Die geluid van voetstappe het deur die tronk weergalm terwyl onverwagte besoekers die deur van sy sel genader het. Die gevangenes kon gedempte stemme buite hoor. Skielik het die deur oopgeswaai en die wagte het haastig rondgekyk. Hulle het toe een van die gevangenes gegryp – ’n man van omtrent 30 jaar oud – en hom haastig uit die sel geneem.

Buite is die gevangene beveel om ’n nuwe stel klere aan te trek ná hy gebad en geskeer het. Terwyl hy dit gedoen het, het sy gedagtes deur sy kop gemaal. Waarheen neem hierdie mense hom en wáárom? Die wagte het hom daarna haastig uit die tronk geneem en hom voor die magtigste koning van daardie tyd gebring. Die koning het toe begin praat, maar die jong man het nie geweet dat voordat die gesprek beëindig sou word, sy lewe vir altyd sou verander nie.

 

Deur sy broers verkoop en deur Farao opgehef

Die man se naam was Josef en die koning was Farao van Egipte. Josef se broers het hom 13 jaar tevore as ’n slaaf verkoop, toe hy net 17 jaar oud was (Génesis 37:25-36). Nadat hy onregmatig daarvan beskuldig is dat hy sy heer se vrou aangerand het, is Josef in die tronk gegooi (Génesis 39:20), net om jare later in sulke verstommende omstandighede vrygelaat te word.

Duisende jare later is die onreg wat Josef aangedoen is steeds skokkend om aan te dink. Ons kan tog aangemoedig en geïnspireer word wanneer ons dink aan die ontbering waardeur God vir Josef gehelp het om te oorwin en die wysheid en krag van God se plan om Josef se mense en die hele nasie van Egipte te red. Daardie plan het egter afgehang van Josef se gewilligheid om homself getrou, met geduld en vertroue, aan God se wil te onderwerp.

Volgens die verhaal wat in Génesis opgeteken is, leer ons dat – na 13 verskriklike jare van slawerny en daarna gevangenskap, Josef skielik deur Farao vrygelaat is. Hy is daarna onverwags verhef tot die tweede hoogste amp van die magtigste regering van daardie tyd. Hoe het dit gebeur?

Farao het verontrustende drome gekry. Die eerste droom het behels dat sewe “maer en lelike koeie” sewe “vet koeie opgeëet” het (Génesis 41:1-4, 18-21). Die tweede droom: “... die sewe maer are het die sewe mooi are verslind” (verse 5-7, 22-24). Die koning se skinker het Josef geken en was bewus daarvan dat hy drome kon uitlê, daarom het hy hom voor Farao gebring. Hier is Josef se uitleg: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen ... Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer” (Génesis 41:25, 29-30).

Josef het voorgestel dat ’n verstandige en wyse man (volgens vers 33) aangestel word om graan in te samel ter voorbereiding vir die jare van droogte. Farao het Josef vir hierdie belangrike taak gekies en die grondslag gelê om Egipte en die omliggende nasies van ondergang te red (Génesis 41:56-57). Onder Josef se leiding was Egipte voorspoedig en het die “laaste uitweg” geword gedurende ’n baie moeilike tyd. God het ook Egipte se voorspoed gebruik om Josef te herenig met sy broers wat uit Kanaän na Egipte gekom het op soek na graan (Génesis 42:1-3).

Meer as 3,600 jaar later is hierdie opgang vanuit die tronk tot mag, steeds verstommend! Dit getuig van God se krag om nie net families en stamme te bewaar nie, maar ook hele nasies. Wat kan ons dus leer uit Josef se opgang tot mag en wat het uiteindelik met Josef se familie gebeur? Kan ons vandag sy nageslag identifiseer? Alhoewel Josef opgang gemaak het, is sy nageslag op pad na ondergang?

 

Josef se toekoms is geprofeteer

Nadat Josef met sy broers herenig is, het hy sy vader Jakob, wie se naam na Israel verander is, laat haal (Génesis 32:28). Wat ’n vreugdevolle hereniging moes dit gewees het met die pa wat hy dertien jaar lank nie gesien het nie! Jakob roep toe sy seuns bymekaar om vir hulle te vertel wat met hulle eindtydse nageslag sou gebeur: “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar” (Génesis 49:1). Die bejaarde patriarg het toe ’n profesie gegee oor wat meer as drie duisend jaar later sou gebeur. Hy het onder die inspirasie van God gepraat en Josef se toekoms beskryf: “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur” (Génesis 49:22). Met ander woorde, dit sal goed gaan met Josef se afstammelinge in die laaste dae en “sal wees soos ’n tuin wat goed besproei is” en feitlik oorloop van voedsel.

