In Oktober 2023 toe Hamas-terroriste die staat Israel binnegeval het, kon ek nie anders as om te dink oor hoeveel dinge onveranderd gebly het sedert ek en my vrou 45 jaar gelede daar besoek afgelê het nie. Ek het aan Masada gedink – die vesting waar, volgens die antieke geskiedkundige Josephus, byna ’n duisend Joodse patriotte gesterf het tydens die Romeinse aanval in 73 n.C.

Die Hamas-terroriste – wat Israel aangeval het terwyl baie mense Shemini Atzeret, die jaarlikse Heilige Dag bekend as die Laaste Groot Dag, onderhou het – het burgerlikes vermoor, babas en kinders onthoof, vroue verkrag en mense as gyselaars geneem om as middele vir onderhandelings vir Hamas-gevangenes uit te ruil en as menslike skilde te gebruik. Hulle het selfs slagoffers se selfone gebruik om videos van teregstellings aan kontakte en families te stuur. ’n Groot deel van die wêreld was geskok deur sulke barbaarsheid. Ongelukkig het te veel mense regoor die wêreld oor die gruwelikhede gejuig en geprotesteer namens die terroriste, net soos hulle op 9/11 gedoen het.

Die meeste waarnemers beskou deesdae die Hamas-terrorisme en die Israeliese reaksie in die konteks van die hier en nou. Ja, baie mense wonder waarheen dit alles lei, maar besef hulle daar is iets groters aan die werk? Besef hulle dat Bybelprofesieë reg voor hulle oë vervul word? U wat hierdie woorde lees – verstaan u wat is besig om te gebeur en waarheen dit lei? Lees verder indien u wil weet.

Die Bybelse profeet Sagaría het byna 2,500 jaar gelede oor gebeure geskryf wat Juda (die Jode) en Jerusalem behels het. Hierdie profesieë, wat in die twaalfde en veertiende hoofstukke van sy profetiese weergawe gevind kan word is spesifiek en maklik om te verstaan. Die akkuraatheid daarvan getuig van die feit dat dit net deur God alléén geïnspireer is en die besonderhede laat geen twyfel dat dit vir ons tyd bedoel is nie – nou en in die nabye toekoms.

 

Israel se Alamo

Ek en my vrou het die geleentheid gehad om Israel in 1978 te besoek. Een van die besienswaardighede wat ons besoek het tydens ons toer was Masada. Hierdie antieke vesting doem ongeveer 1,400 voet [427 meter] bokant die Dooie See op aan die rand van die Judaïese woestyn. Dit het gedien as ’n somerpaleis vir Herodes, toegerus met ’n swembad en sauna. Ten spyte van die ligging, kon ’n vindingryk ontwerpte reeks kanale- en tenkstelsels na bewering genoeg water van ’n enkele dag se reën stoor om ’n duisend inwoners vir meer as twee jaar te onderhou.

So indrukwekkend soos wat Masada voorheen was, waarop vandag gefokus word is sy eerste-eeuse geskiedenis. Rampspoed het oor die Jode gekom toe hulle in 66 n.C. teen hulle Romeinse heersers in opstand gekom het. Vier jaar later het Jerusalem geval, net soos Jesus voorspel het (Matthéüs 24:1-2). Die beleg van Jerusalem was wreed – weereens, soos Jesus voorspel het (Matthéüs 23:37-39) – die Joodse geskiedkundige Flavius Josephus het sommige van die besonderhede opgeteken.

Selote [Fanaties godsdienstige Jode] het na Masada opgeruk om finale weerstand te bied. Die enigste manier om bo-op die plato te kom was deur middel van ’n lang, kronkelende paadjie, wat maklik verdedig kon word. ’n Mens kan vandag nog hierdie goed gedefinieerde paadjie sien, asook die oorblyfsels van agt klipmuur-kampe wat die vesting omring. Daar was geen maklike manier om die skuilplekke wat gemaklik bo-op die plato geleë was, aan te val nie, maar die vasberade Romeine het ’n ambisieuse bouprojek aangepak. Hulle het ’n skuins oprit van grond en gruis tot bo aan die westekant gebou – as gevolg van tyd ’n verweerde struktuur wat tot vandag bestaan.

Die Jode het besef dat die oormag van 15 teenoor 1 hulle einde beteken en hulle het verkies om mekaar dood te maak (Joodse wet verbied selfmoord), eerder as om hulle vrouens te laat mishandel, hulle kinders slawe te laat word en die mans in gevegte te laat verslaan. Josephus teken aan wat gebeur het uit die getuienis van die enkele vroue en kinders wat oorleef het. Hy teken ook die kern van ’n passievolle toespraak aan waarin die leier van die enklawe [’n kleiner land geleë binne ’n groter land] sy landgenote bemoedig het.

