My eerste taak as ’n kampberader was by ’n Lewende Kerk van God se voor-tiener kamp, en dit het my diep laat nadink. Terwyl ek na my huis gery het, het ek die gebeure van die vorige week oordink – al die gelag en aangename samesyn, die prettige en soms uitdagende aktiwiteite, die opgehelderde gesigte van die kinders en soveel meer. Dit was onvergeetlik.

Wat my die meeste beïndruk het, was die vreugde wat ek ervaar het om as berader te dien. Sommige mense mag dalk vra: “Waarom?” Om ’n berader te wees is ’n uitdagende taak, wat baie persoonlike opoffering verg. Elke dag was ek een van die eerstes om op te staan en een van die laastes wat gaan slaap het. Agt ure se slaap was nie ’n opsie nie. By tye was ek fisies en selfs geestelik uitgeput.

Teen die einde van die kamp het ek besef dat my geduld ’n bietjie afgeneem het, dus het ek my bes gedoen om positief te bly en my aandag op die kampeerders te vestig: “Moenie met daardie dooie skilpad speel nie!” “Waar het jy jou handdoek neergesit?” “Geen gestoei op die boonste stapelbed nie!” Ten spyte van dit alles was die eindresultaat meer as die moeite werd: Om te sien hoe my kampeerders ’n goeie tyd het, uitdagings om ou vaardighede te verbeter en nuwes aan te leer, om dinge op die regte manier te doen – met ’n bietjie aansporing – om positiewe resultate te lewer. Die hele ervaring was baie verrykend.

Terwyl ek nagedink het oor my ervarings – veral hoeveel opoffering vereis word van ’n kampberader en waarom sommige mense kies om jaar na jaar beraders te wees ten spyte van die harde werk – het dit teenstrydig voorgekom. Op ’n menslike, fisiese vlak lyk dit onsinnig om soveel van ’n mens se tyd en energie te gee sonder enige tasbare opbrengs.

Is kampberaders inherent dwaas, of verstaan hulle bloot die vreugde van gewillige diens en opoffering?

 

Omdat Hy ons eerste liefgehad het

Met hierdie gedagte het my fokus heeltemal verander. Ek het begin dink aan al die opofferings wat God vir ons, Sy kinders, gemaak het. Ek het gedink aan die heel grootste offer, dié van ons Here en Verlosser Jesus Christus en hoeveel liefde God werklik vir ons gehad het om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te sterf.

Ek het gedink aan die vreugde wat ek gevoel het toe ek sien hoe die kampeerders op die regte manier pret het. Ek het gedink aan die vreugde wat God moet voel wanneer Hy sien hoe ons oorvloedig leef, soos wat Hy dit altyd bedoel het (Johannes 10:10). Dit is ’n raaisel vir die wêreld, maar nie vir God se mense nie. Soos die apostel Johannes geskryf het: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel” (3 Johannes 4).

Moontlik was die grootste beloning van die kamp vir my toe ek ’n onverwagse boodskap van “dankie” van een van die kampeerders op my foon gekry het. Hy het my opreg bedank dat ek sy “afrigter” was en verskeie ander dinge genoem waarvoor hy dankbaar was. Sy eenvoudige “dankie” was vir my meer as genoeg.

Hoe bly moet God tog wees wanneer Hy sien dat ons ’n lewenswyse leef wat seëninge voortbring en wanneer ons vir Hom dankie sê vir alles wat Hy vir ons doen. Ek het ’n gesegde onthou oor hoe graag God wil hê ons moet suksesvol wees: “God is ons grootste Aanmoediger”. Amen daarop!

Het u die seëninge getel wat God persoonlik aan u gee, veral Sy aanbod van genade deur ons bekering, doop en gehoorsame aanvaarding van Christus se offer? Ek wil u aanmoedig om dit te doen en om aan God se vreugde te dink wanneer ons Hom dank en Hom gehoorsaam.

Nie almal het dalk die geleentheid om as ’n berader of ’n mentor vir jongmense te dien nie. Nietemin is ons almal bedoel om in een of ander hoedanigheid te dien – om ons tyd en energie op te offer om mekaar te help. Hierdie gee manier van leef is ’n raaisel vir baie mense van die wêreld. Dit is egter ’n lewenswyse wat werk en dit bring groot vreugde!

Wanneer u ook al in staat is om dit te doen, neem tyd om die lewens van diegene rondom u, jonk of oud, te versterk. U sal uself op die ou end bedank.