Met Israel se vyf-en-sewentigste herdenking as ’n moderne nasie is mense baie bekommerd oor hulle toekoms, maar profesie openbaar watter faksie sal seëvier!
In April 2023 het Israel sy vyf-en-sewentigste bestaansjaar as ’n onafhanklike moderne nasie gevier. Met sy vyftigste herdenking in 1998 is dit deur wyle Paul Johnson, ’n Britse skrywer en kommentator, geprys as die belangrikste van die 100 nasies wat in die twintigste eeu tot stand gekom het – die vorming van Israel as ’n nasie was ’n wonderwerk, terwyl dit nie die geval was met ander nasies nie. Om dit in perspektief te plaas, het Israel 75 jaar oorleef, terwyl die Sowjet-Unie op 74 jaar in duie gestort het.
Die vyf-en-sewentigste bestaansjaar was egter nie met dieselfde uitbundigheid as dié van die vyftigste bestaansjaar begroet nie. Sedert Januarie 2023 was daar gereelde betogings in verskeie stede van Israel – beide vír en téén die leiding van die regering van premier Benjamin Netanyahu, terwyl die media diegene wat téén die regering was, meer dekking gegee het. Teen die einde van September 2023 het betogings deur albei kante reeds vir nege maande voortgeduur. Merkwaardig genoeg was die betogings sonder geweld of beskadiging van eiendom gekenmerk en die hoogtepunt was die oorvloedige aantal Israeliese vlae wat deur betogers aan beide kante gebruik was. Die grondslag van die betogings word gekoppel aan waar Israel in die volgende 75 jaar sal wees.
Die oorsaak van die betogings was as gevolg van ’n geregtelike hervorming wat Netanyahu se koalisieregering wou deurvoer. Sedert 1994 en die aanstelling van Aharon Barak as hoofregter, het die Hooggeregshof van Israel tot so ’n mate aktivisties geraak dat dit op ’n punt gekom het dat ’n poging aangewend is om wetgewing van die Knesset onwettig te verklaar. Netanyahu het geregtelike hervormings voorgestaan wat die Knesset vetoreg oor besluite van die Hooggeregshof sou gee en die invloed van onverkose regters en prokureurs op die aanstelling van nuwe regters sou beperk.
Hierdie stelsel het egter al vir dekades lank goed gewerk, waarom nóu die dringendheid om die reëling te verander? Terwyl baie ander nasies regoor die wêreld probeer het om daardie stelsel van die Hooggeregshof na te volg, voel die godsdienstiges van Israel gegrief oor die manier waarop hulle deur die Hooggeregshof en die wêreld se elite behandel is. Netanyahu se hervormings streef daarna om Knesset-gesag in wetgewing vas te lê om Hooggeregshofbesluite ter syde te stel en meer invloed uit te oefen in die aanstelling van regters om in daardie Hof te dien.
’n Krisis van politieke en godsdienstige identiteite
Om Netanyahu se strewe na verandering te begryp is dit nodig om terug te gaan na die begin van die staat Israel in 1948. Israel is as ’n nasie gevestig, wat gebaseer is op moderne Europese konsepte van ’n onafhanklike nasie. Dit moes ’n wêreldse staat wees, wat deur die Knesset regeer word, eerder as ’n godsdienstige staat. Godsdiens moes aan die regering onderworpe wees, net soos die regering in die Verenigde Koninkryk toesig hou oor die kerk van Engeland. Die Britse premier keur alle belangrike aanstellings in daardie kerk goed voordat dit deur die monarg as die hoof van die kerk van Engeland bekragtig word.
Die eerste premier van Israel, David Ben-Gurion, wou hê dat Israeliese burgers die voorbeeld van die sabras [Jode wat in Israel gebore is] moes volg – daardie stewig en sterk geboude inheemse Israeli’s wat die land bewerk het en bygedra het tot die land se nywerheid – eerder as om die godsdienstige Jode na te boots wat aan studie toegewy was, soos so baie wat in die Holocaust in Europa gesterf het. Godsdiens is nietemin toegelaat en voorsiening is gemaak vir die Rabbinaat om toesig te hou oor immigrasie en huwelike.
