Weet u hoe die duiwel te werk gaan en waarom?
Ons leef in ’n wêreld vol probleme – persoonlike probleme, probleme tussen individue, in families, kerke en organisasies, asook tussen nasies. In ons moderne wêreldlike samelewing veronderstel baie mense dat die oplossing van probleme lê in onderhandeling, die maak van nuwe wette of die toepassing van oues, die voorsiening van berading of finansiële hulp of meer geleenthede vir die minderbevoorregtes. Tog sien hierdie pogings om probleme op te los dikwels ’n fundamentele aspek van die werklikheid oor die hoof of ignoreer dit heeltemal. Die Bybel onthul dat ’n magtige geestelike wese – Satan die duiwel – diep betrokke is by die aanhitsing van probleme wat die mensdom teister. Die Skrif beskryf Satan se natuur, doelwitte en metodes. Ons sal in hierdie artikel ondersoek instel om te sien hoe hierdie magtige geestelike wese te werk gaan, sodat ons meer bedag kan wees op sy bedrywighede en verhoed om onder sy invloed te kom. Sonder hierdie Bybelse kennis kan ons onwetend pionne word in Satan se ontwrigtende planne en voorneme en sodoende probleme skep eerder as oplos.
Satan se natuur
Die Bybel onthul dat toe God die wese wat vandag Satan heet, geskape het, Hy perfek in aansien en wysheid was (Esegiël 28:12-13). God het aan hierdie magtige en begaafde wese die spesifieke posisie gegee om Sy troon te beskut (Esegiël 28:14), gesimboliseer deur die twee gerubs op die Verbondsark met vlerke wat oor die genadetroon strek (simbolies van God se troon, sien Eksodus 25:18-22). Hierdie magtige wese het egter toegelaat dat ydele gedagtes sy denke oorheers. Hy het begin om homself as bekwaam te beskou om God se rol in die uitspansel oor te neem (Jesaja 14:12-15) en het uiteindelik een derde van die engele in rebellie teen God gelei (Judas 6; Openbaring 12:4-9). As gevolg van hierdie misleide gedagtes en optrede is sy naam verander na Satan (wat beteken “teenstander” of “vyandige teenstander” van God).
Die Skrif dui aan dat toe Satan gesondig en teen God se goddelike plan begin optree het, het sy verstand pervers en sy redenasie verdraaid geword en die wysheid wat God hom gegee het, het korrup geword (Esegiël 28:15-17). Hy is deur gewelddadige gedagtes en optredes gevul (Esegiël 28:16). Hy begin leuens versprei en bevorder haat en moord (Johannes 8:44). Satan word ook in Hebreeus “Abaddon” (Openbaring 9:11) en ’n verleier (Openbaring 12:9) genoem. Satan se vernietigende en misleidende aard is heeltemal die teenoorgestelde van God se natuur, aangesien God ’n skepper en onderhouer is wat die waarheid handhaaf, in liefde optree en genade en besorgdheid teenoor andere toon.
Satan se doelwitte
Satan verstaan die plan van God en dat God mense na Sy ewebeeld geskape het (Genesis 1:26-28) om deel te word van die Goddelike familie (Romeine 8:14-17; 1 Johannes 3:16). Hy verstaan ook die belangrikheid van die fisiese gesin in die vormingsproses van die toekomstige lede van God se familie (sien Kolossense 3:18-20). Satan weet ook dat die kerk ’n lewensbelangrike deel is van God se plan om mense te help ontwikkel tot geestelike volwassenheid. Hy weet dat lidmate van die Kerk leer om te reageer op die leierskap van Jesus Christus, net soos ’n vrou behoort te reageer op die leierskap van ’n liefdevolle eggenoot (Efesiërs 5:22-33). Satan weet dat die kerk ’n belangrike roeping het om die evangelie van die komende Koninkryk van God te verkondig, om die wêreld te waarsku aangaande die naderende oordeel en om die kudde wat God uit die wêreld roep, te voed. Satan weet ook dat God wil hê dat diegene wie Hy roep, die denkwyse en karakter van hul Skepper moet ontwikkel (Filippense 2:5) en ’n lig vir hierdie wêreld moet wees (Mattheus 5:13-16).
