Vraag: Ek het gehoor hoe mense met verskeie eufemismes (versagtende uitdrukkings) na die dood verwys en dinge sê soos “mag hulle in vrede rus”, “hulle is oorlede” en “hulle het gaan slaap”. Kom hierdie uitdrukkings uit die Bybel?

 

Antwoord: Deur die eeue heen was daar baie verskillende versagtende uitdrukkings vir die woord “dood”. Selfs Jesus Christus het een gebruik toe Hy vir Sy dissipels gesê het: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak” ... Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood” (Johannes 11:11, 14).

Ons kan volgens Christus se voorbeeld sien dat dit nie verkeerd is om die dood, ’n slaap te noem nie – trouens, die Skrif onderskryf hierdie spesifieke versagtende uitdrukking op verskeie plekke. Sommige ander gewilde frases wat met die dood geassosieer word, dra egter onbybelse betekenisse en ons behoort dit te vermy.

Een so ’n uitdrukking word gebruik wanneer mense hulle begeerte vir ’n afgestorwe persoon uitspreek: “rus in vrede”, dikwels afgekort, “RIP”. Hierdie frase mag dalk soortgelyk voorkom as die frase wat Jesus Self in Johannes 11 gebruik het maar, nogtans verwys die woorde “rus in vrede” na die onbybelse betekenis en oorsprong daarvan. Die uitdrukking kom van die Latynse, requiescat in pace, wat eintlik ’n gebed is dat die oorledene in die hemel saam met God mag rus, eerder as om in die hel gepynig te word (“Meaning of Requiescat in Pace,” ThoughtCo.com, 21 Januarie 2020).

Ons behoort te verstaan dat sulke hoop spruit uit ’n valse lering dat die ewige lewe met die dood begin. Hierdie lering word eenvoudig nie ondersteun deur die Bybel wat duidelik aandui dat die dooies geen ander keuse het as om te rus nie. Ons lees: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die Bybel openbaar dat daar geen bewussyn in die graf is nie – almal wat gesterf het, wag bloot op die opstanding wanneer hulle weer opgewek sal word (Job 14:12-15; sien ook Eségiël 37). Daar is nie vrede of ongemak vir enigiemand wat nou in die dood slaap nie.

 

Gebaseer op valse fondamente

Nog ’n algemene versagtende uitdrukking vir die dood is die uitdrukking “oorlede” of eenvoudig “heengaan”. Hierdie uitdrukkings is ook afgelei van die valse oortuiging dat wanneer mense sterf, die siel onmiddellik “vertrek” na die hiernamaals. Die term was gedurende die vyftiende eeu in Engeland gebruik deur diegene wat geglo het dat ’n persoon se siel ná die liggaam se dood nog ’n rukkie vertoef.

Wanneer daar vir ’n pas afgestorwe persoon ’n nagwaak gehou is, het die wat teenwoordig was geglo dat die oorledene alles kon hoor en verstaan wat gesê word. Dit is, volgens hulle, eers later, sodra die begrafnisrituele voltooi is, dat die afgestorwe persoon “heengegaan” het en die reis na die hemel óf die hel onderneem het. Die woord “heengaan” sou nie as eufemisties beskou word nie, maar bloot as ’n letterlike beskrywing van gebeure (Phrases.org.uk).

’n Verwante frase lui dat “hy/sy oorgegaan het” wat ’n verandering van een toestand van lewe na ’n ander toestand impliseer as gevolg van die dood. Die konsep wat betref hierdie term het waarskynlik in die Griekse mitologie ontstaan. “Die Grieke het geglo dat ná die begrafnis, die afgod Hermes, die siel na die ingang van die onderwêreld gelei het na ’n veerboot wat die gees oor die Acheron (rivier van ellende) en/of Styx (rivier van haat) vervoer het, afhangende van die oorsprong. Hierdie twee riviere het die wêrelde van die lewendes en dié van die dooies geskei. Charon, wat soms die Pontman genoem word, het die boot geroei” (“Greek Mythology and Life After Death,” The Collector, 8 Maart 2023). Soos sommige ander valse idees, konsepte en terme wat ons in die Griekse mitologie vind, het hierdie uitdrukkings uiteindelik hulle weg na “Christendom” gevind.

Wanneer Christene die oorsprong en betekenis van hierdie uitdrukkings ken, behoort hulle dit dan te gebruik? Ons het elkeen ’n verantwoordelikheid om ons woorde noukeurig te beoordeel, aangesien ons verantwoordelik gehou sal word vir wat ons sê. “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense spreek, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag” (Matthéüs 12:36).

Gesegdes soos “rus in vrede” en “heengegaan” het hulle oorsprong in valse, misleidende lerings wat in stryd is met wat die Bybel ons leer. Dit verteenwoordig ’n valse hoop volgens ’n idee wat sy oorsprong in die heidendom het. Dit is ’n idee wat absoluut hoegenaamd nie vergelykbaar is met die ware plan en doel waarvoor God ons geskep het nie. Wat ’n seën is dit nie om vanuit daardie duisternis na die lig van die waarheid geroep te word nie! Vir breedvoerige inligting oor hierdie waarheid, kan u ’n gratis kopie van Wat gebeur wanneer u sterf? bestel of lees dit aanlyn by wvm.co.za.