Alhoewel dit dalk vir die meeste mense aanvaarbaar was gedurende die vroeë jare van die staat, het veranderings plaasgevind wat die nasie in ’n groot mate beïnvloed het. Israeli’s het grootliks die linkse Arbeidersparty wat Ben-Gurion gestig het verlaat en na regs op die politieke spektrum beweeg. Indien daar vandag ’n verkiesing in Israel gehou sou word, is dit die mening van sommige mense dat die Arbeidersparty geen setels sou wen nie. Die huidige premier, Benjamin Netanyahu, van die konserwatiewe Likud-party, is die langs-dienende Israeliese premier, wat die posisie al drie maal beklee het sedert die Likud-party in 1977 die eerste keer ’n regering onder Menachem Begin gevorm het. Al die eerste ministers, konserwatief of linksgesind, van David Ben-Gurion tot en met Benjamin Netanyahu, het die wêreldse vorm aangeneem.
Terwyl die verskuiwing na regse politiek in Israeliese politiek deels toegeskryf kan word aan die ekonomiese sukses van die Likud-beleide, is ’n selfs gróter verandering besig om die nasie se demografie te verander, as gevolg van die groot toename in getalle van godsdienstige Mizrahi-Jode wat hulle oorsprong het in naburige Moslem-nasies eerder as in Europa. Hulle toename word ’n mag om mee rekening te hou met die oog op verkiesings, saam met die Falasha van Ethiopië en die Haredi (Ortodoks).
Ons behoort ook daarop te let dat die term wêrelds ’n genuanseerde betekenis in Israel het wat nie heeltemal ongodsdienstig is, soos dit in die Weste is nie. Alhoewel politiek en filosofie die lewens van die wêreldlikes regeer, onderhou baie wêreldse Israeli's, Godsdienstige vakansiedae soos Pasga of Jom Kippoer – ter herinnering eerder as ’n lewenswyse. Ons kan dit sien in hoe die stad Tel Aviv, seksuele- en geslagsidentiteitspolitiek aanvaar het. Die bekende skrywer en geleerde, Yossi Klein Halevi het hierdie wêreldse situasie opgesom toe hy geskryf het:
“My Joodse lewe is godsdienstig; my Israeliese lewe is wêrelds. Ek vier die wêreldse staat wat ons huistoe gebring het en ons geleer het hoe om onsself te beskerm, wat ons as ’n volk gehelp het om ná die Holocaust te genees en om Joodse gemeenskappe uit ’n toenemend gevaarlike en disfunksionele Midde-Ooste te haal” (Times of Israel, 28 Julie 2023).
Daarenteen, sover dit die meeste van die Mizrahi-Jode en die hele Hasidiese gemeenskap binne Israel betref, beheer godsdiens hulle lewens op ’n diepgaande wyse. Die huidige sekulêre filosofieë is ’n verbygaande gier en het geen gevolge vir hulle nie.
Die afgelope jare het die klein godsdienstige politieke partye, wat geneig is om regs op die politieke spektrum te wees, die meeste invloed gehad sover dit die vorming van Israeliese regerings betref. Soos ander onlangse eerste ministers, maak Netanyahu op hulle staat vir ’n meerderheidstem in die Knesset. Dus lei Netanyahu – ’n sekularis – deesdae wat sommige mense beskou as Israel se eerste Ortodokse parlement.
Dit maak die regs-hervormings, waarvan die eerste op 24 Julie goedgekeur is ’n lakmoestoets van waarheen Israel polities op pad is: Behoort Israel wêrelds of godsdienstig te wees? Dié stryd word op die strate van Tel-Aviv en Jerusalem gevoer, maar sal binnekort in die Hooggeregshof uitgespeel word wat op 28 Julie 2023 ingestem het om ’n regsuitdaging te oorweeg wat sal bepaal of die nuwe wetgewing wat onlangs deur die Knesset aanvaar is, as redelik beskou kan word.
Dit plaas Israel op die pad van ’n grondwetlike krisis. Sal die optrede op straat en in die Hooggeregshof die nasie uitmekaarskeur en tot ’n val laat kom? Die krisis is ernstig en die retoriek wat die verandering teëstaan, is heftig – tot so ’n mate dat sommige reserviste in die Israelse Weermag in die openbaar verklaar het dat hulle nie vir militêre diensopleiding sal aanmeld nie.
Sal dit dan die einde van Israel beteken? Ons, as bestudeerders van profesie, verstaan die 1948-totstandkoming van die moderne staat Israel vanuit die bladsye van ’n antieke Boek – die Bybel. Daarin word dit duidelik gemaak dat ’n Joodse staat ’n aansienlike vegtende mag sal wees ten tye van die Wederkoms van Jesus Christus (Sagaría 12:1-14) en Jerusalem ’n ontbrandingspunt in die tye wat binnekort voorlê.
