Tydens die 100ste herdenking van die begin van die Eerste Wêreldoorlog, wat kan die “oorlog om alle oorloë te beëindig” ons leer oor die mens en die menslike natuur? ’n Blik op die verlede kan ons baie leer oor ons toekoms.


Dit was die somer van 1914 en die weer in Europa was buitengewoon aangenaam. Hoewel stormwolke van politieke en maatskaplike verwikkelinge al vir ’n geruime tyd opgebou het in die rigting van ’n krisis, sou die gewone man op straat hom nouliks die hartverskeurende tragedie kon indink wat op die punt was om die hele vasteland te verswelg. ’n Grootskaalse oorlog, die slagting van miljoene mense, was op die punt om ontketen te word!

Die konflik op die horison – dit was so vernietigend dat dit vir ’n tyd lank die “oorlog om alle oorloë te beëindig” genoem sou word – sou die grondslag lê vir ’n veelbewoë eeu van bloedvergieting. Die Europese beskawing sou op sy knieë gedwing word; totalitarisme – die politieke voortsetting van oorlog deur middel van ander middele – sou ontketen word; heerskappye en die monargiese vorm van regering sou afgestel word.

Nuwe nasies sou ontstaan, die verwesenliking van ’n langverwagte strewe van hulle mense; die kaart van ’n groot deel van die wêreld sou dramaties oorgeteken word. Die swaartepunt van die wêreldmag sou beslissend verskuif word van die “ou” wêreld na die “nuwe”. Geloof in God sou skerp afneem te midde van die mens se goddelose, wrede en onmenslike optrede teenoor sy medemens.

Moderne oorlog bedreig alle lewe

Alhoewel oorloë wel deel was van die mens se geskiedenis sedert sy begin, het oorlog in die twintigste eeu ’n heel ander vorm aangeneem. Vir die eerste keer word gedreig om die mensdom uit te wis. Vrede mag die mens se innige begeerte wees, maar dit lyk of vrede ons net altyd ontwyk, selfs terwyl ons vermoë om mekaar dood te maak met rasse skrede toeneem.

Waarom moet dit so wees? Terwyl die wêreld die eeufees van die begin van die Eerste Wêreldoorlog vier, is dit toepaslik om te besin oor die mensdom se buitengewone en skynbaar aangebore vermoë om mekaar uit te moor. Watter lesse kan ons leer uit die redes vir oorloë en die menslike natuur wat daaragter lê? Is daar ’n verskuilde oorsaak vir oorlog waarvoor ons blind is? Is dit moontlik om uit te sien na ’n tyd wanneer daar nie meer oorlog sal wees nie? Ons kan gelukkig verseker wees van ’n vreedsame toekoms, hoewel vanuit ’n bron wat min mense in ons moderne tyd verwag.

’n Kruitvat Europa 

Hoe was die Europese alledaagse lewe in 1914? Handel en nywerheid het floreer in ’n era vol globalisering. Bevolkings het vinnig uitgebrei en die emigrasie van miljoene mense na die Amerikas en Australasië aangewakker. Arbeidstoestande het verbeter, gestimuleer deur ’n kragtige sosialistiese beweging wat in baie lande aktief was. Kommersiële interafhanklikheid en internasionalisme het aanleiding gegee tot die populêre gedagte dat grootskaalse oorlogvoering nou ’n ding van die verlede was.

Vir baie mense was die lewe oordadig, beskaafd, gekultiveerd en buitengewoon rooskleurig. Ongekende wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang het ’n rooskleurige toekoms voorspel.

Die hele vasteland was egter ook gekenmerk deur “onverbloemde nasionalisme” en ’n versnellende wapenresies. Die drie groot Europese ryke, Duitsland, Oostenryk en Rusland, was in besit geneem deur interne ontevredenheid met die gemarginaliseerde groepe wat eise gestel het vir ’n groter demokrasie. Saam met Brittanje en Frankryk het al die Europese state rede gehad om te voel dat hulle posisie op een of ander manier bedreig word.

Europa se vasteland-state het hulle blind gestaar teen die tydlose soeke na sekuriteit in militêre superioriteit. Daar was miljoene opgeleide soldate, almal gereed om te veg vir hulle land, met genoeg skietvermoë om mekaar teen ’n ongekende spoed uit te wis. ’n Faktor wat dinge bemoeilik het, was dat vinnige kommunikasie nog in sy kinderskoene was en dit moeilik gemaak het vir die volksleiers om ingelig en beslissend op te tree indien ’n krisis sou ontstaan.

