Soms is dit nodig dat ons na ons vierbeen-vriende luister.
Daar is tye wanneer ek dink my hond kan dalk slimmer as ek wees. Ek is seker dat die meeste honde-eienaars die een of ander tyd so voel en ek het beslis een aand so gevoel toe sy my gehelp het om ’n waardevolle lewensles te leer.
Die laaste ding wat ek doen voordat ek in die aand bed toe gaan, is om my hond, Nola, na die agterplaas te neem. Soms vergeet ek om een van die buiteligte aan te skakel, wat meebring dat die helfte van my tuin in donkerte gehul is. Ek woon al vir meer as 15 jaar in my huidige huis, dus ken ek die tuin baie goed en ek dink nie veel oor wat ek kan of nie kan sien nie. Ek dra gewoonlik ’n klein flitsliggie om my te help om die omgewing te verken aangesien jakkalse en prêriewolwe soms in ons omgewing opgemerk word.
Wanneer Nola haar sake moet doen, spring sy gewoonlik van die houtdek af. Wanneer ek egter vergeet om die lig aan te skakel, aarsel sy by die trappies – of sy neem ’n versigtige treetjie af na die eerste trap voordat sy weer terugklim. Nadat ek haar ’n paar keer hierdie ritueel sien doen het, het ek verstaan dat sy nie die onderste trappe kan sien as dit buite donker is nie. Dus, om haar te help, skyn ek met my flitslig op die trappies. Sodra haar paadjie goed verlig is, sal sy tevrede ondertoe draf. Nogtans het ek aanvanklik gedink dit is laf van haar. Ons albei was al duisende kere met hierdie trappe op en af, dus weet sy duidelik wat daar onder is of sy dit kan sien of nie.
My hond het beter geweet
Op hierdie spesifieke aand het die lug egter besonder skoon en helder gelyk en ek het na die sterre gekyk terwyl ons langsamerhand die trappies afgedrentel het. Hierdie keer het ek egter my flitslig vergeet, dus het Nola soos te wagte was, geaarsel. Ek het my egter misgis met die laaste tree. Ek het plakkies aangehad en het geval en my enkel geswik. Ek was nie ernstig beseer nie, maar ek het soos ’n dwaas gevoel en my enkel het seergekry – baie seer! Terwyl ek rondgespring het, vir myself gemompel en my enkel gevryf het, het Nola my dopgehou asof ek van my sinne beroof was.
Skielik het Psalm 119:105 in my gedagtes opgekom: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Later het ek aan ’n ander Skrifgedeelte gedink: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).
Daardie aand het ek besef dat my hond, ten minste vir ’n oomblik, slimmer as haar eienaar was. Nola het gewag dat haar paadjie verlig word en het vir my opdragte gewag, sodat sy nie sou seerkry nie. Ek, aan die ander kant, het blindelings en ewe dom op my instink en my “eie insig” van die situasie vertrou en toe vinnig geleer hoe dit werk toe ek in die donker gestruikel het.
Wanneer ons in die wêreld rondkyk, sien ons dat die grootste deel van ons samelewing op hulle eie verstand staat maak en in geestelike duisternis voortploeter – ons sien dan wat met hulle gebeur! In teenstelling daarmee, wanneer ons gehoorsaam is aan God se Woord en Sy Gebooie volg, is ons paaie goed verlig en duidelik gemerk en kan ons deur die lewe stap met duidelik afgebakende grense en verwagtinge. Wanneer ons weet dat ons reg optree in ons gehoorsaamheid aan God en Sy Wet, is ons veilig en geborge.
Dink net hoeveel beter hierdie wêreld sou wees indien almal sou kies om op die goed verligte pad van geregtigheid te wandel – nie meer misdaad nie, nie meer haat en vyandigheid nie en nie meer geestelike verwarring nie. Ons sal almal op dieselfde goed-verligte pad wees.
My hond was slimmer as haar eienaar, omdat sy weet waar haar sekuriteit lê en sy soek altyd die verligte paadjie. Die Bybel wys vir ons ’n goed-verligte pad van praktiese, toepaslike wysheid, wat dikwels geskryf word in pragtige dog eenvoudige verse. Indien u op soek is na wysheid, behoort u meer te leer van hierdie uitnemende Boek van kennis. Terwyl u leer, hou aan om die Wêreld van Môre-tydskrif te lees vir meer insig. Ons bied baie gratis bronne aan om u te help met u studies van die Bybel.