Ek onthou toe ek ’n verbysterende verskynsel gesien het toe ek nog ’n tiener was in die middel-1970’s. Gary Dahl, ’n ondernemende Kaliforniese advertensieman, het wat hy “die perfekte troeteldier” genoem het – die Pet Rock – bemark en verkoop. Dit was verpak in ’n klein kartonhouertjie wat met “asemhalingsgaatjies” geperforeer was en binne-in was ’n gewone klip wat in strooi gelê het. Elkeen het ’n “geboortesertifikaat” vir die klip gehad, sowel as ’n opleidingshandleiding – The Care and Training of Your Pet Rock – instruksies hoe om die klip te leer om te “bly” of “om te rol” of “dood te speel”. Pet Rocks het in die laaste paar maande van 1975 baie gewild geraak wat Gary Dahl ’n miljoenêr gemaak het, maar die gier het aan die begin van 1976 afgeneem, toe verkope drasties gedaal het.

Dit is die verloop van ’n gier, wat Merriam-Webster.com definieer as “’n praktyk of belangstelling wat vir ’n tyd lank met oordrewe ywer gevolg word”. Hierdie definisie beskryf baie ander praktyke akkuraat wat op ’n golf van gewildheid ry, maar uiteindelik momentum verloor. Die waarheid is dat giere gereeld voorkom. So moeilik as wat dit is om te glo, is daar tans gewilde vermaaklikheidskunstenaars, modeneigings en televisieprogramme wat alles binnekort uit die mode sal wees. Destyds toe Pet Rocks te koop was het ek vierduim hoë platformskoene en ’n poliëster ontspanningsdrag met ’n goue ketting om my nek gedra – ek kan u verseker dat ek nie meer sulke klere dra nie!

Nog ’n kenmerk van giere is dat sommige daarvan, soos Pet Rocks en ontspanningsdrag, geen blywende negatiewe gevolge in die algemeen het nie. Ongelukkig het sommige giere egter wel langtermyn gevolge wat vir die res van ons lewens by ons kan bly, selfs blywende berou bring, veral vir diegene wat die meerderheid gevolg het.

Oorweeg die moderne oplewing in belangstelling in die antieke praktyk van tatoeëering. Vir baie jare het tatoeëering ’n negatiewe stigma gehad, aangesien dit oor die algemeen met matrose, motorfietsryers en bendelede geassosieer is. Volgens ’n onlangse 2021-opname, het meer as een uit elke vier volwassenes in die Verenigde State (26 persent) ten minste een tatoeëermerk en 17 persent van hulle het veelvuldige tatoeëermerke. Dit is ’n skerp toename van die 14 persent mense wat in 2008 gerapporteer het dat hulle ’n tatoeëermerk het (Statista.com, September 2021; The Harris Poll, 23 Februarie 2012).

“Tatoeëering” het so alledaags geword dat dit nie ongewoon is om oumas te sien met tatoeëermerke nie! In plaas van subtiele, maklik weggesteekte merke, maak baie mense vandag verskeie afsprake na die salon om groot dele van hulle liggame met ingewikkelde en komplekse “liggaamskuns” te bedek. Dit is veelseggend dat daar selfs ’n toenemende industrie ontwikkel het vir die verwydering van tatoeëermerke. Hulle het ’n inkomste van meer as $4 miljard behaal in 2021. Dit behoort ons te laat dink voordat ons ons laat tatoeëer!

 

Maak u u eie merk?

Die merk van die vel is in baie verskillende beskawings beoefen, wat ten minste so ver teruggaan as 3000 v.C. Mense se redes om tatoeëermerke te kry blyk net so uiteenlopend soos hulle kulture te wees, as maniere “om beskermende of terapeutiese simbole op die liggaam te plaas, as ’n manier om mense te identifiseer in toepaslike sosiale, politieke of godsdienstige groepe of bloot as ’n vorm van selfuitdrukking of modeverklaring” (“Tattoos: The Ancient and Mysterious History,” Smithsonian.com, 1 Januarie 2007).

Volgens ’n November 2020-artikel van AuthorityTattoo.com kry baie mense deesdae tatoeëermerke om gebeurtenisse of mense in hulle lewens te onthou, om individualiteit uit te druk, “omdat hulle cool lyk”, of as ’n daad van rebellie. Daar bly inderdaad ’n element van kulturele opstandigheid wat met tatoeëermerke geassosieer word. Dieselfde artikel sê: “Mense kry dikwels tatoeëermerke om kulturele norms, gesinsverwagtings teë te gaan of om die grense van die gemeenskap te toets” en erken dat “rebelse tatoeëermerke dikwels berou kan word, soms maande of jare na die aanvanklike tatoeëering”.

