Sewentig jaar gelede het die geskiedskrywer Isaiah Berlin ’n verhandeling gepubliseer met die titel “The Hedgehog and the Fox”, wat uitbrei oor ’n gesegde wat deur die antieke Griekse digter Archilochus geskep is, dat “die jakkals baie dinge weet, maar die krimpvarkie weet een groot ding”. In sy 2001-boek Good to Great, het die sake-ontleder Jim Collins hierdie konsep gebruik om te verduidelik waarom sommige besighede uitstekend vaar terwyl ander bloot net goed is.

Collins het bevind dat werklike groot maatskappye ’n konsep gevind het waarvolgens hulle hul maatskappy georganiseer het – wat hy ’n “krimpvarkie”-konsep genoem het. ’n Besigheid sou weet dat hy sy krimpvarkie-konsep ontdek het toe leiers dieselfde antwoord op drie vrae kon gee: Waaroor is u baie passievol? Waarin kan u die beste in die wêreld wees? Wat dryf u ekonomiese enjin waarmee u ’n inkomste kan verdien?

Collins het ook besef dat sy drie vrae op ons persoonlike lewens van toepassing kan wees – indien ons hierdie vrae verpersoonlik, kan dit aan ons persoonlike rigting gee. Wat Collins heel waarskynlik nie besef het nie, is dat sy vrae deur Bybelse beginsels ondersteun word. Terwyl twee van my seuns begin het om volwassenheid te bereikbaar, het hierdie “krimpvarkie”-vrae hulle gelei op die pad van voorbereiding vir hulle toekoms.

Wanneer ons ons kinders help oorweeg watter rigting om in te slaan wanneer hulle ons sorg verlaat, kan hierdie drie vrae leiding verskaf. Dit kan veral belangrik wees wanneer hulle hul hoërskool opleiding voltooi en oorweging skenk aan wat die volgende stappe is om in die lewe te neem.

 

Drie vrae om die toekoms te evalueer

Die eerste vraag vra ons om op ons persoonlike neigings te fokus. Van watter skoolvakke hou u kind nie en van watter vakke wel? Die Skrif spoor ons aan: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag” (Prediker 9:10). Dit is waar, ongeag die taak, maar dit word makliker gemaak wanneer ons die werk geniet. Terwyl ek op skool was, was wiskunde en geskiedenis twee van my beter vakke. Ek het egter nooit regtig wiskunde in dieselfde mate geniet soos geskiedenis nie. Ek het wiskunde waardeer omdat ek goed daarmee was en verstaan het hoe dit werk, maar ek het nooit gevind dat ek meer daaroor wou leer as wat vereis word nie. Geskiedenis aan die ander kant, was iets waarin ek eindeloos verdiep kon raak – ek kon verskeie klasse neem en het dit geniet om meer te leer. My besluit om ’n onderwyser te word, was ’n maklike keuse om my passie te volg. Vir u kind kan die opstel van ’n lys van vakke en aktiwiteite waarvan hulle hou, nuttig wees om hierdie eerste vraag te beantwoord.

Die tweede vraag fokus op talent. Waarmee het u kinders bewys dat hulle goed is? Net so belangrik, is dit om te weet waarmee sukkel hulle? Ons lees: “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk – hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie” (Spreuke 22:29). Dit is lonend om ’n werk te doen wat ons goed kan doen. Akademiese vakke kan weer ’n goeie beginpunt vir hierdie vraag wees. Ek sukkel met vreemde tale en ek voel hoe my bloeddruk styg wanneer ek bloed sien – om dus ’n vertaler of ’n dokter te wees, sou nie vir my ’n goeie keuse gewees het nie. Buiten akademie, is daar ook ander areas van talent wat oorweeg behoort te word. Het u kind ’n talent vir praktiese werk? Diegene wat talente vir ambagte het, kan dikwels goed betalende werke kry wat nie vereis dat hulle studielenings aangaan nie. Talent kan ook kunstige- en sportvaardighede insluit. Terwyl u kinders ’n lys van talente opstel, sal sommige items hopelik dieselfde wees as hulle antwoorde op die eerste vraag. Dit kan baie nuttig wees om te bepaal waarvan hulle hou en waarmee hulle goed is.

