The Many Loves of Dobie Gillis was ’n sitkom wat vanaf 1959-1963 op Amerikaanse televisie gebeeldsend is. Die drie hoofkarakters daarin was Dobie, Zelda Gilroy en Maynard G. Krebs. Laasgenoemde was ’n teenkultuur wat enige soort werk geminag het. Elke keer wanneer die woord, “werk” in ’n gesprek opgeduik het, het Krebs terugdeins en geskreeu: “Werk!”

Genadiglik is Beatniks en Dobie Gillis deesdae onbekend vir die meeste mense. Krebs se houding teenoor werk het egter geleidelik posgevat as gevolg van ander redes as die sitkom en dit het die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Alhoewel die oorsake verskil, is akute tekorte van arbeiders uiters kommerwekkend en dit geld vir die Verenigde State, Kanada, China, Duitsland asook elders.

Die probleem is ingewikkeld en het baie fasette. Daar is die kwessie van die veroudering van bevolkings. Daar is voortdurend tegnologiese veranderings en ontwikkelings wat verskillende vaardighede vereis. Ons sien dit in militêre magte waar spierkrag voorheen die belangrikste – indien nie die enigste – eienskap was wat van ’n soldaat vereis was. Dit is nie nou meer so nie. Hedendaagse soldate moet leer hoe om met gesofistikeerde toerusting te werk.

Nog ’n probleem wat ’n tekort aan arbeiders veroorsaak – toegesmeer deur sogenaamde “werkloosheidsyfers” – is die aantal werkers wat uit die arbeidsmag uitval. Ekonoom Chuck Vollmer het opgemerk dat Amerikaners binnekort “sal agterkom dat dit teoreties moontlik is vir die Verenigde State om ’n zero koers van werkloosheid te hê deurdat die werkloses bloot ophou om werk te soek. ’n Persoon kan deur die Buro vir Arbeidstatistiek as werkloos geklassifiseer word, indien hy aanhou werk soek”. Vollmer merk op dat tussen 2000 en 2015, 11,6 miljoen mense die arbeidsmag betree het terwyl 26 miljoen vrywillig uitgeval het – sommige mense om op onwettige wyse ’n bestaan te maak en sommige mense om selfs op hulle gesinne te teer (“Since Year 2000, 26 Million Able-Bodied Americans Voluntarily Dropped Out of the U.S. Labor Force,” LinkedIn.com, 1 Desember 2015).

Die Brookings Institution berig: “Die aantal mans wat nog volgens hulle ouderdom geskik is om te werk of werk te soek is al vir ’n halwe eeu lank besig is om te daal” (“Men not at work: Why so many men aged 25 to 54 are not working,” Brookings.edu, 15 Augustus 2016). Hierdie verslag is in 2016 gepubliseer – lánk voor COVID-19 en die situasie het sedertdien ernstiger afmetings aangeneem as gevolg van verskeie COVID-verwante redes. Ons kan Maynard G. Krebs beswaarlik blameer vir al die liggaamlik gesonde mans wat vrywillig uit die arbeidsmag uitgetree het, maar te veel mense wat nog nooit van hom gehoor het nie, het sý houding wat werk aanbetref gekies.

Volgens Brookings.edu, is daar “ongeveer 7 miljoen Amerikaanse mans tussen die ouderdomme van 25 en 54 waarvan die meeste te oud is om op skool te wees en ander is weer te jonk om af te tree, wat nie werk of nie eers werk soek nie. Baie van laasgenoemde mans is nog in die fleur van hulle lewe en soek nie werk nie, alhoewel hulle heeltemal in staat is om te werk. Dit kom neer op 12% van alle mans in daardie prima werkende ouderdomme – dit sluit nie die 2 miljoen in wat werk soek maar dit nog nie gekry het nie”. Dieselfde bron verduidelik dat ’n groot aantal van diegene wat nie werk soek nie, uit ’n agtergrond kom van lae-inkomste en swak opgelei is. Te veel van hulle het opgegee om werk te soek weens ’n gebrek aan vereiste kwalifikasies.

