'n Wyse en ryk koning – die verstandigste en rykste van sy tyd – het gesoek na die geheim van 'n gelukkige lewe. Hy het vreugde gesoek in wyn, vroue, musiek en in nog baie ander dinge. Hy kon kies om die bekwaamste komediante en musikante voor hom te laat optree. Hy het hom in boeke verdiep, kennis opgedoen en wysheid verkry en nie nagelaat om te leer deur sy waarneming van ander mense nie. Daar was feitlik niks buite sy bereik op die fisiese vlak nie. Hy het vir homself gesê:

“EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit? Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik – terwyl my hart my met wysheid sou lei – en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant. Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei. ... Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. ... En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid” (Prediker 2:1-6, 8, 10).

Indien besittings en rykdom geluk kon koop, sou hierdie koning sonder twyfel die gelukkigste man wees wat nog ooit geleef het. Was hy egter gelukkig? Hier is sy antwoord: “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind” (Prediker 2:17). Hy het ongetwyfeld dít wat hy bereik het en die opwinding van die lewe geniet, maar tog gesien dat alles op die ou end tevergeefs was.

Dit sou sekerlik anders gewees het indien u in koning Salomo se skoene was! Is dit nie wat baie van ons dink nie? Ons hoor dikwels dat mense sê dat geld nie geluk kan koop nie, maar hulle leef hulle lewens asof dit moontlik is. Dink aan die gewildheid van staatsbeheerde mega-loterye – hoe groter die prys, hoe meer geld word deur hordes hoopvolle mense belê.

Mense probeer om elke fisiese begeerte soos honger en dors te bevredig, net soos Salomo gedoen het, maar die lewe bly uiteindelik leeg en doelloos. Sommige mense leef om gholf te speel. Ander mense leef vir die naweek om hulle gunsteling span te ondersteun terwyl ander mense graag “partytjie hou”. Sekere ander mense versamel rykdom – meer as wat hulle ooit kan nodig hê. Daar is diegene wat smag na gewildheid of mag. Daar is tydelike plesier in baie dinge, maar uiteindelik, soos Salomo self opgemerk het, bevredig geen stoflike plesier ons vir ewig nie. Oor ons almal se koppe hang die swaard van die onvermydelike dood!

Salomo is nie die enigste Bybelfiguur wat die nutteloosheid van die sterflike lewe ingesien het nie. Die profeet Jesaja het opgemerk dat dit in die mens se aard is om die vlietende oomblikke van geluk na te jaag. Hy gee aan diegene wat na geluk streef deur wêreldse plesier na te jaag, dié raad: “o ALMAL wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie?” (Jesaja 55:1-2).

Wat is dit wat die vreugde bring wat so baie mense wil hê en wat so baie van hulle nie vind nie?

Salomo het ons gewys op 'n lewe van arbeid waarvan ons die vrugte kan pluk en na die welsyn van ander omsien. “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook – dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God” (Prediker 3:12-13). Dit kan egter nie die volledige antwoord wees nie aangesien eet, drink en blydskap eendag alles tot 'n einde sal kom – dit is die ware les wat Salomo wou oordra!

Salomo het geskryf vanuit die perspektief van die sterflike mens. Indien daar geen lewe na die dood is nie of iemand goed of sleg is, wys of dwaas is, die einde is nog dieselfde. “... die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref. Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is” (Prediker 2:14-15).

Beteken dit dat Salomo geen hoop anderkant die graf gesien het nie? Op die oog af lyk dit asof dit die geval kan wees:

“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. ... Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5-6, 10).

 

Is die dood egter die einde?

Salomo het iets verstaan wat te min mense besef: Ons sterflikheid is 'n belangrike deel van die wyse waarop God met ons werk. “Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is. Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug” (Prediker 3:18-20).

Ja, God is besig om elkeen van ons te toets. Hy wil hê dat ons besef dat die lewe tydelik is, maar dat – soos Salomo duidelik verstaan het – dit nié die einde is nie. “Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk” (Prediker 3:17). Ons merk op dat hierdie boodskap regdeur die boek Prediker herhaal word. Salomo het besef dat ons gedrag tydens hierdie sterflike lewe wél saak maak. “... aangesien 'n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe – alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees” (Prediker 8:12). In een van die bekendste gedeeltes van Prediker gee hy raad aan die volgende geslag: “VERBLY jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9).

Salomo se woorde is belangrik. Dit tref ons diep in die hart. Dit is in teenstelling met die keuse van persoonlike, selfsugtige begeerte teenoor die keuse om iets groter raak te sien as die hier en nou (Handelinge 2:36, 37). Jesaja spreek die behoefte aan om op te tree terwyl daar tyd is en die belangrikheid van God se genade vir daardie verstandige mense wat hulle distansieer daarvan om net vir vandag te lewe.

“Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:2-3, 6-7).

Salomo sluit sy les af met 'n waarskuwing dat God ons dade oordeel. “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:13-14). Laat ons almal ag slaan op daardie waarskuwing!