As die teenstander en vyandige opponent van God en Sy plan, het Satan egter van die begin af gepoog om die plan van God te ondermyn en te ontwrig. Hy het Adam en Eva mislei en onenigheid in die eerste gesin gesaai wat aanleiding gegee het daartoe dat Kain sy broer vermoor het (sien Genesis 3-4). Satan het sade van rebellie, twyfel, afgodediens en seksuele losbandigheid in die kamp van antieke Israel en later ook in die koninkryke van Israel en Juda gesaai. Satan het probeer om Jesus pas na Sy geboorte te vernietig om sodoende God se plan vir ’n Messias te dwarsboom (Mattheus 2:16-18). Hy het Judas beweeg om sy Meester te verraai (Johannes 13:27) en die Joodse gesaghebbendes aangespoor om hulle teen Christus te verset (Johannes 8:40-44). Satan poog sedert die ontstaan van die Kerk in die eerste eeu na Christus om die kerk te infiltreer, te ontwrig en te vernietig (sien Handelinge 4:9).
Satan vervolg ook individue, veral die wat geroep is of wat met God se waarheid in aanraking gekom het. In die Bybel word hy beskryf as een wat “rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Satan wil individue vernietig sodat hulle nie deel van God se familie kan word nie en om die struktuur wat God ontwerp het om toekomstige lede van Sy familie voor te berei, te ondermyn. Satan beoog ook om die kerk van sy Godgegewe sending te laat wegdraai. Wat presies is sy metodes? Hoe kan ons sy bedrywighede eien en hoe kan ons voorkom dat ons niksvermoedende pionne in sy ontwrigtende planne word?
Satan se middele
Die Bybel dui aan dat Satan die “god van hierdie wêreld” is (2 Korintiërs 4:4) en die “owerste van die mag van die lug” (Efesiërs 2:2). Hy het die vermoë om gedagtes in mense se verstand te plaas, om gesindhede te beïnvloed en handelinge aan te hits teen die weg wat God wil hê mense moet beoefen. Die meeste mense vandag besef nie dat Satan werklik ons gedagtes, handelswyses en reaksies kan beïnvloed nie. Die apostel Paulus waarsku die vroeë kerk dat “ons ... met sy planne nie onbekend [is] nie – sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie” (2 Korintiërs 2:11). Hoe sien ons egter raak wanneer Satan ons probeer beïnvloed? Ons sal vyf metodes ondersoek wat Satan gebruik om sy doelwitte te bereik.
(1) Satan werk deur misleiding. Die Bybel dui aan dat Satan die hele wêreld mislei het (Openbaring 12:9). Jesus het gewaarsku dat baie vals leraars sou kom wat aanspraak maak daarop dat hulle Christene is wat “baie mislei” (Mattheus 24:5). Deur die vermenging van waarheid en dwaling ten einde onbehoedsame mense te mislei, is ’n metode wat Satan doeltreffend in die tuin van Eden teen Adam en Eva gebruik het (Genesis 2:17; 3:1-13). Hy beroep hom op Eva se fisiese sintuie, haar emosies en menslike redenasie en slaag daarin om haar te mislei sodat sy ’n verkeerde besluit neem. Satan gebruik vandag nog dieselfde metodes. Dit is waarom God spesifieke waarskuwings in die Skrif voorsien, soos byvoorbeeld: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood” (Spreuke 16:25). Ons lees ook: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Spreuke 3:5). Een van die sekerste maniere om mislei te word, is om wyse raad te ignoreer en ons eie redenasie – of die redenasie van “vriende” met wie ons ons vereenselwig – te volg. Die apostel Paulus leer ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Alvorens ons belangrike besluite neem, moet ons die gevolge van ons voornemende keuses of aksies sorgvuldig evalueer. Hierdie is praktiese riglyne om ons te help om te verhoed dat ons nie deur ons teenstander mislei word nie en dat ons nie in situasies sal beland wat ons uiteindelik laat afdwaal nie.
