpvis wil eet nie! “Skulpvis gaar bakterieë op namate hulle verskeie liter water per uur filtreer. Menslike inname van hierdie seekosse (ongekook of onvoldoende gekook) kan tifuskoors of ander salmonella-infeksies veroorsaak” (J.P. Cabral, “Water Microbiology, Bacterial Pathogens and Water”, International Journal of Environmental Research and Public Health, vol. 7, nr. 10, 2010, bll. 3657-3703).

Hoe ernstig is die bedreiging van siekte? Die V.S. voedsel- en dwelmadministrasie rapporteer dat “weekdiere – oesters, gapermossels, mossels en kammossels – jaarliks meer as 100,000 siektes veroorsaak” (“Food Safety: Federal Oversight of Shellfish Safety Needs Improvement,” GAO-01-072, 9 Julie 2001, bl. 1). Uitbrake van cholera, tifuskoors, hepatitis A, Norwalk-virus, salmonella en parasitiese skulpvisvergiftiging is net ’n paar van die gesondheidsprobleme wat dikwels verband hou met die eet van hierdie weekdiere. Gesondheidskundiges, soos dié by die Mayo Clinic, beveel gewoonlik aan dat mense met verlaagde of swak immuunstelsels, veral swanger vroue, “ongekookte vis en skulpvis behoort te vermy” (“Pregnancy and fish: What is safe to eat?,” MayoClinic.com, 17 Junie 2016). Persone wat hierdie Bybelse dieetwette verstaan en volg, sal al hierdie probleme outomaties en nog meer vermy!

Van voëls tot goggas

Die laaste groepe organismes wat deur die Bybelse voorskrifte gedek word, is voëls, insekte en reptiele. Die meeste van die voëls wat uitgesluit is, is óf roofvoëls óf aasvreters soos aasvoëls en seemeeue (Levítikus 11:13-19). Roofvoëls is belangrik vir die beheer van verskillende dierebevolkings. Deur vleis en bloed van hulle prooi te verorber, maak van hierdie voëls potensiële draers van siektes. Visvretende roofvoëls is ook geneig om hoë vlakke van giftige chemikalieë in hulle liggame op te bou.

Reptiele is ook een van die soorte diere wat as onrein beskou word (Levítikus 11:29-30; 42-43). Wat insekte betref, mag slegs dié geëet word wat aan die sprinkaanfamilie behoort en wat lank reeds ’n gunsteling voedselbron in die Midde-Ooste is (vgl. verse 21-23).

Dieetwette afgeskaf?

Die Bybelse dieetwette is eenvoudig, rasioneel, prakties en wys. Lank voordat die mens die besonderhede van mikro-organismes, parasiete of wêreldwye ekologie geken het, het God kragtige beginsels bekend gemaak wat die omgewing sou beskerm, veilige en gesonde voedsel sou voorsien en die verspreiding van siektes onder diegene sou voorkom wat hierdie instruksies volg.

Baie skrywers en ander bronne het die doel en voordele van hierdie riglyne erken. Kenners het opgemerk dat “dit duidelik is dat die meeste van hierdie wette ’n bydrae lewer tot higiëne en openbare gesondheid” en “die Wette is wonderlik deur God ontwerp vir die algemene gesondheid van die nasie” (The Expositor’s Bible Commentary, bll. 529, 569)

Indien hierdie Wette dan egter so logies en voordelig is, waar het die idee ontstaan dat dit afgeskaf is en waarom beweer sommige mense dat die Bybel hierdie idee ondersteun? Ons vind die antwoord in interpretasies wat mense verkeerdelik inlees in Skrifture wat in Markus 7 en Handelinge 10 voorkom. Bestudering van die “bewyse” is leersaam.

In Markus 7 vra die Fariseërs vir Jesus waarom Sy dissipels eet sonder om hulle hande te was volgens die Fariseërs se tradisies. Christus beskuldig die Fariseërs van geveinsdheid (verse 5-13), maar baie mense verstaan dit wat daarop volg verkeerd. Dit is belangrik om te besef dat sommige Bybelvertalings hulle eie woorde by Markus 7:19 voeg, woorde wat Jesus nie gespreek het nie en wat nie in die Griekse teks voorkom en wat verkeerdelik te kenne gee dat Jesus met die dieetwette weggedoen het. Christus se punt was dat die inname van besoedelde gemors ’n mens nie geestelik verontreinig nie, aangesien dit nie die “hart” binnegaan om so gesindhede te beïnvloed nie. Die gemors gaan deur die spysverteringskanaal en word uitgeskei. Hierdie hoofstuk bespreek nie dieetwette nie en ook nie Matthéüs 15:10-20 nie, wat dieselfde gebeurtenis beskryf. Lees hierdie skrifgedeeltes in ’n paar verskillende vertalings en u sal dit kan insien.

God het aan Petrus ’n visioen gegee, soos dit in Handelinge 10 beskryf word, om hom te help om God se planne vir die groei van die Kerk te verstaan. Petrus het ’n groep onrein diere gesien en is drie maal aangesê om dit te eet. Elke keer het hy botweg geweier omdat hy geglo het dit is verkeerd (verse 13-16). Hou nou in gedagte, in Markus 7 was dit juis dié Petrus wat gehoor het dat Jesus kwansuis die dieetwette sou afgeskaf het. Die Petrus wat deur Christus vir drie-en-’n-half jaar opgelei is – was tog nog duidelik onder die indruk dat om onrein vleis te eet, verkeerd is! Hy was verward oor die betekenis van die visioen (Handelinge 10:17) totdat drie heidense mans hom besoek het met ’n versoek dat hy die Evangelie aan hulle moes verduidelik (verse 21-27). Normaalweg sou Petrus nie met mans van buite die verbondsgemeenskap geassosieer het nie, omdat die Jode die heidene as onrein beskou het.