Laat ons vroue sterf voordat hulle mishandel word en ons kinders voordat hulle slawerny gesmaak het en nadat ons hulle doodgemaak het, laat ons daardie heerlike voordeel wedersyds aan mekaar skenk en onsself in vryheid bewaar, as ’n uitstekende begrafnismonument vir ons. Laat ons dan eers ons geld en die vesting met vuur vernietig; want ek is daarvan oortuig dat die Romeine baie gekrenk sal wees, dat hulle nie in staat sal wees om ons liggame te buit en ook ons rykdom sal verbeur en laat ons niks spaar behalwe ons lewensmiddele nie; want dit sal ’n getuienis wees wanneer ons dood is, dat ons nie ondergegaan het weens ’n gebrek aan lewensmiddele nie; maar dat ons, soos ons oorspronklike besluit, die dood bo slawerny verkies (The Wars of the Jews, vertaal deur William Whiston, boek 7, hoofstuk 8, afdeling 6).

Masada is ’n monument en ’n simbool vir Israel. Hedendaagse Israeliese soldate het ’n eed geneem dat “Masada nie weer sal val nie” en onderneem nagtelike pelgrimstogte na die terrein as deel van hulle inlywing in die weermag.

Amerikaanse presidente het voortdurend hulle steun verklaar; kort na die Hamas-aanvalle het president Biden op 10 Oktober duidelik gesê: “Laat daar geen twyfel wees nie: Die Verenigde State staan agter Israel”. President George W. Bush het selfs die V.S. se steun verklaar deur na Masada te verwys in ’n Mei 2008-toespraak voor Israel se Knesset en hy het verklaar: “Burgers van Israel: Masada sal nooit weer val nie en Amerika sal aan u sy wees”.

Indien u nie die betekenis hiervan verstaan nie, het ons toergids in 1978 dit duidelik gemaak – deesdae se Israelies sal nie ’n nederlaag aanvaar soos wat die selote van Masada byna twee millennia gelede gedoen het nie. Hulle sal hulle vyande saam met hulle neem. ’n Paar kommentators durf erken dat Israel die wapens het – kern en ander wapens – om presies net dít te doen. Terwyl Israelies deesdae ’n bedreiging van Iran in die gesig staar vir hulle voortbestaan, asook Iran se gevolmagtigdes en ander Arabiese en Islamitiese nasies, behoort niemand aan Israel se strewe vir oorlewing te twyfel nie – Masada sal nooit weer val nie.

 

Profesieë vir vandag

Een van my belangrikste waarnemings terwyl ek die staat Israel besoek het, was hoe klein dit is. ’n Moderne vegvliegtuig kan binne elf sekondes van die Arabies-oorheersde Wes-oewer-gebied na Tel Aviv vlieg. Hoe sou enigeen van ons daarvan hou dat doodsvyande so naby aan ons woon? Al is Israel hoe sterk, hoe kan hulle hulself verdedig teen so ’n oorweldigende meerderheid? Hoe kon die volk Israel vir so lank oorleef het? God gee vir ons die antwoord in die bladsye van Sy Woord, die Bybel.

Die staat Israel het drie groot oorloë oorleef (1948, 1967 en 1974). So ook twee intifadas (gewelddadige opstande wat onderskeidelik ses en vyf jaar geduur het), selfmoord-bomaanvallers en vuurpylaanvalle en nou, ná 75 jaar se bestaan, is hulle vasgevang in die vierde en gevaarlikste oorlog. Elke keer, ongeag hoeveel skade die Israelies opdoen, eindig diegene wat teen hulle kom, bebloed en verslaan. Dit is presies wat die profeet Sagaría voorspel het. Sagaría 12 begin deur die ware feite aan die lig te bring, aangaande wie die Een is agter hierdie profesie – nie ’n speelse spook in die nag of ’n kristalbal nie, maar die Skepper van die hemel en aarde. “Die Here spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer” (vers 1).

Ons lees dan ’n profesie wat oor die afgelope 75 jaar telkens vervul is: “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in díe dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (verse 2-3).

Sien ons nie ráák dat die nasies wat Israel en Jerusalem deesdae omring dronk is van haat nie? Kan ons nie sien dat die probleem van Jerusalem ’n baie swaar klip is vir diegene wat wens om van hulle ontslae te raak nie? Kan ons ook nie insien dat almal wat probeer om die probleem op te los – “sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.”

