Dit kan so “onskuldig” begin. Net ’n terloopse kykie, – ’n oomblik van opwinding. Dan nog ’n slag kyk. ’n Oomblik van nuuskierigheid verander in ’n fassinering. Dit trek ’n mens in, totdat ’n mens in dryfsand van skaamte en skuldgevoelens wegsink. Een keer word twee keer, dan drie keer. Een minuut word ’n uur. ’n Kortstondige afleiding word ’n gewoonte wat oor maande en jare herhaal word.

Dit is die valstrik van pornografie, wat niks minder as ’n verslawende dwelm is nie. Elke maand besoek 70 persent van mans tussen die ouderdomme van 18-34 webwerwe wat slegs pornografie vertoon. Hierdie webwerwe maak 12 persent van die Internet sélf uit. Dit is nie ’n probleem nét vir mans nie – ongeveer 17 persent van vroue is verslaaf aan pornografie. 90 persent van kinders tussen die ouderdomme van 8-16 het al ’n paar keer daarna gekyk – trouens, seuns van 12-17 jaar is die mees gereelde verbruikers van pornografie. Tydens elke sekonde wat verbygaan, kyk 30,000 mense pornografie en ongeveer $185,000 word elke minuut aan pornografie spandeer wat beteken dat minstens $10 miljard elke jaar aan pornografie bestee word (“Revealing Statistics Re: Pornography Addiction,” FHE Health, 15 Januarie 2023).

Wat gaan aan? Is daar hoop vir die miljoene mense wat deur ’n leefstyl van wellus verswelg word?

Die stille oorname

Pornografie is al met alle reg genoem “The Public Health Crisis of the Digital Age” (Psychology Today, 15 April 2021), want dit affekteer die brein op presies dieselfde manier as wat onwettige dwelms doen. Wanneer ’n persoon pornografiese materiaal sien, word die brein oormatig gestimuleer met chemikalieë wat plesier verskaf soos dopamien, serotonien, oksitosien en epinefrien. Die brein herbedraad homself om die ekstra chemikalieë te akkommodeer. Dit bou eers ’n verdraagsaamheid op en dan ’n afhanklikheid daarvan. Eers wil dit net die “goedvoel chemikalieë” hê en dan word ’n punt bereik waar die brein dit “nodig” het. Pornografie is ’n dwelm-epidemie en dit het die wêreld deur ’n stille storm getref.

Duisende verkopers van dwelmmiddels maak onbeskaamd wins uit hulle slagoffers – net soos met enige ander verslawing. Met die doel om hulle multi-miljard-dollar-industrie te beskerm, beveg dwelmhandelaars van hierdie perverse keuse van “self-uitdrukking”, onbeskaamd pogings om onwettige materiaal aan bande te lê – dit maak nie saak hoe vulgêr of vernederend dit mag wees nie. Die media beeld dit uit as onskadelike pret. Sommige misleide beraders moedig selfs paartjies aan om pornografie te kyk om huweliksprobleme op te los – ’n tragies afbrekende fout.

Sommige mense sal redeneer dat dit nie ’n groot probleem is om na ’n paar erotiese beelde te kyk nie – ’n “slagofferlose misdaad”. Daar is ook van die mense – meestal vroue – wat hulleself verkoop en selfs verkoop wórd om die pornografiebedryf aan die gang te hou? Wat van die verslaafdes self? Is hulle werklik tevrede met ’n gewoonte wat hulle vasvang in ’n siklus van onbeheerste wellus, wat gevolg word deur ’n afwaartse spiraal van selfveragting?

Al hoe meer navorsing toon die verwoestende uitwerking wat pornografie op diegene het wat in sy kloue beland. Dit verhoog die kans op ernstige kliniese depressie, gevoelens van eensaamheid, probleme om verhoudings aan te knoop en vol te hou, verlies van werk, finansiële probleme, huweliksontrou en egskeiding. Dalk is die mees verrassende effek van pornografie dat dit veroorsaak dat baie verslaafdes hulle vermoë verloor om ware seksuele intimiteit te geniet of selfs betrokke daarby te raak. Dit is ook nie al nie – soos die anti-pornografie-organisasie Fight the New Drug beskryf:

[Een] studie het bevind dat gereelde pornografiese verbruik aansienlik verband hou met ’n hoër voorkoms van depressie, angs en spanning sowel as swakker sosiale funksionering. In nog ’n studie het navorsers aan die Columbia Universiteit, Yale Universiteit en UCLA (Universiteit van Kalifornië, Los Angeles) ’n verband gevind tussen kompulsiewe pornografieverbruik en swakker geestesgesondheid, lae selfbeeld en swak gehegtheid in verhoudings (“5 Ways a Porn Habit Can Harm Your Mental Health,” 29 Mei 2023).

Wat is dan die oplossing?

Antieke raad

Duisende jare gelede het die aartsvader Job geskryf dat hy baie versigtig was oor waar hy sy oë toelaat om rond te dwaal: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?” (Job 31:1). Spreuke 6:23-25 gaan voort en sê: “Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie”. Die apostel Johannes herhaal dieselfde waarskuwing: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Johannes 2:15-17). Seksuele wellus en hebsug is glad nie iets nuuts nie, maar ’n baie ou versoeking. “Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het” (Spreuke 7:26).

