Vyftig jaar na sy dood en 70 jaar nadat hy Brittanje tot oorwinning gelei het in die Tweede Wêreldoorlog, neem Churchill se nalatenskap nog steeds ’n vername plek in. Wat kan ons van hierdie merkwaardige man leer?
“Ons is almal wurms, maar ek glo dat ek ’n gloeiwurm (vuurvliegie) is”.
Winston Churchill to Lady Violet Asquith, 1906.
Regdeur sy lang en strydlustige politieke loopbaan het baie mense besluit dat die karakter en leierskap van Winston Churchill eenvoudig net nie aan die vereistes van die hoogste politieke amp voldoen het nie. Nietemin het Churchill so helder as Eerste Minister in die Tweede Wêreldoorlog “gegloei”, dat geskiedkundiges hom krediet gee vir die redding van die Verenigde Koninkryk, van wat andersins ’n oneervolle nederlaag sou wees.
Watter lesse kan ons op die 50ste herdenking van sy dood en die 70ste herdenking van Vredesdag uit die lewe van hierdie merkwaardige man leer?
Gebore om te lei?
Winston Churchill is in 1874 in ’n aristokratiese Engelse familie gebore wat bekendheid verwerf het deur die wedervaringe van sy voorouer, John Churchill, Eerste Hertog van Marlborough, wie die Engelse magte tot sukses in die Spaanse Suksessie-oorlog teen die Franse (1701-1714) gelei het. Daaropvolgende geslagte van die familie was egter nie naastenby so beroemd nie. Sy pa, Sir Randolph Churchill was ’n jonger broer van die agtste Hertog en was met die Amerikaanse sosiale vlinder en erfgenaam, Jennie Jerome getroud, wat Winston dus half Amerikaans maak.
Randolph was ’n Konserwatiewe politikus wat dryfkrag gehad het om Eerste Minister te word. Hy was ’n uitstekende spreker wat opgang gemaak het tot Staatsekretaris vir Indië en Minister van Finansies vir Engeland. Sy loopbaan het egter misluk en sy lewe is deur siekte kortgeknip; hy het in 1895 op die ouderdom van 43 gesterf. Winston het sy vader verafgod en dit as sy eie lewenstaak gesien om sy vader se potensiaal te vervul; hy sou ook ’n lid van die Parlement word.
Winston was baie intelligent, maar nie selfgedissiplineerd nie en op skool het hy hom nie goed gedra nie. Diegene wat hom ontmoet het, het nogtans opgemerk dat Winston selfs as skoolseun, ongewone eienskappe besit het wat hom as buitengewoon geïdentifiseer het, soos genialiteit en die vermoë om hard te werk asook teen ’n tempo wat hom ver sou bring in die rigting wat hy wou inslaan.
Die jong Winston het veral die sterkste sin van sy eie persoonlike doelstelling gehad. Selfs as tiener het hy ’n ongelooflike aanvoeling gehad dat hy eendag in beheer van die verdediging van Londen sou wees en dat hy Londen, die nasie en die Ryk sou red (In Search of Churchill, Martin Gilbert, bl. 215). Die meeste mense sou dit nie ontken, dat menslik gesproke, hy die redder van sy land geword het, net soos hy verwag het nie. Churchill het homself as “’n man met ’n roeping beskou, wat deur die Voorsienigheid bestem was om ’n heldhaftige rol op die verhoog van die geskiedenis te speel” (Churchill, the Unexpected Hero, Paul Addison, bl. 3).
Van slagveld na stembus
Sedert sy jong dae het Winston geweet dat hy by die weermag wou aansluit na die voltooiing van sy skoolloopbaan. Hy is in die ruitery opgelei met die uitsluitlike doel om aksie te beleef, medaljes te verkry en soveel moontlik bekendheid te verwerf voordat hy ’n politieke loopbaan in die Parlement sou nastreef.
Sy strategie was om in Britse koerante en boeke oor sy wedervaringe te skryf, nie bloot om geld te verdien nie, maar ook om ’n reputasie langs hierdie weg op te bou. Hy het homself ook verdiep in deurlopende selfonderrig, gulsig oor historiese en politieke onderwerpe opgelees, ter voorbereiding vir die toekoms wat hy gekies het. Later in sy lewe het hy geskerts dat “geskiedenis my goedgesind sal wees, want ek beplan om dit te skryf”.
Dis bekend dat hy aan gevegte in Kuba, Indië, Egipte, Soedan en Suid-Afrika deelgeneem het, voordat hy die weermag in 1900 verlaat het om sy politieke loopbaan te bevorder deur oral lesings oor sy militêre ervarings aan te bied en deur die boeke wat hy daaroor geskryf het. Teen hierdie tyd was hy al finansieel onafhanklik en so alom bekend – sy biograaf Robert Massie noem hom “die heel bekendste jong man in Engeland” – dat hy in staat was om die verkiesing as ’n Konserwatiewe Lid van die Parlement te wen op die jong ouderdom van 26.
