Miljoene opregte godsdienstige mense sal binnekort Paasfees se sonsopkoms-dienste wat sogenaamd toegewy is aan die viering van Jesus se opstanding, bywoon. Een van Satan se grootste misleidings (Openbaring 12:9) is egter om opregte mense te mislei om ’n valse Jesus op Paassondag te aanbid. Paassondag is nie tot eer van Jesus nie; inteendeel, Hy het ’n afsku in die viering van Paasfees. Hy is heeltemal gekant daarteen net soos Hy teen alle afgodediens en heidense praktyke is (Deuteronómium 12:29-32). Met hierdie wete in gedagte, kom ons kyk kortliks na vyf fatale foute van Paasfees.

Eerstens, Jesus is nié op ’n Sondagoggend opgewek nie. ’n Noukeurige studie van die Skrif openbaar dat Jesus presiés drie dae en drie nagte in die graf was – net soos Hy beloof het Hy sou wees. Wanneer dit ontken word, word hierdie enigste wonderbaarlike teken van Sy Messíasskap, wat Christus Sélf gesê het Hy aan sy kritici sou gee, verwerp. (Matthéüs 12:39-40). Jesus het op ’n Woensdagmiddag gesterf, net voor die jaarlikse Sabbat wat bekend is as die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode. Hy was begrawe en 72 uur later – nét voor die einde van die weeklikse Sabbat – dus nét voor sonsondergang op Saterdag, opgewek.

Tweedens, u Bybel veroordeel sonsopkoms-dienste baie duidelik en noem dit heidense gruwels vir God. Sonsopkoms-aanbidding was ’n integrale deel van die antieke Babiloniese godsdiens wat afgelei is van die aanbidding van die heidense godheid Tammus. In Eségiël 8:14-16 word daar in ’n visioen van die Here getoon hoe die antieke Israeliete ’n “gruwel” pleeg “wat Tammus beween” tydens sonsopkoms-aanbiddingsdienste. Soortgelyke tradisies het die aanbidding van afgode van ander figure ingesluit wat die antieke Israeliete van omliggende kulture oorgeneem het, met inbegrip van “die hemelkoningin” (Jeremia 7:18), wat ook onder name bekend is soos Astarte, Astárte en Isjtar – ’n figuur wie se aanbidding voortgeduur het in verskeie kultusse en godsdienste gedurende die Griekse en Romeinse tydperke. Aanbidding van Tammus gaan vandag voort in die vorm van sonsopkoms-dienste tydens Paasfees en gaan gepaard met ander verwante vervalste tradisies waarby die voorafgenoemde afgode betrek is.

Die derde fout is eenvoudig dít: U Bybel veroordeel ten strengste enigiemand wat heidense gebruike in hulle aanbidding insluit, ongeag of enigiemand beweer dat hulle hierdie gebruike onderhou “om Jesus te eer” of nie. Jeremia 10:2 beveel ons: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie,” en Matthéüs 15:9 eis dat ons nie God se Gebooie vervang deur leringe te leer “wat gebooie van mense is” nie.

Die vierde fout is soortgelyk in die sin dat daar beweer word dat ons Jesus sogenaamd “eer” deur heidense praktyke wat gesonde verstand en gesonde rede te bowe gaan. Dink aan hierdie vraag. Indien u weet dat u aardse vader biefstuk en aartappels vir aandete geniet terwyl hy niks van hamtoebroodjies hou nie maar u weier om biefstuk en aartappels vir hom voor te berei en eerder aanhou om vir hom hamtoebroodjies te maak, sou ’n regdenkende persoon werklik kan redeneer dat u hom respekteer en hom lief het?

God toon in die Bybel hoe Hy aanbid wil word – deur Sy weeklikse Sabbat en jaarlikse Heilige Dae. Hoewel dit dalk tog goed bedoel is, verwerp baie sogenaamde Christene God se Heilige Dae. Boonop beweer hulle dat hulle liefde aan hulle Here en hemelse Vader betoon deur voortdurend te probeer om Hom te dien met wat Hy heidens en afskuwelik noem. Jesus vra aan sulke mense, “wat noem julle My Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Laastens, 1 Korinthiërs 6:9 en Openbaring 22:15 veroordeel diegene wat hierdie gebruike van heidense en afgodediens beoefen en noem dat hulle nie in die Koninkryk van God toegelaat sal word nie. Hierdie is ’n uiters ernstige aanklag wat grootliks in ag geneem behoort te word deur enigiemand wat aanspraak maak daarop dat hy ’n volgeling van Christus is – veral in die lig van die voorafgaande foute. Sal u die moed hê om hierdie vyf fatale foute in verband met Paasfees te ondersoek en te begin om die werklike waarde daarvan te oorweeg om vry te wees van mensgemaakte godsdienstige tradisies? U sal nie teleurgesteld wees nie.

Vir meer inligting met betrekking tot die oorsprong van Paasfees en wat God sê oor ware, regverdige aanbidding, bestel gerus ’n gratis eksemplaar van ons boekie Paasfees: Die storie wat nie vertel is nie van die streekkantoor die naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of lees dit aanlyn by wvm.co.za. Indien u werklik graag wil leer hoe om God te behaag en te eer deur die Bybelse Heilige Dae te onderhou waarvan sommiges net om die draai is – in April – kan u uitvind hoé u ’n gratis eksemplaar van Die Heilige Dae – God se meesterplan, kan bekom.