Dit is natuurlik om ’n gemaklike lewe, sonder pyn en hartseer te verlang. Wie wil nie ’n maklike lewe hê nie? Is ’n lewe van ononderbroke gerief, gemak en vermaak die beste lewe? Watter lewenswyse bring die grootste belonings?
In sy verhandeling Walden, het die Amerikaanse essayis, Henry David Thoreau, opgemerk dat “die meeste mense lewens van stille desperaatheid lei”. Hy het die klem wat oor die algemeen op materiële rykdom en status gelê word verwerp en ontdek dat hy elke jaar, met slegs ses weke se arbeid, in sy basiese fisiese behoeftes kan voorsien. Thoreau het die waarde van introspeksie en gemak geprys en dit gesien as ’n geneesmiddel vir misplaaste waardes en gierigheid.
Die ses-en-twintigste president van die Verenigde State het die waarde van die lewe heeltemal anders beskou. Theodore “Teddy” Roosevelt was ’n sieklike jong man wat aan erge asma gely het, maar hy het ’n uitdagende lewe nagestreef wat gekenmerk was deur energieke aktiwiteite. Hy was ’n bekwame politikus, ’n skrywer, ’n boer en “’n dapper en bekwame militêre leier. Die aanval (te voet) van die Rough Riders het, op Kettle Hill tydens die Slag van Santiago hom die grootste nasionale held gemaak wat uit die Spaans-Amerikaanse oorlog gekom het”. “Oorweldig deur droefheid as gevolg van die dood van sy moeder en sy vrou op dieselfde dag, het hy in 1884 uit die politiek getree om twee jaar lank op sy beesplaas in die moeilik bewerkbare erosiegebied van Suidelike Dakota deur te bring” (“Theodore Roosevelt,” Britannica.com, 27 Desember 2023).
Roosevelt het besef dat ons geen ware sukses sal vind sonder inspanning, moeite en risiko nie. In gesprek met universiteitstudente in Parys, het hy die bekende woorde gesê: “Dit is nie die kritikus wat tel nie; nie die man wat uitwys hoe die sterk man struikel of waar die doener van dade dit beter kon doen nie. Die eer kom die man toe wat werklik in die stryd is, wie se gesig deur stof en sweet en bloed besmeer is; wie manhaftig daarna streef ... wat besef dat die beste poging aan die einde triomfeer en indien hy misluk, ten minste weet dat hy sy heel beste gedoen het” (“Citizenship in a Republic,” 23 April 1910).
Thoreau én Roosevelt het verskillende lewensrigtings na ’n sinvolle lewe voorgestaan. Thoreau het met reg die nutteloosheid van die misleidende waardes waarvolgens die meeste mense leef erken, maar hy het hopeloos misluk met betrekking tot die oplossing daarvan. Hy het geleef volgens die denkwyse bekend as transendentalisme – “’n idealistiese denkwyse wat gebaseer is met die oortuiging van die noodsaaklike eenheid van die hele skepping, die ingebore goedheid van die mensdom en die oppergesag van insig bó logika en ervaring vir die openbaring van die diepste waarhede” (“Transcendentalism,” Britannica.com, 14 November 2023).
Die oortuiging dat die mensdom van nature goed is, is hoegenaamd nie geloofwaardig nie – veral wanneer die mensdom se geskiedenis van oorlog en onmenslikheid in ag geneem word. Thoreau se idees is ook nie in ooreenstemming met die Bybel wat vir ons sê dat die mens se hart ver van goed is nie (Matthéüs 15:18-20; Jeremia 17:9). Thoreau se innerlike soeke na waarheid was tevergeefs omdat hy op die verkeerde plekke gesoek het.
Roosevelt se bewonderenswaardige voorspraak vir harde werk en “in die arena” is in ooreenstemming met koning Salomo se raad: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag” (Prediker 9:10). Ja, dit is meestal die moeilike dinge wat ons doen wat die grootste belonings bring, maar ’n werklik betekenisvolle lewe moet verder strek as die híér en nóú. Salomo se refrein, “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs” weerspieël hierdie werklikheid (Prediker 1:2). Ons moet vra: Wanneer die laaste asem uitgeblaas word, wat is die verskil tussen ’n lewe van harde werk en ’n lewe van gemak indien hierdie lewe ál is wat daar is? Uiteindelik kan daar geen blywende betekenis wees indien die lewe net tydelik is nie.