Toegewyd om te slaag
Daar word gesê dat Churchill se politieke loopbaan soos die op- en afdraendes van die Britse kinderspel “Slangetjies-en-leertjies” was. Hy word eers as ’n Konserwatiewe lid verkies, waarna hy in 1904 na die Liberale Party oorgaan. As ’n teenstander van sosialisme, help hy nietemin om Brittanje se eerste wet op werkloosheidspensioen op te stel en om op begrotingshervormings aan te dring wat belasting van ryk Britte aansienlik sou verhoog om nuwe en omvattende welsynsprogramme te subsidieer.
Die Eerste Wêreldoorlog, met sy gruwels van mosterdgas en loopgraafoorlog, het ’n geslag Britte meegebring wat versigtig was vir militêre verwikkelinge. Churchill het nogtans die belangrikheid van Brittanje se voortgesette militêre slaankrag ingesien. In 1924 keer hy terug na die Konserwatiewe Party en dien onder Eerste Minister Stanley Baldwin as minister van Finansies, totdat Baldwin se regering deur die Arbeiders, gelei deur Ramsay MacDonald, verslaan is.
Op dié manier begin Churchill sy tyd in die “woestyn”. Nadat hy die meeste van die vorige 20 jaar een belangrike regeringspos na die ander beklee het, het Churchill sy volgende dekade feitlik in ballingskap onder sy meer gewilde politieke kollegas verduur. Min mense wou sy boodskap hoor, dat Brittanje in gevaar sou verkeer as dit nie ’n sterk militêre mag sou herbou nie. Min mense het sy waarskuwings oor die groeiende bedreiging deur ’n opkomende Duitsland, wat onder die beperkings van die Verdrag van Versailles gebuk gegaan het, ernstig opgeneem.
’n Keerpunt
Nadat Pole in September 1939 deur Duitsland binnegeval is, het Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Eerste minister Neville Chamberlain, wat kort tevore op “vrede in ons tyd” aanspraak gemaak het en sy ooreenkoms met Adolf Hitler verdedig het, het nie die vertroue van die Britse volk gehad nie. Wie sou Brittanje dus lei?
Koning George VI, wie se plig dit was om ’n nuwe premier te benoem, het met top Britse leiers beraadslaag en net een naam het telkens na vore gekom as uniek geskik om Brittanje in sy oorlogskrisistyd te lei: Winston Churchill.
In retrospek, is dit vandag maklik om Brittanje se oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog as vanselfsprekend aan te neem. Daardie oorwinning was egter geensins verseker in die donker dae van 1940 nie. John Lukacs, die vooraanstaande Amerikaanse geskiedkundige, het sy voortreflike boek, Five days in London: May 1940, gewy aan wat hy gevoel het, die vernaamste oomblik in die oorlog was: Die laaste week van Mei 1940.
Teen daardie tyd was Frankryk op die randjie van ineenstorting. Amerika en Rusland was nog nie by die oorlog betrokke nie en Nazi-troepe het na die Kanaal voortgestorm en daardeur die hele Britse leër in die noorde van Frankryk in dreigende gevaar geplaas om oorweldig te word. Lord Halifax en die Britse premier Neville Chamberlain het as woordvoerders vir versoening namens die VK Kabinet by Churchill aangedring om Hitler vir voorwaardes van oorgawe te vra. ’n Duitse inval van Brittanje was dreigend en onafwendbaar en Brittanje het alleen gestaan – alles het verlore gelyk. Lukacs som dit op: “... tydens daardie vyf dae in Londen was die gevaar, nie net vir Brittanje nie maar ook vir die wêreld, groter en ernstiger as wat die meeste mense nog steeds dink” (bl. xiii).
Net op een man se breë skouers het die besluit gerus wat hy alleen kon maak. Moes Brittanje die handdoek ingooi, of staan en veg, kom wat wil? Waarlik, dit was ’n beslissende oomblik ... ’n keerpunt ... wat die daaropvolgende geskiedenis van die wêreld kon verander het. Hitler sou nooit nader kom aan oorwinning as op daardie noodlottige oomblik nie.
Oorgawe ondenkbaar!
Dit was 28 Mei, die vooraand van die Dunkirk-ontruimings en Churchill se antwoord aan die hele uitvoerende Kabinet – 25 swaarmoedige mans wat om die tafel gesit het – was ondubbelsinnig. “Natuurlik, wat ook al by Dunkirk gebeur, ons sal aanhou veg! ... Ons sal aangaan en ons sal dit uitveg, hier of elders, en as hierdie lang eilandstorie van ons uiteindelik eindig, laat dit slegs eindig wanneer elkeen van ons op die grond lê en in sy eie bloed verstik” (Lukacs, bll. 2-5).