Die Tempelberg
Met die stigting van die moderne sekulêre staat, Israel, was die Tempelberg van geen onmiddellike belang nie. Dit was in die hande van die Jordaniërs. Joodse besorgdheid oor die Tempelberg het slegs gegaan oor die ligging van die Allerheiligste en die begeerte om te keer dat mense op die heilige grond rondloop en dit dus verontreinig. Ben-Gurion, die destydse Eerste Minister, was tevrede om te weet dat dit onder die beheer van die Jordaniese regering was. Israel het destyds genoeg probleme op hande gehad wat bloot met oorlewing verband gehou het.
In Junie 1967, ten tye van die Sesdaagse Oorlog, het Joodse magte, Jerusalem en die Tempelberg herower. Generaal Moshe Dayan, die leier van die Israeliese magte en ’n formidabele figuur in die Israeliese samelewing, het gesien hoe ’n Israeliese vlag oor die Rotskoepel gehys word nadat sy magte die Tempelberg ingeneem het. Hy het beveel dat die vlag gestryk word en sy kommentaar was: “Waarvoor het ek hierdie Vatikaan nodig?” Sy kommentaar het sy wêreldse uitkyk weerspieël, veral sy verwerping van enige vorm van rituele godsdiens en hy het hom nie gesteur aan hoe belangrik die Tempelberg was vir die behoudende Joodse mense se gebede, regoor die wêreld nie. Soos een waarnemer geskryf het:
Dayan het destyds daaroor gedink en het jare later sy gedagtes toegewy om neer te skryf dat aangesien die berg ’n “Moslem-gebedsmoskee” was, terwyl dit vir Jode niks meer was as “’n geskiedkundige plek van herdenking van die verlede nie ... behoort ’n mens nie die Arabiere te verhinder om daar op te tree soos hulle nou doen nie en hulle reg as Moslems om die terrein te beheer, behoort erken te word”. (“Moshe Dayan’s Tragic Blunder,” Commentary, Februarie 2023).
Dayan se verklaring het die Palestynse idee dat die “bestaan van die tempel ontken” word baie goed gepas – dat Jode nooit in Israel gewoon het nie en dat ’n tempel nog nooit daar bestaan het nie. Met hierdie beslissing, het Dayan ook regsgeldigheid verleen vir ’n status quo op heilige plekke wat terugdateer na die Mameluke-bewind in die dertiende eeu. Deesdae bly die Tempelberg onder die beheer van die Jordaniese Waqf. [’n Islamietiese bemaking of skenking van eiendom om in trust gehou te word en gebruik te word vir liefdadigheidswerk of godsdienstige redes]. Die idee dat Israelies se toegang tot die Tempelberg beperk word en bowe alles, om op die Tempelberg te bid – gebed word tans slegs by die Westelike Muur toegelaat – word tog deur Ortodokse Jode bevraagteken (“The History of the Temple Mount Status Quo, Which Prohibits Jews from Praying at Their Holiest Site,” Mosaic, 11 Augustus 2022).
Israeliese polisie patrolleer die Tempelberg – gewapen met kamera-opnemers – om Jode uit te vang wat bid. Hulle kan daar en dan ’n klag lê teen enige Jood wat besig is om te bid. Ten spyte daarvan ignoreer toenemende getalle Jode die beperkings en besoek die Tempelberg om te bid. Jerusalemdag, wat jaarliks die inname van Jerusalem en die Tempelberg in 1967 herdenk, bring duisende Jode na die terrein vir gebed. Die begeerte om so na as moontlik aan die tempel se ligging te bid, is ’n kragtige dryfveer vir godsdienstige Jode. Argeoloë stem hoofsaaklik saam oor waar die Tempel op die 37 akker [1 akker is 4,047 m²] van die Tempelberg geleë was en baie het geen vrees om die reinigingsreëls te oortree wat deur die rabbi’s met die vorming van die staat ingestel is nie. Deesdae vind ons dat Jode plasings op sosiale media maak om gebedsversoeke vir andere by hulle eie gebede op die Tempelberg te voeg. Dit weerspieël die toename in Joodse geestelikheid wat oor die afgelope paar jaar merkbaar is.
’n Oproep tot gebed – of ’n oproep tot oorlog?
