Die viering van Kersfees word nêrens in die Bybel genoem nie maar nogtans dink baie mense dat hulle dit ’n Christelike vakansiedag kan maak. U Bybel sê egter iets anders!

Dit lyk asof dit elke jaar gebeur – so seker as wat die winter nader kom. Te midde van die intense bemarking van Kersgeskenke deur kleinhandelaars in November en Desember, verskyn daarmee saam ’n ooglopende kontras. Ons begin gedrukte asook aanlyn-artikels sien aangaande die nié-Christelike oorsprong van baie aspekte van Kersfeesvierings. Die artikels haal dikwels ensiklopedieë en boeke aan wat die oorgang van die Romeinse heidense vakansiedag van die wintersonstilstand beskryf, wat Saturnalia genoem word en die geboorte van die songod, met die naam Mithras in die vierings van die Roomse kerk in die derde en vierde eeue uiteensit. Dink daaraan:

Kersfees was nie een van die vroegste feeste van die kerk nie ... Kersfeesgebruike is ’n ontwikkeling vanuit tye wat lank voor die Christelike tydperk dateer – afkomstig van seisoenale, heidense, godsdienstige en nasionale gebruike en gehul in legende en tradisie (Encyclopedia Britannica, 1959, vol. 5, “Christmas,” bl. 642).

Verbied die Bybel sommige van u tradisionele gebruike? Gedurende die eerste eeu het die Fariseërs tradisies gehad wat God se Gebooie oortree het. Hulle het beweer dat hulle logiese redes vir hulle foute het en vandag se teoloë doen dit ook. Die meeste belydende Christene weet byvoorbeeld dat die viering van Kersfees onbybels is – maar weet u hoe teoloë dit probeer regverdig?

 

Van die god van die son tott die Seun van God?

Die Romeinse keiser Konstantyn het verklaar dat sy ryk Christelik is. Hy moes toe die moeilike proses begin om die heidene te laat aanpas by die Roomse kerkpraktyke. Hy het dit gedoen deur wat geskiedskrywers en teoloë, sinkretisme noem – die vermenging van verskillende godsdienstige praktyke.

Die Romeine, soos baie ander heidense kulture, het ’n wintersonstilstand gevier. Watter doel het dit gedien? Bekende kulturele antropoloë Anne Baring en Jules Cashford merk op: “Regoor die wêreld, vir ontelbare millennia, het mense deelgeneem aan ’n godsdienstige ritueel tydens die wintersonstilstand, wanneer die son se afwaartse koers afgeneem het en dit lyk asof dit na die aarde terugdraai. Hierdie verandering in situasie in die somber hartjie van die winter, is elke jaar ervaar as die wedergeboorte van die son en was herdenk as die geboortedag van die songod, die liggewende goddelike kind” (The Myth of the Goddess, 1993, bl. 561).

Die meeste mense wat die Bybel lees weet dat Kersfees nie ’n Bybelse feesviering is nie. Nêrens in die Ou Testament óf die Nuwe Testament word aan ons opdrag gegee om Christus se geboortedag te vier nie en in elk geval verstaan die meeste mense dat Hy nie in Desember gebore kon gewees het nie. Die skaapwagters sou daardie tyd van die jaar nie in die veld gewees het nie (Lukas 2:8), aangesien hulle skape dan reeds lankal in hulle krale ingebring sou gewees het vir die wintermaande. Ander aanduidings in die Bybel is dat Christus heel waarskynlik in die herfs gebore is.

Kersfees is deesdae hoofsaaklik ’n wêreldse winterfees wat deur kommersiële belange gedryf word. Gevolglik hou mense daarvan om te sê: “Dit is nodig dat ons Christus terugplaas in Kersfees!” Hy was egter nóóit werklik daarin nie – met ander woorde, hoe regverdig teoloë dit om Hom daar te plaas? Een van die vernaamste maniere is die idee van “die heiligmaking van die heiden”.

Kan heidense gebruike ooit geheilig word met die doel om die Almagtige God van die Bybel te aanbid? Die wêreld se kerke reken dit kan gedoen word maar God Self gee ’n heel ander antwoord in Sy Woord.

 

Sommige duidelike voorbeelde

The Story of Civilization is ’n geskiedkundige boek wat bestaan uit elf volumes, geskryf deur die bekende geskiedskrywer Will Durant en sy vrou Ariel. Ariel. In Volume III met die titel Caesar and Christ, bespreek hy onomwonde die heidense invloed op die latere ontwikkeling van “hoofstroom” Christendom en gee ’n paar voorbeelde van Rome se heiligmaking van heidense gebruike. Hy het die volgende geskryf:

“Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem … Die Griekse verborgenhede is oorgedra in die indrukwekkende misterie van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die saamgestelde resultaat. Uit Egipte het die idees gekom van ’n goddelike drie-eenheid, die Laaste Oordeel en ’n persoonlike onsterflikheid van beloning en straf asook die aanbidding van die moeder en kind … Uit Frigië het die aanbidding van die groot moeder gekom; uit Sirië die opstandingsdrama van Adonis … Die Mithraïstiese ritueel het so baie ooreengestem met die eucharistiese offer van die mis dat Christelike kerkvaders die duiwel daarvan beskuldig het dat hy hierdie ooreenkomste versin het om ontvanklike denke te mislei. [Nicaean] Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (1944, bl. 595, beklemtoning bygevoeg).

Heidense tempels is in kerke omskep – daar was ten minste elf sulke omskeppings in Rome alleen. Standbeelde van heidense gode is omskep om Christelike heiliges voor te stel. In kuns is die stralekrans (of nimbus) wat prente van heidense gode en keisers versier het, oorgedra na uitbeeldings van Jesus en verskeie sogenaamde Christene. Die sonkalender en sy feeste het die Bybelse kalender en sy feeste vervang. Die lys gaan aan.

