Vir meer as honderd jaar was daar op byna elke Kanadese 5-sent stuk die beeld van ’n knaagdier van ongeveer 27 kilogram. Sommige Kanadese bevraagteken waarom hulle nasie ’n geldstuk met ’n knaagdier daarop munt, in plaas van dalk ’n manjifieke ysbeer. Castor Canadensis – die bewer – seëvier nogtans. Dit bly ’n simbool van harde werk, volharding en plig. Besig soos ’n bewer is inderdaad ’n frase wat gereeld gehoor word. Wat kan ons dus by hierdie onwaarskynlike leermeester leer?

In die vroeë dae van Europese nedersetting regoor Kanada, het geen enkele faktor so ’n groot invloed gehad soos die Noord-Amerikaanse bewer, wat ook regoor die Verenigde State en noordelike dele van Meksiko gevind word nie. Hulle is van spesiale belang vir setlaars wat verder in die noordelike dele van die vasteland woon. Vir eeue lank was bewervelle die dryfkrag agter verkenningsreise, uitbreiding, oorloë en politiek, nie net van Kanada nie, maar ook van die Verenigde State, waar dit in die vroeë 1800’s die enkele belangrikste handelsartikel was namate die V.S. weswaarts uitgebrei het. Die bewer is gewaardeer vir sy pels, maar dit was ook ’n plaag omdat sy natuurlike gewoontes oorstromings, padverspoelings en verlies van waardevolle bome veroorsaak het. Saam het hierdie twee faktore ’n dramatiese afname in die bewerbevolking gesien wat byna tot uitwissing gely het in baie Amerikaanse streke waar hulle voorheen floreer het.

In die twintigste eeu het die stel van strikke afgeneem en bewerbevolkings het self weer op hulle eie begin toeneem met die hulp van omgewingsbewustes wat die waardevolle dier weer in ou habitatte gevestig het. Die herlewing van die bewer was inderdaad so groot dat sommige dele van Kanada programme begin het om beweraanwas te onderdruk om die probleme aan te spreek wat deur die toenemende bewerbevolking veroorsaak was. Daar is nou nuwe stemme ter verdediging van hierdie byna beswadderde knaagdier, wat wys op die bewer se waardevolle rol in die skepping van volhoubare omgewings.

 

Harige hidro-ingenieur

Bewers is ná die mens tweede in hulle vermoë om die omgewing permanent te verander om aan hulle behoeftes te voldoen. Bewers verander landskappe en bring water terug na gebiede wat voorheen dor was. Hierdie harige hidro-ingenieurs begin in ’n klein stroompie met vertikaal gepakte stokke, dan weef hulle takke deur die stokke en pak dit met modder of ander afval plantmateriaal soos opdrifsels ensovoorts. Hulle plaas groter stompe parallel met die watervloei, heg dit in plek met meer modder en afval en gaan dan voort met die proses om die struktuur se breedte en hoogte uit te brei. Sonder die hulp van wiskunde kan hulle instinktief ’n boog vorm om ’n dam wyer te maak om die verhoogde waterdruk te absorbeer, aangesien hulle werk die gevolg het dat die water dieper word.

Hulle werk sonder ophou. In die noorde van Alberta, wat oor die grens van die noordwestelike gebiede strek, is die Wood Buffalo Nasionale Park die tuiste van wat glo die wêreld se grootste bewerdam is, met ’n omtrek van ongeveer 2,000 meter en ’n oppervlakte van ongeveer 70,000 vierkante meter – groot genoeg dat dit sigbaar is op foto’s wat deur satelliete, wat om die aarde wentel, geneem is. Die poel water wat deur die dam geskep word, bevat na raming ongeveer 70,000 kubieke meter water, gelykstaande aan 1,600 hokkiebane.

Bewers is goed ontwerp vir hulle rol. Hulle het tande wat nooit ophou groei nie, liggame wat perfek gemaak is om te swem, oë met ingeboude swembrille en die vermoë om vir 15 minute lank onder die water te bly. Hulle is gebou om swaar stompe, baie meer as hulle eie gewig, op te tel en na die water te trek. Hulle kon nie beter geskape gewees het vir die werk wat hulle verrig nie.

Die geluid van lopende water motiveer hulle, omdat dit ’n bedreiging vir hulle tuiste inhou. Aangesien ’n bewer se blyfplek diep genoeg in die water moet wees om in die winter onder die ys in te gaan, moet enige vloeiende water gestop word. In een geval is ’n bandopnemer wat die geluid van lopende water naboots, in ’n gebied gelaat wat deur bewers bevolk is. Binne ure is die toestel toegedam en in modder begrawe!

