Waarom weerspieël die samelewing toenemend die teenoorgestelde van die Bybel se beroemde opdrag?
Het u die verandering opgemerk? Het u dalk gewonder of dit dalk net u verbeelding is? Na aanleiding van studies is daar tot die gevolgtrekking gekom dat u u nié verbeel nie: Mense is regtig besig om mekaar te haat.
Natuurlik bestaan politieke verskille al so lank as wat politiek bestaan. Dit is dus nie ongewoon dat daardie politieke verskille ’n bron van woede en pyn, selfs tussen naaste familielede en vriende kan word nie.
Dit is egter asof iets verander het – soos ’n skakelaar wat skielik aangeskakel is. Diegene aan die “ander kant” van die politiek lyk nou méér soos teenstanders wat verslaan behoort te word – hulle lyk asof hulle vyande is wat gehaat behoort te word. Die gesindheid is nie beperk net tot politiek nie.
Video-grepe op sosiale media-plasings dokumenteer ons agteruitgang wat betref minagting en onverdraagsaamheid vir mekaar: ’n Kliënt van ’n lugdiens wat ’n beampte by ’n hek slaan; aanrandings in ons skole – student teen student en student teen onderwyser; kliënte in koffiewinkels wat volkome vreemdelinge konfronteer, omdat hulle te na gekom voel deur die slagspreuke op die ander se klere; TikTok-“sterre” wat niksvermoedende slagoffers traumatiseer in ’n poging om likes en volgelinge te werf; kelners en kelnerinne wat met minagting behandel word; “padwoede” op ons snelweë wat lei tot gevaarlike konfrontasies en selfs sterftes.
Die meeste van ons kan sien dat die neiging om te haat ’n realiteit is en dat dit diep kommerwekkend is. Waarom gebeur dit dan? Waarom raak so baie van ons sogenaamde “beskawing” so onbeskaafd en word dit oorheers deur ’n kultuur van haat en minagting vir ons medemens?
Behoort ons ons leiers te blameer?
Dit sou maklik wees om ons leiers te blameer en vir baie van hulle is uitdrukkings van haat en minagting inderdaad die kenmerk van hedendaagse politiek.
Negatiewe veldtogte is deel van die Amerikaanse politiek, byna so lank as wat daar politiek in Amerika is. Dit lyk egter of die venynigheid gedurende die afgelope jare toegeneem het en kandidate val nou die kiesers aan, nie net mekaar nie. Haatdraendheid is aan die lig gebring en aangehits toe die destydse senator Barack Obama, wat in 2008 as president verkiesbaar was, gekla het oor die “bitter” Amerikaners wat vir sy opponente gestem het en gesê het dat hulle “aan gewere of godsdiens vasklou of gekant is teen mense wat nie soos hulle is nie”. Hillary Clinton, sy opvolger, het haarself as presidentskandidaat verkiesbaar gestel en sy het miljoene mense woedend gemaak deur te betreur wat sy die “mandjie van betreurenswaardige kiesers” genoem het wat haar teenstander ondersteun het. Op haar beurt het sy daardie verkiesing verloor teen ’n kandidaat, Donald Trump. Hy bly die koning van die skoolseunagtige belediging en openbare minagting met die “gawe” en vermoë om onvergeetlike en spottende frases uit te buit om diegene wat hom sou teëstaan, te verkleineer. Die huidige V.S.-president, Joe Biden, het ’n groot deel van sy nasie se bevolking as “MAGA Republicans” [Make America great again] bestempel. Hy noem hulle in die openbaar ’n gevaarlike bedreiging vir demokrasie.
Dit is moeilik om meer minagtend te raak as om te beweer dat die ander party se ondersteuners op niks minder gefokus is as die vernietiging van die nasie nie. Sulke aansprake is nogtans nou die norm in die Amerikaanse politiek, met diegene aan weerskante van elke hoof-ideologiese siening wat diegene wat van hulle verskil, behandel as verraaiers wat niks anders as minagting werd is nie – feitlik onmenslik.
