Maak die wêreld nie meer sin nie? Die antwoord vir baie Kanadese is ja. Oorweeg byvoorbeeld die onderwerp van ’n artikel in The Western Standard (“50-year-old biological male competes against 13-year-old girls in Markham swim meet,” WesternStandard.news, 25 Oktober 2023). Die artikel berig dat rekords tydens ’n swembyeenkoms in die streek van Markham, Ontario, toon dat ’n 50-jarige man wat beweer dat hy ’n “transvrou” is, toegelaat was om te kompeteer teen jong meisies van 13 tot 14 jaar oud in ’n swemkompetisie. Blykbaar het die hoofstroom nuusmedia dit as “normaal” genoeg beskou om nie eers nuuswaardig te wees nie. Dit blyk dat baie ouers woedend was, maar selfs nadat die artikel gepubliseer is, is geen stappe geneem om te verhoed dat sulke wangedrag herhaal word nie.

Elkeen wat hierdie artikel lees weet dat so iets kort gelede nie toegelaat sou word nie en indien dit sou plaasvind, sou die gevolge baie ernstig gewees het. Wat het met die samelewing se waardes gebeur dat iets wat vroeër as laakbaar beskou was, nou as normaal beskou word? Ons voorganger in hierdie Werk, mnr. Herbert W. Armstrong, het graag daarop gewys dat daar ’n oorsaak vir elke gevolg is. Wat is dan die oorsaak vir die gevolg wat ons so pas beskryf het?

 

Oorlog teen die Bybel

Moontlik kan ’n ander onlangse gebeurtenis in Kanada lig werp op hierdie vraag. Die National Post het gedurende Oktober 2023 berig dat Kanadese militêre kapelane ’n skrikwekkende opdrag ontvang het.

Nuwe riglyne is aan militêre kapelane uitgereik wat hulle opdrag gee om “respek te betoon teenoor … geestelike diversiteit” tydens openbare toesprake, om “geslagsgebaseerde ontleding” te gebruik en om godsdienstige simbole soos kruise en sterre van Dawid te vervang met ’n algemene kapelaan se wapen. Dit kan die einde beteken van die rol in Kanada se gewapende magte, sê ’n langsdienende veteraan van die kapelaanskap.

“Dit is ’n verdere stap op die pad om godsdiens heeltemal uit te skakel in die weermag”, het Vader Timothy Nelligan gesê. (“Directives to military chaplains urge expunging God, religion from Remembrance Day, public ceremonies,” NationalPost.com, 27 Oktober 2023).

Die riglyne het verder gelui dat enige godsdienstige taal of vermelding van God uitgelaat behoort te word tydens openbare seremonies by geleenthede van nasionale Herinneringsdag wat jaarliks op 11 November gehou word om Kanada se gesneuweldes asook dié van al die magte van die Britse Ryk en Statebond te herdenk. Die kapelane behoort “sensitief en inklusief” te wees, wat basies beteken dat ’n Rooms-Katolieke kapelaan nie ’n uitsluitlik Katolieke gebed kan doen nie! ’n Protestantse kapelaan kan nie ’n Protestantse gebed doen nie en ’n rabbi kan ook nie ’n Joodse gebed doen nie. Met ander woorde, geestelikes wat in die weermag dien, moet godsdienstige oortuigings en taal by enige openbare geleentheid heeltemal vermy.

Trouens, ’n ondersteunende verslag van die minister van verdediging se skrywe oor rassisme en diskriminasie “het aanbeveel dat Kanada nie meer kapelane uit gelowe met meer tradisionele oortuigings aanstel nie”. Die National Post se verslaggewer het selfs die volgende opmerking gemaak: “Die verslag lui dat Godsdiens beskou behoort te word as ’n ‘bron van lyding en trauma deur generasies heen’ vir sommige Kanadese ... Die verslag lui verder dat baie Kanadese militêre kapelane, ‘verteenwoordig of geaffilieer is met georganiseerde godsdienste waarvan die oortuigings nie ooreenstem met dié van ’n diverse en inklusiewe werkplek nie’”.

Met ander woorde, terwyl gebede nie verbied word nie, moet die kapelane woorde gebruik waarmee almal kan saamstem, ongeag hulle keuse van lewenstyl of selfs hulle verwerping van die konsep van God. Dit wil voorkom of die regeringsadministrasie bepaal het dat die inhoud van “godsdiens” ’n soort algemene spiritualiteit sal wees en nie die oortuigings en leringe van ’n gegewe geloof nie, verál nie ’n geloof wat vanuit die Christelike Bybel afgelei is nie.