(2) Satan is die aanklaer van die broeders. Satan kan sy afbrekende doelwitte bereik deur mense aan te hits om skadelike bewerings teen ander mense te maak. Die vernietigendste beskuldigings is dié wat feite verdraai en wanvoorstel ten einde iemand se karakter te vernietig. Jesus Christus was vals beskuldig en gekruisig (Mattheus 26:59-66). Stefanus het ’n soortgelyke lot aan die hande van vals beskuldigers verduur (Handelinge 6:8-14). Satan gebruik vandag nog dieselfde taktiek. Vals beskuldigings het ’n groot rol gespeel om verdeeldheid in families en die Kerk te bewerkstellig. Ons moet waak daarteen om nie te luister na mense wat met lang lyste beskuldigings teen iemand anders kom nie, sodat ons nie in Satan se verdelende planne verstrengel raak nie. God waarsku ons: “’n Deugniet grawe ’n kuil van onheil, en op sy lippe is soos ’n brandende vuur [dit is al waaroor hy wil praat] (Spreuke 16:27). Ons word ook ingelig: “Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë” (Spreuke 18:17). Dit is nooit wys om die eerste persoon wat sy saak stel te glo nie. Dit is altyd beter om na die “ander kant” van die storie te luister alvorens ons tot ’n slotsom kom. Jesus het nie beskuldigings aangemoedig nie, maar gee beskuldigers hierdie raad: “Suiwer julle eie dade” alvorens julle te besorg raak oor ander se foute. As ons vasbeslote is om “in die voetspore” van Jesus te wandel, sal ons nie onwetend werktuie word in Satan se planne deur na vals beskuldigings te luister of om ons aan te sluit by beskuldigers in hul vernietigende werke nie.
(3) Satan versprei gerugte. ’n Gerug is bloot skinderpraatjies – iets wat u van iemand anders gehoor het. Gerugte is geneig om vriende, kennisse, kollegas, familielede en kerke te ondermyn en te verdeel. Gerugte is gevaarlik en afbrekend en dit is waarom Satan dit aanwend. Die Bybel neem sterk standpunt in teen die verspreiding van gerugte. Moses sê aan Israel: “Jy mag nie as ’n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie” (Levitikus 19:16). Salomo skryf: “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf” en “die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ’n saak” (Spreuke 11:9-13). Ons word ook vertel: “’n Man van valse streke saai tweedrag, en ’n kwaadstoker skei vriende van mekaar – wie ’n oortreding bedek, [oor die hoof sien of vergewe] soek liefde; maar hy wat ’n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spreuke 16:28; 17:9). Mense wat deur Satan beïnvloed is, hou daarvan om sappige gerugte omtrent ander te hoor en te versprei en veroorsaak sodoende tweespalt en kwade gevoelens. Tog sê die Bybel: “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis” (Spreuke 26:20). ’n Ware Christen sal nie na gerugte luister of hulle versprei nie. Enigiemand met die geneigdheid om gerugte te versprei, sal heel moontlik ’n werktuig in Satan se hande word.
(4) Satan versprei leuens. Jesus het dit duidelik gestel dat Satan ’n leuenaar is wat geen respek of agting vir die waarheid het nie (Johannes 8:44). Om sy doelwitte te bereik, kan Satan diegene gebruik wat geneig is om die waarheid te verdraai of te verduister om hul eie doelwitte te bereik. Satan het leuens en halwe waarhede in die Tuin van Eden gebruik (sien Genesis 3). Hy het Ananias en Saffira beweeg om vir Petrus te lieg – iets wat hulle hul lewens gekos het (Handelinge 5:1-11). Paulus sê aan Timotheus: “In die laaste tye [sal] sommige van die geloof afvallig word – deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete – hulle sal lieg sonder om te blik of te bloos, om hul eie selfsugtige doelwitte te bereik (1 Timotheus 4:1-2). Wanneer mense lieg en in gebreke bly om die waarheid te praat, word vertroue vernietig. Families, kerke, sakeondernemings en gemeenskappe wat deur leuens geteister word, begin verbrokkel omdat niemand enigiemand anders kan vertrou nie. Leuens is afbrekend en dit is waarom Satan (die vernietiger) dit as middel aanwend. God, ons wyse Skepper, het een van die gebooie – “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie” – ontwerp om hierdie gevaarlike gedrag te ontmoedig. As ’n mens nie lieg of deelname het aan die verspreiding van leuens nie, kan ons voorkom dat Satan ons gebruik.
