Filosowe het al vir duisende jare gevra: “Wat is die doel van die lewe?” U kan die antwoorde in die bladsye van die Skrif vind.
Op 15 November 2022 het die Verenigde Nasies ’n geskiedkundige mylpaal aangekondig: Die wêreldbevolking het 8 miljard mense bereik. Wat hou die toekoms in vir hierdie 8 miljard mense? Hoeveel van hulle het die gesindheid waarna die apostel Paulus spottend verwys het in 1 Korinthiërs 15:32: “... laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!”
Is u een van die miljoene mense wat dink dat die doel van die lewe is om net fisiese plesier te geniet voordat ’n mens sterf en in die vergetelheid verdwyn? Is u net ’n klomp selle wat saamgegooi is deur ’n materiële evolusionêre proses? Evolusioniste sal sê dat die uiteindelike doel van die lewe selfbeskikking, selfbehoud en selfvernuwing is. Die begeerte om te oorleef en om ’n gesin en kinders te hê is deel van die menslike natuur. Is dit egter al wat daar is?
Om die waarheid te sê, daar is nie ’n belangriker vraag as “waarom leef u?” nie. Indien u nie weet waarom u lewe en wat die doel van u lewe is nie, sal dit nie moontlik wees om te weet wat die doel en eindbestemming is en wat vir u voorlê nie.
Duisende jare lank het filosowe al antwoorde aan die hand gedoen op die vraag: “Wat is die doel van die lewe?” Dit is ’n vraag wat almal van ons behoort te kan antwoord. In hierdie artikel sal ons uit die bladsye van u Bybel, die asemrowende en wonderlike doel vir die lewe van die mens bespreek.
Betekenis en doel?
’n Groot deel van vandag se samelewing het ’n evolusionêre wêreldbeskouing aanvaar en baie materialiste en evolusioniste sê daar is geen transendentale doel van die lewe nie. Die bekende Amerikaanse astronoom en kosmoloog Carl Sagan het byvoorbeeld gedink dat mense in die groter prentjie van die heelal byna onbeduidend is. Die ruimteverkenningstuig, Voyager 1 het ’n foto van planeet Aarde in ons sonnestelsel geneem en sedertdien het Carl Sagan, met by betragting van hierdie “ dowwe blou kolletjie” soos hy dit genoem het, ’n treffende opmerking gemaak: “Ons verwaande houdings, ons denkbeeldige self-belangrikheid, grootheidswaan, die dwaling dat ons een of ander bevoorregte posisie in die heelal beklee, word uitgedaag deur hierdie puntjie van dowwe lig. Ons planeet is ’n eensame spikkel wat omhul word in die groot kosmiese donker. In ons nietigheid, in al hierdie uitgestrektheid, is daar geen aanduiding dat hulp van elders sal kom om ons van onsself te red nie” (Pale Blue Dot: A Vision of the Human Future in Space, 1994, bl.7).
Sagan het geskryf dat planeet Aarde ’n “eensame spikkel” in die kosmiese donkerte is. Moet ons dan tot die gevolgtrekking kom dat ons so onbeduidend is om betekenisloos te wees? Waarom bestaan die heelal dan? Het dit geen doel nie? Is die heelal – asook ons rol daarin – betekenisloos? Hierdie ateïstiese filosofie erken dus dat dit nie die vraag, “Wat is die doel en betekenis van die lewe?” kan en sal beantwoord nie.
Die Nobelpryswenner, Sir John Eccles, het aan die ander kant duidelik betekenisvolle betekenis in die skepping gesien. Sir John Eccles was gedurende sy tyd waarskynlik die wêreld se voorste deskundige op die gebied van die verstand en brein. Die waarnemings deur hierdie vooraanstaande wetenskaplike aangaande die betekenis en doel van die lewe is beduidend. Tydens ’n onderhoud gedurende die World Tomorrow se televisie-uitsending in die 1980’s het hy die volgende gesê:
Ek sou sê dat die betekenis is, ons behoort terug te keer na die Skepper … ’n Mens behoort te glo dat daar meer agter dit alles is, vanaf ons bestaan tot wat ons doen en hoe ons leef in wat ek graag wil dink, in ’n onselfsugtige samelewing – waarin ons omgee en lief is vir mekaar, leef vir mekaar, bou aan ’n nuwe samelewing van liefde en inspirasie sowel as toewyding en opoffering – waarin ons so ’n samelewing bou. Ek dink die betekenis van dit alles, is in die gedagtes van die Skepper. U sien ... sodra u weg beweeg van materialisme, het u wonderlike geleenthede. U het materialisme agtergelaat en is nie meer vasgevang in materialisme nie.
