Die nasie wat die Bybel deur die wêreld versprei het, verwerp nou die God van die Bybel en staar sosiale en morele agteruitgang in die gesig.
Die wêreld is besig om ’n toenemend vyandige plek te word vir diegene wat kies om volgens ’n Bybel-gebaseerde waardestelsel te leef. Baie van hierdie individue mag hulleself dalk “Christelik” noem terwyl hulle identifiseer met baie van die morele waardes wat voorheen as die norm in Westerse nasies beskou was. Brittanje is tog die nasie wat Bybelse moraliteit en die Bybel self na ontelbare kulture regoor die wêreld gebring het – die nasie wie se Britse gemenereg die basis is van die regstelsel van baie moderne samelewings – is ironies genoeg, nou besig om halsoorkop in die teenoorgestelde sosiale en morele rigting te hardloop.
Volgens ’n onlangse verslag deur die Beleidsinstituut van Kings College in Londen, “is Brittanje nou een van die mees sosiaal-liberale lande in die wêreld” (The Times, 7 Maart 2023). In onlangse jare het die nasie ’n massiewe verandering ondergaan wat betref morele waardes wat verband hou met aborsie, buite-egtelike seks, egskeiding en genadedood. Generasie Z (mense tussen die ouderdomme 11-26) handhaaf die mees twyfelagtige waardes van enige ouderdomsgroep. Navorsing toon dat ’n aansienlike deel van Gen Z in Brittanje voel dat “koste-ontduiking op openbare vervoer ... bedrog met belasting ... en mense wat voordele eis waarop hulle nie geregtig was nie, regverdigbaar was”. Lede van die oudste geslagte, dié wat voor 1945 gebore is, het min verander wat betref hulle sosiale en morele waardes alhoewel hulle duidelik nie daarin geslaag het om daardie waardes by hulle kinders in te prent nie. Die ontnugterende vraag is, wat sal gebeur as daardie generasie heeltemal van die toneel verdwyn en jonger generasies die oorhand kry?
Ou waardes vervaag
Hierdie massiewe morele verandering is besig om die Britse samelewing op baie maniere te verander. In ’n onlangse artikel in die Telegraph (18 Julie 2023) het die joernalis Emma Webb opgemerk dat, gebaseer op ’n magdom onlangse geloofsgebaseerde voorvalle, baie mense wat ’n waardestelsel het wat op die Bybel gebaseer is, voel dat Brittanje nie meer ’n plek vir hulle is nie. Sy het die volgende voorbeelde van sulke voorvalle aangehaal:
- ’n Tory-lid van ’n distriksraad wie onlangs die boodskap getwiet het “Trots is nie ’n deug nie, maar ’n sonde”, is uit die raad geskors. Die man het later verduidelik dat “trots” ’n sondige karaktereienskap is, ten spyte van die hedendaagse neiging om Bybelse sondige gedrag van “trots” goed te keur. Sy mede-raadslede was heeltemal onverdraagsaam teenoor sy verskil van hulle standpunt.
- ’n Liefdadigheidswerker is twee keer gearresteer en daarvan aangekla dat sy “protesteer en betrokke is by ’n daad wat vir diensgebruikers intimiderend is” omdat sy buite ’n fasiliteit vir aborsies gebid het (BBC News, 16 Februarie, 2023). Hierdie persoon het niks hardop gesê nie; sy is net waargeneem waar sy met ’n geboë hoof gestaan het, wat gebed voorstel.
- ’n Dokter wat homself ’n Christen noem, is afgedank vir wat genoem is “verkeerde geslag” van pasiënte omdat hy gesê het dat sy gewete geskend is deur hulle op hulle voorkeurgeslag te noem, in teenstelling met hulle Godgegewe geboortegeslag.
- Meer onlangs het The Guardian ’n leier in die Church of England, die Aartsbiskop van York, aangehaal toe hy gerapporteer het dat die “openingswoorde van die Onse Vader wat vir 2,000 jaar deur Christene regoor die wêreld opgesê is, ‘problematies’ mag wees as gevolg van hulle patriargale assosiasie daarvan” (7 Julie 2023).
Een aartsbiskop se ongemak oor Christus se opdrag om tot God die Vader te bid, verteenwoordig nie die perspektief van alle leiers in die Church of England nie, maar dit weerspieël wel die groot sosiale verandering wat binne hierdie nasionale kerk plaasvind – ’n kerk wat geskiedkundig grootliks probeer het om sy morele tradisie aan die Bybelse oorsprong te verbind.
Diegene wie se morele waardes op ’n Bybelse grondslag gebaseer is en wat met die “Christelike” etiket identifiseer, word toenemend uitgesluit en verkleineer of “afgeskryf”, deur dieselfde samelewing wat hierdie morele mislukkings net ’n dekade of wat gelede gekritiseer het. Die Telegraph-opskrif het uitdruklik gelees: “Brittanje is nie ’n land vir Christene nie”.
