Immigrasie – veral onwettige of ongemagtigde immigrasie – is besig om die basiese struktuur van die Westerse beskawing uitmekaar te skeur. Vasgevang tussen ’n gevoel van deernis vir die kwesbare mense en ’n strewe om nasionale stabiliteit te handhaaf, staar die Verenigde State en baie Europese nasies ’n byna ongekende uitdaging in die gesig terwyl migrante oor hulle land se grense stroom.

Die situasie is veel meer as ’n blote politieke uitdaging of ’n uitdaging van beleidmaking. Op sekere maniere neem die instroming van migrasie die aard van invalle aan – destabilisering van die lande vir bestemming, oorweldigende regeringshulpbronne en die vergroting van die diep skeure wat dekades van samelewingspolarisasie geskep het. Vir die Weste het die uitdaging van migrasie ’n krisis in alle opsigte geword.

Die migrasiekrisis skep tog vir ander mense ook ’n geleentheid. Opportuniste en sinici sien ’n geleentheid om ’n lankgekoesterde visie van ’n wêreld sonder grense met geweld te bevorder, terwyl baie mense graag die huidige krisisse wil gebruik om die wêreld volgens hulle eie idees te hervorm. Sou die vervulling van so ’n visie egter ’n utopiese droom of ’n aaklige nagmerrie inlui?

Die enigste manier om die migrasiekrisis en die oplossing daarvan ten volle te verstaan, is om dit nie deur die lense van politieke pragmatisme, ekonomiese en demografiese dinamika, kulturele konflik of selfs deur humanitêre deernis te beskou nie. Ons moet die planne en wense oorweeg van die Een wat die mensdom in die eerste plek geskep het – die Een wat binnekort Sy stem sal laat hoor in elke nasie op aarde. Waarom word grense trotseer en oorgesteek en wat hou dit in vir diegene aan elke kant van daardie grense?

 

’n Ander nasie binne die nasie

The Hill, berig op 23 Januarie 2024: “Die aantal onwettige immigrante in die land het ongeveer verdubbel onder president Biden. Die Verenigde State het in 2020 sowat 10,2 miljoen onwettige immigrante gehad en nog 10 miljoen immigrante het tydens Biden se presidentskap die land binnegekom. Indien die 20 miljoen onwettige immigrante almal in een staat sou wees, sou dit gelyk wees aan New York as die vierde grootste bevolkte staat”.

In werklikheid beteken dit dat 20 miljoen mense die totale voornemende bevolking van onwettige immigrante, ’n “nasie” binne die V.S. kan verteenwoordig wat op sigself groter is as byna ’n driekwart van die individuele nasies en afhanklike gebiede van die wêreld. Stel uself voor dat die totale bevolking van Ecuador (18,2 miljoen), Somalië (18,1 miljoen) of Kasakstan (19,6 miljoen) onwettig na die Verenigde State immigreer. Hoe sou so ’n massiewe toestroming van mense die nasie verander? Sal dit ’n verandering van sy waardes en sy kultuur teweegbring? Sal dit hulle politiek verander?

Stel u nou voor dat die toestroming feitlik onverpoosd voortduur en die vergelykings met ’n inval begin redeliker klink.

In sy stryd teen wat selfs baie Demokratiese politici, soos senator John Fetterman, beskou as onbeheerde tot nie-bestaande grensbestuur deur die Biden-administrasie, het die goewerneur van Texas, Greg Abbott, verklaar dat die 6 miljoen immigrante wat die afgelope drie jaar die suidelike grens onwettig oorgesteek het, nét dít gedoen het: ’n inval.

Om die vlaag van immigrante wat onwettig oor die Rio Grande na Texas swem, te stuit, het Goewerneur Abbott nuwe versperrings en lemmetjiesdraad al langs die grens met Mexiko laat oprig. Die V.S. se hooggeregshof het die Biden-administrasie se gesag om hierdie versperrings te verwyder, gehandhaaf, maar Abbott het – in oënskynlike trotsering van die federale regering – aan die wetstoepassingsagentskappe van Texas en die National Guard opdrag gegee om voort te gaan om meer versperrings op te rig. Die dag nadat goewerneur Abbott ’n brief uitgereik het waarin hy sy besware teen die uitspraak van die Hooggeregshof verduidelik, het 25 Republikeinse goewerneurs ’n brief onderteken wat Abbott se optrede ondersteun. Soos wat een waarnemer opgemerk het, kon daardie stap die grootste Amerikaanse grondwetlike krisis uitgelok het sedert die Burgeroorlog.