(5) Satan verag gesag en tree voorbarig op. Satan het aangeneem dat, omdat God hom volmaak in aansien en wysheid geskep het, hy God as’t ware kon vervang (of in plaas van God kon optree) (Jesaja 14:12-14). In sy misleide vermetelheid het hy ’n engel-opstand teen sy Skepper aangevoer. Ons sien hierdie selfde gesindheid in mense wat deur Satan beïnvloed word. Die dissipels kom ’n plaaslike leier in Samaria, met die naam Simon teë, wat daarop aanspraak maak dat hy “iets besonders was” (Handelinge 8:9). Simon was aangegryp deur die wonderbaarlike krag wat die dissipels besit het en probeer om daardie krag te koop ten einde dit vir sy eie doeleindes te gebruik (verse 18-19). Petrus se reaksie – “Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie” (Handelinge 8:21) – dui aan dat Simon eintlik ’n “apostelskap” wou koop (sien Handelinge 1:25). Simon se voorbarige optrede was die gevolg van Satan se invloed (Handelinge 8:22-23). Petrus waarsku later dat valse leraars gekenmerk sal word deur hul gewilligheid om “gesag te verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie” (2 Petrus 2:1-10). Deur die eeue het baie hulself tot profete, evangeliste en leraars verklaar en baie opregte mense mislei. Die Bybel dui aan dat God deur Sy Kerk werk om nederige, bekwame persone in posisies van leierskap aan te stel – mense wat gevestigde gesag herken en daarmee kan saamwerk (sien Romeine 10:14-15; Handelinge 13:1-3; 1 Timotheus 3; Titus 1:5-9). Jesus het die voorbeeld gestel van hoe om gesag te respekteer en daaraan onderworpe te wees (Johannes 5:30; 6:38). Enigeen wat Christus se voorbeeld volg, sal nie voorbarig optree of die gesag wat God in die Kerk of familie gevestig het, verag nie. Sulke Christene sal hulself ook onderwerp aan die landswette waar hulle woon, mits daardie wette nie teenstrydig is met die wette van God nie (Romeine 13:1-3). Satan sal dit uiters moeilik vind om iemand te beïnvloed wat die regte gesindheid jeens gesag het.
(6) Satan gee voor dat hy ’n Christen en deel van die Kerk is. Soos ons reeds gesien het, het Simon, die selfaangestelde leier van Samaria, daarop aanspraak gemaak dat hy ’n Christen is omdat hy gedoop was (Handelinge 8:13), maar sy latere optrede het onthul dat hy bloot voorgegee het. Die apostel Paulus praat van “valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus” (2 Korintiërs 11:13). Paulus verduidelik voorts: “Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Korintiërs 11:14-15). Volgens die Bybel het Satan leraars wat hulself voordoen as leraars van Jesus Christus – wat voorgee dat hulle Christelike leiers is! Hierdie vals leraars sal betrokke wees by die verkondiging van ’n “ander Jesus – ’n ander gees – en ’n ander evangelie” (2 Korintiërs 11:1-4). Dit is waarom daar vandag so baie verskillende kerke is wat soveel verskillende idees verkondig. Dit is alles deel van Satan se plan om die Kerk wat Jesus Christus gestig het, te vernietig – die Kerk wat Hy steeds bestuur en lei.
Net omdat mense die Kerk van God bywoon, beteken nie dat hulle bekeerd is nie. Paulus waarsku die leiers van die kerk in Efese: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde [verleidende, misleidende] dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29-30). Paulus beskryf hoe vals leraars – onbekeerde individue wat “lede” van die Kerk blyk te wees – inderwaarheid instrumente van Satan word en deur hierdie magtige geestelike wese gebruik sal word om verwoesting en verderf in die Kerk van God te saai.
Die Bybel toon duidelik dat Satan werklik bestaan en dat hy probleme tussen individue, familielede, kerklidmate en nasies aanhits. Satan het sy middele en hy weet hoe om hierdie uiters vernietigende middele te gebruik. As mense moet ons herken hoe Satan te werk gaan. Ons moet sy doelwitte en oogmerke verstaan. Deur die onderrig wat God in Sy Woord voorsien, te bestudeer en na te volg, kan ons die probleme wat Satan probeer skep, verhoed. Ons moet waaksaam bly en leer om te lewe “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheus 4:4). As ons wil voorkom dat ons instrumente in Satan se hande word en as niksvermoedende werktuie namens hom optree, moet ons in staat wees om die metodes wat hy gebruik om sy doelwitte te bereik, te herken. Deur dit te doen, kan ons Satan se middele vermy en vordering maak in die rigting van die Koninkryk van God.