Vraag: Sommige groepe wat hulleself Christene noem, verkondig dat Jesus Christus ’n geskape wese is. Is Hy geskape of bestaan Hy van ewigheid af?

 

Antwoord: Die idee dat Jesus deur God die Vader geskape is, berus op ’n foutiewe begrip van die taal wat in Kolossense 1:15 en Openbaring 3:14 gebruik word, sowel as ’n onvermoë om die plan van God te verstaan soos dit op die mensdom van toepassing is.

Die Bybel toon egter dat die Vader sowel as die Seun vir ewig sélf bestaan. Al is daar net een God (Deuteronómium 6:4; 1 Korinthiërs 8:4), toon die Skrif dat hierdie een God een Goddelike Gesin is wat uit meer as een Wese bestaan (Génesis 1:26; Efésiërs 2:19; 3:15).

Volgens die Bybel is Jesus Christus die God van die Ou Testament, die “Woord” (logos) deur wie die Vader alle dinge geskep het (Johannes 1:1-3; 1 Korinthiërs 10:4; Efésiërs 3:9; Hebreërs 1:2). Nadat Hy Homself van Sy goddelike krag ontledig het (Filippense 2:7) om te sterf en die straf vir ons sondes te betaal (Romeine 6:23), het Jesus die “Eniggeborene wat van die Vader kom” geword (Johannes 1:14, 18; 3:16, 18) asook die Verlosser van die mensdom (1 Johannes 4:14). Hy het vir ons sondes gesterf en is weer opgewek sodat ons van die ewige dood gered kan word (Handelinge 4:10-12).

Die Beginner van God se skepping

Sommige mense verwys na die King James Vertaling en die New King James Vertaling van Openbaring 3:14 as bewys dat Jesus Christus ’n geskape wese is, aangesien dit Hom beskryf as die “begin van die skepping van God”. Die probleem is geleë in die vertaling van die Griekse woord arché, wat in die Ou Afrikaanse Vertaling as “begin van die skepping” weergegee word. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling dui dit korrek aan: “Hy deur wie God alles geskep het”. Hoe gee ander vertalings hierdie woord weer? Die New Revised Standard Vertaling lees dat Christus “die oorsprong van God se skepping” is en die New International Vertaling lees dat Hy “die heerser van God se skepping” is. Arché sou beter weergegee word om Christus as die “Beginner” of “Ontwerper” van die skepping aan te dui. Soos hierdie vertalings dit duidelik maak, impliseer Openbaring 3:14 nie dat Jesus die eerste geskape wese was nie; maar eerder dat Hy (Jesus Christus) die Een is wat álles geskape het na aanleiding van en in opdrag van God die Vader.

Sommige mense verstaan Kolossense 1:15 verkeerd. Hulle verstaan dat Christus “die Eersgeborene van die hele skepping” was, met ander woorde, dat Hy deel van daardie skepping was. Die Griekse woord wat hier vertaal word as “Eersgeborene” – prōtotokos (van prōtos, wat “eerste” beteken en tiktō, wat “om te verwek” beteken) – dui nie daarop dat Jesus geskape is nie. Dit herinner ons eerder daaraan dat Hy deur sy opstanding die “voorrang” gehad het as “Eersgeborene uit die dode” (vers 18; Openbaring 1:5). Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words merk tereg op ten opsigte van Kolossense 1:15 dat Sy, [Christus se] ewige verhouding met die Vader in die vooruitsig is en die klousule beteken dat Hy die ‘Eersgeborene’ is vóór die hele skepping en dat Hy self die skepping voortgebring het (die genitiewe selfstandige naamwoord is die voorwerp van die oorspronklike werkwoord en derhalwe objektief, soos vers 16 dit duidelik maak) (bl. 241) “... want in Hom [Christus} is alle dinge geskape” (vers 16). Hy het Homself nie geskape nie!

Geen begin of einde nie

Nog ’n belangrike sleutel om die apostel Paulus se leer te verstaan word gevind in Hebreërs 7. In die dae van Abraham was Melgisédek die koning van die stad wat later Jerusalem genoem sou word en Priester van die Allerhoogste God (Génesis 14:18). Paulus skryf dat Melgisédek van ewigheid af bestaan het, en “sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur” (Hebreërs 7:3). Melgisedek was “soos die Seun van God”, en bly vir ewig God se Hoëpriester. Jesus Christus is nou ons Hoëpriester (Hebreërs 5:10) en Hy en Melgisédek is een en dieselfde ewige Wese. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, kan u ons November-Desember 2009-artikel “Wie was die God van die Ou Testament?”, lees, beskikbaar by wvm.co.za.

Diegene wat Jesus Christus as ’n geskape wese beskou, verstaan nie God se verlossingsplan nie. Jesus Christus, die “Woord” wat vir ewig “God” was en voor die skepping “by God” was (Johannes 1:1-2), sal terugkeer as “Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16) om ewige vrede op die aarde te vestig (Jesaja 2:2-4).