 

“’n Wapen ... om ons samelewing te destabiliseer”

Die situasie in Europa is niks beter nie en is waarskynlik erger. Tot onlangs was Swede byvoorbeeld bekend as een van die tien veiligste nasies op aarde, ten spyte van die mees vrygewige asielregulasies in die hele Europa. Hoe sien dit tans daaruit?

In ’n verslag van November 2023 het The Financial Times die land se situasie soos volg opgesom: “Die Nordiese land het van een van die laagste vlakke van noodlottige skietvoorvalle in Europa tot een van die hoogste voorvalle in net een dekade gestyg. Goed gevestigde kriminele-bendes, wat grootliks deur tweede-generasie immigrante aangevoer word, maak mekáár nie net meer dood nie, maar vermoor toenemend familielede en ... onskuldige omstanders. Baie van die oortreders is kinders so jonk as 14 wat deur bendes opgelei word om aanvalle uit te voer”.

Gevalle van sterftes deur aanranding met ’n vuurwapen kom nou in Swede voor teen ’n koers wat 80 persent hoër is as in Kroasië. Daar is ook toenemende bewyse dat immigrant-aangedrewe kriminele netwerke “sommige openbare dienste, politieke partye en selfs die strafregstelsel geïnfiltreer het”. Richard Jomshof, ’n lid van die Sweedse parlement, het sonder om doekies om te draai, gesê: “Indien dit vir die volgende twee dekades voortduur, is Swede verlore”.

In Desember 2023, tydens ’n gesprek met die koerant Telegraph, het Pole se voormalige premier Mateusz Morawiecki, reguit gesê: “Ja, ek glo wel dat onwettige migrante bedreigings op die lang duur vir Europese vrede, Europese veiligheid en die Europese beskawing op langtermyn inhou”. Hy beklemtoon veral die “groot (getalle) Moslem-migrante uit die Midde-Ooste wat na Duitsland en Frankryk asook ander lande kom en wat die kultuur van daardie lande en hulle nasies wil verander”.

Italië is die swaarste getref deur onbeheerbare immigrasie uit Noord-Afrika. Dit het frustrasies veroorsaak wat daartoe bygedra het dat Italië se huidige premier Giorgia Meloni, in die amp geplaas is.

Migrante probeer dikwels vanuit Italië om Frankryk binne te gaan en dan na ander dele van Europa te reis. Frankryk het egter weerstand gebied en probeer om grensbeheer weer in te stel wat herinner aan die dae voor die Europese Unie, toe vrye beweging beperk was wat ’n kenmerk van die moderne Europese lewe geword het. Soos haar eweknieë in Frankryk, het me. Meloni gewaarsku dat die EU die risiko loop om oorweldig te word deur die toenemende tsoenami van mense wat die vasteland binnestroom.

Die Britse premier Rishi Sunak stem saam. In Desember 2023 het mnr. Sunak, met me. Meloni in gesprek getree tydens ’n byeenkoms van regse Italiaanse politici in Rome en die kwessie bespreek met betrekking tot die migrantekrisis wat die Weste in die gesig staar, asook die kriminele organisasies wat dit vir hulle eie gewin benut:

“Kriminele bendes sal steeds goedkoper maniere vind om hulle bose handel te bedryf. Hulle sal ons menslikheid uitbuit en dink niks daarvan om mense se lewens in gevaar te stel wanneer hulle, hulle immigrante in hierdie bote op die see sit nie. Ons vyande sal ook sien dat ons nie in staat is om dit te hanteer nie en hulle sal migrasie toenemend as ’n wapen gebruik en mense doelbewus na ons kus dryf om ons samelewing te probeer omverwerp. Indien ons nie hierdie probleem aanspreek nie, sal die getalle net toeneem. Dit sal ons lande oorweldig en ook ons vermoë om diegene te help wat ons hulp die nodigste het”.

