Neem die volgende bekende – of berugte – manne in oënskou: Ronald Reagan, Bill Gates, Henry Kissinger, koning Juan Carlos, Saddam Hussein, koning Charles III en Klaus Schwab van die Wêreld Ekonomiese Forum.

Wat het hulle in gemeen? Elkeen van hulle is op een of ander tyd daarvan beskuldig dat hulle die Antichris is – daardie duister en geheimsinnige figuur wat deur Bybelprofesie voorspel word. Sommige van hierdie manne is reeds dood en van hulle leef nog. Nie een van hulle kom ooreen met die Bybel se beskrywing nie. U Bybel wys duidelik daarop dat die Antichris gaan kom en dat vernietiging, vervolging en dood tegelykertyd sal kom – soos wat die wêreld nog nooit tevore beleef het nie en ook nooit weer sal beleef nie. Daar is rede om te glo dat hy nou reeds leef. Sy planne vir misleiding is reeds in plek en beïnvloed alreeds die lewens van die meeste mense wat hulleself vandag as Christene beskou.

In ons wêreld van gevorderde tegnologiese wonders en moderne gemak, kan net om te práát van ’n “Antichris”, oudmodies lyk – soos om van oordeel en swaarmoedigheid te preek gedurende ’n era wat nou verhewe is bo skrifture en profesieë. Die teenoorgestelde is egter waar. Tyd het nie profesie agtergelaat nie – inteendeel, tyd het uiteindelik profesie ingehaal. Die tye waarin ons leef pas nou eers in by u Bybel se beskrywing van die eindtydtoneel waar die Antichris te voorskyn sal kom.

Matthéüs 24:22 openbaar byvoorbeeld, in daardie geprofeteerde dae “sou geen vlees gered word nie” ... as gevolg van die mensdom se vermoë om te vernietig, indien dit nie was vir Christus se Wederkoms nie. Dit was nie moontlik nie, totdat ons die era van massavernietiging – wapens wat inderdaad die kapasiteit besit om die mensdom uit te roei. Daniël 12:4 beskryf die tyd van die einde as ’n era waartydens baie mense die boek sal “deursoek” en “kennis sal vermeerder” – antieke woorde wat ons moderne wêreld baie goed beskryf, waarin wêreldreise alledaags is en ons toenemend aan ’n daaglikse stortvloed van meer inligting blootgestel is as wat enigeen van ons moontlik kan verwerk.

Waarlik, die profesieë wat betref die Antichris is nie stowwerige outydse geskrifte, wat ontoepaslik is vir ons hedendaags tyd nie. Dit is spesifiek vir ons huidige tyd geskryf en is geïnspireer deur die God wat die einde van die begin af verkondig (Jesaja 46:10). Sy waarskuwings oor die finale Antichris is lewensbelangrik, want die verskyning van hierdie figuur sal meer dood, vernietiging en menslike lyding meebring as wat ons wêreld nog ooit tevore ervaar het – ’n tydperk wat u Bybel die Groot Verdrukking noem.

Gedurende die leeftyd van die meeste mense wat hierdie artikel lees, sal die Antichris se mag toeneem. Hy sal die oorgrote meerderheid mense mislei, deur manne en vroue regoor die wêreld subtiel en verleidelik te oorheers sodat hulle gewillig ’n demoniese vervalsing van die Christelikheid sal aanvaar. Trouens, daardie weergawe van Christelikheid is alreeds op die aarde teenwoordig en oefen groot invloed uit. Om eerlik te wees, daar bestaan ’n baie goeie kans dat u reeds onder sy invloed is, wat u des te meer kwesbaar maak vir hierdie toekomstige tiran.

Stel uself die volle aanwending van moderne oorlogvoering voor, die byna onbeperkte vernietigende vermoë van die mensdom wat ontplooi kan word deur ’n oproep van ’n man wat onder die direkte invloed van Satan die duiwel staan. Hierdie man sal daaraan toegewy wees om ware Christenskap van die aarde af te vernietig en dit te vervang met ’n godsdiens wat soos ware Christenskap klink en die naam van Jesus Christus gebruik, maar wat presies heeltemal die teenoorgestelde verteenwoordig van die Christenskap wat Jesus Christus onderrig en uitgeleef het.

