Om ’n harp te bespeel, rond te luier in hemelse wolke en geluksalig te ontspan in ’n permanente toestand van aftrede – dit is hoe miljoene mense verwag om die ewigheid deur te bring nadat hulle gesterf het. Dit klink dalk vreedsaam, maar is dit wat die Bybel sê? Jesus Christus het ’n totaal ander toekomsplan vir Christene beloof. In die bekende Bergpredikasie het Hy verkondig: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:5).

Beteken dit dat u die aarde sal beërwe? Wil u die beloning ontvang wat die Verlosser beloof het? Wat beteken dit in elk geval om “die aarde te beërwe”?

Verward oor die toekoms

’n Pew Research-meningsopname het in September 2021 bevind dat 73 persent van Amerikaners in die hemel glo en dat 62 persent in die hel glo. Ongeveer ’n kwart – 26 persent – het gesê dat hulle nie in die hemel óf hel glo nie, met ongeveer 7 persent wat beweer het dat hulle in ’n ander soort hiernamaals glo en 17 persent van die respondente glo nie in énige soort hiernamaals nie.

U mag dalk geskok wees om te besef dat die meeste mense wat in die hemel en die hel glo, nie verstaan wat een van daardie twee begrippe beteken nie – ook nie wat Jesus beloof het aan diegene wat in hierdie huidige tyd aan Hom getrou is nie. Is God se plan bloot dat ’n mens “na die hemel gaan” wanneer ’n mens sterf of sal ’n mens uit die dood opgewek word om ’n beloning te ontvang wat planeet Aarde insluit? Dit is nie iets wat Jesus weggesteek het nie. Hy het duidelik daaroor gepraat:

“En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:1-5).

Indien u daardie gedeelte noukeurig lees, sal u dalk besef dat terwyl Jesus die Koninkryk van die hemele aan Sy getroue volgelinge beloof het, Hy nie vir hulle ’n koninkryk in die hemel beloof nie. Hou hierdie voorbeeld in gedagte: Brittanje se monargie word die House of Windsor genoem. Dit is egter nie net in Windsor nie – dit heers oor ’n aantal nasies regoor die aarde. Net so strek die Koninkryk van die hemel, vanaf die hemel, maar oefen sy heerskappy op die aarde uit.

Soos ons inderdaad sal sien, wanneer Jesus Christus terugkom, sal Hy Jerusalem op die aarde, die hoofstad van Sy Koninkryk maak. Wanneer Hy terugkom, sal vandag se getroue Christene as hulle erfdeel ’n posisie van diens ontvang, wat in daardie Koninkryk onder Hom sal regeer. Hy sê vir ons: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 25:34).

Koninkryk of ellende?

Jesus het ons geleer om te bid: “ ... laat u Koninkryk kom” (Matthéüs 6:10). Hy het ons nie geleer om te bid: “Neem ons na U hemel nie”. Waarom het ons Verlosser vir ons gesê om te bid dat God se Koninkryk op die aarde gevestig sal word? Omdat ons wêreld onder die sondes van die mensdom ly. Dink maar net aan die miljarde mense wat in die vorige eeu gesterf het as gevolg van oorlogvoering of volksmoord. Daar woed selfs nou meer as twee dosyn oorloë tussen nasies of volke regoor die wêreld. Met die ontwikkeling van kernwapens gedurende die vorige eeu, kan ons nie meer as vanselfsprekend aanvaar dat ’n streeksoorlog, streekgebonde sal bly nie – met geleide missiele, ruimtekommunikasie, geleide lug tot grondbomme en met wêreldwye alliansies wat die verplasing van wapens beheer, kan twee oorlogvoerende Europese nasies die hele planeet in gevaar stel, soos ons tans sien in die wêreldwye kommer oor die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne.

Beteken dit dat ons wêreld reeds die “Groot Verdrukking” betree het wat Jesus Christus voorspel het? Het die vier perderuiters hulle geprofeteerde rit begin?

Nee, nog nie. Ons beweeg egter daarheen en dit is ’n onheilspellende rigting; Jesus waarsku: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:22).

Diegene wat die toename van vandag se streekkonflikte vrees, maak nie ’n fout nie. Huidige militêre tendense sal gevolglik ons planeet totaal uitwis. Jesus Christus sal egter op die aarde ingryp om ’n einde te maak aan die mensdom se oorloë en strydlustigheid voordat ons onsself vernietig.

