Tydens die skepping van die planeet Aarde het God die land en water van mekaar geskei en ’n duidelike onderskeid tussen die twee gemaak. Alhoewel mense geleer het hoe om bote te bou om die waters te deurkruis, kies die meeste van die aarde se bewoners om op land te woon. Nie alle water op aarde is dieselfde nie – daar is vars sowel as sout water – alle grond op aarde is ook nie dieselfde nie.
God het Kanada geseën met ’n groot verskeidenheid grond – reënwoude, woestyne, berge, heuwels, valleie en vlaktes. Hy het daardie verskeidenheid doelbewus en met ’n rede geskep. Antieke Israel se koning Dawid het in verwondering uitgeroep: “Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” (Psalm 104:24). God het Moses geïnspireer om op te teken: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed” (Génesis 1:31). Kanada is ’n land met ’n merkwaardige verskeidenheid wat betref sy klimaat, terrein, flora en fauna. Daardie diversiteit bring uitdagings mee maar ook groot seëninge en het die wyse waarop Kanadese oor hulle land versprei het gevorm en ’n grondslag vir voorspoed en groei gevestig.
Groot land – klein bevolking
Kanada is die tweede grootste land ter wêreld wat betref die totale land- en wateroppervlakte – 9,985 miljoen vierkante kilometer. Slegs op grondgebied is dit die vierde grootste land, met 9,094 miljoen vierkante kilometer. Daar bestaan geen twyfel nie – Kanada is groot!
Kanada is nogtans nie so groot vanuit ’n bevolkingsperspektief nie. Tans beklee dit die 38ste posisie volgens WorldPopulationReview.com, met ongeveer 39 miljoen mense. Die bevolkingsdigtheid van Kanada is – met behulp van eenvoudige berekenings – ongeveer vier mense per vierkante kilometer, een van die laagste ter wêreld. Hierdie berekening neem egter nie die feit in ag dat byna die helfte van die bevolking van Kanada in ’n gebied van 230,000 vierkante kilometer woon nie. (Dit is die Quebec City-Windsor-Corridor, ’n skamele 2,5 persent van Kanada se totale oppervlakte, waar die bevolkingsdigtheid 82 mense per vierkante kilometer is.)
Waarom het so ’n groot land met ’n relatief klein bevolking soveel burgers wat saam gebondel is? Die antwoord is nie dat dit nodig is vir Kanadese om saam te bondel om warm te bly nie, al is dele van Kanada inderdaad koud gedurende sekere tye van die jaar en sommige dele is dwarsdeur die jaar koud. Aangesien die hoofrede nie die temperatuur is nie, is dit ’n element van geografie. Veral een geografiese kenmerk in besonder is die rede vir die grootste deel van Kanada se eienaardige bevolkingsverspreiding en baie van sy rykdom.
’n Rotsagtige plaat
Oos van die wye oop grasvlaktes van sentraal-Kanada, begin daar ’n merkbare verandering in die terrein naby die oostelike rand van Manitoba sigbaar word. Daar vind ’n mens nie meer grasvelde met bewerkte landerye en klein boerdery-gemeenskappe nie. Die land raak woes en klipperig met minder plantegroei. Welkom by die pragtige en ruwe Laurentiese plato – ’n sigbare deel van die aardkors en die wêreld se grootste massa blootgestelde Prekambriese rots. [Rotse gevorm aan die begin van die aarde, miljoene jare gelede.]
Die Laurentiese plato is ’n gebied van agt miljoen vierkante kilometer van gestolde lawaklip en metamorfe gesteentes wat die kern van die vasteland van Noord-Amerika vorm. Dit beslaan vyf miljoen vierkante kilometer van Kanada se grondgebied – 50 persent van die land. Vanaf Labrador in die ooste strek dit weswaarts oor Kanada om die grootste deel van Quebec, ’n groot deel van Ontario en Manitoba, die noordelike derde van Saskatchewan, die noordoostelike punt van Alberta, die oostelike helfte van die noordwes-gebiede en die grootste deel van Nunavut in te sluit. Aangesien die meeste van die Laurentiese plato binne Kanadese grondgebied geleë is, is dit verstaanbaar dat daarna verwys word as die Kanadese Skild.