Desondanks word die meeste van die Westerse nasies gelei deur verteenwoordigende regerings, waar die leiers die steun en stemme van die publiek moet kry om in die amp aan te bly. Ja, die leiers beïnvloed hulle mense, maar hulle verkry en behou die vermoë om daardie invloed te hê deur aan mense te gee wat hulle wil hê.
Arthur Brooks, die voormalige president van die American Enterprise Institute, het ’n opmerking gemaak oor hierdie verskynsel in ’n onderhoud met Judy Woodruff van die PBS [Public Broadcasting Service]. NewsHour: “In ’n demokratiese samelewing, in ’n kapitalistiese kultuur, is ons leiers eintlik volgelinge. Hulle neig daartoe om die gevolg te wees, nie die oorsaak, van ons dade nie ... Hulle beïnvloed ons beslis en hulle beïnvloed ons kultuur. Wat egter in demokratiese samelewings en met demokratiese verkiesings gebeur, is dat leiers ’n parade in die straat sien afstap, hulle spring dan voor in om die leier te word”.
Is Brooks reg? Dink aan hoeveel mense kla oor “aanvallende advertensies” teen ander politici maar vra dan egter: Sou ons so baie daarvan sien indien dit nie gewerk het nie?
Die situasie word nie aangehelp deur wat Brooks in sy boek Love Your Enemies die “beledigende ingewikkeldheid” noem nie. Dit is saamgestel uit moderne media-kanale wat “hulle gehore boei met minagting deur aan hulle gehore te vertel wat hulle wíl hoor, ’n relaas van konflik te “verkoop” en growwe karikature van die ander party te skilder. Hulle laat ’n mens voel asof ons eie oortuigings geregverdig is terwyl ons ons ergste aannames bevestig aangaande diegene wat nie met ons saamstem nie, naamlik dat hulle in werklikheid dom en boos is en dat dit nie die moeite werd is om ’n mens aan hulle te steur nie” (bl. 29).
Natuurlik sou hatigheid nie goeie besigheid wees vir media-magnate of grootmond politici indien dit nie vir ons so goed gevoel het nie – dit voel wel goed vir so baie mense. Waarom dan?
Wat is dit in ons kultuur wat ons tot ’n punt gebring het waar so baie van ons soveel bevrediging daaruit put om diegene wat nie met ons saamstem nie of ons ongemaklik maak, as voorwerpe van minagting te beskou, selfs minder as menslik – of ten minste minder menslik as wat ons is?
Jesus Christus verwys na ’n antwoord wat min mense verwag om te hoor en min navorsers sal die moeite doen om dit te ondersoek.
Sulke tye was voorspel
In Sy bekende Olyfbergprofesie, wat oor die algemeen verkeerd verstaan word, verbind Christus ons wêreld se haatlike, minagtende gesindheid direk met die gebrek aan afwesigheid van God se Wet. Jesus het Sy dissipels gewys na die toekoms en geprofeteer oor die toestande wat oorvloedig sou wees in die dae wat sou lei tot voor Sy Wederkoms en het duidelik gesê, “omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12).
Christus het nie gepraat van ongehoorsaamheid aan die wette van mense en burgerlike regerings nie. Hy het die verklaring gemaak onmiddellik nadat hy van valse profete gepraat het, wat “baie mense sal mislei” en die grootste deel van die samelewing sal “wegdrywe” van die ware geloof (vers 11). Hy het ’n diepgaande realiteit genoem: Namate die mensdom se lewenswyse van selfbestuur ons verder vervreem van die Wette en Gebooie van ons Skepper, verval ons ook al hoe dieper in ’n situasie waar selfs ons natuurlikste gesindhede al hoe ongevoeliger raak –namate die vlam van ons haat vir mekaar al hoe meer toeneem.