Waarskynlik is daar geen figuur wat meer op die voorgrond sal wees in ons geprofeteerde toekoms, as die Antichris nie. Dit sal vir u ’n lewensbelangrike kwessie van lewe of dood wees om hom te kan herken. Profesie is duidelik: Die meeste mense sal hom nie herken nie.

U sal hom egter kan herken. Hierdie artikel openbaar sewe tekens van die eindtydse Antichris soos dit uiteengesit is in Bybelprofesie. Enigeen wat dit verstaan, sal die finale Antichris kan herken wanneer hy kom. Daardie finale Antichris kom wel om ons wêreld vir altyd te verander.

1. Hy sal ’n godsdienstige leier wees

Hierdie eerste teken is een wat die meeste mense nie raaksien nie. Volgens God se Woord sal die Antichris nie ’n militêre of politieke leier wees nie. Hy sal eerder ’n godsdienstige leier wees – van ’n groot valse kerk.

Hierdie fout ontstaan omdat baie mense die Antichris verwar met die dier van Openbaring, wat ’n militêre, politieke en ekonomiese kragreus is en wat die wêreld sal oorheers. Alhoewel daar ’n konneksie tussen hulle is, is die Antichris en hierdie dier twee verskillende wesens. In Openbaring 17 teken die apostel Johannes ’n visioen aan wat deur Jesus Christus en die engele onder Sy bevel aan hom gewys is:

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 1-5).

Daar is baie dinge om na op te let in hierdie gedeelte, maar ons sal op een punt fokus. Die dier met sewe koppe en tien horings, wat deur ’n prostituut gery word, is die eindtydse militêr-ekonomiese kragreus wat die dier van Openbaring genoem word. Wat van die vrou? ’n Ruiter klim op ’n dier om dit te beheer en sy bewegings te beïnvloed – hierdie dier word gery of beïnvloed, deur ’n ryk prostituut.

Indien u die Wêreld van More al vir ’n geruime tyd lees, behoort u te weet dat ons die Bybel toelaat om sy eie simbole te interpreteer. Die Bybel gebruik gereeld vroue om verskillende gelowe en godsdienstige organisasies uit te beeld. Anders as die reine maagd wat God gebruik om Sy Kerk te simboliseer in gedeeltes soos 2 Korinthiërs 11:2 en Openbaring 19:7-8, word hierdie valse kerk voorgestel deur ’n ryk prostituut wat op hierdie magtige dier ry. God gebruik dikwels die terme ontug, owerspel en hoerery om te verwys na die korrupte invloed van godsdienstige kompromieë met heidense gebruike en heidense aanbidding, soos in Jeremía 3 en Eségiël 16.

Die godsdienstige stelsel van die Antichris is die hoer wat op hierdie dier ry! Dit is egter nie dieselfde as die dier nie. In Openbaring 17:16 sien ons trouens dat die dier uiteindelik teen die vrou sal draai om haar te vernietig: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.” Die hoer sal egter tot dan die dier ry – hom manipuleer en beïnvloed en lei om haar doelwitte te bereik.

Dit is waarom die apostel Johannes in 1 Johannes 4:1-3 van die Antichris skryf in die konteks van valse profete, want die Antichris sal die uiteindelike valse profeet wees. Hy sal nie ’n militêre of politieke heerser wees nie, maar ’n godsdienstige figuur wat die magtigste kerk op aarde sal beheer. Op hulle beurt sal hy en sy kerk die militêr-ekonomiese kragreus lei, wat bekend staan as die eindtydse dier-mag van Openbaring.

Wat kan ons nog verstaan oor die godsdiensstelsel wat deur hierdie Antichris gelei word? Daardie vraag bring ons by ons tweede teken.

