Baie mense het al gehoor van die boek Openbaring, maar min weet van die sewe insiggewende briewe asook die belangrikheid daarvan vandag.
Die boek Openbaring – die heel laaste boek in u Bybel – is vir die meeste mense gehul in verborgenheid. Baie mense is tot ’n mate vertroud met die bekende “vier ruiters”. Min van hulle is egter enigsins bewus van die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Asië wat opgeteken is in die boek se tweede en derde hoofstukke. Nog minder mense verstaan wat daardie briewe vandag vir ons beteken.
Die woord openbaring verwys na die bekendmaking van iets wat voorheen onbekend was. Baie mense is nogtans geïntimideer deur die boek Openbaring en glo dit is onmoontlik om dit te verstaan – dus verkies hulle om dit aan die spreekwoordelike kapstok te hang. Is u een van diegene vir wie hierdie boek ’n raaisel is? Indien wel, is hierdie artikel vir u bedoel.
Vir meer as 1,900 jaar het geleerdes sowel as leke bespiegel oor die boek Openbaring. Wat is die oorsprong daarvan? Vir watter gehoor is dit bedoel? Wanneer neem die boek se profesieë ’n aanvang? Wie kan ons begrip vir die boodskap verstaanbaar maak aan ons? Wie behoort hierdie boodskap na die bestemde gehoor te neem?
Laat ons begin by die begin. Die heel eerste vers van Openbaring beantwoord hierdie vrae: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het” (Openbaring 1:1).
Hier sien ons dat Jesus Christus die Een is wat die boodskap openbaar, dat die boodskap van God die Vader kom, dat die boodskap vir God se diensknegte bedoel is en dat die verantwoordelikheid aan Johannes gegee is om die boodskap na daardie diensknegte te neem.
Die dag van die Here
Die boek se eerste vers is ryk aan betekenis en die toneel word voorberei vir wat volg, nogtans openbaar dit nie die tema van die boek nie. Daarvoor moet ons nege verse verder kyk waar Johannes skryf: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin” (vers 10).
Byna alle vertalers en kommentare steun die foutiewe idee dat om “in die Gees op die dag van die Here” te wees, beteken dat Johannes op ’n Sondag aanbid het. Daar bestaan egter ’n groot probleem wat betref hierdie vertolking, wat leemtes op verskeie gebiede toon. Indien die gedeelte oor ’n dag van die week gegaan het – wat nie die geval is nie – kon dit nie ’n Sondag gewees het nie. Indien ons die Bybel vertrou as ons Bron van waarheid, met inbegrip van die waarheid oor aanbidding, vind ons dat die Bybel nooit Sondag, die eerste dag van die week, identifiseer as die dag wat aan die Here behoort nie. Ons vind inteendeel drie duidelike verwysings wat duidelik aantoon dat Jesus “Here van die Sabbat” is. Let op: “... want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat ... Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat ... Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat” (Matthéüs 12:8; Markus 2:28; Lukas 6:5).
Ons sien dus dat indien die “die dag van die Here” ’n dag van die week is, openbaar die Bybel dat hierdie dag nié Sondag, die eerste dag van die week is nie, maar eerder die sewende dag, wat Vrydag met sononder begin. Die waarheid is egter dat Johannes se verwysing na die “Here se dag” niks te doen het met ’n dag van die week nie. In plaas daarvan sien ons dat Johannes in ’n visioen ’n tydperk in die toekoms voorsien het, wat in die Skrif bekend staan as die dag van die Here – ’n tyd waarna verwys word in meer as 30 gedeeltes van die Ou en Nuwe Testamente.
