Een tragedie van ons huidige tydperk is die verwaarlosing van die geskiedenis. Op die persoonlike en akademiese vlak het die samelewing so behep geraak met die híér en nóú, dat feite en lesse van die geskiedenis dikwels geïgnoreer of verontagsaam word. Hoe ver terug kan u u geslagsregister naspeur – dit wil sê u “persoonlike geskiedenis”? Die Bybel openbaar dat die Israeliete hulle afkoms oor verskeie eeue heen kon vasstel (Númeri 1:17-19; vergelyk Matthéüs 1). Ek sal ’n webwerf moet betaal om my te help om meer as drie geslagte terug te kan naspoor!
Dit kan ’n veeleisende taak wees om ons kinders lesse uit die geskiedenis te leer aangesien dit meer behels as om basiese feite te leer; ons moet die korrekte konteks weergee. Dit is egter die moeite werd! Onkundige aannames wat betref geskiedenis is gevaarlik en laat swak bewerkers toe om slegs gebeure wat hulle siening pas, buite konteks van die geskiedenis te kies of selfs die geskiedenis te vervals, dikwels met ’n slinkse agenda.
Verdraaide feite, foutiewe gevolgtrekkings
Ek het onlangs ’n aanlyn-opname gesien wat gevra het watter wêreldryk die slegste was. Ek het die een gekies wat ek gedink het sy teenstanders en onderdane die wreedste behandel het. Stel u voor hoe geskok ek was toe ek sien wat die meerderheid mense gekies het – die Britse Ryk! Alhoewel nie perfek nie, behoort enige eerlike ondersoek te openbaar dat Brittanje nie die leier was van die geskiedenis se “slegste” ryk nie.
Feite maak in werklikheid saak. Die Britse Ryk het wel baie nasionale sondes gepleeg; dit was immers ’n ryk wat oor eeue gestrek het, met miljoene mense en generasies van leiers wat nie in elke situasie die regte besluite geneem het nie en boonop was daar ongelukkig ook baie “vrot appels”. Ander geskiedkundige feite toon egter dat werklike voordele uit Britse heerskappy voorgekom het. Dieselfde kan gesê word van baie ander ryke wat verskillende mates van positiwiteit en negatiwiteit getoon het.
Wanneer ons die geskiedenis van verskillende volke, nasies en ryke leer ken, kan dit ons help om te onderskei wanneer feite en dus ook idees gemanipuleer of verdraai is. Terwyl ’n enkele internetpeiling nie te ernstig opgeneem behoort te word nie, het die idee dat die Britse Ryk die slegste in die geskiedenis was, inderdaad aanhangers verwerf. Dit is eenvoudig tog net ’n onkundige of oneerlike aanname van die geskiedenis. Wanneer ’n mens ’n geloofwaardige geskiedenisboek oor die Britse Ryk vind en dit vergelyk met die Assiriese Ryk, die Mongoolse Ryk, die Spaanse Ryk, die Sowjet-ryk of die Derde Ryk “Third Reich” sal u vind dat die Britse Ryk ver van perfek was; u sal nogtans sien dat dit gladnie van die slegste ryke in die geskiedenis was nie.
Vermy vorige foute
Die lesse van die geskiedenis behoort ons ook in ons persoonlike lewens te help. Ouers wil natuurlik hê dat hulle kinders moet leer sodat foute vermy kan word. Die Bybel bevat baie instruksies wat kinders kan help om dit so te doen. Ouers behoort eerste aan die boek Spreuke te dink as ’n uitstekende boek om saam met hulle kinders te lees, want dit sal hulle blootstel aan goddelike beginsels om besluite te neem. Salomo lei selfs die boek in deur te skryf dat sy doel is “om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg” (Spreuke 1:4).
Buiten direkte morele onderrig, behoort die geskiedenis wat in die Skrif aangeteken is, ons te help om lesse te leer. Die apostel Paulus het oor verskeie besonderhede van Israel se verlede nagedink toe God hom geïnspireer het om te skryf: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Die Ou Testament bevat baie verhale wat aangeteken is oor hoe God met Sy mense gewerk het en hoe hulle geloof beloon was; baie van hierdie verhale word in Hebreërs 11 opgesom. Ons kinders kan baie positiewe kwaliteite leer soos volharding, gehoorsaamheid en om te fokus op die lewens van diegene wat daarna gestreef het om “’n beter opstanding te kan verkry” (Hebreërs 11:35).