Oorlog is hel”, was generaal Sherman van die Verenigde State van Amerika se beroemde opmerking tydens ’n vorige konflik. Terwyl Europa die somer van 1914 binne-gegaan het, sou die wêreld uitvind hoe boosaardig dit kan wees. Hierdie magtige nasies het “voortgegaan, asof in ’n dodemars en ’n dialoog van dowes, na die vernietiging van hulle kontinent en hulle beskawing” (The First World War, Keegan, bl. 23).

Een kritieke vonk

Al wat nodig was om die verwoestende oorlogsbrand te ontketen, was een noodlottige vonk. Dit het begin toe die Serwiese nasionalis, Gavrilo Princip, die aartshertog Franz Ferdinand, neef van die Oostenrykse keiser Franz Josef, tydens ’n besoek aan Sarajevo in Bosnië op 28 Junie 1914 vermoor het.

Aanvanklik het dit gelyk of niks verander het nie. Die Europese lewe het voortgegaan soos gewoonlik. Agter die skerms was Oostenryk besig om ’n bondgenootskap met Bulgarye en Turkye te probeer bereik om hulle “Serwiese probleem” eens en vir altyd op te los. Oostenryk kon dit nogtans nie waag om alleen op te tree nie. Indien hulle dit gedoen het, sou ’n plaaslike konflik relatief ongesiens verbygegaan het.

In plaas daarvan het Oostenryk, gerugsteun deur Duitsland, ’n uitdagende nota aan die Serwiërs gestuur en ’n antwoord teen 25 Julie geëis. Serwië het egter, aangemoedig deur Russiese ondersteuning, die belangrike voorwaardes van die nota verwerp en na twee dae sy klein leërmag gemobiliseer.

Europa mobiliseer vir oorlog

Die koeël was deur die kerk. Gebeure het vinnig buite beheer geraak. Tussen 28 Julie (toe Oostenryk-Hongarye oorlog verklaar het teen Serwië) en 12 Augustus (toe Brittanje en Frankryk oorlog verklaar het teen Oostenryk), het al die groot Europese nasies oorlog verklaar teen mekaar.

Soos ’n reeks geweldig vernietigende snellers wat getrek word, het Rusland begin om sy magte teen Duitsland en Oostenryk te mobiliseer; daarna Duitsland teen Rusland; Frankryk teen Duitsland en Duitsland teen Frankryk. Brittanje het oorlog teen Duitsland verklaar en die neutrale België is gedwing om kant te kies saam met die Geallieerdes.

Feitlik die hele Europa was nou in oorlog gedompel! Dit het nogtans nie daar geëindig nie. Ongeveer 36 lande was uiteindelik in die vyandighede betrokke, met die mobilisering van meer as 70 miljoen militêre personeel. Dit sluit die Britse heerskappy van Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Indië, met Japan, Italië, Serwië, Montenegro, Roemenië, Griekeland, Portugal en uiteindelik die VSA in wat almal by die Geallieerdes se saak aangesluit het. Die Sentrale Magte is gehelp deur die Ottomaanse Ryk en Bulgarye.

Al hierdie vyandighede het min of meer gelyktydig gebeur, in baie verskillende vorms van konflik. In Europa het die Westelike Front Duitsland teen Frankryk en Brittanje sien veg. Aan die Oostelike Front het Rusland teen Duitsland en Oostenryk te staan gekom en mekaar uiteindelik aangeval vanuit loopgrawe langs ’n 1440-km lange front. Aan die suidelike Balkan Front, het Duitsland, Oostenryk, Bulgarye en die Ottomaanse Turke teen Rusland, Serwië, Montenegro, Roemenië, Griekeland en Italië geveg. Op die Italiaanse Front het die Italianers teen Oostenryk-Hongarye geveg.

Op die oop see het Brittanje die Duitse hawens suksesvol geblokkeer en die Duitse vloot buite aksie gestel. In die Midde-Ooste het Brittanje en Frankryk saam met die Arabiere geveg om Egipte en die belangrike Suez-kanaal te beskerm en het hulle uiteindelik Jerusalem en Palestina bevry.