Dit is egter nog lank nie uitsluitlik nét ’n Amerikaanse probleem nie. Kanada, Australië, Brittanje en Duitsland het soortgelyke tekorte aan arbeiders. In Frankryk word onluste aangehits as gevolg van die regering se pogings om die aftree-ouderdom van 62 na 64 te verhoog om die regering se las van pensioene te verlig. Selfs in China is gesindhede besig om te verander. Hierdie NPR-opskrif (National Public Radio) van Junie 2022 som dit op: “Harde werk is ’n kwessie van trots in China. ’n Kultuur van laksheid is egter nou aan die orde van die dag”.

 

Ontwerp om te werk

Die oortuiging wat betref die evolusieteorie mislei die mensdom om te dink dat daar geen lewensdoel vir die mensdom is nie en dit het ons op feitlik elke terrein van die lewe op ’n dwaalspoor gelei. Ons is egter nie ’n produk van blinde toeval nie. God het ons met ’n doel geskep. Hy het ons geskep om produktief te wees en om werklik produktief te wees verg beide werk en rus. Wat meer is, Hy het man en vrou geskep om verskillende rolle in die lewe te vervul – iets wat die hedendaagse samelewings toenemend weier om te aanvaar. ’n Man kan nie swanger raak nie. Dit is ’n onweerlegbare feit! Alhoewel sommige mense kies om in ’n fantasiewêreld te leef, behoort die res van ons nie by hulle aan te sluit sonder om te dink nie.

Te veel mense het vergeet dat daar ’n beloning vir werk is, hoe nederig ook al. Jason Furman, hoof van die V.S. se Raad van Ekonomiese Adviseurs van 2013-2017, het verduidelik dat “vir baie mense – waarskynlik vir die meeste van hulle wat die arbeidsmag verlaat – nie slegs ’n gebrek aan inkomste beteken nie, maar ook ’n verlies van menswaardigheid wat met werkloosheid gepaardgaan”. (Brookings.edu).

God het die mensdom geskep om te werk en wanneer ons kies om nie te werk nie vanweë luiheid eerder as gevolg van ’n werklike mediese toestand het dit negatiewe gevolge. Furman wys daarop dat werkloosheid “geassosieer word met depressie, dwelmgebruik, selfmoord en ’n reeks slegte resultate”.

Dit is nodig dat ons werk, sodat ons die vrugte van ons arbeid kan geniet asook om in ons behoeftes te voorsien. Ons Skepper het in die begin die voorbeeld gestel deur te werk (Génesis 2:1-2) en Hy verwag van ons om daardie voorbeeld te volg. Jesus het nie gekom om rond te sit nie; Hy het verklaar: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Johannes 9:4). Paulus het die gemeente in Thessaloníka opdrag gegee: “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is” (2 Thessalonicense 3:10-11).

 

Waardigheid in werk

Die samelewing se idees wat betref rolle in die huwelik het gedurende die laaste helfte van die eeu (1900’s) verander. Dit was eens ’n man se verantwoordelikheid om die voorsiener vir en beskermer van die gesin te wees, maar die feministiese beweging het dit alles verander. Te veel mans verstaan nie meer wat hulle rol in die gesin behoort te wees nie en is al te gretig om terug te sit en hulle vrouens die rol van voorsiener te laat aanvaar. Dit is nie goed vir mans, vroue, kinders of nasies nie. Daar is beslis redes waarom ’n vrou dalk die verskaffer moet word wanneer haar man as gevolg van mediese redes nie kan werk nie – daar is geen skande daarin nie – maar dit behoort nie die norm te wees nie.

Gewoontes om te werk word die beste op ’n jong ouderdom aangeleer en daarom is dit belangrik dat ouers die regte voorbeeld stel en hulle kinders selfdissipline leer wanneer dit by werk kom. “Luiheid laat in ’n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly” (Spreuke 19:15) en “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk” (Spreuke 10:4).

Spreuke spreek ook die man aan wat ’n duisend verskonings het. “Het jy ’n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir ’n dwaas as vir hom ... Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord” (Spreuke 26:12, 16).

Die verskoning dat ’n werk “benede ’n mens se waardigheid” is, val weg in die lig van die Bybel se opdrag: “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek” (Spreuke 14:23). Kortliks, bekwame mans behoort te werk. Indien hulle dink hulle kan beter doen as om burgers voor te berei – wonderlik! Rondsit en wag vir daardie beter werk om tevoorskyn te kom, is nie ’n goeie idee nie. Daar is waardigheid in alle arbeid en groot beloning – nie net finansieel nie, maar ook in karakter en groei!