2. Hy sal kom in die Naam van Jesus Christus

In Sy kragtige profesie wat op die Olyfberg gelewer en opgeteken is in Matthéüs 24, Markus 13 en Lukas 21, het Jesus Christus Sy dissipels gewaarsku dat daar baie mense sal kom en godsdienstige misleiding sal beoefen en dat hulle in Sy Naam sal kom – dit is die Naam van Jesus Christus (Matthéüs 24:4-5).

Dit het ook so gebeur! Johannes het die verspreiding van daardie bedrieglike, vervalste Christendom selfs in die eerste eeu gesien en geskryf: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is” (1 Johannes 2:18). Ja, baie antichriste het gekom teen die tyd dat Johannes daardie woorde geskryf het en die bedrieglike, vervalste Christendom wat hulle saamgeflans het deur Jesus se Naam valslik te gebruik duur voort en oorheers die hedendaagse wêreldse godsdienste.

Baie mense besef nie dat die woord “Antichris” méér as een persoon verteenwoordig nie. Dit verteenwoordig ’n geloofstelsel wat Christelik voorkom, maar in werklikheid ’n vervalsing van ware Christenskap is. Paulus skryf oor diegene wat “’n ander Jesus verkondig” en ’n “ander evangelie” bring (2 Korinthiërs 11:4). Hierdie ander evangelie bestaan al sedert die tyd van die twaalf Apostels. Tydens Johannes se leeftyd het baie wat daardie stelsel verteenwoordig het – “baie antichriste” – reeds gepreek (1 Johannes 2:18).

Die finale, eindtydse Antichris sal die hoogtepunt van hierdie misleiding wees – ’n groot valse profeet wie uiterlik baie Christelik sal voorkom. Profetiese simboliek beeld hierdie Antichris uit as ’n ander dier wat uit die aarde opkom – nie die sewe-koppige dier van Openbaring wat vroeër in die hoofstuk en in hoofstuk 17 gevind word nie. Ons lees: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak” (Openbaring 13:11).

Die Skrif gebruik deurgaans ’n lam as ’n simbool vir Christus en ’n draak of ’n slang as ’n simbool vir die duiwel. Hierdie valse profeet wat kom – hierdie finale Antichris, sal lyk soos die Lam, Jesus Christus. Hy lyk dalk vriendelik en medelydend en dit kom voor asof hy uit die Bybel onderrig gee. Profesie sê egter dat hy die woorde van die draak sal spreek – die duiwel. Die “Christelikheid” wat hy onderrig, sal ’n subtiel verdraaide weergawe van Christelikheid wees – nie die ware Christenskap van Jesus Christus nie, alhoewel dit Sy Naam vir homself sal toe-eien.

Ons volgende teken is een van die planne wat die eindtydse Antichris sal gebruik om selfs die mense wat skepties is te mislei en hulle na sy korrupte weergawe van Christelikheid te lei.

3. Hy sal uiteindelik “wonderwerke” verrig

Ons gaan voort om in Openbaring 13 te lees: “Hy doen ook groot tekens, sodat Hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen” (Openbaring 13:13-14).

Hierdie individu sal vuur uit die lug kan roep, baie soos die profeet Elía in die Ou Testament gedoen het. So ’n kragtige “teken” sal ’n groot menigte mense verstom. Die apostel Paulus sê van hierdie komende valse profeet dat “hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thessalonicense 2:9). Selfs skeptici sal erken dat hulle bonatuurlike gebeure sien wat deur hierdie persoon verrig word – tog sal hierdie “wonderwerke”, leuens wees. Dit sal bonatuurlik, maar demonies wees – satanies van oorsprong.

Die sleutel om die aantrekkingskrag van bonatuurlike leuens te weerstaan, is om die leerstellings van die “wonderwerker” met Bybelse waarheid te vergelyk. Hou in gedagte dat die eindtydse Antichris soos Christus sal voorkom, maar soos die subtiele draak – Satan die duiwel – sal praat. Dit bring ons by die vierde teken.