 

’n Wêreld in pyn

Mnr. Sunak se woorde weerspieël die deernisvolle sentiment wat dikwels die kenmerk was van die Weste se reaksie op bevolkings wat swaarkry – ’n sentiment wat erken dat, hoewel die vlaag van immigrante ’n wesenlike inval kan vorm, dit nie létterlik een vorm nie. Hoe ongekend die huidige situasie ookal is,  die lyding en beproewing wat daarmee gepaard gaan is so oud soos die mensdom self.

Daar is uiteenlopende redes waarom mense die uitdaging aanpak om hulle geboorteland en hulle mense te verlaat om hulleself baie ver weg in ’n nuwe en heel ander land te hervestig. Sommige van hulle word weggedryf as gevolg van oorlogvoering in hulle land wat geweld en vervolging insluit. Die Verenigde Nasies het in Oktober 2023 berig dat meer as 114 miljoen mense deur hierdie soort geweld uit hulle huise verdryf is. Konflik in Mianmar het gelei tot die ontstaan van een van die wêreld se grootste vlugtelingkampe – die Kutupalong-Balukahli-kamp in Bangladesj wat 700,000 vlugtelinge huisves wat gevlug het van die vervolging wat hulle in hulle vaderland in die gesig gestaar het.

Rampe het ook nog altyd ’n rol gespeel. Hongersnood het die antieke aartsvader Abram en sy huishouding gedryf om vir ’n tyd lank in die land van Egipte te woon (Génesis 12:10), net so dryf omgewing en ekologiese rampe vandag nog steeds bevolkings om na veiligheid en sekuriteit te soek. Dit het nou mode geraak vir sommige mense om sulke rampe te verdraai in argumente teen “klimaatsverandering”, maar ongeag die oorsaak, plaas natuurrampe werklike druk op mense om hulleself te hervestig. Die genadelose natuurkragte is reeds vir millennia ’n dryfkrag vir migrasie.

Sommige migrante verlaat hulle tuislande, desperaat op soek na ’n toekoms vir hulle gesinne en ’n ontsnapping van die armoede van hulle gebroke nasies wat dikwels regeer word deur regerings wat hulle mense se rykdom mors op sogenaamde ekonomiese modelle of deur korrupte amptenare wat meer belangstel om hulle eie persoonlike bankrekenings aan te vul in plaas van die hongersnood van kinders binne hulle landsgrense te verlig. Desperate en gepynigde mense wat ondraaglike lewensomstandighede in die gesig staar neem, wat dalk die moeilikste besluit van hulle lewens is, om alle besittings wat hulle kan dra in te pak en te begin stap. Die swaarkry wat hulle in die gesig staar op hulle reis na onbekende lande, kan skrikwekkend wees, maar in vergelyking met die ontberings wat hulle in hulle geboortelande ondervind, word die risiko die moeite werd – of dit nou die staptog deur woestyne behels wat oor die suidelike V.S. strek of ’n vaart oor die Middellandse See wat Noord-Afrika skei van Europa. Enige gevare wat die reis inhou, word vêr oortref deur die hoop op ’n beter lewe.

Ongelukkig reis sommige mense na nuwe lande vir meer duistere redes, in die hoop om die gevolge van misdade wat gepleeg is vry te spring of om nuwe gebiede vir kriminele ondernemings te vind. In die boekjaar 2023 is daar in die V.S. byvoorbeeld, ’n rekordgetal van 736 bekende of vermeende terroriste onder die onwettige immigrante gevang. Die mark vir onwettige dwelms soos fentaniel, dryf baie skurke oor die grens om dwelm-gebaseerde winste na te jaag.

As gevolg van natuurrampe of van verskeie mensgemaakte bedreigings kan ons leef in ’n wêreld gevul met pyn. Vir baie migrante is die kans om bevry te wees van daardie pyn dus die moeite werd om gevaarlike reise oor riviere, deur woestyne, oor berge en oor stormagtige seë in bote wat skaars seewaardig is te onderneem.