Sir John Eccles kon duidelik die kragtige beperkings van materialisme sien. Een definisie van materialisme is “’n teorie dat fisiese materie die enigste of fundamentele werklikheid is en dat alle wesens en prosesse en verskynsels verklaar kan word as manifestasies of die resultate van materie” (Merriam-Webster.com). Fisiese materie is egter nie die enigste werklikheid nie en materialisme kan en sal nie die vraag, “Wat is die doel en betekenis van die lewe?” beantwoord nie. Volgens definisie is dit ’n filosofie van betekenisloosheid.
Die Skepper van die heelal rig ’n ernstige waarskuwing aan ateïste, wat Hy deur die apostel Paulus gegee het:
“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister” (Romeine 1:18-21).
Sommige mense wat die materialistiese wêreldbeskouing aanvaar, erken selfs dat die aanvaarding van die filosofie van betekenisloosheid hulle vryheid gee om alle vorms van onsedelikheid te beoefen! Vir duisende jare het sommige filosowe egter ’n meer transendentale betekenis aan die lewe gegee, selfs al was baie van hulle filosofiese idees onvoldoende en het selfs ernstige foute in die hand gewerk.
Paulus en die filosowe
Die antieke Griekse filosowe het met ’n wye reeks antwoorde op vrae oor die lewe se betekenis en doel vorendag gekom. Die apostel Paulus was baie bekend met hierdie antieke denkrigtings. Hy het Athene omstreeks 50 n.C. besoek: “En sommige van die Epikuréïse en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode – omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?” (Handelinge 17:18-19).
Paulus het toe die Skepper-God wat die wêreld en alles daarin gemaak het aan hulle verkondig. Hy het die fundamentele dog verstommende waarneming gemaak dat “in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag” (vers 28).
“... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons”. Paulus sê vir ons dat ons hele bestaan, innig gekoppel is aan die Skepper-God! Selfs die Griekse digters het geweet ons is God se “nageslag”, Sy kinders. Paulus het geweet dat die mens se lewe geen werklike betekenis of doel kan hê sonder God nie. Ja, ons is geskape om ’n spesiale verhouding met ons Skepper te hê. Dit is die grondslag van ’n betekenisvolle lewe. Die Verlosser, Jesus Christus, het ook hierdie allerhoogste doel in die lewe bevestig. ’n Wetgeleerde het Hom gevra: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:36-40).
Daardie verhouding lei tot ’n verandering – van ’n selfsugtige menslike natuur na ’n liefdevolle geestelike natuur. God wil hê dat ons in Sy onsterflike gesin gebore sal word. Daardie uiteindelike verandering vind plaas by die opstanding uit die dood, soos wat u Bybel verduidelik. Die Verlosser, Jesus Christus, is die “eersgeborene uit die dode” (Openbaring 1:5). Hy is die eersgeborene van baie broeders (Romeine 8:29). God se kinders sal met die opstanding van sterflik tot onsterflik verander word, soos dit in 1 Korinthiërs 15:53 gestel word. Ja, u het ’n geleentheid om aan ’n onsterflike gesin te behoort en deel te wees van God se Regering en Koninklike gesin. Onthou, Jesus het ons geleer: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).
Ja, u Bybel openbaar die ware doel en betekenis van die lewe. Bybelprofesieë skets die toekoms van die wêreld en die toekoms van die mensdom. Daardie toekoms openbaar u doel en betekenis in die lewe. Jesus Christus het gekom met ’n boodskap wat die Evangelie genoem word en wat “goeie nuus” beteken. Daardie boodskap word beklemtoon tydens ’n hemelse aankondiging: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid (Openbaring 11:15).
’n Nuwe era lê voor
Dank God dat Hy ’n plan het om die mensdom van totale uitwissing te red. Ons is op pad na die Derde Wêreldoorlog en Armagéddon indien ons as individue en nasies nie ons lewenswyse verander nie. God beloof dat ná Armagéddon ’n nuwe era sal kom. Daardie nuwe era sal begin met die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde en die vestiging van Sy Koninkryk oor alle nasies. Openbaring 5:10 en Openbaring 20:6 openbaar dat ons roeping en doel in daardie Koninkryk is om as konings en priesters saam met die Koning van die konings, Jesus Christus, te regeer. Wat het God nóg aan getroue Christene beloof? Wat is u bestemming ná die dood? Let op hierna: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 25:34).