Regdeur u Bybel vind ons in baie gedeeltes waarskuwings, soortgelyk aan Christus s’n, wat ’n eindtydse klimaat van haat en minagting voorspel en openbaar dat ons beskawing nog verder in wettelose boosheid sal verval – soveel so dat ons onsself sou vernietig indien dit nie was vir Christus se uiteindelike, onvermydelike terugkeer nie (vers 21-22).
Die profeet Jesaja, het in die agtste eeu v.C. geskryf en ’n toekomstige tyd van benoude onderdrukking beskryf, waarin die vlak van ons beskawing sal begin agteruitgaan en in puin verval. Die las van onderdrukking kom nie soseer van die heersers af nie – ten spyte van hulle selfsugtigheid en onbevoegdheid (Jesaja 3:1-4). Inteendeel, “die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop” (vers 5).
Naaste teen naaste. Die kind teen die ouer mense.
Die profeet Miga gee insig oor die toestand wat so ’n samelewing kan bereik – ’n omgewing waarin selfs ’n mens se mees intiemste vriende ’n potensiële vyand is. “Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê. Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!” (Miga 7:5-6). Jesus Christus het juis hierdie gedeelte aangehaal in Sy bespreking van die dae wat kom (Matthéüs 10:34-36).
Gebrek aan menslikheid?
Die apostel Paulus het die “laaste dae” van hierdie eeu profeties beskryf en beklemtoon dat “mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:1-4). Sy woorde stem ooreen met die beskrywing wat hy in die boek Romeine gee, waar hy sê dat mense “geweldenaars, trotsaards, grootpraters … sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig” sal wees (Romeine 1:30-31).
Sulke beskrywings herinner aan die dae van Noag voor die vloed, waar daar aan ons vertel word “die aarde was verdorwe” (Génesis 6:11). Dit is die moeite werd om op te let daarna dat Christus gewaarsku het dat die dae wat Sy Wederkoms voorafgaan, baie in gemeen het met die dae van Noag (Matthéüs 24:37).
Diegene wat dink dat sulke tye onmoontlik is gedurende ’n “beskaafde” hedendaagse wêreld soos ons s’n, vergeet dat Duitsland gedurende die jare voor die “Holocaust” [Volksmoord] – minder as ’n eeu gelede – as een van die mees beskaafde nasies in die menslike geskiedenis beskou is. Dit was ’n globale sentrum van kuns, filosofie, wetenskap en kultuur. Die krag van haatdraendheid is egter ontketen en daardie beskawing het die globale sentrum geword vir die geïndustrialiseerde slagting van menslike wesens wat ander mense nie as mense beskou het nie.
In ’n samelewing waar leiers woede aanwakker om hulle politieke basis te versterk en waar ’n woedende bevolking op sy beurt nóg meer woedende leierskap ondersteun, behoort ons nie verbaas te wees wanneer hele groepe mense as gevolg van hulle vyande se opruiende haatspraak onmenslik word nie. In ’n atmosfeer van gewelddadige haat is dit soveel makliker om ’n gevaarlike “dier” dood te maak as om met ’n menslike opponent te redeneer.
Die Bybel maak dit duidelik dat hierdie gewelddadige gesindheid net erger sal raak. Gedurende die jare net voor Jesus Christus se Wederkoms, sal hierdie interpersoonlike vyandskap en gees van geweld gefokus word op een groep wat meer as alle ander groepe verafsku word. Dit is diegene wat konvensionele of algemeen aanvaarde godsdiens en selfs vervalste “Christelikheid” teëstaan, deur getrou te bly aan Christus se Bybelse leerstellings, ten spyte van vervolging deur diegene wat Sy Naam valslik vir hulleself toeëien. Trouens, die apostel Johannes teken Jesus se eie profesie aan naamlik dat diegene wat sulke getroue volgelinge onder hulle naaste doodmaak, sal dink dat hulle God dien deur hierdie moorde (Johannes 16:2).