Ver verwyderd van die idee van die hiernamaals as ’n ewige aftrede in ’n idilliese hemel, sal Christene in plaas daarvan ’n werk hê om te doen. In Sy koninkryk sal Jesus Christus vandag se Christene “konings en priesters vir onse God [ge]maak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

Ja, onder Christus se regverdige leierskap sal vandag se getroue Christene onder hulle Verlosser regeer en die wêreld die regte lewenswyse leer. Al die nasies van planeet Aarde sal na Jerusalem kom om die weg van vrede te leer. Die Skrif maak dit duidelik dat die hele aarde sal leer om dieselfde Bybelse Feeste te onderhou wat Jesus en die Apostels onderhou het en dit sal gebeur dat “almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaría 14:16).

Ja, elke nasie op aarde sal die Koning aanbid. Wanneer sal dit egter plaasvind en wanneer sal getroue Christene die Koninkryk beërwe? Die groot opstanding van getroue Christene sal by Christus se Wederkoms plaasvind:

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17).

Voorbereiding vir God se Koninkryk

Christene berei vandag voor vir hulle toekomstige dienslewering. Jesus het onderrig dat die belangrikste doelwit van ’n Christen is om eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid te soek (Matthéüs 6:33). Daardie soektog sal lei tot ’n posisie van diens in die Koninkryk van God, wanneer die opgestane Christene hulle Verlosser sal help om geregtigheid aan die mense van die planeet Aarde te bring.

Ja, die sagmoediges sal die aarde beërwe soos Jesus Christus gesê het. Hy sal alle nasies regeer as Koning van die konings en Here van die here. Getroue Christene sal Hom bystaan om oor die nasies te heers. My vriende, God roep baie individue om Hom en Sy werk te dien en om voor te berei om in Sy komende Koninkryk te dien as konings en priesters. “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6). Daardie duisend jaar word dikwels “die Millennium” genoem – die eerste duisend jaar van Christus se komende ewige heerskappy.

’n Koninkryk het ’n heerser, ’n grondgebied, onderdane en wette. Die Heerser van die Koninkryk van God op aarde sal Jesus Christus as Koning van die konings wees en vandag se ware Christene sal opgewek word om Hom as konings en priesters by te staan. Oor watter gebied sal die Koninkryk dus heers? Die aarde, waar Jesus Christus vanuit Jerusalem sal regeer. Ons lees: “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die Heilige Berg” (Sagaría 8:3).

Trouens, die stad sal ’n ander naam hê. Heel aan die einde van die boek Eségiël lees ons dat “ ... die naam van die stad sal van vandag af wees: Die Here is daar!” (Eségiël 48:35). Daardie naam van die stad in Hebreeus is Yahweh Shâm. Wanneer Christus terugkeer om die Koninkryk van God te vestig, sal sy grondgebied planeet Aarde wees. Wie sal die onderdane van daardie Koninkryk wees? Al die nasies van planeet Aarde. Ons lees: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9).

Regeer deur God se Wet

Die onderdane wat onder Christus se heerskappy leef, sal fisiese mense wees – mense wat gedurende die Millennium op planeet Aarde woon en hulle sal deur God se Wet beheer word.

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

Hoe skokkend is dit dat so baie hedendaagse mense wat hulleself Christene noem, die waarheid van God se Wet verwerp – die ware Wet wat vrede na ons wêreld sal bring onder Christus se heerskappy. Hierdie Wet is ver verhewe bo die mensdom se dikwels teenstrydige en onregverdige wette. Jesus het ons geleer om die Tien Gebooie te onderhou – onthou dat Hy gesê het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17). Hy het toe verskeie van die Tien Gebooie opgenoem. Hy het ook die Gebooie in die Bergpredikasie uitgebrei en dit meer bindend gemaak, soos toe Hy verduidelik het dat om met wellus na ’n persoon te kyk, is om die sonde van egbreuk te pleeg (Matthéüs 5:27-28).

Dit sal egter nie ’n wrede en onderdrukkende Regering wees nie; dit sal vrede en vreugde bring vir al die bewoners van die aarde wanneer hulle hul Koning gehoorsaam. Ons lees: “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Hierdie is die Evangelie – die goeie nuus van die Koninkryk van God. Hoeveel belydende Christene verstaan dit regtig? Miljoene mense glo dat hulle na die plek van hulle beloning sal gaan wanneer hulle sterf. Is dit egter die waarheid?