Kinders kan geskiedenis bestudeer en daardeur kan hulle ook die gevolge van slegte keuses leer. Wanneer Paulus ons meedeel hoe swaar die Israeliete gekry het, dui hy aan hoe Christene verskeie sondige dade wat die Israeliete gepleeg het behoort te vermy: “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie” (1 Korinthiërs 10:6). Paulus beklemtoon veral afgodediens, seksuele onsedelikheid, om Christus te versoek en om te murmureer oor bose dade waaruit ons kan leer (verse 7-10).
Pas geskiedenis op onsself toe
Ouers kan hulle kinders met behulp van lesse uit die geskiedenis leer om hulle te help om sondige gedrag te vermy en sodoende die gevolge van ongehoorsaamheid aan God te vermy. Wanneer ons kinders ouer word, kan hulle sélf dieper in die Woord delf. Op dieselfde manier as hulle ouers, kan kinders die verkeerde lesse uit die geskiedenis leer indien hulle nie verstaan hoe en waarom sekere gebeurtenisse plaasgevind het nie.
Wanneer ons byvoorbeeld foute sien wat mense deur die geskiedenis heen gemaak het, kan dit maklik wees om te aanvaar dat ons beter as ons voorvaders sou geweet het. Dit is ’n versoeking om onsself in die storie te plaas as die “goeie ouens”. Ons sê vir onsself dat ons die getroue Israeliete sou wees – nie die ongehoorsame, sondige, koppiges nie. Wanneer ons dit doen, hetsy uit ydelheid of naïwiteit, kyk ons te maklik die pynlike feit mis dat daar tye in die geskiedenis is wanneer die oorgrote meerderheid mense die verkeerde besluite geneem het en ons sou waarskynlik deel van daardie verkeerde meerderheid gewees het. Sou ons werklik die derde getroue man gewees het wat langs Kaleb en Josua gestaan het? Is dit nie baie waarskynliker dat ons ook in die versoeking sou kom om, soos die honderdduisende Israeliete wat nie die Beloofde Land binnegegaan het nie?
Deur een les wat Paulus in 1 Korinthiërs 10 aanbied toe te pas, dink ons regtig dat ons deur die uittog uit Egipte sou gegaan het sonder om te murmureer? Miskien dink ons dat ons te slim, te gefokus of te regverdig sou gewees het om te murmureer. Die waarheid is dat dit byna sekerlik nie die geval is nie. Wanneer ons die geskiedenis saam met ons kinders bestudeer, kan ons as ouers aan hulle daarop wys hoe maklik dit is om te kla. Die meeste kinders sal soms kla – sommige van hulle meer dikwels as ander. Baie kinders in die Westerse wêreld het egter klagtes wat dikwels heeltemal onbenullig is in vergelyking met wat die Israeliete tydens die uittog uit Egipte verduur het. Hulle was honger, dors en moeg. Die Israeliete het onder omstandighede gewoond geraak om te kla, maar hoe dikwels kla ons kinders oor wat hulle kry om te eet of wat se vermaak hulle het? Natuurlik kan ons as ouers ons kinders help om hierdie lesse van die geskiedenis te leer. Ons kinders mag daardie lesse teen ons gebruik indien ons diegene is wat toegee aan die versoeking om te murmureer!
Die Bybel is die grondslag van die geskiedenis
Geskiedenis kan ’n wonderlike leermeester wees, maar ouers moet verstaan dat dit maklik gemanipuleer of uitgekies kan word wanneer dit hulle pas of geïgnoreer kan word. Ons as Christenouers het die verpligting om geskiedenislesse te leer asook om daardie lesse akkuraat in ons lewens en die lewens van ons kinders toe te pas. Dit kan ’n ingewikkelde kuns wees aangesien die tyd en energie wat nodig is om dit te doen, mag lyk asof dit buite ons vermoë is.
Gelukkig is daar ’n oplossing vir hierdie probleem. Daardie oplossing is die Bybel. Dit verskaf ’n raamwerk van geskiedkundige feite sowel as lesse wat ons uit daardie feite kan leer. Die Bybel onderrig ons met betrekking tot wat die beloning van geloof is asook die koste daarvan – terwyl dit ons herinner hoe maklik dit is om in ’n versoeking te kom. Dit openbaar selfs profesieë wat bewys dat daar deur die geskiedenis van die wêreld baie erger ryke as die Britse Ryk sou wees! Die bestudering van God se geïnspireerde Woord is die beste manier om te verseker dat ons die feite en lesse van die geskiedenis korrek verstaan.