Die nageslag van Josef sou ook ’n sterk weermag hê wat deur God se krag beslissende oorwinnings sou behaal (Génesis 49:23-24) en ook ryk seëninge sou verkry wat dié van ander volke oortref (Génesis 49:25-26). Jakob het ook ’n spesiale seën uitgespreek oor Josef se twee seuns – Manasse en Efraim: “Hy [Manasse] sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer [Efraim] groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word” (Génesis 48:19).

Die meeste mense neem aan dat Efraim en Manasse – asook die ander stamme wat in die dae van Rehábeam van Juda geskei het – “verlore” was nadat hulle in 721 v.C. deur antieke Assirië gevange geneem is (2 Konings 17:5, 23). Jesus Christus het tog Sy dissipels gestuur om vir “die verlore skape van die huis van Israel” te preek (Matthéüs 10:6). Alhoewel hulle verstrooi was, het Christus en Sy dissipels geweet waar hulle was en hoe om hulle te vind. Die apostel Jakobus het ook geweet waar die “verlore” stamme was en het sy brief begin met die inleiding: “... aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is” (Jakobus 1:1). Hulle is glad nie verlore nie!

Nadat hulle uit Assiriese ballingskap vrygelaat is, het die tien “verlore” stamme van Israel – met inbegrip van die stamme van Efraim en Manasse – na Wes-Europa migreer. Die stam van Efraim het uiteindelik uit Groot-Brittanje en die meeste van die Britse Statebond-lande bestaan. Manasse word vandag geïdentifiseer as die Verenigde State van Amerika. Om meer te wete te kom oor hoe die Skrif en geskiedenis die moderne identiteit van hierdie twee stamme openbaar, versoek gerus ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

 

Josef se vrygewigheid

Josef se geloof en wysheid – met God se leiding – het ’n deurslaggewende rol gespeel in die bewaring van Egipte en sy omliggende nasies tydens die katastrofiese droogte. Hy is deur sy volk as ’n redder beskou omdat hy nie voedsel weerhou het van diegene wat dit nodig gehad het nie (Génesis 41:57; 47:25; vergelyk Spreuke 11:26). Josef se beleid – terwyl hy weliswaar Farao se mag bevestig het – was ’n seën vir mense wat as gevolg van swaarkry gely het. Soos die geskiedskrywer Josephus opmerk, “[Farao] het hom op Josef beroep, wat die koring aan hulle verkoop het en hy het erken dat Josef ’n redder vir die hele menigte Egiptenare geword het. Hy het ook nie hierdie graanmark oopgemaak vir slegs die mense van daardie land nie, maar vreemdelinge het ook die vryheid gehad om te koop; Josef wie gewillig was dat alle mense, wat van nature aan mekaar verwant is, bystand behoort te hê van diegene wat ’n gelukkige lewe gehad het” (Antiquities of the Jews, volume 2, afdeling 6).

Josef was ’n voorstander van ’n ope mark, met toegang vir almal wat voedsel nodig gehad het. Sy dade en beleide was ’n seën en die Skrif openbaar dat daar geprofeteer is dat Josef se eindtyd-afstammelinge, ten spyte van hulle sondes en swakhede, ’n soortgelyke voordelige impak op die wêreld sou hê. God het vir Abram beloof: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Génesis 12:2-3).

Vanaf die vroegste jare toe Europese setlaars die kus bereik het, het God Amerika waarlik geseën! Ten spyte van sy toenemende sondes, was God lankmoedig en genadig en die hele wêreld is bevoordeel as gevolg van God se seëninge op hierdie hedendaagse afstammeling van antieke Israel. Honderd jaar gelede was die Britse Ryk die wêreld se grootste geldvoorskieter-nasie, wat verantwoordelik was vir ’n geraamde 40 persent van buitelandse beleggings regoor die wêreld. Brittanje is vandag egter net een van baie nasies wat met ’n verlammende nasionale skuldlas ’n stryd voer. So was die V.S. ook ’n land van welvaart – ná die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog was dit grotendeels Amerikaanse beleggings wat Europa en Japan gehelp het om van ’n verpletterende nederlaag te herstel. Dit lyk egter asof dieselfde V.S. vandag nie in staat is om die toenemende groei van sy nasionale skuld te kan beheer nie.