Nedersetting bemoeilik
Vrugbare grond op ’n relatiewe gelyke grondoppervlak is noodsaaklik vir die vestiging van ’n basis vir landbou om ’n hoë bevolkingsdigtheid te onderhou. Die grootste deel van planeet Aarde se grondoppervlakte word bedek deur ’n laag grond wat in diepte wissel van ’n paar sentimeter tot ’n paar meters. Die grond oor baie van die Kanadese Skild is aan die heel laagste punt van daardie reeks en die grond wat wel daar is is dikwels klipperig, dreinering is swak en nie baie vrugbaar nie. Verder is die land vol rotsagtige riwwe en heuwels van soliede rots – die verslete oorblyfsels van antieke berge. Die Kanadese Skild bevat min bewerkbare grond wat geskik is vir landbou of lewende hawe.
Die produktiwiteit van landbouprodukte in die Kanadese Skild is karig, maar dit is nie die enigste rede vir die yl bevolking van hierdie streek van Kanada nie. Graniet wat een van die hardste stowwe is, is oorwegend die rots wat die Kanadese Skild vorm. Graniet mag wonderlike kombuis werksoppervlaktes maak, maar dit kan uiters moeilik wees om daarop te bou. Om enige beduidende gat of sloot in die Kanadese Skild te grawe, vereis die gebruik van plofstowwe. Huise, paaie, rioolaanlegte en ander belangrike infrastrukture wat nodig is om groot bevolkings te onderhou, is duur en konstruksie en onderhoud is uitdagend – wanneer met so ’n harde materiaal gewerk word.
Wonderlike hulpbronne
Terwyl die area van die Kanadese Skild nie geskik is vir grootskaalse landbou nie en dit moeilik is om daarop te bou, is dit nie heeltemal onvrugbaar nie. Die ysgrond is vlak en as gevolg daarvan is plantegroei in die noordelike gedeelte van die Kanadese Skild minimaal en enige bome wat wel slaag om daar te groei, word vanselfsprekend vertraag. In die sentrale en suidelike gedeeltes vind ons egter uitgestrekte boreas woude, die dominante ekosisteem van die Kanadese Skild. Konifere en bladwisselende bome is volop – denne, Kanadese spar, sederhout, wildekerwel, trilpopulier, berkeboom, asboom en esseboom – ’n ware skatkis van sagte- en hardehoutbome.
Die Kanadese Skild bevat ook ’n magdom minerale erts soos goud, silwer, nikkel, koper, asbes, sink, yster, uraan, kobalt, palladium en – wat meer onlangs ontdek is – diamante. Kommersiële mynbedrywighede het in die negentiende eeu begin en het grootliks bygedra tot Kanada se ekonomiese ontwikkeling. Kanada se mineraalproduksie is in 2021 op $55,5 miljard gewaardeer, hoofsaaklik afkomstig van die Kanadese Skild. Die produksie van goud alleen was 223 ton, ter waarde van $13,7 miljard, wat Kanada die vierde grootste wêreldwye produsent van daardie edelmetaal maak (“Gold Facts,” Government of Canada, Natural-Resources.Canada.ca, 17 Februarie 2023) .
Daar is nog ’n natuurlike bron van die Kanadese Skild wat heel waarskynlik waardevoller is as hout of minerale. Die Kanadese Skild is ’n stoorplek van vars water. Duisende mere, groot en klein, word binne die gebied van die Kanadese Skild gevind. Hierdie mere bied ’n habitat vir visse asook drinkwater vir mense en natuurlewe, gebiede vir ontspanning en geleenthede om hidro-elektriese energie te produseer.
Stewig en veilig
Slegs sowat 10 persent van Kanada se bevolking woon op die Kanadese Skild, aangesien hierdie groot rotsplaat wat die helfte van die land omring nie ideaal is vir menslike nedersetting nie. Hoewel die Kanadese Skild dalk nie die beste plek vir ’n plaas of ’n stad is nie, is dit geensins leeg en onvrugbaar nie. Dit bevat groot voorrade van ’n ongelooflike verskeidenheid natuurlike hulpbronne en is die stewige fisiese fondament waarop die land se ekonomie gebou is. Waarlik, die Kanadese Skild is ’n seën van God wat “baie goed” is.
As Christene moet ons ook ’n stewige fondament hê en daarna streef om gehoorsaam te wees aan ons Verlosser (Lukas 6:46; Johannes 14:15). Jesus Christus het aan Sy volgelinge gesê om hulle geestelike fondament op vaste rots te bou (Matthéüs 7:24-27). Ons Rots is egter Jesus Christus Sélf (1 Korinthiërs 10:4) – anders as die moeilike graniet van die Kanadese Skild. ’n Sterk fisiese fondament is slegs volhoubaar met ’n sterk geestelike grondslag wat op Christus gebou is – die enigste beproefde, kosbare geestelike hoeksteen waarop ons moet bou (Jesaja 28:16).