“This Is My Father’s World” is ’n gewilde lied wat geskryf is deur Maltbie Davenport Babcock en is die eerste keer gepubliseer in 1901. Daar is min twyfel dat dit uit ’n hart vol dankbaarheid gekom het oor die skoonheid wat hy tydens sy wandelings gesien het langs die Niagara Platorand en op die oewers van Lake Ontario in die deelstaat New York. Ongeag of dit nou deur kinders sonder begeleiding gesing word of deur meer afgeronde stemme met begeleide instrumente, dit het ’n boeiende melodie met woorde wat God se glorieryke skepping verklaar.
Wie kan frases verwerp soos: “I rest me in the thought of rocks and trees, of skies and seas – His hand the wonders wrought”? Or, “And to my listening ears all nature sings, and round me rings the music of the spheres”? Koning Dawid van Israel het soortgelyke gedagtes gedeel toe hy geskryf het: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande ... en daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem” (Psalm 19:2, 4).
Nog nooit in die geskiedenis van die mens het ons so min verskoning gehad om nie in ’n Goddelike Skepper te glo nie. Ons kan nou verder in die heelal insien as wat ons ons ooit voorheen kon voorstel en ons kan ook ’n mikroskoop gebruik om die ingewikkeldheid van die kleinste van lewenstrukture te bekyk. Ons kan in die dieptes van die see duik om vreemde en wonderlike wesens te ontdek. Gedurende die afgelope honderd jaar het ons ’n wêreld van wonders verken wat totaal onbekend was aan vorige generasies – voëls, insekte, visse, amfibieë en primate.
Dit lyk asof daar geen einde is aan die skeppings van God wat ons in prag en lewendige kleur op ons televisieskerms kan sien nie. Elke dokumentêr oor die natuur gee nogtans krediet aan ’n blinde evolusionêre proses. Mikro-evolusie is beslis aan die werk. Nuwe honderasse word byvoorbeeld voortdurend geteel, maar hulle bly steeds honde. Dieselfde kan gesê word van katte, beeste, visse en voëls – nuwe rasse, maar wel van dieselfde soort. Die gaping tussen dooie grond en aktiewe lewe is so groot dat dit wiskundig en logisties onmoontlik is om te oorbrug. Lewe is oneindig meer ingewikkeld as wat die wetenskap vantevore gedink het en mense wat eerlik oor die feite is moet dit aan hulleself erken óf aanhou om verblind te word deur ’n irrasionele, anti-God ideologie.
Babcock het na die wêreld gekyk soos hy dit in die natuur gesien het. Hy was nie bewus daarvan dat daar probleme was nie: “Ag, laat ek nooit vergeet dat al lyk die verkeerde dikwels so sterk, God is tog die heerser”. “Oh, let me ne’er forget that though the wrong scenes oft so strong, God is the ruler yet. Ons stem verseker daarmee saam – God is die uiteindelike heerser van die heelal.
Wat is die probleem?
Elke strofe van Babcock se loflied begin met: “This Is My Father’s World”. Aan die een kant was hy reg – God het hierdie planeet en al die wonderlike wesens daarin geskape. Hy is geheel en al in beheer. Aan die ander kant egter verbloem hierdie idee ’n belangrike waarheid wat die meeste mense nie raaksien nie – selfs diegene wat hulleself “Christene” noem. Daardie waarheid is dat Satan die duiwel, tans die heerser van hierdie wêreld is.
Asseblief, moenie my woord daarvoor neem sonder om dit aan uself te bewys nie. Slaan dit in u Bybel na en lees hoe Jesus drie keer na Sy teenstander verwys as “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Hierdie waarheid word verder deur die apostel Paulus bevestig: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).
Paulus het van Satan geskryf op ’n manier wat ’n ernstige waarskuwing vir ons almal behoort te wees en beskryf die Efésiërs se vorige gedrag as volg: “... waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees” (Efésiërs 2:2-3). Ja, die duiwel het waarlik die hele wêreld verlei [mislei] (Openbaring 12:9). Dit is tans sy wêreld. Dit verklaar waarom ons deur die geskiedenis heen so baie probleme sien en waarom ons deesdae nie nader aan vrede is as wat ons duisende jare gelede was nie. Ons het hierdie waarheid meer as een keer aan Wêreld van Môre-intekenaars uitgewys – dus, wat is die punt? Waarom is dit so belangrik?
