Ons hier by die Wêreld van Môre glo daar is uiteindelik net twee maniere van lewe. Een manier lewer goeie resultate. Die ander bring hartseer, lyding en dood. Hierdie keuse is aan die begin aan die mens gegee, soos in die boek Génesis vertel word. God het twee bome in die tuin geplaas. Die een was die boom van die lewe, maar God het vir Adam gesê dat Hy hom verbied om van die vrugte van die ander boom te eet – die boom van die kennis van goed en kwaad.
Die eerste boom simboliseer die keuse om op God en Sy Wet te vertrou. Die tweede boom simboliseer die keuse om God te verwerp en die bepaling van goed en kwaad op uself te neem. Soos enige Bybelgeleerde weet, het Adam gekies om op sy eie oordeel te vertrou. Die lewe het sedertdien sleg gedraai vir die mensdom wat gesamentlik gekies het om dieselfde pad te volg.
God was nie dubbelsinnig toe Hy aan antieke Israel verklaar het dat daar twee teenoorgestelde lewenswyses is nie. Deur sy dienaar Moses het Hy duidelik verwys na die resultate wat uit die Israeliete se individuele en nasionale keuses sou kom: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie én sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die Here jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem” (Deuteronómium 30:15-16).
Ons kan nie gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God skei van die resultate wat in ons lewens sal afspeel nie. God het daarop gewys dat die uitkoms nie goed sou wees as hulle sou kies om ander gode te aanbid nie. “Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien, dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom” (vers 17-18).
Die meeste belydende Christene sou redeneer dat hulle nie ander gode aanbid nie, maar is ons nie net so skuldig soos Adam en Eva nie? Het hulle nie in werklikheid probeer om hulleself gode te maak nie? Onthou die slang se boodskap aan Eva: “... maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Génesis 3:5). Hulle het deur hulle optrede gesê: “God, ons weet beter as U!”
Vir elke mens is die keuse en resultaat presies soos God aan Israel verklaar het: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronómium 30:19). Die geskiedenis toon die resultaat van die verkeerde keuse.
Die boek Rigters herinner ons aan wat gebeur wanneer elke mens aan homself oorgelaat word om besluite te neem. Daar vind ons allerhande wreedheid en barbaarse gedrag. Dit is geen toeval dat die laaste vers in Rigters ons met hierdie les laat nie: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Hulle het dit gedoen ten spyte van God se waarskuwing teen daardie einste ding: “Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie – elkeen net maar wat reg is in sy eie oë” (Deuteronómium 12:8).
Dit is meer geseënd om te gee
Nog ’n manier om hierdie uiteenlopende paaie te beskryf, is met twee klein woordjies – gee en ontvang. Om God se weg te kies, die regte boom, is om ’n lewe van uitgaande besorgdheid vir ander te kies. Dit is die manier van help, omgee en deel – kortom, die weg van liefde.
Ons sien die alternatiewe pad wat Kain geneem het, deur sy broer Abel te vermoor. Die verslag in Génesis 4 is baie verkort en ons moet elders kyk om die hele prentjie te begryp. Die Nuwe Testament sê vir ons: “Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is” (Hebreërs 11:4).
Die manier van gee is die weg van liefde. Soos die apostel Johannes vir ons sê: “Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig” (1 Johannes 3:11-12).
Let op hierdie gedeelte van Judas: “Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom” (Judas: 11). Dit het nie goed geëindig vir enige van daardie drie nie!
Nadat Kain sy broer vermoor het, het God gevra waar Abel hom bevind en Kain het geantwoord: “Is ek my broer se wagter?” (Génesis 4:9). Die res van die Bybel beantwoord daardie vraag: Ja, ons behoort ons broer se wagter te wees! Ons behoort om te gee vir die welstand van almal rondom ons (Filippense 2:3-9).
Die manier van gee blyk teenstellend te wees met ons menslike natuur. As Christene kan ons onsself sien as verhewe bo selfsug – maar is ons? Glo en demonstreer ons daardie geloof werklik deur al ons dade, in die woorde van die apostel Paulus? “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Beskou hierdie opdrag van Jesus:
“En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy ’n môre- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges” (Lukas 14:12-14).
Die manier van gee is die manier van uitgaande besorgdheid, om na te dink oor die behoeftes van ander. Ja, ons het ons eie behoeftes en God verwag nie van ons om dit te verwaarloos nie, maar die meeste van ons prioritiseer ons persoonlike behoeftes redelik goed. Dit is deernis vir ander wat ons dikwels ontbreek. Om in die behoeftes van ander te voorsien, wanneer hulle daardie sorg nodig het, is selde gerieflik. Dit is maklik om aan onsself te dink as omgee, as onselfsugtig, maar in die praktyk kom ons dikwels tekort.
Die groot les
Van die begin af het God ons ’n keuse gegee: Kies Sy weg, teen die raad van ons vleeslike menslike verstand of kies die weg wat die natuurlikste kom, maar eindig in pyn, lyding en dood (Spreuke 14:12; 16:25).
Nog ’n voorbeeld is dié van Moses. Hy het alles gehad wat ’n welvarende Egipte kon aanbied. Hy het geweet hoe dit was om omring te wees deur bediendes wat vir hom die beste kos, gerief en vermaak verskaf.
Hy het tog verby die hier en nou gesien en daardie beter manier gekies wat op die ou end tot groter rykdom sou lei. “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Hebreërs 11:24-26).
Die keuse tussen die twee bome – tussen gee en ontvang, tussen om ons broer se bewaarder te wees of nie – is ’n tema regdeur die Skrif. Ja, daar is ’n beloning vir ons, maar die eerste stap is om van onsself te gee. Ons moet kies tussen twee lewenspaaie. Elke dag maak ons daardie keuse in hoe om ons God gehoorsaam te wees en om te gee vir diegene rondom ons. Dit is die groot les wat God wil hê ons in hierdie lewe sal leer. Indien ons wys kies, sal ons die ewigheid deel met ander wat daardie keuse gemaak het, gebore in ’n koninkryk van vrede en vreugde saam met God ons Vader en Jesus Christus Sy Seun. Dit is die boodskap van die Wêreld van Môre.