Churchill se woorde het soos ’n elektriese skok deur die Parlement en die nasie geskroei. Dit was immers nie net die wil van een mens nie – dit was oorweldigend ook die wil van die Parlement en die bevolking. Dan volg ’n vinnige opeenvolging van sy beroemde toesprake, wat bevestig dat Brittanje sou aanhou veg en nooit, ooit sou oorgee nie. Waarlik, soos die Amerikaanse uitsaaiwese se joernalis, Edward Murrow, dit gestel het: “Churchill het die Engelse taal gemobiliseer en dit die geveg ingestuur”. Dit was nou verwant aan Churchill se begrip van geskiedenis ... van Brittanje, die Britse Ryk en Amerika en hulle oorheersende waardes wat alles die moeite werd maak om voor te veg.
Die oorlog was egter nog nie gewen nie! Brittanje kon dit eenvoudig nie wen sonder die ondersteuning van Rusland en Amerika wat nog moes inkom nie; maar wat van uiterste belang was, “Churchill was die een wat dit nie verloor het nie. Daar en dan het hy Brittanje en Europa sowel as die Westerse beskawing gered” (Lukacs, bl. 2). Hy het tyd gekoop, die geleentheid om te veg en te seëvier. Vandag kan ons ewig dankbaar wees vir Churchill en ’n swaarverdiende geallieerde oorwinning – Brittanje, Amerika en die ryk wat saamstaan, broers, sy-aan-sy. Ons is hier vandag, slegs as gevolg van daardie noemenswaardige oorwinning.
Die wil van God
Churchill was nie ’n godsdienstige man nie, nog minder het hy bely dat hy ’n Christen is. “King and Country” was vir hom die naaste ding aan godsdiens en die Parlement was waar hy die meeste aanbid het. Hy het nogtans ’n skerp sin van goddelike leiding en die oppergesag van die wet gehad, soos dit duidelik was toe hy op 26 Desember 1941 met ’n gesamentlike sitting van die Verenigde State Kongres befaamd verklaar het dat ’n “groot doel en ontwerp hier op aarde uitgewerk word, waarvan ons die eer het om die getroue dienaars te wees”.
Dink aan die woorde wat Lukacs gebruik het om die uiteindelike triomf van Churchill te beskryf. “[Hy] het geslaag as gevolg van sy besluit en – vergun my om dit te sê – as gevolg van God se wil, waarvan hy, soos elke mens, maar net ’n instrument was. Hy was sekerlik geen heilige nie, hy was nie ’n godsdienstige man nie en hy het baie foute gehad. Tog het dit so gebeur” (bl. 218). Het God op een of ander manier vir Churchill voorberei vir die noodlottige uur? Inderdaad, sy sukses laat dit blyk dat dit wel so was.
Churchill se reputasie was omstrede regdeur die grootste deel van sy lewe. Hy was duidelik baie skrander, met flitse van suiwer genialiteit terwyl hy hoogs gemotiveerd was om sukses te behaal, asook met ’n kragtige ego. Hy het ontsaglike energie, dryfkrag, geheue en konsentrasievermoë besit en sy moed en dapperheid was nooit bevraagteken nie. Hy was ’n geharde individualis, baie seker van homself en sy eie opinie en was bestem om aan die spits van sake te wees. Hy was ’n uitstaande en vreeslose spreker met ’n intuïtiewe aanvoeling vir probleme en hulle oplossings.
Hy kon ook die indruk skep van buitengewone opdringerigheid en arrogansie, ambisieus vir gesag en mag, grootpraterig en strydlustig. Hy was van nature hoogmoedig, voortvarend en eiesinnig. Hy het selde erkenning aan ander mense gegee of verskoning gevra.
Churchill se vrou, Clementine, was onder diegene wat raakgesien het, wat sy genoem het die dieper “edelheid van doel”, wat sy ambisie is en hy nagestreef het om te vervul. “Hy het daarna gestreef om bo die skare uit te staan, nie uit selfsug of ydelheid nie, maar omdat hy in die grootsheid van sy land en die universele geldigheid van die beginsels geglo het – maar bo alles die van individuele vryheid – wat deur die evolusie van sy lang geskiedenis gekom het om te verteenwoordig” (Churchill, John Keegan, bl. 172).