Kardinaal John Henry Newman, ’n invloedryke Rooms-Katolieke aartsbiskop in die negentiende eeu, het hierdie praktyk teologies gerasionaliseer toe hy die volgende geskryf het:

“Ons word op verskillende maniere deur Eusebius [’n skrywer van vroeë kerkgeskiedenis] vertel dat Konstantyn, met die doel om die nuwe godsdiens vir die heidene aan te beveel, die uiterlike ornamente waaraan hulle in hulle eie aanbidding gewoond was, gebring. Die gebruik van tempels en dit wat aan bepaalde heiliges opgedra is ... vakansiedae en seisoene ... draai na die Ooste, beelde op ’n latere datum ... is almal van heidense oorsprong en geheilig deur hulle aanneming in die Kerk” (An essay on the Development of Christian Doctrine), 1845, hoofstuk 8:6, beklemtoning bygevoeg).

Die twintigste-eeuse Katolieke teoloog, Christopher Dawson het ’n selfs meer oordrewe benadering versinnebeeld toe hy geskryf het: “Die volledige heiligmaking van die heiden is die eindresultaat van die verchristeliking van die wêreld” (The Leavening Process in Christian Culture, 7 Augustus 1955, beklemtoning bygevoeg).

Ons behoort egter te vra: Indien Dawson se scenario plaasvind, sal die heidendom inderdaad ver-Christelik word of sal “Christelikheid” verheidens word?

 

Het God van plan verander?

Sommige mense neem aan dat hulle heidense gebruike in hulle aanbidding kan gebruik solank hulle dit doen om God te eer. Het God dan van plan verander oor hierdie saak? Hy het vir ons gesê: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleági 3:6) en “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Jesus het die profeet Jesaja aangehaal wat gesê het: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matthéüs 15:8-9). God het nié van plan verander oor hoe Hy aanbid behoort te word nie en Christus waarsku ons dat dit moontlik is om Hom tevergeefs te aanbid.

God sê vir ons dat Hy heilig is en dat Hy Israel afgesonder het om Hom nié te aanbid deur heidense gebruike nie (Levítikus 20:6). Die apostel Petrus het dit in gedagte gehad toe hy Christene daaraan herinner het: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:15-16). Petrus het uit Levítikus 20:7 aangehaal toe hy dit geskryf het en onthou het dat antieke Israel van tyd tot tyd heidense gebruike ingesluit het in hulle aanbidding van die Allerhoogste God – praktyke wat oorgeneem is uit die aanbidding van heidense gode soos Baäl, Astárte en Molog. God het dit verbied in die eerste Gebod van die Tien Gebooie wat Hy by die berg Sinai aan die volk gegee het: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Exodus 20:2-3).

Antieke Israel het – soos baie mense vandag – ’n geneigdheid tot verchristeliking vertoon deur heidense vorms van godsdiens te aanvaar in hulle aanbidding van die God van Abraham, Isak en Jakob. God het Israel immers gewaarsku: “Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. So mag julle nie doen met die Here julle God nie” (Deuteronómium 12:2-4). Daardie waarskuwing geld nog steeds vandag vir ons. Die elemente van die heidendom kan nie verander word in die aanbidding van die Allerhoogste God nie.

Sommige mense beweer dat aangesien ons kultuur so baie dinge deel met die antieke heidene, kan ons net sowel daardie heidense verbintenisse heilig. Die name van die dae van die week is byvoorbeeld oor die algemeen van heidense oorsprong. Die oorsprong van die woord Woensdag kom byvoorbeeld van die Teutoniese god Woden en Donderdag is vernoem na die Teutoniese god Thor [mitologiese god van donder en weerlig]. Daarom redeneer sommige mense dat die heiligmaking van heidense praktyke vir die aanbidding van God nie ’n probleem behoort te wees nie, want as die één nie sonde is nie, moet die ander ook nie sonde wees nie.

Dit is egter ’n swak redenasie. Christene en heidene eet ook brood, drink water, haal asem, lag en huil. God het nie gesê ons moet nie enige iets doen wat die heidene doen nie. Sy spesifieke opdrag is dat ons nie heidense gode moet aanbid nie en ook nie heidense vorms van aanbidding met Syne moet meng nie!

God het vir ons ’n baie duidelike opdrag gegee toe Hy hierdie woorde geïnspireer het:

“As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode” (Deuteronómium 12:29-31).

Daarna het Hy aan hulle uitdruklike voorskrifte en verbannings gegee: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (vers 32). God het nie van plan verander met betrekking tot hierdie dinge nie en dit is nie iets wat ons kan ignoreer nie!

 

Tradisies van mense of Gebooie van God?

Baie mense verstaan dat Kersfees een van verskeie feeste van die hoofstroom Christendom is wat uit heidense godsdienstige tradisies “verchristelik” het. Die godsdienstige leiers van Jesus se tyd het dikwels toegelaat dat hulle eie tradisies God se duidelike opdragte vervang, net soos vandag se godsdiensleiers dikwels doen. Jesus Christus het egter ’n vermaning vir hulle sowél as vir ons, gehad.

Hy het reguit gesê: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.” Hy het vir hulle gesê: “Julle verstaan dit goed om die Gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:6-9).

Soos ons gesien het, het die veranderings wat Konstantyn en die Roomse kerk in die tweede en derde eeue aangebring het veel verder gegaan as “die wassery van kanne en bekers”. God maak dit duidelik dat die gebruike wat met ander gode geassosieer word nié in die aanbidding van Sy aanbidding gebruik mag word nie en dat Hy dit nie aanvaar nie.