Ja, getroue Christene – dit kan u ook insluit – sal die Koninkryk van God beërf. Die profeet Daniël bevestig ook daardie belofte: “... en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (Daniël 7:18). Let op, “tot in alle ewigheid.” Ja, getroue Christene sal die ewige lewe beërwe. Liewe leser, dit is net ’n klein deeltjie van die heerlike bestemming wat God vir Sy getroue mense beplan.
Die wonderlike waarheid is dat u potensiële toekoms groots, manjifiek en baie beter sal wees as wat u uself kan voorstel. Ons kry ’n idee van hierdie plan wanneer ons lees van die geleentheid toe Jesus se moeder en broers vir Hom kom kuier het terwyl Hy met ’n groot groep mense gepraat het.
“En terwyl Hy nog met die skare spreek, staan sy moeder en broers daarbuite en wou graag met Hom praat. Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat. Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder” (Matthéüs 12:46-50).
Sal u u Vader se wil doen? Sal u u bestemming vervul as ’n potensiële lid van Sy gesin?
Die gesin van God
Paulus het die Griekse filosowe in Athene gekonfronteer toe hy verklaar het dat ons doel in die lewe intiem verbind is met die Skepper van hemel en aarde. Hy het gesê: “... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag” (Handelinge 17:28).
Ons het ook Jesus se wonderlike verklaring gesien dat Hy Sy getroue dissipels as Sy gesin beskou! “En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder” (Matthéüs 12:49-50).
Jesus beskryf diegene wat gehoorsaam is aan ons Vader in die hemel, as Sy geestelike gesin. Ja, God nooi u om deel van Sy gesin te wees! Die apostel Paulus skryf dat hy sy knieë voor ons Vader in die hemel buig: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efésiërs 3:14-15).
Ja, God is die Vader na wie die hele gesin in die hemel en op die aarde vernoem is! God is besig om ’n gesin voort te bring. Hy wil hê dat ons vrywillig sal kies om Sy seuns en dogters te word! God wil hê dat ons uit die vleeslike, sondige weë van die wêreld sal kom: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:17-18).
God is liefde (1 Johannes 4:8, 16). Hy het u so lief dat Hy u as Sy seun of dogter wil hê! Onthou wat Jesus ons leer om te bid in die uiteensetting van die model-gebed. Hoe begin u u gebed? “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matthéüs 6:9). Hoe word u ’n seun of dogter van u Vader in die hemel? Ons moet éérs vir God die Almagtige as die Skepper van hemel en aarde erken. Let op hierna in Hebreërs 11, die geloofshoofstuk: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).
Bekering en Doop
Sommige van u wat jarelange lesers van die Wêreld van Môre-tydskrif is, het wonderlike antwoorde op u gebede gekry omdat u uself verootmoedig het deur tot u Vader in die hemel te bid. Daar is egter nog ’n stap wat Jesus duidelik gemaak het toe Hy die Evangelie van die Koninkryk van God verkondig het. Let op: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koningkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).
Jesus het Sy hele gehoor aangemoedig om hulle te bekeer. Wat doen ons wanneer ons tot bekering kom? Ons keer ons rug op sonde, ons hou dus op om God se Wet, die Tien Gebooie, te oortree. Om te bekeer beteken om ons gedagtes te verander en diepe en opregte berou oor ons sondes, gedrag en gesindhede te bely. Ons kan nie net anders dink nie – ons moet ons lewenswyses verander en God se weg volg, in plaas daarvan om die vleeslike weg van selfsug, hebsug, wellus, jaloesie en ander sondes te bewandel.
Onthou dat toe die Nuwe Testamentiese Kerk op Pinksterdag begin het, het die apostel Petrus opdragte aan sy gehoor gegee: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).
Indien u diep berou het oor u sondes en u Jesus Christus as u lewende Verlosser aangeneem het, is dit nodig dat u gedoop word. Indien u verdere raad benodig, ons het verteenwoordigers in baie streke regoor die wêreld. Kontak ons gerus by wvm.co.za of [email protected] of by een van ons streekkantore (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif). Dit is nou die tyd om na God te soek (Jesaja 55:6-7). God sal menigvuldiglik vergewe, soos Hy beloof, indien u Christus se opdragte volg.