Kan ’n siel sterf?

Die apostel Paulus maak ’n stelling wat algemeen bekend is, maar nie so algemeen verstaan word nie. Hy skryf: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Let wel dat die Skrif nie sê: “Die loon van sonde is ’n onsterflike lewe in die helse vuur” nie. Die gevolg van sonde is nie onsterflike lewe nie; dit is die dood – die afwesigheid van lewe. Indien mense reeds onsterflike siele gehad het, sou hulle nie, soos die vers sê, die ewige lewe as geskenk nodig gehad het nie.

Ja, ’n siel kan sterf. “ ... die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4). Die Hebreeuse woord vir siel hier is nephesh, wat fisiese of natuurlike lewe beteken – dieselfde woord wat as “wesens” vertaal is en dierelewe beskryf in Génesis 1:21. Jesus het dieselfde in die Nuwe Testament onderrig en Sy volgelinge gewaarsku: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Matthéüs 10:28). Daardie “hel” is die Griekse woord gehenna, wat die brandende vullisputte buite Jerusalem voorstel waar vullis vernietig en tot as verbrand is – nie vir ewig aan die brand gehou is nie. Vir meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp, kan u ons aanlyn besoek by wvm.co.za om ons Januarie-Februarie 2024-artikel “Gaan u na die hel?” te lees.

Natuurlik onderrig die Bybel dat daar ’n menslike gees is – die gees in die mens word byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 2:11 genoem. Dit is egter nie ’n onsterflike siel nie. Daar is baie ander skrifture om te demonstreer dat mense nie onsterflike siele het nie. God het die profeet Eségiël geïnspireer om te sê: “ ... die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4).

Dit is waarom die opstanding uit die dood so belangrik is. U Bybel openbaar drie algemene opstandings uit die dood. Die eerste opstanding word hoofsaaklik in twee hoofstukke van u Bybel beskryf: 1 Korinthiërs 15 en 1 Thessalonicense 4. Vandag se getroue Christene sal hulle erfdeel by daardie eerste opstanding ontvang.

Wat doen afgestorwe Christene dus nou? Is hulle wakker in ’n liggaamlose toestand en wag hulle op hulle erfporsie? Wat van die miljarde mense wat deur die eeue vanaf Adam en Eva tot vandag gesterf het? Is hulle nou liggaamlose geeste wat wag om te hoor wat hulle ewige lot gaan wees of brand afgestorwe nie-Christene reeds in pyniging?

Die waarheid is dat diegene wat gesterf het, eenvoudig dood is. Die Skrif verduidelik dat “die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Omdat hulle niks weet nie, is dit asof hulle slaap. Hulle volgende oomblik van bewustheid sal kom wanneer hulle opgewek word. Om meer te wete te kom oor hierdie opstanding tot “ewige lewe” (Johannes 3:16), kan u ons Junie 2023-artikel “Vier verborge waarhede van Johannes 3:16” lees.

Die res van die afgestorwenes?

Die apostel Johannes het die eerste twee algemene opstandings beskryf:

“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Openbaring 20:4-5).

Wie is die “ander dode”? Dit is menslike wesens van ons huidige tyd van mense-heerskappy wat dood sal bly ten tye van die eerste opstanding, maar wat duisend jaar later opgewek sal word. Hier sien ons dat die “ander dode” die miljarde mense is wat gesterf het sonder dat hulle verstand geopen is vir ware Christenskap. Hulle sal na die Millennium opgewek word tydens wat bekend is as die Wit Troon Oordeel – ’n toekomstige fisiese leeftyd waarin hulle hul eerste geleentheid sal kry om Jesus Christus se leerstellings te aanvaar en te leer om Sy lewensweg te volg. Hulle sal onderrig word deur die opgestane eerstelinge onder die leiding van Jesus Christus. Teen daardie tyd sou hulle duisend jaar se ondervinding hê van wat dit beteken om saam met Christus te leef en te regeer, soos ons in Openbaring 20:4-5 lees. Die Skrif beskryf hierdie opstanding tot fisiese lewe:

“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Die Griekse woord wat hier met “boeke” vertaal is, is biblion. Die goeie nuus is dat die boeke oftewel die Bybel – die Heilige Skrif – vir die eerste keer oopgemaak sal word vir die begrip van die massas mense. Die boek van die lewe sal uiteindelik oopgemaak word vir diegene wat in die Wit Troon Oordeel opgewek word, soos ons in Openbaring 20:12 lees. Dit sal hulle eerste geleentheid wees om die waarheid te leer. Dit is nie ’n “tweede kans” soos sommige kritici dit noem nie – alle mense sal verantwoordelik gehou word vir hulle dade en gedagtes. Dit sal egter die eerste keer wees dat baie van hulle van hulle sondes bewus gemaak word. Hulle sal die geleentheid hê om hulle van daardie sondes te bekeer en Jesus Christus as hulle Verlosser te aanvaar.