Ten slotte, wat kan u kinders doen wat hulle sal help om geld te verdien? Terwyl die Bybel ernstig waarsku teen die ontwikkeling van ’n liefde vir geld, moet mans gemotiveer word om vir hulle eie huishoudings te voorsien (1 Timótheüs 6:10; 5:8). Christelike mans wat versuim om dit te doen, benadeel nie net hulle eie reputasie nie, maar dié van Christene in die algemeen. Ingeval u kind ’n paar onuitvoerbare voorstelle op die eerste twee vrae het help hierdie derde vraag wanneer dinge nou regtig ernstig raak. Hoeveel tieners glo hulle het ’n passie sowel as ’n talent om videospeletjies te speel? Selfs al ís dit waar, is dit baie onwaarskynlik dat ’n mens ’n bestaan daaruit kan maak. In plaas daarvan behoort jong mans aangemoedig te word om werk te kry wat ’n vaste inkomste bied om hulleself en hulle gesinne te onderhou. (Vir meer oor hoe ons ons kinders kan leer om die rolle wat God vir hulle ontwerp het, te aanvaar kan u ons Januarie 2021-artikel “Teaching Kids True Masculinity and Femininity” lees, wat beskikbaar is by Tomorrow’sWorld.org.) Die reeks poste wat ’n inkomste kan verskaf is redelik omvangryk, so dit is dalk die beste om bloot u kind se eerste twee lyste te hersien en te kyk of hierdie vraag enige kandidate uitskakel.

Deur hierdie vrae te beantwoord, behoort u kinders in staat te wees om ’n kortlys van goeie beroepe te identifiseer waarin hulle kan uitblink en ’n betroubare inkomste kan verdien. Antwoorde op hierdie vrae kan met verloop van tyd verander, dus kan dit veral nuttig wees om dit te hersien namate hulle die einde van hulle hoërskool nader. Nadat hulle graad twaalf voltooi het, kom jongmense gewoonlik te staan voor die opsies om die arbeidsmag te betree, na ’n handelskool te gaan of ’n kollege of universiteit by te woon. Deur na te dink oor hoe hulle die “krimpvarkie”-vrae beantwoord het, kan hulle ’n beter keuse maak.

 

Een allerbelangrike oorweging

Daar is beslis ander elemente om te oorweeg. Die arbeidsmag verander voortdurend as gevolg van al hoe meer werksgeleenthede wat geoutomatiseer óf uitgedien raak. Dit kan beteken dat jongmense behoort te fokus op vaardighede wat maklik van een werk na ’n ander oorgedra kan word. Hierdie vaardighede kan so eenvoudig wees soos om met ander mense oor die weg te kom (om goeie “menseverhoudings” te hê), gefokus te bly op take en instruksies te volg. Hulle behoort bloot ontvanklik te wees om reggehelp te word want dit is ’n groot voordeel in die werkplek. Ideaal gesproke sal jongmense ook beroepe teiken wat nie gou geoutomatiseer of uitgefaseer sal word nie. Dit beklemtoon weereens hoe waardevol handelskole vir jongmense met daardie talente kan wees!

Die belangrikste oorweging is dat die werk hulle nie behoort aan te moedig om God se Gebooie te oortree nie. Hulle het dalk werk gekry waarvan hulle hou en waarin hulle vaardig is en wat ’n inkomste kan genereer, maar sal veroorsaak dat hulle ’n Gebod van God verbreek. Terwyl die meeste beroepe nie werknemers soek wat moor of steel nie, sal sommige werkgewers eis dat hulle werknemers die Vierde Gebod verbreek deur op die sewendedag Sabbat te werk. Dit kan ’n ernstige uitdaging wees vir diegene wat reeds in diens is en wil begin om die Gebooie te onderhou. Jongmense het egter die geleentheid om loopbane te teiken waar hulle al God se Gebooie kan onderhou, met inbegrip van die opdrag om op die Sabbatdag te rus. (Vir meer inligting oor die Christelike Sabbat, kan u ’n gratis eksemplaat van Watter Dag Is die Christelike Sabbat? aanvra of lees dit aanlyn by wvm.co.za.)

Alle goeie ouers wil hê dat hulle kinders suksesvol sal wees as volwassenes. Ek hoop beslis om my kinders te help om beroepe te vind wat hulle bevredigend vind en wat hulle sal toelaat om hulleself te onderhou terwyl hulle God se Gebooie onderhou. Collins se “krimpvarkie-konsep” kan ’n nuttige hulpmiddel wees om jongmense te help fokus op loopbane waarin hulle suksesvol kan wees. Ons kinders het dalk ’n verskeidenheid passies en talente, maar as ouers kan ons saam met hulle werk sodat hulle antwoorde op hierdie “krimpvarkie”-vrae hulle kan help om suksesvol te wees terwyl hulle volwassenheid bereik.