Vredesdag op 8 Mei 1945 het die einde van die oorlog in Europa beteken. Churchill wou met die oorlogskoalisie voortgaan totdat Japan ook oorgegee het, maar die Arbeidersparty het geweier. In die gevolglike algemene verkiesing het die Arbeiders met ’n oorweldigende meerderheid gewen – meer ’n verwerping van die waardes van die Konserwatiewe Party as van Churchill self. Na baie jare van swaarkry is ’n meerderheid van die land oorgehaal deur die oorvloed beloftes van die Arbeidersparty van ’n beter lewe wat voorlê. Vir Churchill was dit in ’n terugblik ’n bewys van seën. Hy is die wroeging gespaar om met Brittanje se onvermydelike inkorting van globale gesag saam te leef, asook die pyn wat met die geboorte van Israel en die Koreaanse oorlog verband hou. Die geleentheid het hom voorgedoen vir ’n verminderde werklading met meer magte wat aan jonger manne gedelegeer is.
Churchill kon boonop baie van sy aandag aan skryf wy en sou bekendheid verwerf vir die vier bundels van sy History of the English-Speaking Peoples en die ses bundels van sy baie persoonlike meesterwerk, The Second World War, wat inderdaad gehelp het om sy jeugdige grootpratery te vervul, naamlik dat die geskiedenis sagkens met hom sou werk, omdat hy dit sou skryf.
Lesse vir die toekoms?
Lukacs, in die beoordeling van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, eindig op ’n donker maar vooruitskouende nota oor die toestand van die beskawing. “Op die allerbeste kon die beskawing oorleef, ten minste vir ’n klein gedeelte, te danke aan Churchill in 1940. Op die ergste het hy gehelp om aan ons ... 50 jaar te gee. Vyftig jaar voor die opkoms van nuwe vorms van barbarisme wat nie beliggaam word deur die gewapende mag van Duitsers of Russe nie, voordat die wolke van ’n nuwe Donker Eeu die lewens van ons kinders en kleinkinders kan beïnvloed” (bl. 219).
Verlede jaar in 2015 was dit 75 jaar – nie net 50 nie – sedert Brittanje se “donkerste uur” en die desperate Slag van Brittanje, wat in die lug bo Engeland plaasgevind het. Die stormwolke van nuwe vorms van barbarisme is inderdaad besig om toe te neem.
Lukacs se vermaningswoorde weerklink wat die Bybel aan ons sê. Die wêreld sal ewenwel deur nog ’n ondraaglike, kort tydperk van duisternis, oorlog en tirannie gaan, selfs erger as die Tweede Wêreldoorlog. Wanneer hierdie tyd aanbreek, sal die wêreld ’n Ware Verlosser nodig hê om dit te red van die rand van vergetelheid – om die weg te verlig uit die duisternis na ’n nuwe en permanente era van onbeperkte vrede.
Dit sal egter nie ’n ander uitsonderlike menslike leier soos Churchill wees nie. Dit sal die terugkerende, almagtige Koning van die konings, Jesus Christus, die Messias Self wees. Sy gesig en karakter sal helderder skyn as dié van ’n klein gloeiwurmpie; dit sal helderder skyn as die son (Openbaring 1:13-16)!
In sy 90 jaar was Churchill vyf jaar lank ’n lid van die Parlement, 31 jaar lank ’n minister en byna nege jaar lank die eerste minister. Hy was ’n prominente figuur in die Eerste Wêreldoorlog en ’n dominante een in die Tweede Wêreldoorlog. Saam met sy aktiewe lewe in openbare diens, het hy nogtans ook ongeveer 10 miljoen woorde in 40 boeke gepubliseer, met inbegrip van sy oorlog memoires, waarvoor hy in 1953 die Nobelprys vir Letterkunde verwerf het. Hy het ook meer as 500 skilderye vir algemeen kritiese goedkeuring geskilder (sien Johnson, bl. 162).
Nietemin benodig die mensdom veel meer as dít van die leier wat ons van die Derde Wêreldoorlog sal red. Nie net sal Jesus Christus terugkeer om die mensdom van selfvernietiging te red nie (Mattheüs 24:21-22), Hy sal God se Koninkryk op aarde kom vestig waarin die verheerlikte heiliges, deur die genade van God, saam met Hom vanuit Jerusalem en oor die hele wêreld sal regeer (sien Openbaring 11:15-18; 5:10; 20:4).
Wat min mense vandag besef, is dat getroue Christene deel van daardie glorieryke toekoms kan wees! Diegene wat hulle bekeer, die doop en God se Gees ontvang, Christus se offer aanvaar en volgens Sy lewensweg wandel, is besig met voorbereiding vir toekomstige rolle van diens – rolle wat hulle wedergebore in die Koninkryk van God sal sien, nie as blote “gloeiwurms” nie, maar as geestelike wesens wat met die glans van God sal skyn en ’n wêreld sal dien waar niemand meer sal leer om oorlog te voer nie.