In die National Geographic-tydskrif van November 2023, het ’n artikel met die volgende opskrif verskyn: “The Race to Save The Planet: Can Technology Help Fix the Climate Crisis?” Die opinie bestaan byna wêreldwyd dat die einde van die wêreld binnekort gaan aanbreek en die bekende Doomsday Clock wat deur die Bulletin of the Atomic Scientists in stand gehou word, huldig ook daardie mening. Die wyser van die Doomsday Clock staan vanaf Januarie 2024 op 90 sekondes voor middernag en dui die mate van gevaar vir die wêreld aan. Dit lyk dus asof ons op die punt staan om onsself te vernietig.

Ons smag almal na goeie nuus maar wêreldnuus skok ons om die realiteit van apokaliptiese gevare in die gesig te staar asook die vrees vir ’n komende Armagéddon. Kan die wetenskap ons red? Sal God ons red? Kan ons enige hoop vir die toekoms hê? Is daar énige goeie nuus te vinde? Gelukkig is daar – indien ’n mens weet wáár om te kyk. Daardie goeie nuus is nie net vir u en u geliefdes nie – daar is goeie nuus vir die hele wêreld.

Selfs ’n terloopse blik op die boek Openbaring – die laaste boek in u Bybel – openbaar dat daar beslis baie slegte nuus voorlê. Die probleme wat in Openbaring 6 gesimboliseer word deur die vier perderuiters van die Apokalips sal planeet Aarde verwoes voordat Jesus Christus terugkeer: Oorlog, hongersnood, pessiektes, wydverspreide sterfgevalle en die opkoms van ’n bose valse godsdiens wat goed voorkom. Miljarde mense sal sterf wanneer hongersnood en siektes oor die aarde versprei, wat sal lei tot ’n kwart van die menslike bevolking se dood. Baie mense sal mislei word deur die onderrig van ’n valse profeet wat reeds te voorskyn sou gekom het en kragte saamsnoer met ’n bose politieke heerser wat deur die Skrif “die dier”, genoem word.

Waar is die goeie nuus dan te vinde? Beteken dit dat elkeen van ons gered kan word van die gruwels wat kom en dat ons deel van God se gesin kan word? Dit is deel daarvan – daar is egter meer. Jesus van Násaret het voorspel, “geen vlees [sou] gered word” van die Groot Verdrukking indien Hy nie sou terugkeer nie, maar Hy sê ook dat “ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Ja, die Verlosser van die wêreld sal ingryp voordat ons onsself totaal vernietig. Hy sal ’n wêreld van vrede en voorspoed tot stand bring. Die Evangelie wat Jesus kom verkondig het is nie net bloot ’n boodskap van redding vir daardie relatief min mense wat Sy ware leerstellings kon hoor nie; dit is ’n boodskap van Sy komende Koninkryk, wat nie net vrede vir ons hele wêreld sal bring nie, maar ook ’n geleentheid vir redding – met inbegrip van redding vir die miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit Christus se Naam of Sy ware boodskap te hoor.

Daar lê moeilike tye voor, maar Christus se woorde aan die mense van Galiléa is vandag nog op ons van toepassing: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Christus het die eerste keer gekom om die komende Koninkryk van God aan te kondig en wanneer Hy terugkeer, sal Hy daardie Koninkryk hier op planeet Aarde vestig en dit sal vir almal wat al ooit geleef het goeie nuus wees.

 

Wat is die “goeie nuus”?

Selfs die verskillende denominasies binne die hoofstroom “Christendom” onderrig baie verskillende sogenaamde evangelies. Een daarvan is die “voorspoed-evangelie”, waarvan die aanhangers valslik verkondig dat alle ware Christene fisies gesond en materieel voorspoedig sal wees. Indien dit waar was, sou dit dan beteken dat die apostel Paulus nie ’n ware Christen was nie. ’n Ander valse lering is ook die “politieke evangelie”, wat Christene aanspoor om betrokke te raak by politieke aktivisme in ’n rampsalige poging om God se Koninkryk op menslike fondamente te bou deur middel van menslike metodes. Diegene wat hierdie en ander valse evangelies verkondig, mag dalk opreg wees, maar hulle is opreg verkeerd.

Hoe kan ons die ware Evangelie uitken? In die Nuwe Testament van u Bybel word die Engelse woord “gospel” uit die Griekse woord euaggelion vertaal wat in Afrikaans vertaal kan word as “goeie nuus” of “goeie tyding” (“2098. euaggelion,” BibleHub.com). Ons kan deur hierdie eenvoudige definisie sien dat Christus nie ’n “welvarende-evangelie” of ’n “politieke evangelie” verkondig het nie, maar ’n “goeie nuus”-Evangelie, want Evangelie beteken “goeie nuus”. Wat is die goeie nuus wat Jesus Christus verkondig het? Die apostel Paulus het die Korinthiese broers gewaarsku dat hulle liggelowig genoeg was om ’n valse evangelie te aanvaar:

“Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:2-4).

Die Nuwe Vertaling stel vers 4 só: “Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ’n ander gees en ’n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.”