Die Geallieerdes het ook teen die Ottomaanse Ryk in Mesopotamië en die Persiese Golf geveg en ten spyte van ’n bekende nederlaag op die Gallipoli-skiereiland aan die Dardanelles, uiteindelik die oorwinning behaal.

Dit was oorlog van epiese afmetings, soos nog nooit tevore gesien is nie! Op hierdie tydstip was die hele wêreld in oorlog gewikkel!

Duitsland se plan ontvou

Al was dit ’n oorlog waarin die hele wêreld betrokke was, bly die Westelike Front die grusaamste arena van slagting. Die gebeure daar het mekaar baie vinnig opgevolg. Elke weermag het sy eie deeglik-voorbereide oorlogsplan gehad, wat vinnig in aksie verander is. Die taak om miljoene troepe met al hulle toerusting, voedsel en ander logistieke ondersteuning waarby 2,5 miljoen perde ingesluit is, vinnig per spoor te verskuif, was ontsaglik.

Aanvanklik het die Duitse aanvalle vinnig gevorder volgens ’n ambisieuse skedule in die hoop om die Franse binne 40 dae te verpletter. Duitsland het gedink dat sodra dit uitgevoer was, hulle kon konsentreer op die Oostelike Front om die naderende Russiese weermag uit te wis.

Wat het in werklikheid gebeur? Die Franse, bygestaan deur die Britse troepe, het ordelik suidwaarts na Parys teruggeval. Hulle plan was ’n massiewe teenaanval wat die Duitsers sou stuit en die patroon van die oorlog sou wysig.

Skaakmat en uitputting

In plaas van ’n warrelwind oorwinning vir een van die twee partye, was dit skaakmat. Die Duitse troepe was teruggedwing om ’n ingewikkelde stelsel van loopgrawe ter verdediging langs ’n 960-km lange front te vorm. Die Geallieerde magte het hulle teëgestaan met hulle eie loopgrawe (die Duitsers s’n) en so begin die onhandelbare en bloedige loopgraafoorlog wat vir die daaropvolgende vier jaar sou duur, met nie een van die kante wat ’n deurslaggewende voordeel daaruit geput het nie.

Die verliese aan albei kante gaan byna die verstand te bowe; Duitsland se verlies was 2 miljoen wat dood is, Frankryk 2 miljoen en Brittanje ongeveer 1 miljoen. Die loopgrawe het berug geraak vir die bykans ondenkbare modder en vullis, doringdraad, masjiengewere en giftige gas. Skokkend soos dit is, is ongeveer 50% van diegene wat daar gesterf het, nooit uit die slagveld teruggevind nie!

In die hoop om toevoerlyne van Amerika na Europa af te sny, het Duitsland sy toevlug geneem tot onoordeelkundige duikboot oorlogvoering. As ’n gevolg hiervan, het ’n ontstoke VSA vroeg in 1917 tot die oorlog toegetree en kort daarna Frankryk oorstroom met manne en middele teen ’n tempo van 10,000 troepe per dag.

Soos wat die oorlog gevorder het, so het ook die tegnologie van oorlogvoering gevorder, veral vir die Geallieerdes. Tenks is ontwikkel en die gebruik van vliegtuie en die meeste ander vorms van militêre toerusting het gevorder en beslissende voordele oor die vyand gegee.

Die prys van oorlog

Uiteindelik is die Duits-geleide magte, wat reeds oorlogsmoeg en ontmoedig was, ten aansien van ’n meer ervare vyand, op 11 November 1918 gedwing tot ’n oneervolle wapenstilstand – “die elfde uur van die elfde dag van die elfde maand”.

Teen die tyd dat alles verby was, was byna 10 miljoen soldate dood, meer as 20 miljoen gewond en byna 8 miljoen vermis. Die oorlog het eindelose smart en blywende hartseer vir miljoene mense tot gevolg gehad. Die totale koste verbonde aan die oorlog het, in vandag se geldwaarde, R11,5 biljoen oorskry.

Die oorlog was ’n ongeëwenaarde tragedie waarin die hele vasteland van Europa groot dele van die wêreld vasgevang het in ’n selfmoord maalstroom van bloedvergieting. Die wêreld het gereageer en reageer steeds met opperste afgryse oor wat die mens aan sy medemens kan doen.

Die “oorlog wat oorloë sal beëindig”?