Die geheelbeeld
Filosowe en staatsmanne gee dikwels goeie advies. Thoreau het tereg opgemerk dat baie lewens leeg is wat in “stille desperaatheid” geleef word. Roosevelt, net soos Thoreau, was lief vir die natuurlike samelewing, maar het ons deur woord en voorbeeld uitgedaag om Thoreau se lewe van gemak opsy te sit in ruil vir wat hy beskou het as ’n meer lonende lewe wat energieke inspanning verg. Wat ontbreek egter by albei perspektiewe, is die geheelbeeld van wáárom ons hier op aarde is. Wat is die doel van die lewe? Die antwoord lê in die geheelbeeld wat die Wêreld van Môre-tydskrif aanbied vir diegene wat bereid is om dit te aanvaar.
Die antwoord kan gevind word in die Evangelie van Jesus Christus – ’n boodskap wat min belydende Christene verstaan. Die boodskap van die Koninkryk van God wat wêreldwyd verkeerd verstaan word is ’n integrale deel van die Nuwe Testamentiese geskrifte. Hierdie goeie nuus van ’n komende wêreldregerende Koninkryk waarvan ons deel kan wees, het die begin van Sy bediening aangedui: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).
Jesus het gesê dat dit die goeie nuus is waarvoor hy gestuur was om te verkondig. In plaas daarvan om op een plek te bly, “het [Hy] vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). Hoeveel Sondagoggend-predikers verkondig hierdie duidelike waarheid aan hulle gehore? Hoeveel gereelde kerkgangers verstaan dit?
Die boodskap van die Koninkryk van God handel nie oor hemel toe gaan nie. Matthéüs bied baie gelykenisse aan waarin die frase “koninkryk van die hemele” gebruik word, maar daar is ’n verskil tussen ’n koninkryk van en ’n koninkryk in. Markus en Lukas teken dieselfde gelykenisse van Jesus aan deur die uitdrukking “koninkryk van God” te gebruik. Die “Koninkryk van die hemele” is dieselfde as die “Koninkryk van God”. Albei dui op besitting – nie ligging nie – daardie Koninkryk is nie enigsins “in die hemel” nie net so min as wat dit “in God” is. Die hemel se Koninkryk is God se Koninkryk en Matthéüs gebruik die twee uitdrukkings afwisselend, soos ons sien in Matthéüs 19:23-24.
Die Koninkryk van God, is ’n integrale deel van Jesus se gelykenisse en gaan oor meer as uiterste inspanning of ’n lewe van gemak. Die gelykenis van die mosterdsaadjie is ’n voorbeeld hiervan: “En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos ’n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak” (Markus 4:30-32).
Wat is daardie koninkryk dan? Wat behels dit verder as wat Thoreau en Roosevelt in die vooruitsig gestel het? Hoe hou dit verband met u lewe?
Baie skrifgedeeltes maak dit duidelik dat die Koninkryk wat Jesus op aarde verkondig het, ’n wêreldregerende Koninkryk is waarvan u deel kan wees. Ons lees dat Jesus Koning oor die hele aarde sal wees en vanaf Jerusalem sal regeer (Sagaría 14:8-9). Ons leer dat Dawid koning oor die hele Israel sal wees (Jeremia 30:9) en dat elkeen van die twaalf Apostels oor een van die stamme van Israel sal regeer (Matthéüs 19:27-29).
Wat baat u daarby?
Jesus het die “gelykenis van die ponde” vertel omdat Sy volgelinge verkeerd verstaan en gedink het dat Hy ’n letterlike Koninkryk in hulle tyd sou oprig. “’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom” (Lukas 19:12-13).
Die edelman het na baie dae teruggekom en hy het sy dienaars bymekaargemaak om te sien wat elkeen gedoen het. “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Lukas 19:16-19).
Ja, daar is ’n wonderlike beloning vir die paar mense wat deesdae op God se roeping reageer ongeag of ’n mens ’n lewe van gemak of energieke aktiwiteit lei, daar is net een Godsdiens-arena wat aan die einde tel: Soos Jesus vir die ryk jong man gesê het, “as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17).