Indien gereelde gebede openlik op die Tempelberg deur Jode gedoen word ten spyte van die moontlikheid van boetes wat daar en dan uitgereik word, wat sal die toekoms inhou? By die besoek aan die Tempelberg om die vas van Tisha B'Av en die vernietiging van die eerste en tweede Tempel te herdenk, het Itamar Ben-Gvir, Israel se minister van nasionale veiligheid, verklaar dat sy nasie dit nodig het om hulle “beheer van regering” op die terrein sigbaar te maak (“Moslem-lande veroordeel Ben-Gvir se ‘stormloop’ van die Tempelberg,” Jewish News, 27 Julie 2023). Onder ’n hoofopskrif wat Moslem-teenkanting teen sy besoek beklemtoon, is Ben-Gvir aangehaal dat hy gesê het dat die terrein van die Tempel “die belangrikste plek vir die volk Israel is. Dit is nodig om terug te keer en ons beheer te vertoon”.
Waarom is hierdie dinge vir ons belangrik in terme van profesie? Die rede hiervoor is omdat die Bybel aandui dat, hoewel dit nie noodwendig vandag, volgende week of volgende jaar sal plaasvind nie, die Godsdienstige partye uiteindelik die stryd sal wen.
Waarom kan ons só seker wees van daardie oorwinning? Sekulêre leiers sal nóóit toelaat dat offers op die Tempelberg plaasvind nie terwyl die Bybel dit duidelik maak dat offers vir ’n kort tydperk voor die einde van hierdie tydperk weer ingestel sal word.
Indien u wonder oor hierdie siening van die sekulêre wêreld, hou die Europese sensitiwiteit in gedagte wat betref die kosjer- en halaal-slagting van diere. Wêreldse regerings probeer dikwels om sulke praktyke te verbied. Plaaslike owerhede in sommige Europese lande het reeds die mag om dit volgens wetgewing te verbied. Sodra daardie stryd gewen is, sal manlike besnydenis waarskynlik die volgende stap wees; Ysland het reeds in 2018 probeer om die praktyk te verbied. Godsdienstige simbole, hetsy kosjer slagting van diere, besnydenis of bowenal, offers, is nie aanvaarbaar in die wêreldse samelewing nie. Opeenvolgende regerings van Israel het besnydenis en kosjer-slagting as noodsaaklike deel van Joodse identiteit toegelaat, maar het deurgaans ’n stokkie gesteek voor die herinstelling van offerandes.
Die Bybel is tog baie duidelik aangaande die herinstelling van offers. Dit gebruik selfs die gedwonge beëindiging van offerandes as ’n tydmerker vir die terugkeer van Jesus Christus na die Olyfberg, wat oos van Jerusalem is en na die Tempelberg kyk (Daniël 8:8-14; 12:11). Die boek Daniël beskryf die herinstelling van offerandes en bevestig dat dit gestaak sal word deur die koning van die Noorde, ’n magtige persoon gedurende die eindtyd wat oorlog voer teen die koning van die Suide in die gebied van Israel en omliggende nasies (Daniël 11:29-40).
Daniël sê vir ons dit sal ’n tyd van groot benoudheid wees. Die hedendaagse onrus in Israel is net ’n voorsmaak van wat kom. Na daardie gebeure sal Jesus Christus terugkeer om Sy Regering oor die hele wêreld se nasies te vestig.
’n Struikelblok vir alle nasies, wat binnekort geopenbaar sal word
’n Israeliese regering wat offerandes op die Tempelberg toelaat, sal nie een wees wat deur sekulêre magte beheer word nie. Dit sal ernstig godsdienstig gemotiveerd wees. Israel is tans besig om te besluit watter soort nasie hulle wil wees. Die feit dat dokters en ander professionele persone openlik daaroor praat om die staat Israel te verlaat, is ’n aanduiding dat hulle die omvang van veranderings verstaan wat besig is om binne hulle land plaas te vind.
Daar is tans binne Israel groepe wat besig is om voor te berei vir die herinstelling van offerandes. Hulle het die nodige materiaal waarmee hulle ’n altaar kan bou, asook klere en gereedskap vir die priesterskap om die offerproses uit te voer. Hulle wag gretig op die beskikbaarheid van ’n rooi vers om geoffer te word vir die reiniging van die priesterskap en diegene wat offer (Númeri 19).
Israel vertoon deesdae ’n skerp kontras van lewensstyle. Hulle huidige stryd is uiteindelik oor watter soort nasie dit sal wees: Wêrelds versus godsdienstig of vrome Bybelse gedrag teenoor postmoderne leefstyle van onbeperkte seksuele en geslagsuitdrukking. Nie een groep aanvaar die ander nie. ’n Konflik is onvermydelik. Hou aan om hierdie tydskrif te lees en na die Tomorrow’s World se TV-uitsendings te kyk om meer te wete te kom oor die Bybel se waarskuwing met betrekking tot gebeure in die Midde-Oosterse nasies en Israel in die besonder.