In Augustus 1914 het die beroemde Britse skrywer HG Wells, uitgesien na Brittanje se deelname aan wat hy genoem het “die oorlog wat oorloë sal beëindig”. Selfs daarna, wanneer hulle terugkyk na die afgryslikheid van dit alles, het baie mense hulle met nuwe ywer na vredeliewendheid en internasionalisme gewend en die gebeure van 1914-1918 “die oorlog wat alle oorloë sal beëindig” genoem.

Natuurlik, wanneer ons terugkyk, weet ons dat ’n ander wêreldoorlog Europa skaars 20 jaar ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog geteister het. Daardie oorlog het veroorsaak dat meer as 50 miljoen mense in die oorlog self dood is en ontelbare miljoene mense gesterf het as gevolg van die geweld.

Vandag kyk ons na die geskiedenis van die afgelope honderd jaar en ons kom tot ’n ontnugterende slotsom. Ons sien tot dusver, elke keer wanneer die mensdom een of ander tegnologie ontwikkel wat gebruik kan word vir oorlogvoering, dan is dit uiteindelik gebruik vir oorlogvoering. Die mosterdgas van die Eerste Wêreldoorlog en die atoombom van die Tweede Wêreldoorlog het plek gemaak vir die “kleretas kernbom”, chemiese en biologiese wapens en gesofistikeerde onbemande vliegtuie.

Die geestelike dimensie

Te midde van al die retrospektiewe besprekings wat in hierdie herdenkingsjaar sal plaasvind, is daar een dimensie wat waarskynlik verwaarloos sal word, die geestelikedimensie. ’n Mens kan nie oorlog verstaan sonder om hierdie dimensie, wat deur God se geïnspireerde Woord – die Bybel – voorsien word, in ag te neem nie.

Die Skrif bied aan ons die mees basiese, maar diepgaande insig: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).

Vir baie oorlogsmoeë sinici mag dit bedrieglik eenvoudig en selfs voor die hand liggend klink. Oorloë en konflikte ontstaan as gevolg van menslike begeertes, die dinge wat ons so graag wil hê dat ons bereid is om daarvoor te veg. Wanneer ons opsom wat waar is van individue, dan is dit selfs nog meer waar van nasies en state wat na alles deur individue gelei word.

Dink daaraan dat Duitsland in 1914 ambisieus en honger was vir uitbreiding en oorheersing; hulle wou die vernaamste plek in die wêreld beklee. Frankryk wou sekuriteit hê ten koste van Duitsland se ontluikende militêre mag en wou graag toesien dat Alsace en Lorraine, wat deur Duitsland in die Franco-Russiese oorlog van 1870 geannekseer is, teruggegee word.

Die Russe, verslaan en verneder in die Russies-Japannese oorlog van 1902, wou hulle industriële en militêre mag terugwen. Hulle wou die agterstand inhaal en hulleself teen die groeiende Duitse bedreiging op hulle grense verdedig. Die Oostenryks-Hongaarse Ryk wou permanent sy probleme met ’n gewelddadige en nasionalistiese Serwië oplos, wat weer op sy beurt ’n groter Serwië wou gehad het, vry van Oostenryks-Hongaarse beheer.

So is die weg vir oorlog gebaan, op presies dieselfde wyse as wat die Skrif dit beskryf, deur ’n botsing van die fundamentele en teenstrydige menslike en nasionale begeertes.

Sataniese invloede

Daar was egter ook verdere invloede wat op ’n geestelike vlak uitgeoefen was. Die Bybel onthul dat hierdie wêreld nou onder die beheer is van ’n geestelike wese, bekend as Satan, of die duiwel (2 Korinthiërs 4:4). Hy is ’n gevalle aartsengel wat lank gelede in opstand gekom het teen God (die eerste oorlog waaroor die mensdom enige inligting het) en hy het ’n derde van die engele saam in sy rebellie ingesleep (Openbaring 12:4). Die Bybel noem hierdie opstandige engele “duiwels of demone”.

Satan is die groot teenstaander, die opperste-aanklaer (van die Griekse diabolos) en misleier van die mensdom (vers 9). Hy is die groot vernietiger. Die Bybel noem hom ’n moordenaar en die vader van leuens (Johannes 8:44). Hy is die kwaadgesinde vyand van God en die mensdom.