Die Korinthiërs het ’n valse evangelie aanvaar. Hulle was so verdraagsaam en ineengestrengel dat hulle valsheid as die waarheid aanvaar het. Liewe Lesers, is u seker dat u nie dieselfde gedoen het nie? God beveel ons deur Paulus: “Beproef alle dinge; behou die goeie.” Die Nuwe Vertaling stel dit só: “... maar toets dit alles, behou wat goed is”. (1 Thessalonicense 5:21).

Ons moet vashou aan dit wat goed is – die wáre goeie nuus, die Evangelie wat ons Verlosser gebring het. Moenie u predikant of hierdie tydskrif blindelings glo nie. Ondersoek wat u glo en vind sélf bewyse dat u die ware Evangelie ontvang het.

Jesus het die komende Koninkryk van God verkondig. Sommige mense glo tog dat dit reeds hier is en dat die kerk daardie Koninkryk is. Die God van die hemel verkondig die komende Koninkryk, wat deur die Koning van die konings, Jesus Christus, regeer sal word en wat nog nie gevestig is nie (Openbaring 1:1) “... want die tyd is naby” (vers 3).

Hoe weet ons dat die hedendaagse hoofstroom Christelike kerke nié die Koninkryk van God is nie? Die boodskap is baie duidelik en kragtig verkondig – vanuit die hemel self. Die sewende trompetgeskal sal die grootste gebeurtenis in die ganse menslike geskiedenis aankondig. Lees dit in u eie Bybel: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Dit is die wonderlike nuus van die Evangelie. Die strydende, selfsugtige, onderdrukkende nasies van die wêreld sal deur die Koning van die konings oorwin en beheer word, maar éérs sal die nasies teen Christus veg tydens Sy Wederkoms. “En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18).

Volgens die apostel Johannes se woorde, sal daardie Koninkryk gevestig word na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14). Christus sal daardie stryd wen: “Hulle [die nasies] sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14). Uiteindelik: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9).

 

Christus sal regeer

Deur watter soort regering sal alle nasies regeer word? Natuurlik sal die Koninkryk van God deur Hom regeer word. Ons lees: “Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16). Liewe Lesers, dit is nodig om aan God se kant te wees en u oor Sy komende Koninkryk te verbly – soos Jesus sê, dit is nodig om “te glo [in] die evangelie” (Markus 1:15).

In die komende Koninkryk van God sal alle volke en alle nasies die weg na vrede leer. Dank God vir Sy liefdevolle Regering wat wêreldvrede vir alle nasies sal verseker. Die wonderlike toekomstige wêreld sal ’n universele stelsel van wette hê om Goddelike verlossing en vryheid te verseker. Let op: “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2).

Oorlogswapens sal verander word na instrumente van vrede en produktiwiteit. Sommige van u mag dalk al die beeldhouwerk buite die gebou van die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York gesien het wat ’n man uitbeeld wat besig is om ’n swaard in ’n ploegskaar te verander. Stel uself voor hoe die wêreld omskep en verander sal word van vernietigende na produktiewe weë. “En Hy sal oordeel tussen baie volke en reg spreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:3).

Ja, God se Goddelike Regering sal wêreldwye vrede bring. Hierdie ontsagwekkende profesie van die profeet Jesaja sal uiteindelik vervul word:

“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

 

Vandag se Christene sal Christus bystaan

Christus sal nie alleen regeer nie. God se getroue dienaars van hierdie huidige tydperk sal ook ’n rol hê om te vervul en te regeer onder die Verlosser van die wêreld. Onthou u die visioen van “gedaanteverandering” waarin Jesus ’n verstommende waarheid aan drie van Sy naaste volgelinge openbaar het? Hy het vroeër aan sy dissipels verkondig: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matthéüs 16:28).

Van watter “sommige” het Christus gepraat? Hy het die antwoord openbaar in die vorm van 'n wonderlike visioen wat Hy gedeel het. “En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ’n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom” (Matthéüs 17:1-3).

Ja, die Vredevors sal nie net oor alle nasies regeer nie; Hy sal deur Moses en Elía bygestaan word! Deur wie anders sal Christus nog bygestaan word om die nasies te regeer? Die apostel Petrus het vir Jesus gevra wat die Apostels se verantwoordelikhede sal wees. “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matthéüs 19:28).

Die Apostels sal nie die enigstes wees nie. Abraham van ouds wat deur die Skrif genoem word die “erfgenaam van die wêreld” (Romeine 4:13), sal ’n posisie van diens oor die hele aarde beklee. Die regverdige koning Dawid sal weer regeer oor ’n verenigde huis van Israel, herenig met Juda (Eségiël 37:19-25). Ek en u sal ook ’n rol speel in daardie toekomstige Koninkryk indien ons werklik getroue Christene en lede van die liggaam van Christus is. Ons lees: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galásiërs 3:26-29).