In ’n artikel in die Britse publikasie, The Conservative Woman, beskryf ’n afgetrede Presbiteriaanse predikant die ontstellende en opsetlike aanval wat teen Bybelse waardes in Kanada uitgevoer word:

Outoritêre state en organisasies het die Christelikheid nog altyd beskou as ’n struikelblok vir hulle doelstellings van ’n samelewing ... Die totalitêre state het dus probeer om die invloed van Christelikheid op die samelewing te verminder of selfs heeltemal uit te roei. In hierdie opsig volg die hedendaagse Weste se “woke” [bewusmaking van rassistiese vooroordeel en diskriminasie] en progressiewe groepe en ander revolusionêre organisasies, van beide links en regs, wat sedert die Franse Revolusie probeer het om Christelikheid te vernietig, namate hulle gepoog het om die wêreld te herskep (“Canada’s war on Christian rights,” 24 Mei 2022).

Daar word spesifiek verwys na die huidige Kanadese regering se optrede, noem die skrywer dat menseregte geleidelik afneem en dat dit ooreenstem met die uitvaardiging van wette wat Bybelse oortuigings oor die aard van die mensdom en die struktuur van ons samelewing verwerp. Hy haal verskeie voorbeelde aan wat die mate van vyandigheid teenoor Bybelse waardes aantoon deur administratiewe beamptes asook ’n regterlike gesag wat neig na ’n “progressiewe” posisie in opposisie met die instelling van etiek wat deur die Bybel vir millennia geïnspireer is. In 2017 het ’n Presbiteriaanse egpaar voor regsuitdagings te staan gekom in hulle strewe om pleegouers vir twee dogtertjies te word. Hulle aansoek is aanvanklik afgekeur omdat hulle aan die maatskaplike werker erken het dat hulle nie vir die kinders sou vertel dat die paashaas nie werklik bestaan nie.

In ’n ander geval in 2018 was Trinity Western, ’n evangeliese universiteit in Brits-Columbië, onsuksesvol in sy regstryd by die Hooggeregshof van Kanada. Die universiteit se voorneme om ’n regsdepartement te begin, het teenstand ondervind toe drie regsbanke in Kanada geweier het om sy gegradueerdes erkenning te gee. Dit was as gevolg van die universiteit se beleid, wat vereis het dat studente ’n “Gemeenskapsverbond” moes aanhang wat die Christelike skriftuurlike begrip van menslike seksualiteit handhaaf. Alhoewel die Hooggeregshof erken het dat hierdie besluit inbreuk maak op godsdiensvryheid, het hulle tog beweer dat die uitspraak ’n gebalanseerde en redelike benadering was. Dit was om te verseker dat LGBTQ-studente, wat dalk huiwerig sou wees om tot die verbond in te stem, toegang tot die universiteit se programme kon verkry.

Dalk is een van die veelseggendste opmerkings gemaak deur die federale minister van justisie, David Lametti, tydens die bespreking van wetgewing wat berading onwettig sou maak vir individue wat ’n LGBT-leefstyl wil verwerp. Lametti het die verbod op omskakelingsterapie bespreek en gesê dat “omskakelingsterapie gebaseer is op ’n leuen wat impliseer dat om homoseksueel, lesbies, biseksueel of trans te wees verkeerd is en dit is nodig dat dit reggestel word. Dit is nie net vals nie, dit stuur ’n neerhalende en vernederende boodskap uit wat die waardigheid van individue ondermyn”. Volgens Lametti se standpunt behoort alles wat in die Bybel openbaar word oor die doel van geslag en die gesonde uitdrukking van seksualiteit as ’n aanstootlike valsheid verwerp te word.

 

Op die pad van vernietiging

Wat veroorsaak dat die samelewing oënskynlik glo dat dit normaal is vir ’n 50-jarige man om soos ’n 13-jarige meisie by ’n swembyeenkoms behandel te word?

Die Bybel gee ’n gedetailleerde weergawe van wat met ’n samelewing gebeur wanneer God se ononderhandelbare riglyne verwerp word. Die boek Rigters beskryf die nasie Israel wat in ’n chaotiese, verarmde en onderdrukte toestand leef. Die rede is duidelik: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25).

Dit is deesdae die geval in Kanada, waar owerhede al hoe meer Godgegewe ononderhandelbare riglyne wat reg en verkeerd definieer, verafsku en verwerp. Die nasie dryf dus doelloos na onsedelikheid wat lei tot chaos, wetteloosheid, verarming en uiteindelike vernietiging.

Die profeet Jesaja het verkondig: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Die Wêreld van Môre sal voortgaan om God se Woord te verkondig, selfs al aanvaar die Westerse samelewing die onlogiese as logies en dwaasheid as wysheid.