 

’n Geleentheid vir skurke asook vir mense met ’n visie van ’n beter lewe

Menslike ellende bied dikwels geleenthede. Desperaatheid om internasionale grense oor te steek, was ’n oplewing vir smokkelaars en kriminele kartelle wat net waarde heg aan die geld wat hulle kan maak deur desperate migrante uit te buit. In getuienis aan die V.S. se Huis van Verteenwoordigers het agente wat langs die land se suidelike grens diens doen, die feit duidelik gemaak dat kartelle in Mexiko absolute beheer oor daardie grens het en dit vereis dat migrante verregaande bedrae betaal om gehelp te word en diegene wat probeer om die grens oor te steek sonder om vir die “voorreg” van hulp te betaal, word gestraf met aanranding en selfs tereggestel.

Politici sien ’n geleentheid raak wanneer dit hom voordoen. Gefrustreerde kiesers is kiesers wat op soek is na verandering en baie regerings in die Weste het hoofsaaklik van partye verwissel as gevolg van kommer oor immigrasie. Sommige partye sien woede van kiesers oor immigrasie as ’n sleutel om stemme vir groter agendas te werf. Ander partye sien nuwe immigrante, wettig of onwettig, as nog meer kiesers wat hulle kan gebruik om hulle eie mag te behou.

Sommige partye probeer om immigrasie as ’n onbelangrike kwessie af te maak en erken die nuwe krisisse, maar verkies om dit toe te skryf aan die gevolg van ekonomiese ongelykheid eerder as ’n botsing van teenstrydige kulture en waardes. Daar is ander partye wat ’n stap verder gaan en wat die bestaande geleentheid beskou as ’n kans om ons wêreld op die mees fundamentele wyse te hervorm. In die oë van sulke “visioenêre”, is massa-migrasie en vlugtelingkampe nie bloot weerspieëlings van ekonomiese swaarkry, natuurrampe of geweld nie, maar tekens dat die bestaan van grense opsigself ’n probleem is. Die huidige migrasiekrisisse bied vir hulle ’n geleentheid om hulle droom van ’n grenslose utopie aan te beveel as ’n idee dat die tyd daarvoor nou aangebreek het. Die motiverings wat diegene inspireer wat hierdie fantasie bevorder, wissel van dromer tot dromer, maar hulle invloed op beleid, politiek en kultuur is ’n feitlike werklikheid.

Dit mag dalk verbasend wees dat baie mense nou op grond van kapitalisme voorbrand maak vir die opening of selfs om grense uit te skakel. Die miljardêr Charles Koch, is ten gunste van die oopstel van nog méér grense gebaseer op grond hiervan en gebruik sy stigting om aan te dring op hervorming van immigrasie ten einde meer arbeiders na die V.S. te bring. Sommiges gaan selfs verder en redeneer dat daar byna geen beperkings moet wees nie. Die ekonoom Bryan Caplan van die George Mason Universiteit, stel voor dat om grense soveel as moontlik oop te gooi en sodoende die vrye beweging van mense te maksimaliseer, immigrasie ’n 50 tot 150 persent toename in globale produktiewe uitset sal genereer deur die herstel van werkerspotensiaal wat nou in onproduktiewe nasies vermors word.

Ander partye argumenteer, ironies genoeg, ten gunste van oop grense as ’n aanval op kapitalisme. Die rubriekskrywer Todd Miller het in Mei 2021 vir The Nation geskryf en sy artikel met die titel, “Visions of a Borderless World”, skets ’n prentjie van grense wat slegs dien om die rykes en magtiges te help, terwyl die armes en onderdruktes onder beheer gehou word. Prokureur Anita Yandle het in Maart 2021 vir die Columbia Law School se “Abolition 13/13” sosiale geregtigheidsprojek geskryf: “Grense is ’n gewelddadige uitbreiding van die tronk- imperialistiese staat”. Bekommerd dat haar oproepe vir “globale geregtigheid” teen oop grense sal voorkom, verduidelik Yandle: “Dit is nie om teen oop grense te argumenteer nie; in plaas daarvan is oop grense ’n stap op die pad na die afskaffing van grense (inderdaad die state wat dit beheer)”.