Daar is min terreine in die lewe wat die gang van ons wêreld beter aandui as hoe ons onsself vermaak. Neem as voorbeeld die uiters gewilde Barbie-rolprent wat die afgelope jaar meer as ’n miljard dollar se loketverkope gedurende die eerste drie weke na sy vrystelling, ingesamel het. Dit was egter beswaarlik ’n onskadelike ontsnapping in fantasie. Soos baie beoordelaars agtergekom het, was die agenda daaragter, daarop gemik om die unieke Bybelse rolle wat aan mans en vrouens gegee is, te verslaan.
Agendas was nog altyd aan die orde van die dag in vermaaklikheid. Ek het grootgeword en het na Popeye the Sailor-spotprente gekyk sonder dat ek op ’n jong ouderdom geweet het dat dit boodskappe vir reklame bevat om kinders, veral seuns wat groot spiere wou bou, meer spinasie te laat eet. Tabakmaatskappye het hulle produkte geskenk of vir die plasing daarvan betaal sodat miljoene kykers deftige en gesofistikeerde akteurs en aktrises op kamera sou sien rook. Miljoene mense is beïndruk deur hierdie beeld en miljoene mense het aan hartsiektes, COPD, longkanker en ander siektes as gevolg daarvan gesterf. “Realiteits”-programme is niks meer as advertensies vir produkte en vir “lewenswyses” wat onlangs nog ongekend was.
Volwassenes kan dit dalk agterkom, hoewel baie mense klaarblyklik oorreed word deur die nie-altyd-so-subtiele aanslae nie. Wat dan van ons kinders en kleinkinders? Besef hulle dat volwassenes – wat self deur die geestelike heerser van hierdie wêreld mislei is – besig is om hulle ontvanklike denke te vorm en daardeur verskeie anti-Bybelse agendas daarin laat posvat?
Die “owerste van die mag van die lug” wat vir God en Sy instelling van die gesin haat, sit agter al hierdie dinge. Slegs enkele mense erken dat Satan die verloop en die lewensweg van menslike kultuur en neigings bestuur het. Dink aan hoe suksesvol hy was om tatoeëermerke te bevorder in die gedagtes van diegene wat sy propaganda aanvaar. Dít in teenstelling met God se uitdruklike verbod (Levítikus 19:28). Hoeveel mense verstaan dit en neem besluite daarvolgens?
Indien God almagtig is ...
Dit is duidelik dat groot gevare wat in ons kultuur voorkom afkomstig is van die vermaak wat anti-God-agendas bevorder soos byvoorbeeld bloederige en seksuele videospeletjies, pornografie, politiek en soveel ander aspekte van “volgens die loop van hierdie wêreld” wat gedryf word deur “die owerste van die mag van die lug van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Indien God almagtig is, waarom laat Hy toe dat hierdie rebelse wese die wêreld na die verderf lei? Waarom keer Hy hom nie? Die antwoord word gevind indien ons verstaan wat God se algehele doel vir die mens is wat Hy openbaar in die eerste hoofstukke van die Bybel.
Die mens is nie soos enige dier gemaak nie. Dit is God se doel om die mens na Sy beeld, na Sy gelykenis te maak (Génesis 1:26-27). Ons is gemaak om as Sy kinders in Sy gesin gebore te word (Romeine 8:12-17; Hebreërs 2:12-18; 2 Korinthiërs 6:16-18). Adam en Eva het egter God se opdrag verwerp oor hoe om te leef en met die duiwel se aanmoediging het hulle self besluit wat reg en verkeerd is. God het hulle gewaarsku om dit nie te doen nie, maar God het aan hulle vrye teuels gegee om presies nét dít te doen en Hy gee tot vandag toe dieselfde morele vryheid aan alle mense. Ons wil óns sin hê en in werklikheid sê God in reaksie daarop: Ek sal jou nie keer nie – maar verstaan dat daar gevolge sal wees.
God toets ons almal om te sien watter weg ons sal kies. Ons moet leer om die verkeerde te weerstaan en te kies wat rég is. Sodoende word ’n heilige en regverdige karakter in ons gebou. Die tyd raak egter min vir die mensdom se eksperiment wat betref selfbestuur.
Jesus profeteer dat die verloop van hierdie wêreld wat aan onsself oorgelaat is, tot menslike uitwissing sal lei (Matthéüs 24:21-22). Slegs op die laaste oomblik sal God intree om die mensdom se waansin te beëindig. Eers na Christus se Wederkoms sal ons met reg kan sing: “Dit is my Vader se wêreld; hoekom moet my hart hartseer wees? Die Here is Koning; laat die hemel juig! God regeer; laat die aarde bly wees!”