Watter aspek van u Christenlewe sou u die graagste wou verbeter? Indien u in een spesifieke area kon groei, watter een sou u verkies? Daar is verskeie areas waarin ons as Christene moet groei.
Geloof is een so ’n noodsaaklike area. Jesus sê: “as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Mattheus 17:20).
Moet ons wysheid nastreef? Dit is waar dat God die dwase van die wêreld geroep het (1 Korintiërs 1:27), maar Hy wil nie hê dat ons so moet bly nie! Salomo sê: “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid” (Spreuke 4:7).
Genade is ook ’n baie belangrike kenmerk. Christus sê: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Mattheus 5:7).
’n Beter begrip van die Skrif is eweneens ’n wenslike doelwit. Baie individue bestee tallose ure in noukeurige studie van die Bybel in ’n poging om hul begrip van God se Woord te verbreed. Sommige arbei moeitevol om die besonderhede van profetiese gebeure wat aan die kom is, uit te werk.
Al hierdie dinge - geloof, wysheid, genade en begrip van die Bybel - is belangrik, maar wat is dit dan wat ons bo alles moet nastreef?
’n Ander benadering tot hierdie vraag is om te vra: Waarom is u gebore? Die Bybel onthul dat elke individu uiteindelik ’n geleentheid sal hê om ’n persoonlike verhouding met God te vorm. Met die onvoorwaardelike oorgawe van ons lewe aan die Skepper - en nadat ons gedoop is en Jesus Christus as ons persoonlike Saligmaker aanvaar het - ontvang elkeen van ons die veranderende krag van God se Heilige Gees wat in ons woon. Deur ’n lewenslange proses van bekering, raak ons toenemend deelagtig aan God se eie goddelike aard (2 Petrus 1:4) - Christus se eie gedagtes (Filippense 2:5). Ons het God se wette en Sy lewenswyse in ons harte gegraveer (Hebreërs 10:16), namate ons leer om soos Hy te dink en toenemend Sy karaktertrekke aanneem (Galasiërs 5:22-25).
Ja, ons moet in die gelykvormigheid aan God en Jesus Christus toeneem. Indien dit die geval is, wat is die mees belangrike karaktertrek van God? Wat dit ook al is, dit is dáárdie karaktertrek waarna ons meer as enigiets anders moet streef om in toe te neem, in gelykvormigheid aan God!
God is liefde
Indien u God in een woord kon beskryf, wat sou dit wees? Die antwoord is natuurlik “liefde”. Ons word in 1 Johannes 4:8 vertel: “God is liefde.”
Die apostel Paulus praat van drie groot kenmerke - geloof, hoop en liefde - maar maak die stelling dat die grootste hiervan die liefde is (1 Korintiërs 13:13). Dink ook na oor verse 2 en 3: “En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie”. Wat ’n kragtige stelling oor die belangrikheid van die liefde!
Wanneer ons in Galasiërs 5 van die vrugte van God se Gees lees, wat is die heel eerste vrug wat genoem word? Liefde! (vers 22).
Dit is dus baie duidelik dat “liefde” vir God baie belangrik is, want Hy is liefde! Tog is dit belangrik om te verstaan dat die liefde waarvan daar in Galasiërs 5 gepraat word, nie “menslike” liefde is nie, maar goddelike liefde - agape liefde. Agape is die woord wat in die oorspronklike Grieks gebruik word: “geloof, hoop en agape”; “en
[indien] ek het nie die liefde [agape het] nie, dan sou ek niks wees nie” en “God is agape.” Die enigste manier waarop ’n mens God se agape liefde kan hê, is deur dit van God te ontvang, deur die Heilige Gees (Romeine 5:5; Galasiërs 5:22).
Liefde vervul God se wet
God se wet is geestelik (Romeine 7:14). Daarom word geestelike liefde - God se agape liefde - van ons vereis om daardie wet te vervul. Paulus sê “die liefde [is] die vervulling van die wet” (Romeine 13:10).
Ja, liefde vervul God se wet omdat God se wet ’n wet van liefde is! Christus dui dit aan toe Hy die stelling maak dat die “hele wet” aan die twee groot gebooie hang naamlik om God en ’n mens se naaste lief te hê (Mattheus 22:36-40).
Die eerste vier van die Tien Gebooie dui die grondbeginsels van hoe om God lief te hê aan. Die laaste ses dui op die grondbeginsels van hoe om ons naaste lief te hê. Die Tien Gebooie word dan verder dwarsdeur die Bybel uitgebrei, veral in die Nuwe Testament. Trouens, een van die redes waarom Christus na die aarde gekom het, was om God se wet uit te brei (Jesaja 42:21). Eerder as om God se wette van liefde tot niet te maak, maak Christus daardie wette selfs meer bindend en wys op hulle bedoeling (Mattheus 5:17-28).
Die apostel Johannes word soms die “apostel van liefde” genoem. Hoe het hierdie “apostel van liefde” God se wet beskou? Hy sê: “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Trouens, hoe dan anders, as ons in ag neem dat God se wet die einste weerspieëling van Sy liefde is?
God se gebooie dui op die grondbeginsels van hoe goddelike liefde betoon word. Soos dr. Roderick C. Meredith sê: “God se liefde vloei deur die kanaal of rivier van die Tien Gebooie”. Indien enige spesifieke optrede van ’n persoon in teenstelling met God se gebooie is, dan is dít wat getoon word, nie goddelike liefde nie!