Die eerste ses hoofstukke van Openbaring berei die toneel voor vir die tema. Johannes sien ’n visioen van God, die Opsteller van die boek Openbaring, wie op Sy hemelse troon sit. Hoofstuk 5 beskryf die boek se boodskap soos dit geskryf was op ’n boekrol wat met sewe seëls verseël is – seëls wat slegs deur Jesus Christus oopgemaak kan word. Hoofstuk 6 beskryf hoe Christus ses van daardie sewe seëls oopmaak. Die eerste vier seëls bestaan uit die bekende vier perderuiters. Die vyfde seël beeld ’n marteling van sommige van God se diensknegte uit. Dan kom die sesde seël: ’n Reeks skrikwekkende hemelse tekens:
“... die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6 verse 13-17).
Hierdie ses seëls wat almal geopen word binne die bestek van een kort hoofstuk, is die vóórspel tot die tema van die boek Openbaring: Die komende “dag” of “tyd” van God se toorn op die rebelse mensdom. Hierdie toorn word verduidelik deur die sewende seël, wat bestaan uit sewe plae wat deur trompette aangekondig word.
Briewe aan diensknegte
Hoofstuk 4 beskryf God op Sy troon, wat aandui dat Hy die Bron van die openbaring is. Hoofstuk 5 toon dat Christus die Openbaarder is wat die boekrol met sewe seëls oopmaak. Hoofstuk 6 baan die weg tot die dag van die Here – die tyd van God se toorn – wanneer Christus ses van daardie seëls oopmaak. Dit toon aan ons die tema van Johannes se boek, maar wát van die diensknegte van God aan wie die boek gerig is? Wié is daardie diensknegte?
U sal dalk verbaas wees om te verneem dat daardie diensknegte gedefinieer word deur die sewe gemeentes wat in hoofstukke 2-3 beskryf word. Baie geleerdes sien egter glad nie die belangrikheid van hierdie twee hoofstukke raak nie. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die geleerde William Ramsay, wat ’n hoogaangeskrewe boek met die titel The Letters to the Seven Churches, geskryf het. Die boek bevat baie uitstekende inligting, maar Ramsay het die belangrikste element gemis wat betref daardie briewe. Hy het die volgende geskryf:
In hierdie werk wat Joods van oorsprong en algemene uitleg is ... is hierdie episode van die sewe briewe ingevoeg, wat klaarblyklik byna geheel en al nie-Joods van karakter is ... Die rede was dat die vorm van briewe reeds gevestig was as die mees kenmerkende uitdrukking van die Christelike verstand en was so te sê verpligtend vir ’n Christelike skrywer (bll. 35-36).
Ramsay spekuleer dat die briewe slegs ’n nagedagte in Johannes se samestelling van die boek was, eerder as ’n element wat noodsaaklik is om die boek te verstaan:
“In die daaropvolgende ontwikkeling van Johannes se denke is dit duidelik dat hy die tekortkominge en ontoereikendheid van die modieuse Joodse literêre formaat erken het. Dit lyk of die persepsie van daardie feit hoogs waarskynlik by hom opgekom het tydens die samestelling van die Openbaring en dat die Sewe Briewe, alhoewel dit aan die begin van die boek geplaas is en versigtig in daardie posisie gepas het, die laaste deel van die werk beplan was” (bladsy 36).
Nou toe nou! Ramsay maak dan hierdie ongelooflike stelling: “Die Apokalips [Openbaring] sou heeltemal volledig gewees het sonder die sewe briewe” (bladsy 37). Ramsay wou ons wysmaak dat Johannes gebruik maak van die formaat van briewe op ’n “Christelike” manier om inligting oor te dra, soos die Nuwe-Testamentiese briewe oorgedra was. Wanneer ’n mens Ramsey se spekulasies lees, is dit maklik vir ons om te waardeer wat Jesus vir ons in die Evangelie van Matthéüs sê: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het” (Matthéüs 11:25).
Wanneer ons ons tot die Bybel wend in plaas van wetenskaplike spekulasies, laat ons nou vier belangrike sleutels nagaan wat die verborgenheid van Openbaring se sewe briewe verklaar – ’n verborgenheid wat geleerdes nie sal of kan verklaar nie, tensy Christus hulle verstand open.