Dink daaroor wat hierdie gedeelte nog vir ons sê. Die feit dat die Jode in beheer van Jerusalem is, is nie sommer ’n onbenullige kwessie nie. God het hierdie profesie 2,500 jaar gelede gegee. Dink daaroor! Sou u daarvan hou om ’n voorspelling te waag aangaande enige stad op enige plek op aarde met betrekking tot die omstandighede wat dit soveel jare in die toekoms in die gesig sou staar? Dink daaraan dat die Romeine die stad Jerusalem in 70 n.C. vernietig het. Daarna in 135 n.C. het hulle die Jode uit hulle vaderland verjaag. Daar was vanaf 135 n.C. tot 1948 nie ’n Joodse staat nie. Hierdie profesie kon nie gedurende enige van daardie 1,813 jaar vervul gewees het nie!

Ons het dit dus nou: Jode in Jerusalem, Jerusalem ’n lastige klip en elkeen wat probeer om die probleem op te los (verwyder dit), word bebloed (in stukke gesny). Wat meer is, is dat alle nasies gesamentlik teen hulle gekant is. By die Verenigde Nasies is daar elke jaar meer resolusies wat Israel veroordeel as veroordelings van alle ander lande saam. In 2022 het die Algemene Vergadering 15 resolusies teen Israel en 13 teen alle ander lande goedgekeur. Is dit alles blote toeval? Hoe kon enige iemand 2,500 jaar in die toekoms, die huidige stand van sake vir daardie klein strokie grondgebied aan die oostelike punt van die Middellandse See voorspel?

Sagaría gaan voort om die lot van die nasies wat teen die Jode opstaan te beskryf. “In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaría 12:6).

Dit klink werklik soos ons huidige tydperk, maar hoe kan ons weet dat hierdie profesieë nie lank gelede vervul is nie? Hoe kan ons weet dat dit vir ons tyd sowel as vir die nabye toekoms bedoel is? Soos hierbo aangetoon, weet ons dat die Jode Jerusalem nié vanaf 135 n.C. tot 1948 beheer het nie en hulle het nie die hele Jerusalem beheer tot en met die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 nie.

Daar is nog meer. Die profesieë van Sagaría 12 duur voort en lei tot die finale stryd om Jerusalem. Die verse wat ons gelees het, voorspel wat gedurende Israel se geskiedenis vanaf 1948 gebeur het, maar die laaste gedeelte van die hoofstuk verwys na ’n baie spesifieke tyd – ’n tyd wanneer die Messías direk sal ingryp en op so ’n wyse dat die Jode sal verstaan dat Jesus Christus waarlik die Seun van God is.

“In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ’n hemelse wese, soos die Engel van die Here voor hulle uit. Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg. Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind” (Sagaría 12:8-10).

Dit is ’n profesie van Christus wat ingryp vir Juda en Jerusalem, maar dit sluit ’n profesie in wat Sy eerste koms voorspel – “hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het” – wat die wyse van Sy dood namens ons aandui.

 

Die dag van die Here

Hoofstuk 14 van Sagaria oorvleuel hoofstuk 12 gedeeltelik, maar fokus geheel en al op die krisis in die eindtyd – met Christus se Wederkoms. Die eerste vers gee vir ons die tydsbepaling as “die dag van die Here”. Dit is ’n tyd wat in meer as 30 profesieë beskryf word en dit verwys na die eindtyd. Hier sien ons weereens die irrasionele haat vir die Jode en hulle vyande wat teen hulle opstaan. “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (14:2).

Net soos dit op 7 Oktober 2023 gebeur het, maar op ’n veel groter skaal, sal vroue verkrag word en huise geplunder word. Hierdie keer sal die helfte van Jerusalem as gyselaars geneem word. Dit sal egter meer as net ’n paar terroristegroepe behels. “... al die nasies” sal ’n laaste poging aanwend om die swaar klip uit die weg te ruim. Openbaring 11:2 lig ons in dat wanneer Jerusalem omvergewerp word, dit vir drie-en-’n-half jaar vertrap sal word.

Deur hierdie spesifieke tydperk van Sagaría te vergelyk met die gebeure wat in Openbaring beskryf word, is dit duidelik dat hierdie verse die tyd voorspel wanneer Christus sal terugkeer en die waansin beëindig. “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd” (Sagaría 14:3). Die gebeure wat in vers 4 beskryf word, sluit die moontlikheid uit dat dit ’n gebeurtenis is wat in die verlede plaasgevind het. Dit is nog in ons toekoms: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”

Ja, Christus sal ingryp en ’n einde maak aan hierdie sinnelose slagting teen die Jode. Hy sal ook ’n einde maak aan oorlog en vernietiging oor die hele wêreld. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (vers 9). Valse godsdiens van enige aard – Islam, Boeddhisme, Taoïsme en ja, heidense “Christendom” – sal nooit weer voor die toets te staan kom nie. Hierdie tyd ná Christus se Wederkoms word deur baie profesieë beskryf, wanneer Jerusalem “Die stad van trou” genoem sal word (Sagaría 8:3).