4. Hy sal ontken dat Christus in die vlees kom

Dit is ’n lewensbelangrike punt maar ’n subtiele een wat maklik is om mis te kyk. Die Skrif beskryf die fundamentele leerstelling van die Antichris: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris” (2 Johannes 1:7).

Baie mense dink dat Johannes bloot die idee dat Jesus nie regtig 2,000 jaar gelede in die vlees gekom het nie veroordeel. Dit is waar dat hy sulke valshede veroordeel. Lees egter noukeurig: Johannes sê dat die bedrieërs nie onderrig dat Christus “in die vlees kom” nie. Dit is ’n teenswoordige werkwoord, wat aandui dat Christus voortdurend in die vlees kom. Dr. Charles B. Williams – wie se vertaling van die Nuwe Testament hoog aangeskrewe is vir die aandag wat hy aan die besonderhede van die Griekse werkwoorde gee in die oorspronklike vertaling van die Nuwe Testamentiese teks – vertaal hierdie gedeelte asof dit sê dat die Antichris nie bely dat Christus “voortgaan om te kom” in die vlees nie.

Wat beteken dit egter?

Dit beteken dat die Antichris nie onderrig dat Jesus Christus vandag voortdurend in Christene leef nie terwyl Hy dieselfde soort lewe leef wat Hy 2,000 jaar gelede geleef het en Hy hulle help om te groei in gehoorsaamheid en ’n goddelike karakter. Die apostel Paulus verduidelik dit in ’n pragtige gedeelte: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galásiërs 2:20).

Dit is waarom Paulus skryf dat ons deur Christus se dood versoen is met God, maar “deur sy lewe gered word” (Romeine 5:10). In teenstelling met Christus wat dit “alles gedoen het” by Sy kruisiging, soos baie valse predikers onderrig, leef Christus daagliks ín bekeerde Christene en help Hy hulle om te groei en om hulle sonde nou, in hierdie lewe te oorwin. Die Antichris sal hierdie fundamentele – dikwels geïgnoreerde leerstelling – ontken en hierdie ontkenning sluit direk aan by ons vyfde teken.

5. Hy sal God se Wet verwerp

Ons lees in 2 Thessalonicense 2 dat Paulus die finale Antichris “wetteloos” noem. Hierdie stelling het egter nie betrekking op menslike wette nie. Die Antichris sal die Wette van God teëstaan – in werklikheid sal hy God se Wette – soos in die Bybel geopenbaar is – vervang met godsdienstige wette wat hulle oorsprong het in menslike tradisies en heidense bygelowe.

Daniël beskryf dit deur te sê: “ ... hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd” (Daniël 7:25). Daniël openbaar dat die Antichris, tye van aanbidding soos deur God ingestel is, sal verwerp ten gunste van ’n valse stel aanbiddingsdae en dat hy die Wette van God sal vervang met ’n ander stel wette – wette wat Christelik sal lyk, maar hulle oorsprong sal nie in die Wette van God wat in die Bybel opgeteken is, gevind word nie.

Die Antichris sal mensgemaakte godsdienstige wette, belydenisskrifte, sondebelydenis en tradisies bevorder en sal aanspraak maak op die gesag om die duidelike bevele en Wette van God wat in die Skrif gegee word, tot niet te maak. Kerkkalenders met mensgemaakte vakansiedae sal voorgehou word as vervanging van die Heilige Dae en Feeste van God wat in elke Bybel gevind word. Hierdie komende “wettelose een” sal as die Antichris, aanspraak maak op gesag oor wat die Almagtige God Sélf tot stand gebring het en pogings aanwend om die ware Wette van God te verander.

Soos u dalk opgemerk het, is baie van u wat hierdie artikel lees reeds geraak deur hierdie stelsel van die Antichris, wat al in plek is. Die oorgrote meerderheid van diegene wat hulleself “Christen” noem, het reeds hulle geloof in so ’n stelsel geplaas.