Ware Christene word geïdentifiseer deur die ewige Gees van God wat in hulle woon, wat toelaat dat die gehoorsame, getroue lewe van Jesus Christus in hulle alledaagse gedrag en keuses uitgevoer word. Selfs godsdienstige tatoeëermerke is nie die kenmerke van Christenskap nie. Dit is eerder die gehoorsame geloof van Jesus Christus wat ’n ware Christen identifiseer.

Hierdie bevindings lei tot ’n belangrike persoonlike vraag vir diegene wat tatoeëering oorweeg om die vel te kleur: “Wat is my motivering?” Mense is baie goed om hulle begeertes te rasionaliseer en hulle kom met baie redes vorendag waarom hulle tatoeëermerke wil hê. Is hulle begeertes werklik hulle eie of gee hulle toe aan groepsdruk om “in te pas” by die groep of om “cool te wees” deur ’n tatoeëermerk te hê?

Die tatoeëerkunstenaar Song Jiayin van Beijing is baie op die man af deur te verduidelik waarom mense regoor die wêreld tatoeëermerke het: “Wanneer u kies om getatoeëer te word en ’n ander beeld kies om op u liggaam te plaas, neem u eintlik aksie om te sê: ‘Ek beheer my liggaam, my liggaam is anders as ander mense s’n’” (“I control my body: Tattoos as an act of empowerment in China,” South China Morning Post, YouTube.com, 3 Maart 2023).

Ja, tatoeëermerke is ’n kragtige persoonlike stelling en dit verkondig ’n houding van “ek eerste” wat nie skroom om vir almal te wys dat hy nie omgee wat enigiemand van hom dink nie en om sy eie trots in sy of haar eie liggaam te vertoon nie. Vir diegene wat God volg, is die benadering van “om myself eerste te stel” presies die teenoorgestelde van die uitreikende besorgdheid oor ander mense wat God se liefde definieer. Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie” (1 Korinthiërs 13:4-5). Daardie soort liefde word nie deur ’n tatoeëermerk vertoon nie.

Dit is nie net ’n Nuwe-Testamentiese perspektief nie. Lank gelede het God sy volk beveel: “Julle mag ... geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Levítikus 19:28). As die ontwerper van die menslike liggaam het God dit as “baie goed” verkondig nadat Hy man en vrou geskape het – sonder tatoeëermerke (Génesis 1:31).

 

Meer as vel-diep

Jare gelede het ’n man na my gekom en in trane sy berou beskryf oor die tatoeëermerke wat albei sy arms bedek het. Hy het ’n langmou hemp gedra, skaam om my te wys wat hy die “bose” merke genoem het wat hy eens gedink het is “pragtig”. Hy was aansienlik jonger toe hy sy tatoeëermerke gekry het en het onlangs van opinie verander. Hy het die dienste van tatoeëerverwydering ondersoek, maar die koste sou duisende dollars beloop en nie heeltemal doeltreffend wees nie. Hierdie dilemma was die rede vir sy trane.

Baie mense wat tatoeëermerke kry wanneer hulle jonk is, vind later uit dat hulle nie so maklik ’n goeie werk kan kry nie, aangesien baie werkgewers steeds nie werknemers met ooglopende tatoeëermerke wil aanstel nie. Sommige mense kan wel die koste en die pyn van verwydering van tatoeëermerke bekostig, maar ander mense het geen ander keuse as om saam te leef met die sigbare bewyse van ’n besluit waaroor hulle berou het nie. Hoe dit ook al sy, hulle wens later dat hulle die gevolge noukeuriger in ag geneem het.

Baie van u wat hierdie artikel lees, is dalk reeds getatoeëer en dit is beslis nie ’n poging om u skaam te maak nie – nie een van ons kan ons verlede verander nie en indien u wel tatoeëermerke het, is dit nie noodsaaklik dat u dit laat verwyder nie. God is genadig en vergewensgesind en sal nie enige van u tatoeëermerke teen u hou indien u opreg om vergifnis vra en bloot die regte besluite in die toekoms neem nie. Ongeag of u jammer is oor u tatoeëermerke of nog nooit enige gehad het nie, kan u toekomstige berou vermy deur verby die huidige gewildheid van ’n gier te kyk en die toekoms in gedagte hou. “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3).