Is dit waar wat sommige mense sê, dat God se gebooie swaar is om te onderhou? Koning Dawid, wat God “’n man na my hart” noem (Handelinge 13:22), het sekerlik nie so gedink nie. “Hoe lief het ek u wet” roep Dawid uit (Psalm 119:97). Die waarheid is dat namate ’n individu in geestelike wasdom toeneem, hy toenemend meer van God se wette in sy verstand en hart ingegraveer kry (Hebreërs 10:16). Gevolglik verduidelik die apostel Johannes dat God se “gebooie ... nie swaar [is] nie” (1 Johannes 5:3).
Spontane besorgdheid
Soos Johannes sê: “Want dit is die liefde tot God dat ons Sy gebooie bewaar”. Tog is dit noodsaaklik om te verstaan dat agape liefde veel meer behels as om net “die letter van die wet” na te kom. God se liefde - Sy lewenswyse - is die weg van spontane besorgdheid oor andere. Dit is die “gee” manier van leef. Dit is ’n dienende gesindheid (Markus 10:43-45). Dit is die weg van hulp en samewerking.
In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, wys Christus hoe die Samaritaan - anders as die Priester en die Leviet - ver uit sy pad gegaan het om die behoeftige vreemdeling te help. Christus sluit die gelykenis af deur ons te vertel: “Gaan en doen jy net so” (Lukas 10:30-37).
1 Korintiërs 13 is bekend as die “liefdeshoofstuk”. Dit beskryf die karaktertrekke van agape liefde. Hoe baie voordelig sou dit vir ons wees om hierdie kenmerke gereeld na te streef en onsself te vra: “Openbaar ek altyd hierdie karaktertrekke?”
Van al die karaktertrekke wat in hierdie “liefdeshoofstuk” bespreek word, is die belangrikste moontlik in vers 5, wat sê dat agape “nie sy eie belang [soek] nie”. Pleks daarvan om na die self om te sien, fokus agape liefde op andere!
Hierdie beginsel word ook in ander teksverse bespreek. “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander” (1 Korintiërs 10:24). Let ook op wat Paulus aan die Filippense sê: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Filippense 2:3-4).
Nee, hierdie agape liefde is nie selfgesentreerd nie en dit streef nie na eiebelang nie. God se geestelike liefde moet van Hom kom. Sy liefde is baie meer as natuurlike, menslike liefde!
Wedersydse liefde word nie vereis
Die Bybel wys dat ’n Christen spesiale liefde vir sy broeders moet betoon (Johannes 13:34-35; Galasiërs 6:10). Beteken dit dat ons agape liefde slegs aan diegene moet betoon wat ons ook liefhet? Nee! Christus self maak die antwoord duidelik: “En as julle dié liefhêt wat vir julle liefhêt, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhêt. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde” (Lukas 6:32-33).
Ja, God wil hê dat ons Sy liefde teenoor alle mense betoon, nie net teenoor mede-Christene nie (1 Tessalonisense 3:12). Die apostel Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen” (Galasiërs 6:10). Hierdie spontane besorgdheid moet ’n lewenswyse raak - wat te alle tye en teenoor alle mense betoon word.
Agape vereis nie wederkerigheid in woord of daad nie; ons moet ander mense liefhê of hulle ons liefhet of nie. Ons moet ander mense liefhê selfs al weet ons dat ons liefde met kwaad beantwoord mag word!
Toe “kwaadwillige getuies” teen koning Dawid opgestaan het en hom “kwaad vir goed” vergelde het, hoe het Dawid reageer? “Toe hulle siek was, het ek ’n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas ... Ek het rondgegaan asof dit ’n vriend, asof dit ’n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur” (Psalm 35:11-14).
Dit is die benadering wat ons teenoor ons vyande moet hê. “Julle moet jul vyande liefhê” sê Christus, en “[doen] goed ... aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig” (Lukas 6:27-28).
Hierdie soort liefde is nie iets waaroor ons van nature beskik nie. Dit is slegs deur hierdie liefde van God te ontvang dat ons hierdie goddelike liefde kan voel en dit teenoor andere kan betoon.
Jesus Christus is ons volmaakte voorbeeld. Net voor Christus se kruisiging het Joodse godsdiensleiers Hom beskuldig, op Hom gespuug, ’n bespotting van Hom gemaak en Hom herhaaldelik geslaan. Hoe het Christus hierop gereageer? “Christus [het] ook vir julle gely ... en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; ... wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:21-23).
Later, toe Hy aan die kruis gehang het, het Christus God gevra om wraak te neem op diegene wat Hom daar geplaas het? Nee. Hy sê eerder: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34).
Een liefde
Agape is ’n allesomvattende gesindheid. Kan enigiemand wat God waarlik liefhet, nie sy naaste ook liefhê nie? “As iemand sê: Ek het God lief - en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:20-21).
Liefde teenoor God en ons naaste is onlosmaaklik gekoppel! Gevolglik beskou ons hemelse Vader dit as baie persoonlik as ons liefde teenoor ons naaste betoon - of nalaat om dit te doen! “Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom ... vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Mattheus 25:35-40).
Ja, ons Vader beskou hierdie saak in ’n baie persoonlike lig! Daarom moet dit as ’n lewensbelangrike beginsel dien wanneer ons met ons medemens handel.
Liefde is die antwoord
Watter aspek van u Christenlewe sou u die graagste wou verbeter? Duidelik kan geen ander aspek van u Christenlewe behoorlik verbeter word sonder agape liefde nie. Dit is die weg van spontane besorgdheid teenoor andere, die weg wat langs die rivierbed van God se Tien Gebooie vloei. Dit is God se eie volmaakte liefde, wat geen wederkerigheid vereis nie.
Ons moet almal in baie areas groei, maar sonder agape liefde, is ons niks nie!