Die Antichris sal egter nie tevrede wees om die wêreld bloot tot sy valse leringe te bekeer nie. Hy sal ook die paar ware Christene wil uitskakel wat dit waag om die ware leerstellings van die Bybel te glo – die leerstellings wat sy valse leringe weerspreek. Dit bring ons by ons sesde, tragiese teken.

6. Hy sal ware Christene vervolg

Jesus Christus het Sy dissipels gewaarsku dat daar ’n tyd sal kom wanneer diegene wat ware Christene doodmaak, “sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Johannes 16:2). Dit is die tyd wat in Daniël 7:25 genoem word – ’n tyd wanneer die Antichris diegene gewelddadig sal vervolg wat God se ware Wette en bevele gehoorsaam.

Dink terug aan die beelde van die konsentrasiekampe en die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog waarin miljoene mense soos diere na hulle dood aangejaag is. Stel u nou voor dat sulke maatreëls op ’n ander minderheid toegepas word – daardie Christene wat Jesus Sy “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) noem, wat werklik daarna streef om die Tien Gebooie van God te gehoorsaam (Exodus 20:1-17; Deuteronómium 5:1-21).

Openbaring 12 beskryf die woede wat hulle [die Christene se] gehoorsaamheid, in Satan die duiwel veroorsaak en hoe hy daarop sal reageer. “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17). Hoe bewerkstellig die Antichris hierdie vervolging? Daardie krag is gekoppel aan ons finale teken.

7. Hy sal verwys na ’n herleefde “Romeinse Ryk”

Onthou dat die vrou die dier ry. Openbaring 13 waarsku dat die valse profeet die massas sal beïnvloed om die komende dier van Openbaring te ondersteun en dat die Antich      ris die krag van hierdie dier-mag sal aanvoer – wat ’n eindtydse herleefde “Romeinse Ryk” sal lei wat selfs die mag van vandag se Verenigde State sal oorskadu. Hierdie politieke en militêre kragreus sal krag en mag uitoefen soos die wêreld nog nooit tevore gesien het nie en dit sal lei tot die mees wydverspreide lyding in die geskiedenis van die mens.

Die Antichris sal die mag van die dier toespits op diegene wat weier om die Wette van God te verwerp – diegene wat Jesus Christus in gees en waarheid aanbid en weier om die Antichris se valse Christelikheid te aanvaar. Die resultaat sal ’n hedendaagse Inkwisisie wees op ’n gruwelike skaal wat nog nooit tevore in die menslike geskiedenis beleef is nie. Hierdie onheilige alliansie van ’n valse kerk en ’n tiranniese staat sal die wêreld oorheers in die nabye toekoms.

Die ware Christus sal seëvier

Selfs met al hulle kragte gekombineer – sal hierdie allerkragtigste alliansie van godsdienstige, politieke, ekonomiese en militêre mag nie opgewasse wees teen die terugkerende Jesus Christus nie. Hy sal op die aarde arriveer met Sy verheerlikte getroue volgelinge van hierdie huidige tyd, wat opgewek is om te regeer onder Sy welwillende gesag en die Koninkryk van God vir ewig te vestig. “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Openbaring 19:20).

Wat staan ons dus te doen wat betref hierdie ontnugterende profesieë? Ons moet onthou dat die Antichris se godsdiensstelsel, wat hy uiteindelik aan die hele wêreld sal verkwansel, vandag bestaan en die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, word reeds daardeur mislei. Ons hoef nie te wag totdat hierdie godsdienstige tiran op die toneel verskyn nie – ons kan nou optree om sy stelsel en sy vervalste Christelike stelsel te verwerp.

Net soos Openbaring 12 die vervolging wat nog voorlê openbaar, openbaar dit ook dat baie ywerige Christene tydens die komende Groot Verdrukking beskerm sal word (Openbaring 12:14). Inderdaad, Jesus vermaan ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Dit is nou die tyd om die waarheid van God te soek teenoor die leuens van vervalste “Christendom”. Ons bid dat u daardie waarheid sal soek en die misleidings van die komende eindtydse Antichris sal verwerp, terwyl dit vandag in ons wêreld aan die werk is.