Ja, die afskaffing van state, self. Yandle laat geen ruimte vir twyfel in haar posisie nie: “Oop grense sal baie kwessies verlig en talle lewens red, maar afskaffing daarvan deur selfs met lande weg te doen, is die oplossing vir die geweld wat grense skep”.

Dit mag dalk ’n versoeking wees om sulke sentimente te verontagsaam as idees van regsgeleerdes aan die kantlyn, maar die kulturele en klassieke Marxistiese filosofieë wat die oorsprong is van hierdie idees het lank gelede die beperkings van geleerdes agtergelaat en is nou besig om beleide te vorm – dus ook die samelewings wat daarvolgens leef. Miller en Yandle se uitsprake of sienings is beide ernstige waarskuwings van gevaar. ’n Groot deel van die samelewing se mees opgevoede mense beskou duidelik gedefinieerde en verdedigde nasionale grense op hulle beste as rassisties en xenofobies en op die ergste as ’n instrument van onderdrukking en skending van menseregte. Volgens die denke van diegene met sulke “visioene”, sal die radikale oopstelling van grense – miskien selfs die algehele afskaffing daarvan – nie ’n verdubbeling wees van die chaos wat ons in ons nasies sien toeneem nie. In plaas daarvan is ’n grenslose wêreld die uiteindelike sleutel tot ’n regverdige, lewendige en globale beskawing waarin menslike potensiaal finaal openbaar word.

 

’n Baie antieke idee

Visioene van ’n wêreld sonder grense is glad nie nuut nie. Trouens, dit is amper so oud soos die mensdom self. Millennia gelede, in die vlaktes van die antieke land Sínear, het die mensdom probeer om ’n grenslose wêreld te skep – een volk en een nasie, sonder grense. Ons lees van hierdie poging – die berugte Toring van Babel – in Génesis 11: “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde ... En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (verse 1-4).

In plaas daarvan dat gesinne versprei en nuwe nasies op verskillende plekke op die aarde vestig, het die mense probeer om een in “naam” te bly en het hulle geweier om “verstrooid” te word.

Waarna is God op soek? Politici, beleidmakers, akademici en intellektueles bied almal hulle oplossings, maar wie van hulle soek die leiding van die Een deur wie die mensdom geskep is? Wie vra raad van die Een wat werklik die weg na vrede, vervulling en menslike vooruitgang verstaan? Dit maak nie saak hoe slim ons eie oplossings en filosofieë in ons oë lyk nie, “Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korinthiërs 1:25).

 

God se siening van grense

Ons Skepper se doel van hoe die mensdom op die aarde behoort te leef en die wyse waarop Jesus Christus hierdie wêreld sal regeer na Sy Wederkoms word duidelik gemaak in die geïnspireerde bladsye van die Skrif. Die Bybel toon duidelik dat God onderskeie gesinne oor die hele aarde wil hê.

In die Skrif word nasies hoofsaaklik uitgebeeld as groot families wat uitgebrei het, gedefinieer deur familiêre verbintenisse eerder as politieke idees en regerings – vandaar die vermelding van “die geslag van Egipte” onder die “geslagte van die aarde” gedurende die toekomstige duisendjarige heerskappy van die Messías (Sagaría 14:17-18). Die sprake van grense in daardie duisendjarige heerskappy bestaan ook in Jesaja 19:19. God se Woord sê duidelik: “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel” (Deuteronómium 32:8). Ja, God het grense gestel en nie net vir die mense van antieke Israel nie, soos die apostel Paulus verduidelik: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).

Paulus se kort verklaring werp lig op die feit dat álle mense – elke ras, etnisiteit en nasionaliteit – verenig is as afstammelinge van Adam en Eva en dat God Sélf gekies het om grense te stel om die woonplekke van die nasies te definieer wat van daardie gemeenskaplike voorouers sou afstam.

Aangesien die God van die Bybel duidelik ’n God van grense is, is enige visie van ’n grenslose wêreld uiteindelik in stryd met hoe Hy wil hê dat Sy wêreld moet funksioneer. Hy het dit duidelik genoeg by Babel gemaak. Daar het die mensdom gepoog om hulle nie aan die Skepper te steur nie, hulle het ook nie probeer om afsonderlike nuwe nasies te bou nie of om nuwe woonplekke in die wêreld, ná die vloed, te soek namate hulle families uitgebrei het nie. Die massas by Babel het eerder probeer om God se plan teë te gaan en op een plek te bly as een volk – een nasie.