Na opregte bekering, geloof en doop gee God die gawe van die Heilige Gees. Dit is die begin van ’n ware geestelike lewe. Ons word die ware erfgename van God, mede-erfgename of gesamentlike erfgename met Christus. Lees dit self in Romeine 8:14-17: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
Ons het reeds ’n vlugtige blik op ons erfenis gekry: Ons sal die aarde beërwe (Matthéüs 5:5), ons sal die Koninkryk beërwe (Matthéüs 25:34; Daniël 7:18) en ons sal die ewige lewe beërwe (Matthéüs 19:29).
Kom ons verstaan – ons is nou erfgename van God, maar ons erfporsie is nog nie beskikbaar nie. Dit vind plaas by die opstanding! As God se verwekte kinders is dit nodig dat ons toeneem in die genade en kennis van Christus (2 Petrus 3:18). Namate ons God se lewenswyse leer en beoefen, groei ons in goddelike natuur en dit neem ’n leeftyd.
Ongelukkig is die wêreld se siening van die toekoms baie beperk en dikwels nie baie bemoedigend nie. Die grootste werklikheid is egter dat God Almagtig is. Ons lees die inspirerende woorde van die apostel Johannes: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar” (Openbaring 19:6). Ja, God regeer oppermagtig en Sy Koninkryk is die gesin van God en die Regering van God.
U kan deel wees van daardie liefdevolle, goddelike, koninklike familie. Die apostel Paulus skryf dat “soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus” (1 Korinthiërs 12:12).
Vervul u doel
Die meeste van die 8 miljard mense wat vandag leef sal hulle eerste geleentheid vir redding kry tydens die komende Wit Troon Oordeel ná die Millennium. Jarelange lesers van die Wêreld van Môre-tydskrif het al gelees van God se plan vir die hele mensdom. Die meeste mense in hierdie huidige tydperk leef en sterf sonder dat hulle ’n werklike geleentheid gehad het om Christus se Naam en boodskap te hoor, maar ’n regverdige en liefdevolle God sal hulle nie sonder hoop laat nie.
God roep egter vandag net ’n handjievol mense om Sy eerstelinge te wees. Indien God u roep, moet asseblief nie Sy roepstem weerstaan om ’n lid van daardie liggaam, die ware Kerk van God, te word nie. Ten spyte van soveel godsdienstige verwarring in die wêreld rondom ons, het ons God se versekering dat Sy Kerk nie tot niet sal gaan nie. Jesus beloof: “... sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéüs 16:18). Waarlik, Sy Kerk sal nie uitsterf nie.
Een doel van Sy Kerk is om gelowiges bymekaar te kry om te aanbid op Sy voorgeskrewe dag van aanbidding, die sewendedag Sabbat. Daar word aan ons gesê: “... en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).
Die Tomorrow’s World Presentations word deur ons geborg. Dit help ons om op verskeie plekke regoor die wêreld die breër publiek aan God se Kerk bekend te stel. Indien u ’n intekenaar van die Wêreld van Môre-tydskrif is, sal u ’n uitnodiging na enige aanbieding in u omgewing ontvang. Indien u self ’n aanbieding wil vind – dalk naby ’n vriend of familielid – kan u na die TomorrowsWorld.org-webwerf gaan en op “Presentations” klik om ’n lys van stede en datums van komende aanbiedings te sien. Ek en my mede-aanbieders van Tomorrow’s World-uitsendings op televisie, is sprekers by sommige aanbiedings en daar is baie ander aanbiedings wat deur ons mede-leraars van die Lewende Kerk van God aangebied word.
Namate u en u gesin met liefdevolle en getroue Christene byeenkom, sal u geestelik groei in God se liefde. Ons tieners geniet die jaarlikse Lewende Kerk se jeugkampe, waar hulle deelneem aan sport en ander buitelug-aktiwiteite. Daar word ook besprekings oor Christelike lewenswyses aangebied wat hulle aanmoedig om self die waardes van ’n vol en gelukkige lewe te ervaar wat ’n leeftyd en langer sal voortduur. Lede van die Lewende Kerk van God woon die agt dae lange jaarlikse Huttefees by op verskeie plekke regoor die wêreld. Hulle berei voor vir die wêreld van môre, wanneer alle nasies God se Bybelse Feeste sal onderhou (Sagaría 14:16).
Daar is ’n rede waarom u leef. God berei ’n glorieryke toekoms vir u en u gesin voor indien u Hom met u hele hart soek (Jesaja 55:6-7). Die Verlosser, Jesus Christus, verklaar ons doel in die lewe: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).