’n Radikaal verskillende benadering
Op die ergste vlak sal ’n ingesteldheid van onmenslike haatdraendheid uiteindelik die fondamente van ’n samelewing en beskawing vernietig. ’n Volk kan nie ’n volk bly indien die individue van daardie volk mekaar verafsku nie. Uiteindelik word die bande wat daardie samelewing bind, uitmekaar geruk en hulle selfvernietiging is onvermydelik.
Op die mees persoonlike vlak sal onmenslike haatdraendheid ons individuele karakter en gees wegvreet. Sulke haatdraendheid verteenwoordig die teenoorgestelde van die benadering tot die lewe en verhoudings wat Jesus Christus vir ons kom uitbeeld het. Hy beeld egter ook die teenoorgestelde lewenswyse uit wat Hy aan die hele mensdom na Sy Wederkoms sal leer. Trouens, Hy sal veel meer doen as om dit bloot net te leer – Hy sal die samelewing in staat stel om Sy liefdevolle benadering, ’n alledaagse werklikheid te maak.
Baie mense is vertroud met Jesus se opdrag om “jy moet jou naaste lief hê soos jouself” (Matthéüs 22:39) – ’n opdrag wat Hy uit die Ou Testament aanhaal (Levítikus 19:18) as ’n fundamentele beginsel van God se Wet.
Die omvattendheid van die liefde wat Hy ons beveel, word dikwels nie ten volle verstaan nie. Dalk sal sommige van ons, in ons toksiese hedendaagse omgewing, Hom uitdaag net soos een van Sy luisteraars gedoen het, met die vraag: “En wie is my naaste?” (Lukas 10:29).
Jesus het reageer met die bekende gelykenis waarin ’n man wat van Jerusalem af gereis het deur misdadigers aangeval en “half dood” agtergelaat is. Hierdie man is nie deur enige verbygangers gehelp nie totdat ’n Samaritaanse man hom ontferm het oor hierdie slagoffer en hom gehelp het. Die gewildheid van daardie gelykenis is die rede waarom diegene wat hulleself opoffer en medelye met ander betoon, “barmhartige Samaritane” genoem word.
Christus se keuse van ’n Samaritaan as die held van die gelykenis was beslis leersaam. Die Jode en Samaritane van Jesus se tyd het glad nie ooghare vir mekaar gehad nie. Hulle was bitter vyande wat mekaar se godsdiens en optrede verag het. Christus se gelykenis was nie bedoel om die Samaritane se godsdiens, leringe of gebruike goed of af te keur nie. Hy het uitdruklik nie saamgestem daarmee nie en het dit ten sterkste verwerp (Johannes 4:19-22). Hy het hulle egter nie gehaat of “onmenslik” teenoor hulle opgetree nie, selfs al het hulle Hom met vyandskap en vooroordeel benader (Lukas 9:51-56).
Christus het nie Sy gehoor gevra om voor te gee dat daar geen meningsverskille tussen Jode en Samaritane was nie – ook nie dat die Samaritane heeltemal verkeerd en verdraaid was wat betref die ware geloof wat God aan Israel gegee het nie. Die weg tot versoening is nie om voor te gee dat diepgaande verskille nie werklik bestaan nie. Dit is verkiesliker om ons medemens lief te hê soos iemand wat soos ons na die beeld van ons Skepper gemaak is, as om oplossings te vind of om die waarheid vas te stel. Ten spyte van daardie verskille, is dit die grondslag van daardie weg.
Trouens, om ’n mens se naaste lief te hê is nie eers die heel belangrikste aspek van Jesus se leerstelling in hierdie verband nie. Die Seun van God beveel almal wat Hom volg om hulle standaard selfs te verhoog:
“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matthéüs 5:43-45).