Leierskap in morele verval
Wanneer ons die wêreld om ons beskou, is dit insiggewend om waar te neem dat die nasies wat leierskap neem in die morele agteruitgang, niemand anders is nie as die hedendaagse Israelitiese nasies van Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde State asook ander Wes-Europese lande soos Frankryk en Swede. (Om meer te leer oor die geskiedkundige verbintenis tussen hierdie nasies en die nasie van antieke Israel, kan u gerus ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aanvra of dit aanlyn lees by wvm.co.za.) Die hedendaagse nasies wie se morele waardes die meeste ooreenstem met die Bybel, is ironies genoeg dié wat die Westerse, sogenaamde Christelike wêreld, geskiedkundig as heidens beskou het – nasies wat Suid-Korea en Iran insluit (The Times, 7 Maart 2023).
Vir mense wat Bybelprofesieë bestudeer behoort die morele agteruitgang en sosiale verval waarvan ons kan getuig in Brittanje en baie ander Westerse nasies nie ’n verrassing te wees nie. Die wyse koning Salomo het gebid terwyl hy die nuutgeboude tempel aan God opgedra het en in hierdie gebed het hy God herhaaldelik gevra om Israel se toekomstige sondes teen God en Sy Gebooie te vergewe (1 Konings 8). Die profeet Hoséa het gewaarsku dat Efraim (dit is die hedendaagse nasies van Britse afkoms) in die toekoms geestelike hoerery teen God sou pleeg (Hoséa 5:3). Hoséa het verder opgemerk dat hierdie mense sou versuim om hulle dade te verander wat hulle verhoed om terug te keer tot hulle God (vers 4). Hierdie volke van Britse afkoms, sou “struikel deur hulle ongeregtigheid” (vers 5) en sou “onegte kinders verwek” (vers 7) wat niks met die God van die Bybel of Sy Wette te doen sou wou hê nie.
Die profeet Jesaja het ook gewaarsku dat “die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ’n dwaalweg gebring ... want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid” (Jesaja 9:15-16). Die profeet Maleági het daarop gewys dat die verantwoordelikheid van God se ware godsdiensleiers “moet kennis bewaar”, nie dit verloor of verwerp nie (Maleági 2:7) – iets wat vandag se sogenaamde Christelike leiers dikwels versuim om te doen. God se ware dienaars behoort mense op Sy heilige Wet te wys en hulle nie daarvan weg te stoot ten gunste van wat sosiaal gerieflik is nie (verse 7-9).
Terwyl ons nadink oor die morele omwenteling in Brittanje en al die ander Westerse, sogenaamde Christelike nasies, behoort ons diep bedroef te wees – maar nie verbaas nie. Die profeet Jeremia was geïnspireer om hierdie hartseer in die boek Klaagliedere te kenne te gee. Christus Self het geweeklaag oor die verwerping deur Sy volk (Matthéüs 23:37). Die Israelitiese nasies se verwerping van God en Sy Wette is lank gelede reeds geprofeteer. Ons sien dit egter op ’n skaal en teen ’n tempo wat ongekend is. Hierdie massiewe morele agteruitgang sal lei tot die verwydering van God se beskerming en Sy seën op hierdie nasies en uiteindelik sal hierdie selfde nasies in geprofeteerde ballingskap gaan as gevolg van hulle sondes.
Hulle straf en gevangenskap sal egter van korte duur wees. Soos hulle hul sondes herken en hulle bekeer, sal God hoor, soos koning Salomo gebid het dat hy dit sou doen. God sal Sy Seun stuur as die Koning van die konings om Sy regering op die aarde te vestig en die Britte te lei – so ook alle volke – terwyl hulle hul na Hom en Sy weë wend. Jesus Christus, die volmaakte leier en hoëpriester, sal kom “wat die reg soek en gou is in geregtigheid” (Jesaja 16:5). Hy en Sy heiliges sal vinnig werk om mense te help om hulle te wend tot gehoorsaamheid aan Sy Wette, wat die sleutel tot ware vryheid is (Jakobus 1:25).
Brittanje verwerp vandag Bybelse waardes en raak onverdraagsaam teenoor diegene wat dit onderhou. Brittanje is nie die enigste nie. Hierdie vyandigheid teenoor Bybelse moraliteit sal egter verander wanneer die Verlosser van die mensdom binnekort terugkeer om Sy Koninkryk op die aarde te vestig. Daardie Koninkryk sal Bybelse moraliteit weer aan die wêreld bekendstel en ’n omgewing skep wat ware Christene hulle tuiste sal kan noem.