Ja, die hedendaagse getroue Christene sal onder Christus dien as konings en priesters! Dit word kragtig en digterlik beskryf in die “lied van die heiliges”, wat lui: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Hoe kan mense egter óóit blywende vrede ervaar? Slegs deur ’n verandering in die menslike natuur. U Bybel openbaar waarom hierdie natuur van die mens ’n probleem is: “... omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). Met ander woorde, wat die vlees bedink, is strydig met wat God dink want dit onderwerp hom nie aan die Wet van God nie en kan ook nie. Ons lees ook: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Die Nuwe Vertaling stel dit só: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” Die Evangelie onderrig ’n totale verandering in ons harte, van die vleeslike menslike natuur na God se eie heilige en regverdige Goddelike natuur.

 

God se plan vir u

Indien u op ’n plek in u lewe is waar u tot bekering gekom het en die Evangelie glo soos Jesus dit in Markus 1:15 stel, mag u dalk oorweeg om u lewe aan Christus toe te wy en te begin met berading vir doop. God het dit duidelik gemaak wat ’n berouvolle sondaar behoort te doen: Soos Petrus aan duisende verkondig het op die eerste Pinksterdag na Christus se opstanding: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Die Lam van God, die Messías, Jesus van Násaret, het deur Sy bloed vir ons sondes betaal. Ons is losgekoop deur “die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Petrus 1:19). Liewe Lesers, dit is nodig dat u die goeie nuus glo dat u sondes vergewe kan word. Ons het verteenwoordigers in baie dele van die wêreld – indien u berading wil hê aangaande doop, kontak ons gerus by een van ons streekkantore wat op die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn of besoek ons aanlyn by wvm.co.za. Klik dan op “Omtrent ons”.

Die weg na vrede tussen alle nasies sal ’n verandering in die menslike natuur wees. Daardie verandering begin by opvoeding. Ons leer by die profeet Jesaja dat mense van regoor die wêreld na die hoofstad van die wêreld [Jerusalem] sal reis om heronderrig te word:

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en reg spreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Dit is reg – in plaas daarvan om massiewe uitgawes te bestee om dodelike militêre wapens vir massavernietiging te vervaardig, sal nasies hulle hulpbronne aanwend vir die welstand en vooruitgang van hulle mense. Die Messías, die Vredevors, sal alle mense in Sy Koninkryk leer om hulle van hulle bose dade en vleeslike natuur te bekeer. Hoe sal dit wees vir die mense wat geleef het deur die verskriklike geprofeteerde tye wat voorlê? Hulle sou dan reeds die Groot Verdrukking en ongekende menslike lyding verduur het en die teruggekeerde Christus sal dan vir hulle die goeie nuus van Sy Koninkryk bring, soos Eségiël beskryf:

“En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee; En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees” (Eségiël 36:24-28).

Ja, God sal volke wat vantevore verwaand was, ’n nederige en ontvanklike hart gee – in staat om van die ware liefde van God te leer. Ons lees: “... dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Die hele wêreld sal die weg na vrede en opregte waardes leer.

Dít is die ware Evangelie. Ons verlossing is nie ’n selfsugtige een nie – God roep Christene in hierdie tyd om voor te berei vir ’n rol van diensbaarheid in Sy Koninkryk. Ons behoort nie te fokus op materiële gewin in hierdie lewe nie; God wil hê dat ons in oorvloed moet leef (Johannes 10:10) en Hy beloof dat indien ons op die regte dinge fokus, ons oorvloed sal ervaar. Jesus het vir ons gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

 

U rol in God se plan

Die goeie nuus van God se komende Koninkryk openbaar die rol wat getroue Christene in die wêreld van môre sal hê. Ware Christene sal alle nasies as konings en priesters dien en hulle Verlosser, die Koning van die konings bystaan om die wêreld opnuut op te voed volgens die riglyne van ware liefde, vrede en voorspoed. Die Skrif beskryf die rol wat getroue Christene gedurende die sewende millennium van die menslike geskiedenis sal speel – die 1,000-jarige heerskappy van Jesus Christus op planeet Aarde: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

God seën die aarde met ontsagwekkende, majestueuse berge, vrugbare valleie en produktiewe vlaktes. Ons verwonder ons aan kristalhelder mere en onstuimige oseane. Ons waardeer die verskeidenheid blomme, plantlewe, voëls, diere en seelewe. So mooi soos wat die natuurlike wêreld is, sal dit nogtans báie mooier wees in die wêreld van môre, wanneer selfs die ware natuur van diere sal verander. Die wonderlike wêreld wat voorlê, die glorieryke Koninkryk van God op aarde, sal skoonheid en produktiwiteit voortbring wat die wêreld nog nooit geken het nie. Jesaja gee vir ons hierdie toekomsblik van die toekomstige tydperk van 1,000 jaar van Christus se heerskappy saam met die heiliges:

“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigeling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg  nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9).

Kom ons verheug ons in die Evangelie – die goeie nuus van die komende Koninkryk van God. ’n Wonderlike nuwe wêreld kom binnekort en  elkeen van ons behoort te bid vir die spoedige koms daarvan. Mag ons almal die profetiese tendense en tekens dophou wat Jesus Christus se triomfantlike, wonderlike Wederkoms aankondig.