Die sewe gemeentes definieer die diensknegte van God
Ons het gesien dat die eerste vers van Openbaring 1, Johannes se opdrag openbaar om ’n boodskap aan “sy diensknegte” te stuur. Aan wie rig Johannes dus daardie boodskap? Aan “die sewe gemeentes in Asië” (vers 4). Die boodskappe is aan die gemeentes gerig, maar dit is ’n boodskap wat die hele boek Openbaring betrek – nie net die briewe nie:
“Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ’n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa” (Openbaring 1:11).
Kan daar enige twyfel bestaan dat die sewe gemeentes en die diensknegte van God dieselfde mense is? Dit word bevestig in die heel laaste hoofstuk van Openbaring – in ’n sekere mate word die verband tussen die sewe gemeentes en die diensknegte van God deur die eerste en laaste hoofstukke geboekstaaf. Ons lees:
“En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur ... Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig” (Openbaring 22:6, 16).
Let daarop dat alhoewel diensknegte en gemeentes afwisselend gebruik word – is hulle sinonieme. Johannes noem nie al die Christelike gemeentes in Asië nie. Uiteraard is daar iets besonders of betekenisvol aan die sewe wat hy noem. Waarom noem hy dus hierdie gemeentes? Waarom net sewe noem indien hulle die diensknegte van God verteenwoordig? Beteken dit dat nie een van die ander eerste-eeuse Christengemeentes God se diensknegte was nie? Word ons dan vandag uitgesluit daarvan om God se diensknegte te wees? Glad nie. Dit bring ons by ons tweede sleutel.
Die spesiale verhouding tussen Christus en hierdie sewe gemeentes
Na ’n trompetgeskal en ’n lys van die sewe gemeentes, beskryf Johannes ’n merkwaardige visioen:
“Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel ... in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:12-13, 16).
Kan ons die betekenis van hierdie visioen verstaan? Ons kan dankbaar wees dat die Bybel homself verklaar – dus hoef ons nie te spekuleer nie. Johannes verduidelik:
“... die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele [boodskappers] van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (vers 20).
Johannes se visioen het openbaar dat Christus tussen die simbole van die sewe gemeentes gewandel het, wat sinoniem is met die diensknegte van God. Is dit geheimsinnig? Ja dit is. Is dit moontlik om te begryp? Nee. Hierdie verborgenheid lei ons na ’n derde sleutel wat teen die tyd ooglopend behoort te wees, hoewel geleerdes soos Ramsay dit nie kan insien nie.
Die hele boek van Openbaring is aan die sewe gemeentes gerig
In ’n visioen word Johannes aangesê om die boek se boodskap van die boek na die diensknegte van God te neem – die sewe gemeentes, soos ons gesien het (Openbaring 22). Hierdie gemeentes was werklike kerkgemeentes en die boodskapper aan elke gemeente het ’n boodskap gegee wat toepaslik was vir die heersende toestande in daardie gemeente op daardie tydstip. Éfese was ’n werklike gemeente, saamgestel uit God se diensknegte, maar hulle het hulle “eerste liefde” verloor – ’n algemene probleem onder diegene wat al ’n geruime tyd Christene was en hulle aanvanklike ywer verloor het nadat hulle gedoop was.
Daar vind ons ’n lewensbelangrike vermaning wat gerig is aan elkeen van die sewe gemeentes: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 2:7). Let op dat die Gees met gemeentes – in die meervoud – praat. ’n Probleem wat in een gemeente oorheers het, kon ook individuele lidmate in enige van die ander gemeentes beïnvloed. In die voorbeeld van die gemeente van Laodicéa het ’n louwarm gees geheers. Die vermaning om te “hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 3:22), dui daarop dat hierdie selfde louwarm houding by sommige lede in die ander gemeentes gevind kon word.