Totdat Satan en sy demone van die toneel verwyder word, sal hierdie wêreld nooit blywende vrede en kalmte hê nie. Waarom nie? Omdat die Bybel ons waarsku dat Satan se bose gees hierdie wêreld deurdring. Hy is “die owerste van die mag van die lug” wie se gees “nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Die gevolg van sy natuur sal altyd neig in die rigting van verwarring, chaos, geweld en oorlog wat bo alles Satan se kenmerkende aktiwiteit is. Vir menslike wesens om in vrede te leef, moet ons Satan se gewelddadige aard verwerp – nie net gesamentlik as nasies nie, maar ook as individuele mense met vrye morele keuses.

Selfs nou, sê die Bybel aan ons, is Satan baie kwaad omdat hy weet sy tyd is besig om uit te loop (Openbaring 12:12). Wanneer Jesus Christus terugkeer om die Koninkryk van God oor die hele aarde te vestig, sal Satan verwyder en buite aksie gestel word (Openbaring 20:1-3). Satan weet dit en dit maak hom inderdaad woedend!

Christus sal uiteindelik vrede bring!

Sal daar dus ’n Derde Wêreldoorlog wees? Ongelukkig waarsku die Skrif ons dat ’n groter omwenteling nog aan die kom is. ’n Verskriklike traumatiese tyd van intense oorlogvoering, vernietiging en lewensverlies is geprofeteer om binnekort, net voor die Wederkoms van Jesus Christus, plaas te vind. Dit sal baie meer verwoestend wees as enige oorlog wat al voorheen plaasgevind het sodat dit nodig sal wees dat Jesus Christus ingryp om alle lewe op die planeet Aarde van totale uitwissing te red (Mattheüs 24:21-22).

Ja, daar is goeie nuus ná die slegte. Christus sal terugkeer om die mensdom van homself te red en ook van die bose Satan se gekonkel. Wanneer Hy kom as die nuwe heersende Koning van die Koninkryk van God op hierdie aarde, sal Hy Satan se poging om die stigting van daardie Koninkryk te verhinder, heeltemal tot niet maak (Romeine 16:20).

Dit sal ’n geprofeteerde duisendjarige “Millennium” van vrede inlei. Vandag word slegs ’n relatiewe klein groepie mense tot die Waarheid geroep en hulle leef nou die lewe wat God beplan het vir die hele mensdom. Gedurende die Millennium, sal elke mens wat lewe in staat wees om God se lewensweg te volg, sonder Satan se korrupte invloed.

Selfs dit sal egter nie heeltemal die einde van oorlog wees nie, ook nie van Satan se rol daarin nie. Openbaring berig dat Satan en sy duiwels weer vrygelaat sal word, teen die einde van ’n duisend jaar van vrede. Sal die mensdom teen daardie tyd al die lesse van oorlog geleer het? Dis verbasend, maar opstandige mense sal weereens deur Satan beïnvloed word en die wêreld sal weer vir een laaste keer uitbars in geweld en oorlog (Openbaring 20:7-10). Dit sal Satan se finale aanslag wees, waarna hy in ’n poel van vuur gewerp sal word, om nooit weer ’n houvas op die mensdom te verkry nie.

Dan sal ’n tyd aanbreek, bekend as die Groot Wit Troon Oordeel, waartydens almal wat gesterf het sonder ’n geleentheid tot redding, uiteindelik daardie geleentheid gegee sal word. Op hierdie punt sal oorlog werklik iets van die verlede vir die mensdom wees en God se Plan sal aanbeweeg na die volgende fase, wanneer die hoofkantoor van God se troon oor die heelal vir die eerste keer na die planeet Aarde sal neerdaal (Openbaring 21:1-4).

So, ja, die mensdom sal uiteindelik ’n einde aan oorlog sien. Daar sal egter groot onstuimighede wees tussen nou en daardie wonderlike dag. U kan egter as individu vrede in u lewe hê. Indien God u nou roep, wend u na Hom en besluit om volgens Sy lewenswyse te leef. Indien u graag persoonlik met iemand wil praat oor hoe om al hierdie dinge te doen, skakel of skryf aan die streekskantoor die naaste aan u, soos op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys. Ons verteenwoordigers sal u graag help om “die vrede ... wat alle verstand te bowe gaan” te vind (Filippense 4:7).