Die apostel Jakobus verduidelik hoe versoeking plaasvind en waarheen dit lei: “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” (Jakobus 1:14). Die volgende vers sê dat wellus lei tot sonde en sonde lei tot die dood (Jakobus 1:15). Watter tipe dood veroorsaak pornografie as dit nooit oorwin word nie? Dit lei tot die dood van jou karakter en selfbeeld, die dood van vertroue en integriteit, die dood van waardigheid en selfvertroue en die dood van die genieting van gesonde verhoudings. Uiteindelik ook die dood in die poel van vuur. “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood (Openbaring 21:8). God wil nie hê dat enigiemand moet sterf nie, maar homself eerder bekeer en leef. “So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë!” (Eségiël 33:11). God haat pornografie omdat dit die lewens van Sy kinders wat Hy in Sy Koninkryk wil hê, vernietig.

Indien u aan pornografie verslaaf is maar wil verander, is daar goeie nuus – u kan verander. Eérs moet u egter verstaan dat u ’n magtige vyand het – Satan, die duiwel, wat nie wil hê dat u verander nie. Hy “verlei die hele wêreld” en mislei mense om te sondig (Openbaring 12:9). Die apostel Petrus waarsku ons om bewus te wees van Satan se aanvalle. Hy sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:8-9).

Satan slaan munt uit skaamte. Hy wil hê dat verslaafdes oorweldig sal voel. Indien u aan pornografie verslaaf is, wil Satan hê dat u voel dat u die enigste een is wat met so ’n probleem worstel. Hy wil hê u moet alleen, geïsoleer en onwaardig voel vir God se vergifnis.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Die apostel Paulus skryf: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:13-14).

God wil hê dat ons vry sal wees. Jesus het gesê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Hy gaan voort: “Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is” (vers 34). Paulus het dieselfde onderrig: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16). God wil hê dat ons vry is van die kettings van sonde en “so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking” (vers 19) en Hy sê verder: “Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (vers 22).

U kan gereinig word

Indien u aan seksuele wellus verslaaf is, maar bevry wil wees, wend u tot God met u hele hart – met alles waartoe u in staat is. Hy haat pornografie, maar Hy haat u nie. Onderwerp u aan Hom in elke gebied van u lewe. Dit alles behoort in elk geval aan Hom, want Hy het u gemaak. Verootmoedig uself voor die ewig-lewende God. Jakobus skryf: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jakobus 4:7-10).

Vra God om hulp met bekering en om ’n werklike verhouding met Jesus Christus te hê. U Verlosser het die versoekings van die vlees ervaar, tog Hy het nooit gesondig nie (Hebreërs 4:15). Hy het versoeking oorwin en Hy kan u deur Sy Gees krag gee, om te oorwin. “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18). Met ander woorde, daar is hoop om te kan oorwin.

Indien u regtig die verslawing wil oorwin, sal dit nodig wees om ’n paar konkrete veranderings in u lewe te maak. U sal situasies moet vermy waar u in ’n posisie geplaas kan word om ’n kompromie aan te gaan (Spreuke 7:25). Wanneer vriende veroorsaak dat u weer in u ou gewoontes verval, is dit tyd om nuwe vriende te vind (Spreuke 1:10). U ou kennisse is dalk nie vreeslik beïndruk oor u nuwe standaarde nie (1 Petrus 4:4) – maar vryheid van verslawing en die prys van die ewige lewe is die opoffering werd.

God raai ons nie net aan om onsedelike gedrag te weerstaan nie – Hy beveel aan dat ons ver daarvan af wegvlug (1 Korinthiërs 6:18). Leer watter faktore aanleiding gee tot verslawing. Wanneer val u in die versoeking? Wanneer u spanning ervaar? Dalk wanneer u depressief voel of verveeld is? Dalk het u nie gebid of Bybelstudie gedoen nie en u voel nie naby aan God nie? Deur uself te ken en die patrone van u gedrag te ontleed, kan u beter toegerus wees om te weet wanneer u in gevaar verkeer en kan dan stappe neem om te verhoed dat u terugval. Vir die porno-verslaafde kan daardie stappe waarskynlik wees om gebruik te maak van Internetfilters en verantwoordelike ondersteuners – vertrouelinge wat bewus is van u probleem – mense wat u kan vertrou en wat van tyd tot tyd na u kan omsien. Dit is die moeite werd.

Wees gevul met God se Gees

Die uiteindelike oplossing aan verslawing is meer geestelike diepte en doel – ’n inniger verhouding met God. Ons het God se hulp nodig om werklik magte so kragtig soos verslawings te oorkom. Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galásiërs 2:20).

Pornografie is nie ’n onoorkomelike vyand nie. Oorwinning vereis egter toewyding aan uself en u verhoudings. Die skrywer Matt Fradd sê in sy boek The Porn Myth: Exposing the Reality Behind the Fantasy of Pornography: “Ons staan teen pornografie sodat ons ook vir die waardigheid van die mens as ’n persoon kan staan. Elke keer wanneer ons ’n ander mens vir kunstige doeleindes of vermaak in beeld vaslê – behoort die vertoon van daardie beeld ander mense te lei om die misterie en die diepte van die mensdom te vier – nie hulle aan te moedig om die persoon as ’n goedkoop samestelling van liggaamsdele te behandel nie”.

Die Christen se lewe is ’n stryd tot aan die einde. “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe ... ” (1 Timótheüs 6:11-12). Wanneer u sukkel, moenie moed verloor nie. Jesus Christus wat in u woon, kan u gedagtes verander. Hy kan u lewe verander – u moet egter die keuse maak.