Daar is egter meer aan die gemeentes as ’n lys van probleme. Ons let byvoorbeeld op dat die kerk in Filadelfía slegs bemoedig word – geen teregwysing nie. Dit lei ons na ons vierde lewensbelangrike sleutel om die sewe briewe van Openbaring te verstaan.
Die briewe aan die sewe gemeentes is profeties
Indien u ’n rooi-letter Bybel byderhand het – ’n Bybel wat Jesus Christus se eie woorde in rooi teks uitlig – word een kenmerk van die boek Openbaring duidelik: Die oorweldigende meerderheid van die woorde wat uit Christus se eie mond in Openbaring gespreek word, word in die briewe aan die sewe gemeentes gevind.
Ons het gesien dat Johannes in Openbaring 1 beveel is om die getuienis van Jesus Christus op te teken. Ons lees ook dat die getuienis van Jesus die gees van profesie is (Openbaring 19:10). Wat ons dus ook al in Openbaring uit Jesus se mond hoor is profeties van aard.
Wanneer ons Openbaring bestudeer, kan ons sien dat die onderwerp daarvan in Johannes se leeftyd begin het – geleerdes dateer die boek se samestelling tot iewers rondom 95 n.C. – hoewel dit selfs vir ons in die toekoms geld. Die waarskuwings wat Johannes opgeteken het, die toestande van die sewe gemeentes, kan vandag op enigeen van ons van toepassing wees. Daar is nog ’n dimensie aan hierdie verslag van God se diensknegte vanaf Johannes se leeftyd tot by ons toekoms. Indien u nog nie ’n eksemplaar van ons insiggewende studiegids God se Kerk deur die eeue aangevra het nie, moedig ek u aan om dit te doen. Daarin het die ontslape evangelis John Ogwyn verduidelik:
Wanneer ons na die konteks van die boek Openbaring kyk, moet ons daaraan erkenning gee dat dit primêr bedoel is as ’n profesie. Openbaring 1:1 toon dat die doel van die boek is om aan God se knegte dinge uit te wys wat binnekort sou begin gebeur. Die sewe gemeentes behoort dus primêr verstaan te word as verteenwoordigend van die hele geskiedenis van God se Kerk in sewe opeenvolgende eras (bladsye 20-21).
Ja, die sewe gemeentes van Openbaring verteenwoordig gesindhede wat regdeur die geskiedenis in die Kerk van God sou oorheers. Hoofstroom “Christene” en sekulêre geleerdes probeer om die afvallige kerk wat later in hoofstuk 17 beskryf word, in hierdie briewe in te forseer maar daardie kerk pas eenvoudig nie in nie en ook nie haar hoerdogters nie.
God se Openbaring aan ons
Gelukkig het God die patroon van profesie aan Sy ware Kerk geopenbaar, met inbegrip van tye waardeur daardie Kerk sou gaan, soos beskryf in die boek Openbaring. Let op dat wanneer Christus terugkeer, die Kerk reeds die era sou betree het wat deur die eerste-eeuse gemeente in Laodicéa gekenmerk is. ’n Louwarm gees sal seëvier en diegene met daardie gees is blind vir hóé louwarm en selfvoldaan hulle geword het.
Selfs in daardie tydperk sal daar Christene wees wie se ywerige gesindheid, net soos die eerste-eeuse gemeente in Filadelfía, kenmerkend sal wees. Terwyl louwarm Christene – welmenend, getrou, maar siende blind – in die geprofeteerde Groot Verdrukking gewerp sal word, sal daardie Christene wat ’n Filadelfiese gesindheid behou, God se beskerming teen die komende tyd van benoudheid ontvang.
Soos ons dus kan sien, is die begrip van die betekenis van die sewe briewe aan die sewe gemeentes nie net ’n akademiese studie nie; dit is lewensbelangrik vir ons as Christene. Kom ons luister na die vermanings in daardie briewe en kom nader aan ons Verlosser in ywer vir Sy boodskap terwyl ons in geloof volhard.