Nadat Petrus hierdie raaisel uitgepluis het, het hy tot die slotsom gekom: “God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (Handelinge 10:28). Hy het God se ware bedoeling gesnap. Christene moes die Evangelie aan die heidene verkondig wat op gelyke voet met die Christene van Joodse afkoms by die Kerk kon aansluit. Petrus het nie in hierdie hoofstuk of enige ander plek in die Nuwe Testament tot die gevolgtrekking gekom dat God wou hê dat die dieetwette afgeskaf moes word nie. Die sogenaamde bewyse is eenvoudig nie daar nie! Nie Jesus Christus of Petrus het hierdie Godgegewe riglyne afgeskaf nie.

Bymotiewe?

Indien die getuienis dat Christus en die Apostels die dieetwette afgeskaf het, so swak is – eintlik nie eers bestaan nie – waar het hierdie idee ontstaan? Die leidrade vind ons in die maatskaplike, politieke en godsdienstige faktore wat kerkleerstellings van die tweede eeu n.C. beïnvloed het.

Alhoewel die vernietiging van die Tweede Tempel in 70 n.C. – minder as 40 jaar na Christus se dood en opstanding – ’n einde gemaak het aan baie lang beoefende Joodse gebruike en godsdienstige beperkings wat lank reeds in gebruik was, het Christus se vroegste dissipels steeds Wette en praktyke gehou wat hulle Verlosser onderhou het en hulle beskou het as tydlose leerstellings van die Bybel (vgl Lukas 4:16; Edward Gibbon, Decline and Fall of the Roman Empire, 1952, bll. 129-131). Namate meer heidene egter in die Kerk ingekom het, het Christene ’n stryd begin teen sterk anti-Joodse gesindhede wat destyds in die Romeinse Ryk ingesypel het. As gevolg van die aanvalle en bespotting van die Joodse gebruike deur Latynse en Griekse skrywers, het “baie Christene hulle bande met Judaïsme verbreek”. (Samuele Bacchiocchi, From Sabbath to Sunday 1977, bl. 185).

Baie belydende Christene het probeer om hulleself radikaal te distansieer van enigiets wat Joods gelyk het. Hulle wou so veel as moontlik verskillend en afgesonder van die Jode voorkom. In hulle pogings om ’n nuwe identiteit te skep, het hulle begin met die instel van nuwe gebruike – baie daarvan is aan die omliggende heidense kultuur ontleen – om die oorspronklike Bybelse sogenaamde “Joodse” gebruike te vervang (Will Durant, Caesar and Christ, 1944, bl. 595). Voorbeelde hiervan sluit in die vervanging van die Sabbat met Sondag, die Bybelse heilige dae met heidense vakansiedae en God se dieetwette met plaaslike voedsel voorkeure.

Van hier tot in ewigheid

Een van die hartseer gevolge van die mens se algemene verwerping van God se dieetwette, is dat miljoene mense gely het en aan siektes gesterf het wat hulle opgedoen het deur te eet van wat God nooit vir voedsel bedoel het nie.

Die Bybel verklaar dat Satan die hele wêreld mislei (Openbaring 12:9). Hierdie misleiding het die oortuiging ingesluit dat teologiese, rasionele en voordelige opdragte oor dieet wat God aan Israel gegee het, sodat dit ’n model-nasie vir die res van die wêreld kon wees, nie meer geldig is nie.

Hierdie situasie sal egter binnekort verander. Wanneer Jesus Christus weer kom, sal daar ’n “herstel van alle dinge” wees (Handelinge 3:20-21), met inbegrip van die dieetwette wat in die Bybel voorkom. Profesieë in Jesaja 65:1-10 en 66:15-20 openbaar dat die mens se Verlosser wanbegrippe sal regstel, dat Hy of enigiemand anders hierdie voordelige Wette sou afgeskaf het. Alle mense sal dan leer waarom God Sy Wette ingestel het en die voordele daaraan verbonde kan ervaar deur in harmonie met hierdie Goddelik geïnspireerde beginsels te leef (Jesaja 2:2-3). Die Bybel dui daarop dat wanneer hierdie herstel plaasvind, dit sal voortduur solank as wat God se Koninkryk sal bestaan – vir ewig (Jesaja 9:6-7)!

Die goeie nuus is dat u nie hoef te wag vir Jesus se Wederkoms om die instruksies van u Skepper te begin volg nie. U kan vandag begin en u behoort ook! Individue wie se verstand deur God oopgemaak word vir die werklike betekenis van die Skrif, kan nou reeds baat vind en sal binnekort die geleentheid kry om hierdie lewensnoodsaaklike beginsels met die hele mensdom te deel (Jesaja 30:20-21)

Diegene wat ’n basiese kennis van die toepassings en voordele van God se lewenswyse ontwikkel het, sal saam met Jesus Christus in die Koninkryk van God op hierdie aarde regeer (Openbaring 11:15; Daniël 2:44; 7:27). Die dieetwette is deel van God se plan vir welsyn. Dit is vandag nog van toepassing en dit sál fundamenteel wees vir ’n gesonde lewenswyse in die wêreld van môre.