Ongelukkig het daardie dag nog nie aangebreek nie. Hoe hierdie huidige oorlog gaan eindig, sal nog maar gesien moet word. Ons weet dat dit nie die finale stryd is wat Christus se Wederkoms sal meebring nie, namate ander geprofeteerde gebeure volgens die Skrif, eers moet plaasvind. Daar is egter nog ’n ander profesie aangaande Juda – die Joodse staat wat Israel genoem word – dit het onheilspellende implikasies. Die nasies van Britse afkoms (Efraim) of hulle Amerikaanse bondgenote (Manasse) en Juda (die Jode), het nie hulle Skepper gehoorsaam nie. Alhoewel God se Woord, deur hierdie werk – die Wêreld van Môre – verkondig word en hulle gewaarsku het, weier hulle om hulself te bekeer en kies hulle eerder om volgens menslike voorskrifte te leef (Hoséa 5:9-12). Die eindresultaat? “Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur gegaan en na koning Jareb gestuur; maar hý kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie” (vers 13).

Daar was ’n vorige vervulling van Hoséa se profesie en soos dit dikwels die geval is, sal daar ’n vervulling in die laaste dae wees. In die nabye toekoms, op een of ander stadium, sal Juda ’n rampspoedige slag beleef en dit kan moontlik tydens hierdie oorlog gebeur – ’n wond erger as enigiets wat tot dusver gesien is. Wat dit presies sal wees, moet nog gesien word, maar selfs na Christus se Wederkoms sal die Jode steeds ’n bekwame vegtende mag behou (Sagaría 14:14).

’n Duisend jaar voor Sagaría het Moses ’n profesie opgeteken en dit sou goed wees vir die vyande van Juda indien hulle sou ag slaan hierop. Aan die einde van sy lewe het Jakob, wie se naam na Israel verander is, sy twaalf seuns bymekaargeroep en aan hulle vertel wat aan die einde van die eeu met hulle sou gebeur. Hy het gesê: “Kom bymekaar, dat Ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar. Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!” (Génesis 49:1-2).

Juda was een van Jakob se twaalf seuns. Ons weet  dat Juda se nageslag die Jode is. Daar word nie net vir ons gesê dat die septer – of die heerser – van hom sou kom nie (vers 10), maar daar word ook aan ons vertel dat Juda soos ’n wrede leeu teenoor sy vyande sou wees. “Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag?” (Génesis 49:8-9). Is dit nie wat ons die afgelope 75 jaar gesien het nie? Iran, wat duidelik agter Hamas is, het ’n slapende leeu wakker gemaak.

Ons het egter ook in hierdie profesieë oor Juda en Jerusalem gesien dat dit ’n moeilike tyd vorentoe sal wees. God sal uiteindelik toelaat dat Jerusalem oorwin word. Eers dan sal die Messías terugkeer om Juda en die hele wêreld te red van die mensdom se probleme wat hulle self veroorsaak het. Na Christus se Wederkoms, sal mense regoor die aarde verstaan wie die God van Israel is – dat Sy weg die enigste weg na vrede, voorspoed en eensgesindheid is.

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

Ons haal dikwels hierdie woorde van God aan wat die profeet Jesaja gespreek het: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

Terwyl ek hier skryf sal daar nog gesien moet word wat volgende sal gebeur gedurende hierdie konflik tussen Israel en sy vyande. Sal dinge uiteindelik vir ’n rukkie rustig raak voor die volgende groot aanvalle? Sal ander nasies hulle wapens teen Israel opneem? Sal Israel van hierdie tyd gebruik maak om Iran se fasiliteite vir kernontwikkelings te vernietig sodat daar nie in daardie nasie ’n “bom sal bars” nie? Dit weet ons nie. Ons weet nogtans uit die Skrif wat die uiteindelike uitkoms sal wees.

Een ding is seker: Aan die einde van hierdie huidige era, wanneer die Jode ’n ongekende spervuur van vyandelike leërs in die gesig staar met net een doel voor oë, naamlik die vernietiging van die Jode, sal Masada nie weer plaasvind nie – nie weens Juda se vurigste pogings nie, maar omdat die Een “vir wie hulle deurboor het” sal intree om Sy wil te laat geskied.