Die Bybelse profete is selde deur die mense van hulle tyd waardeer. Ja, daar wás tye wat sekere individue en groepe hulle waardeer het, maar op die ou einde het baie profete onder martelaarskap gely – net soos Jesus Christus, die enigste volmaakte mens wat ooit in die vlees hierdie aarde bewandel het. Waarom? Die antwoord is eenvoudig: Die profete het ’n boodskap van gehoorsaamheid aan God verkondig en gewaarsku teen die gevolge wat enigiemand wat God en Sy waarheid sou verwerp, sou tref.
God het aan die profeet Eségiël opdrag gegee om die volk Israel te konfronteer met ’n boodskap wat hulle sou verwerp: “Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart ... jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle ’n wederstrewige huis is” (Eségiël 3:7-9).
Die profeet Jesaja het opdrag ontvang “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Dit was nie ’n gewilde opdrag nie en die Israelitiese volk het ook hierdie profeet van God verwerp. Mense wil nie hoor dat hulle gedrag verkeerd is nie. Hulle wil liewer vertroostende woorde hoor – dat God hulle gedrag aanvaar. Is dit nie wat Jesaja vir ons sê nie?
“Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! En aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:8-11).
Die evangelis Timótheüs het geweet hoe die laaste dae voor Christus se Wederkoms sou wees. Die beskrywing wat aan hom gegee is, is nie mooi nie, maar dit is verseker akkuraat met betrekking tot ons hedendaagse Westerse wêreld. “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5).
Perversiteit, eksklusiwiteit en ongelykheid
Ongelukkig sien ons van ons nasies se leiers – politici, nywerheidspresidente en uitvoerende hoofde, die media en akademici – in ’n poging om resies met mededingers te jaag om gedrag te bevorder wat net ’n generasie gelede nie eers in ’n opgevoede samelewing bespreek was nie. Ons sien hoe Bybelse waardes laat vaar, verwerp en bespot word.
Ons hoor die refrein, “Diversiteit en inklusiwiteit” – wat goed klink vir die goedgelowiges wat nie bewus is van wat die voorstanders daarmee beoog nie. Diversiteit en inklusiwiteit in hierdie geval is kodewoorde vir aanvaarding van goddelose gedrag. Die drie begrippe wat heilig is vir die “progressiewes” sal eintlik eerliker gestel word as “perversiteit, eksklusiwiteit en ongelykheid”.
Neem die indoktrinasie van ons kinders by skole en deur sosiale media in ag. Die alfabetlys van geskiedkundig erkende onnatuurlike gedrag neem aanhoudend toe, maar word gewoonlik verkort tot iets soos LGBTQIA+ en ons behoort noukeurig na die laaste twee beskrywingsletters op te let. “Die ‘plus’ word gebruik om al die geslagsidentiteite en seksuele oriëntasies aan te dui wat letters en woorde nog nie volledig kan beskryf nie” (“What Is LGBTQIA+,” GayCenter.org). Hoe merkwaardig is dit dat aktiviste nog moet “ontdek” wat al die maniere is waarop menslike seksualiteit “uitgedruk” kan word!
Die letter A word op meer as een manier geïnterpreteer, met Ally wat bondgenoot beteken waarvan dit maar net een vertolking is, alhoewel dit minder algemeen is. Dit is waar dapperheid inkom. Die eerste hoofstuk van die Bybelse brief aan die Romeine, beskryf in perfekte besonderhede wat ons reg voor ons oë kan sien gebeur. Die apostel Paulus het gewaarsku dat God se toorn oor hierdie wêreld sal kom omdat hulle God verwerp en omdat bose mense ewige waarhede onderdruk. “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar” (Romeine 1:18-19).
Paulus het verduidelik dat mans en vroue wat God verwerp, hulleself aan onsedelike gedrag sal oorgee. Hy gee ’n lys van sondes en waarsku dat dit nie net verkeerd is om daardie dinge te doen nie, maar die volgende is ook verkeerd, “hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Romeine 1:32, vergelyk verse 24-31). Ons moet nie mense haat nie en daar is nooit ’n geleentheid vir ’n ware Christen om gewelddadig op te tree nie, maar ons moet sondige praktyke haat en dit nie aanmoedig of verskoon nie. In hierdie hartseer wêreld moet ons moed bymekaarskraap om in liefde die waarheid te praat.
’n Boodskap van waarheid
Die vorige Hoofredakteur van hierdie tydskrif, dr. Roderick C. Meredith, het Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms aankondig geskryf. Hou in gedagte dat die volgende gedeelte in 1993 geskryf is:
Daar lê vir ons, sowel as vir die meeste van ons mede-Engelssprekende nasies regoor die wêreld, ’n tyd van nasionale rampspoed voor – eintlik nasionale straf – ongekend in die hedendaagse menslike geskiedenis. Maand na maand, jaar na jaar, sal al hoe meer dinge op een of ander manier vir ons skeefloop. Die nasionale skuld sal toeneem. Die onsedelikheid en misdaadsyfer sal toeneem. Ons stede sal selfs minder veilig raak, toenemend geteister word deur wettelose misdadigers, bende oorlogvoering en rasse-onluste – uiteindelik voedselonluste, as gevolg van die onafwendbare droogte en hongersnood wat geprofeteer is om ons nasies te tref.
Die tekens wat deur dr. Meredith geïdentifiseer is, is vandag meer aan die orde van die dag as toe hy daardie woorde geskryf het. Dié van ons wat hom geken het, weet dat hy nie gehuiwer het om die waarheid prontuit en vreesloos te verkondig nie. Ons moet dit ook doen.
Paulus het egter in Romeine 1:18 geskryf dat baie mense die waarheid onderdruk. Ons sien dit redelik gereeld gebeur wanneer ’n TV-kanaal of regering die hele of ’n deel van een van ons uitsendings sensor. Dit is al te dikwels onder die dekmantel van dit is nie gepas of “veilig” vir ons jeug nie, maar níks wat ons sê kan moontlik opweeg teen dít waaraan ons kinders op skool blootgestel word nie.
Timótheüs is deur sy raadgewer, die apostel Paulus, beveel om die waarheid te verkondig. Selfs gedurende sy tyd het Paulus gewaarsku dat daar ’n tyd sou kom wanneer mense nie die waarheid sou aanvaar nie en eerder leiers sou soek wat vir hulle sou vertel wat hulle wil hoor. “... daar sal ’n tyd wees,” het hy geskryf, “wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:3-4).
Die Wêreld van Môre sal voortgaan om die waarheid te praat gedurende ’n tyd waarin baie mense nie die waarheid wil hoor nie. Ons moet dit doen, maar ons wil ook hê dat ons lesers sal weet dat ten spyte van al die slegte nuus rondom ons en die tyd wat voorlê, God in beheer is en daar is ’n gelukkige einde. Wanneer die mensdom op die rand van selfvernietiging kom, sal Jesus Christus terugkeer en ’n einde maak aan ons waansin. Hy sal dan Sy dienaars wat opgestaan het beloon met gesagsposisies om op hierdie veelbewoë planeet te regeer. Dit is die wêreld van môre, die Millennium – die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus.
Die Koninkryk van God word in die boeke van die profete en in die Nuwe Testament verkondig. Dit is die Evangelie van Jesus Christus en dieselfde boodskap wat Sy dienaars verkondig het. Dit is die boodskap van die Tomorrow’s World se TV-uitsending en hierdie tydskrif wat u besig is om te lees. Ek bid dat u hierdie boodskap ernstig sal opneem.