Verandering kom van binne
Wanneer ons skaars die krag en moed kan vind om ons naaste lief te hê, hoe kan ons verwag om ons vyande lief te hê? Daardie verandering kan net van binne kom, maar tensy die samelewing rondom ons ondersteuning bied met daardie verandering, sal dit byna onmoontlik wees. Dit is waarom ons samelewing Jesus Christus so desperaat nodig het om terug te keer en die Koninkryk van God saam met Hom te bring.
Wanneer Jesus Christus uit die Hemel terugkeer, soos Hy beloof het om te doen, sal Hy terugkeer as Koning van die konings en Here van die here. Sy lewenswyse en God se Wette wat daardie wyse uiteensit en ondersteun, sal na alle uithoeke van die planeet Aarde versprei gedurende ’n tyd waarna algemeen verwys word as die Millennium – ’n duisend jaar lange tydperk wat die Groot Wit Troon Oordeel sal voorafgaan (Openbaring 20). Daardie oordeel sal ’n tyd wees wanneer diegene wat geleef en gesterf het sonder om werklik Sy boodskap te herken, uit die dood opgewek word en hulle sal die geleentheid kry om Hom as Verlosser te erken en te aanvaar. Daar sal geen mens wees wat geleef en gesterf het sonder om ’n geleentheid te kry om gered te word nie.
Daardie redding behels egter meer as gehoorsaamheid aan wette en reëls. Jesus Christus sal ná Sy Wederkoms Koning wees, maar Hy sal veel meer doen as om God se Wette te onderrig en af te dwing. Wette en gedragsreëls is nie genoeg wanneer die menslike hart sélf nie fundamenteel verander het nie. Een rede waarom ons hedendaagse wêreld in die dieptes van interpersoonlike haatdraendheid afgedaal het, is dat ons fundamenteel mense van vlees en bloed blý wat gereeld misluk in ons pogings om ons eie selfsug te oorwin. Die blywende les wat ons van antieke Israel leer, is dat wette alleen – selfs Goddelike Wette – nie genoeg is nie.
Indien ’n stel wette ooit genoeg kon wees om lewe in ’n samelewing te blaas en sy inwoners te verander sodat hulle die liefde en onbaatsugtigheid van God kan weerspieël, sou dit die stel Wette gewees het wat ongeveer 3,500 jaar gelede aan Israel gegee was (Galásiërs 3:21; vergelyk Psalm 19:7). Terwyl God se Wet Sy hoë standaard weergee en dit heilig en goed is (Romeine 7:12), kan net dít alleen nie die sondige, vleeslike, menslike hart verander nie. Trouens, die geïnspireerde woorde van die Skrif verseker ons dat “wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7).
Dit is waarom die Ewige God verseker het dat die geskiedenis van antieke Israel in die Skrif opgeteken is sodat ons daardie les kan leer. Die Israeliete het die wonderlikste stel Wette ontvang wat mense ooit kon hoop om te besit, maar daardie Wette was nie genoeg om die nasie se uiteindelike verval in selfsugtige verdorwenheid te voorkom nie, tot op ’n punt waar sommige selfs hulle eie kinders aan heidense gode geoffer het (Eségiël 23:37) – baie soos wat ons hedendaagse wêreld, kinders offer aan die gewilde “god” van persoonlike gerief in aborsieklinieke regoor die wêreld.
Die verandering van die hart is buite die bereik van selfs die magtigste menslike heerser. Die heersende Jesus Christus sal geen blote sterflike president of eerste minister wees nie. Hy sal bereik wat geen politieke stelsel, valse godsdiens of mens-geformuleerde morele filosofie ooit kon behaal nie: Die totale verandering van elke individuele mens, ’n algehele herskepping.