Hulle uittarting het nie goed afgeloop nie – op die ou einde is dit nooit goed om God uit te daag nie. Taal is een van die mees fundamentele verenigende elemente van enige volk, daarom het God soos bekend die volke se tale verwar sodat hulle nie meer met mekaar kon kommunikeer nie (Génesis 11:7). “So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi” (vers 8), wat hulle gedwing het om te doen soos Hy dit van die begin af wou hê.

Ons Vader in die Hemel is konsekwent. Sy wense verander nie (Maleági 3:6), Jesus Christus se denkwyse verander nie (Hebreërs 13:8) en ons kan verwag dat die wêreld wat hulle met Christus se Wederkoms sal begin herbou net sal wees soos wat Hulle wou hê het dat die antieke wêreld moes wees. Ons sien dit in die beskrywings van Jesus se heerskappy gedurende die Millennium: ’n Wêreld van grense en gesinne wat tot nasies groei.

 

Geen oplossing buiten Jesus Christus nie

Geen wêreldprobleme kan opgelos word indien ons onkundig is met betrekking tot God se Wette en wense nie. Geen optredes wat in stryd met Sy wil geneem word, kan ooit op die lange duur geluk, vrede en sekuriteit tot gevolg hê nie. Fanatici mag dalk opreg glo in hulle fantasie dat ’n grenslose wêreld die uiteindelike sleutel is vir die mens om te kan floreer, maar God lewer oor hulle en hulle idees dieselfde uitspraak as wat hy oor hulle by die toring van Babel uitgespreek het.

Wat is egter die alternatief vir die chaos wat ’n grenslose wêreld bied? Hoe kan miljoene mense wat swaar kry gehelp word sonder om die hulpbronne van hulle gasheerlande te dreineer of konflik aan te blaas, aangesien fundamenteel verskillende kulture in mekaar se nabye teenwoordigheid, mekaar verkeerd kan opvryf?

Op klein skaal gee die Bybel aan ons leiding wat betref ons basiese gesindhede en oriëntasies van ons harte. Ons sien dat die God van antieke Israel, hulle aangemoedig het om medelye met vreemdelinge in nood te hê: “Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Exodus 22:21; vergelyk Exodus 23:9; Levítikus 19:34; Deuteronómium 10:19). In die Nuwe Testament het Christus die apostel Paulus geïnspireer om te onderrig: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen,” alhoewel ons eie gesinne en dié van die “huisgenote van die geloof” eerste aanspraak op ons ondersteuning het (Galásiërs 6:10; 1 Timótheüs 5:8).

Op groot skaal moet ons egter die feite erken: In hierdie wêreld – tensy daar wêreldwye bekering en onderwerping aan die heerskappy van Jesus Christus is – kan daar geen werklike en permanente oplossing vir die migrantekrisis wees nie. Lyding sal voortduur namate die mens sy hulpbronne wanbestuur, oorlog voer teen sy naaste en ly as gevolg van sy keuse om God uit sy sake te hou. Voorrade sal beperk bly namate die mens ’n bestaan maak uit die grond, terwyl hy homself die seëninge ontsê wat voortspruit uit gehoorsaamheid aan sy Skepper. Veral die nasies van Israelitiese afkoms, met inbegrip van die V.S. en Groot-Brittanje, sal toenemend die gevolge ervaar, wat geprofeteer is wat hulle sal ondervind indien hulle die God van die Bybel verwerp – met inbegrip van die gevolge wat in Deuteronómium 28:43 opgeteken is: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak.”

Op ’n manier is elke migrant se smeking om genade, hulp en geregtigheid – of hy dit weet of nie – ’n uitroep vir die Wederkoms van Jesus Christus en dat Hy Sy Koninkryk van vrede en oorvloed kom vestig. Hy sê: “... sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul”. Hy is werklik “die skatte van al die nasies” (Haggai 2:7).