Almal wat dood is, sal in een van die drie opstandings opgewek word. Indien u werklik in hierdie huidige tyd aan Jesus Christus behoort sal u in die eerste opstanding wees. Dit word “’n beter opstanding” genoem (Hebreërs 11:35), want dit is ’n opstanding tot die ewige lewe – tot onsterflikheid.

Diegene wat in die eerste opstanding is, sal die Bruid van Christus word. Die gelykenis van die tien maagde in Matthéüs 25 waarsku ons om gereed te wees vir Christus se Wederkoms en die bruilof van die Lam, wanneer vandag se getroue Christene vir ewig met Hom verenig sal word. “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak” (Openbaring 19:7).

Almal wat in hierdie huidige tyd as ware Christene gesterf het, sal in die Eerste Opstanding wees wanneer Christus terugkeer om die Koninkryk van God te vestig. Hulle sal Hom bystaan om in daardie Koninkryk te regeer gedurende die Millennium, wanneer die mense wat deur die naderende eindtyd leef en in daardie nuwe era bly leef, God se welwillende heerskappy sal ervaar.

Tydens die Wit Troon Oordeel sal die res van die mensdom – diegene wat nie in hierdie huidige tyd geroep is nie – opgewek word tot ’n fisiese lewe, waartydens hulle hul eerste geleentheid sal hê om van die ware Evangelie te hoor en om volgens God se manier te leef. Hulle verstand sal geopen word vir die Bybel en die ontsagwekkende werklikheid van God se Waarheid.

Nadat almal wat nog ooit geleef het ’n ware geleentheid vir redding ontvang het, sal diegene wat gesterf het nadat hulle wetend en permanent hulle geleentheid om op God se manier te leef, verwerp het, opgewek word en sal dan saam met die onboetvaardiges wat nog leef, in die poel van vuur gegooi word. Hulle sal vir ewig verbrand word en sal nooit weer bestaan nie. Dit is die derde opstanding.

’n Nuwe hemel en aarde

Ná die Millennium, die Wit Troon Oordeel en die poel van vuur, sal God die hemel en die aarde na ’n heerlike nuwe stadium bring en alles wat vooraf gebeur het, was ter voorbereiding hiervoor. Ons lees van hierdie wonderlike plan:

“En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:1-4).

Teen hierdie tyd sal alle mense ’n geleentheid gehad het om die Evangelie van Jesus Christus te hoor en daarop te reageer. Die eerste stap sal wees om die aarde te beërwe: Ons lees: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Ja, vir daardie mense wat Jesus Christus as hulle Verlosser aanneem en wat leer om volgens Sy weë te leef, sal daar ’n tyd kom wanneer hulle nie net hulle aardse erfenis sal ontvang nie, maar “alles beërwe” – die groot heelal.

Tot dan sal die eerstelinge ’n werk hê om te doen, soos ons in hierdie artikel gesien het. Ja, hulle sal bo die planeet Aarde uitstyg met die eerste opstanding, wanneer Christus hulle na die groot bruilof voor God se troon in die hemel neem (Openbaring 15:1-2 en

19:9). In teensteling met dit wat so baie belydende Christene verwag, sal die opgestane heiliges nie net in die hemel bly, weggevoer in ’n beswyming van die sogenaamde “geluksalige visioen” nie. Nadat God die sewe laaste plae op die aarde uitgestort het, sal hulle op wit perde saam met Jesus Christus terugkeer om die nasies te oorwin en Sy Koninkryk op die aarde te vestig (Openbaring 19:14).

Liewe Leser, u Vader in die hemel het u lief en wil hê dat u deel moet wees van Sy Gesin – om verlossing te ontvang, die aarde en alle dinge te beërwe. Sal u op Sy oproep reageer?