Die Gees van God
Jesus Christus sal nie nét Sy regverdige, sorgsame en deernisvolle Wette na ons wêreld bring nie; Hy sal ook die Gees van God beskikbaarstel om in almal te woon wat Sy heerskappy in hulle lewens sal aanvaar (vergelyk Johannes 7:37-39). Die Wette en regverdige lewenswyses wat net in Hom gevind kan word, sal versprei om die hele wêreld te bedek tydens Sy duisendjarige heerskappy (Jesaja 11:9), so ook sal die uitstorting van Sy Gees op ’n berouvolle mensdom, mans en vrouens oral toelaat om deelgenote van die goddelike natuur te word (2 Petrus 1:4). Diegene wat vandag aan Hom oorgee – Sy eerstelinge – sal saam met Hom daar wees en as onderriggewers dien. “ ... en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Ja, ons wat in hierdie tyd oorwin, sal daar wees om andere te help om te oorwin ná Christus se Wederkoms.
Die mensdom het die liefde van God binne-in hulle nodig indien hulle wil leer om Sy lewensweg te beoefen – om werklik hulle medemens lief te hê en die Wette van liefde uit te leef wat ons Skepper voorsien. Dit is deur Sy Gees dat Sy liefde in die harte van mense uitgestort word (Romeine 5:5). Wanneer daardie gees uitgestort word op ’n berouvolle mensdom tydens die heerskappy van Christus, sal die resultaat ’n wêreld wees waarin die idee om ’n mens se naaste te haat net so vreemd sal wees soos die idee om jou eie vlees te haat. Selfs nasies met jarelange geskiedenis van vyandige gesindhede sal in vrede met mekaar saamleef (vergelyk Jesaja 19:23-25) aangesien mense van alle tale en kulture die goeie dinge sal erken wat vanuit Jerusalem na die wêreld sal stroom – hulle sal daardie seëninge vir hulleself wil hê (Sagaría 8:20-23).
Satan sal gebind wees vir ’n duisend jaar met Christus se Wederkoms (Openbaring 20:1-3). Die Koning van die konings sal dan haatdraendheid iets van die donker en verre verlede maak. In die plek daarvan sal ’n nuwe lewenswyse wees wat ten volle aangegryp sal word deur ’n samelewing wat uiteindelik geleer het hoe om dit te doen: Om u naaste lief te hê soos uself.
U kan vandag daardie liefde nastreef
Daardie beloofde wêreld van liefde – ’n wêreldwye samelewing waar vleeslike partydigheid, verdeeldheid en haat nie bestaan nie – hoef nie net ’n toekomstige hoop vir u te bly nie. Terwyl die nasies van die wêreld hulle eie koers sal kies, namate hulle hul eie afspraak met die noodlot nader, is u koers die een wat u self kan kies. Die “kragte van die toekomstige eeu” kan nou in ons individuele lewens waargeneem word (Hebreërs 6:5) indien ons bereid is om ons lewens oor te gee aan die enigste Een wat dit werklik kan verander.
Ja, ons huidige wêreld is gevul met haat en die volle mate van haatdraendheid wat voor Christus se Wederkoms ontketen sal word, is nog nie bereik nie. U en ek hoef egter nie aan daardie aaklige bedryf deel te hê nie. Ons kan eerder deel wees van iets beter. Die liefde van God, die vreugde en gemoedsrus wat daarmee gepaard gaan, is nou beskikbaar vir almal wat bereid is om hulle van hulle sondes te bekeer, elke aspek van hulle lewens heeltemal aan Jesus Christus se regverdige heerskappy oor te gee en die weg van die lewe wat Hy bied aan te gryp. “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).
Indien u toegelaat het dat u deur haatdraendheid geraak word – haat vir iemand wie se politiek, ideologie, ras, etnisiteit, nasionaliteit of godsdiens van u eie verskil – moet u u bekeer. U kan. U kan verander. God kan u help.
Die Wêreld van Môre, waarin elke man, vrou en kind sal leer om hulle naaste waarlik lief te hê, sal gebou word deur diegene wat vandag leer om hulle vyande lief te hê.