 

Onderhouer van ekosisteme

’n Volwasse bewer kan meer as 400 bome per jaar afsny vir dam- en woonplek se konstruksie sowel as vir voedsel, aangesien boombas die bewer se primêre dieet is. Hulle werk is nie nét vernietigend nie, aangesien hulle gedeeltes van die woud naby ’n dam afsny, die gebied in werklikheid eintlik oop en skoonmaak vir welige groei van nuwe grasse, struike en jong bome en sodoende die voedselvoorraad vir wildlewe vermeerder wat ook voordeel trek uit die groter oorvloed van damwater. Die bewer se werk vernuwe en onderhou die ekosisteem. Wanneer die dam uiteindelik met slik en plantafval vul, beweeg die bewers verder, nadat hulle ’n nuwe weiveld geskep het. Hulle ou damme wat weggesteek word deur die welige groei van plante wat veroorsaak dat water onder die nuwe grondoppervlak vasgevang word, help om die gebied teen toekomstige droogte te beskerm.

Dr. Glynnis Hood het jare lank spandeer om die aktiwiteite van bewers en hulle impak op die landskap te bestudeer en te dokumenteer. Alberta’s Elk Island Nasionale Park was ’n perfekte laboratorium, wat 54 jaar se rekordhouding oor bewerbevolkings en oop water in tye van surplusreën en droogte verskaf het. Haar werk is gepubliseer in ’n boek met die titel: The Beaver Manifesto, en daarin is gedokumenteer wat die impak van die bewer is om die ekosisteem droogtebestand te maak. Sy het bevind dat jarelange damme en mere waarin bewers gebly het, nege keer meer oop water gehad het as dammetjies waar bewers nie teenwoordig was nie, ongeag die reënval-syfers. In 2002 het Alberta een van die ergste droogtes in die geskiedenis gehad. In Elk Island Park was die enigste plekke met baie damwater, dié met bewerbevolkings. Soos sy geskryf het:

In die meeste plekke is ’n wêreld sonder bewers ’n wêreld sonder water en die lewe wat dit ondersteun.

Ten spyte van die goeie werk wat die bewers doen, beskou sommige mense hulle steeds as ’n probleem. Michel Leclair, bestuurder van Gatineau Park in Quebec, het jare lank probeer om bewer-aktiwiteite te beheer deur damme met dinamiet oop te skiet en bewers dood te maak. Die doeltreffende en vlytige knaagdiere het dit tog vinnig weer herbou, wat gelei het tot die versperring van afvoerpype en die oorstroming van paaie. Soos dit dus uitgebeeld is in die Canadian Broadcasting Corporation se dokumentêr, The Beaver Whisperer, het Leclair besluit om met die bewers saam te werk. Aangesien die geluid van bewegende water hulle motiveer om damme te bou, het hy die geluid van lopende water voortgebring deur pale in strome te plaas, wat die bewers aangespoor het om te bou op plekke waar hy wou hê daar ’n dam moes wees. Vandag bestuur hy ’n doeltreffende waterbestuurstelsel in ’n groot park – met honderde bewers wat as sy gewillige, gretige – in afwesigheid van vakbonde – onbetaalde staatsamptenare dien! Soos Leclair in The Beaver Whisperer beskryf, vereis die proses van die menslike bou van damme – selfs vir ’n kleinerige dam – duur en tydrowende ontwerp, ingenieursverslae, omgewingsevaluerings en konstruksiekontrakte. In plaas daarvan lok Leclair die bewers om die werk binne ’n kwessie van dae gratis te doen, sodra hy hulle wys waar die terrein is waar daar gewerk kan word.

 

Die wildernis in ’n waterpoel

Die Skrif beskryf die kwaliteit van lewe in die Koninkryk van God wanneer Jesus Christus terugkeer na die aarde. God sê: Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne (Jesaja 41:18). God het die bewer as ’n harige hidro-ingenieur met instink geskep en geprogrammeer om Sy skepping te dien. Leclair se voorbeeld illustreer wat bereik kan word deur verkiesliker sáám met God se skepping te werk, in plaas van daartéén.

Laat ons dus die bewer waardeer – ’n simbool nie net van Kanada nie, maar van ywerige bedrywighede regoor die hele wêreld. Die merkwaardige bewer is ’n omgewings-superheld wie se werk dit is om vir ander lewende wesens water te stoor, die ekosisteem teen droogte te beskerm, besoedelde water te filtreer, woude oop te maak vir nuwe groei, verlate gebiede en klein stroompies in vrugbare weivelde te verander en grondwater te herstel.

Wanneer die terugkerende Jesus Christus Sy Koninkryk op die aarde vestig, sal die planeet volgens sy beoogde toestand herstel word. Die vlytige bewer sal ongetwyfeld sy bydrae lewer.