Die voormalige “arsenaal van demokrasie” en “broodmandjie van die wêreld” staar inderdaad ongekende uitdagings van die opkoms van China in die gesig. Alhoewel die V.S. steeds die wêreld se grootste jaarlikse BBP in 2021 gehad het – $23 biljoen, – volgens ’n verslag deur Goldman Sachs, was China in die tweede plek op $18 biljoen, En dit word geskat dat hulle die V.S. teen 2035 sal oortref as die huidige tendense voortduur.

Dit is genoeg om ’n mens te laat wonder of al daardie ou seëninge besig is om tot ’n einde te kom. Sal God se geduld met Amerika se toenemende ongehoorsaamheid opraak? Sal die V.S. binnekort nie ’n groter invloed op die wêreldtoneel beklee as Brittanje vandag nie? Wat hou die toekoms in vir ’n post-Amerikaanse wêreld?

 

Egipte ná Josef se afsterwe

Josef het 110 jaar oud geword (Génesis 50:26). Na sy dood het ’n nuwe Farao, Josef se beleid van welwillendheid beëindig en uit vrees die Israeliete gedwing om fisiese harde arbeid te doen as gevolg van hulle toenemende krag in getalle. Exodus 1:11 dui aan dat daar “toe opsigters van dwangarbeid” oor die Israeliete aangestel is. ’n welvarende en lewenslustige samelewing het plek gemaak vir slawerny en dwangarbeid.

Was die vooruitskouing die lot van Josef se hedendaagse afstammelinge? Skrywers, kommentators en selfs politici bespreek deesdae dikwels die “verval van Amerika”. Baie mense regoor die wêreld verwelkom die vooruitsig dat die V.S. “verootmoedig” sal word en nie meer ’n leier sal wees nie, maar eerder ’n gelyke of selfs ’n junior vennoot op die internasionale toneel. Soos Trita Parsi van die Quincy Institute-dinkskrum onlangs in die New York Times geskryf het:

Daar was ’n tyd toe alle paaie na vrede deur Washington gegaan het. Van die 1978 Camp David-ooreenkomste tussen Israel en Egipte wat deur president Jimmy Carter bemiddel is tot die 1993 Oslo-ooreenkomste wat op die Withuis-grasperk onderteken is, tot senator George Mitchell se Goeie Vrydag-ooreenkoms wat die gevegte in Noord-Ierland in 1998 beëindig het, was Amerika die onontbeerlike nasie vir versoening ... Met verloop van jare, soos wat Amerika se buitelandse beleid meer gemilitariseer geraak het en namate die handhawing van die sogenaamde reëls-gebaseerde orde toenemend beteken het dat die Verenigde State homself bo alle reëls stel, blyk dit dat Amerika opgegee het om die deugde van eerlike versoening na te streef (“The U.S. Is Not an Indispensable Peacemaker,” 22 Maart 2023).

Net toe die V.S. inderdaad besig was om internasionale geloofwaardigheid as ’n neutrale tussenganger met gesag te verloor, het China onder president Xi Jinping probeer om daardie rol oor te neem. Nadat hy Amerikaanse beleidmakers verras het met sy China-bemiddelde ooreenkoms tussen Saoedi-Arabië en Iran, het sy pogings om spanning tussen Rusland en die Oekraïne te bemiddel, heel moontlik selfs duideliker die toenemende politieke mag van China en die kwynende status van die V.S gedemonstreer.

Sal Amerika in die toekoms vrede en orde kan bevorder en handhaaf of lê daar chaos en katastrofe voor? Die antwoord kan in u eie Bybel gevind word.

Hou die Bybelse weergawe in gedagte dat God Israel met rykdom en belangrikheid beloon het vir gehoorsaamheid, maar dat Israel in tye van opstand met toenemende vloeke, onbeheerbare siektes, omgewingsrampe en militêre terugslae gestraf is. (Deuteronómium 28:1-25). God het hulle deur Moses gewaarsku dat wanneer sonde in Israel begin toeneem, hulle vorige posisie van wêreld ekonomiese leierskap plek sou maak vir verstikkende skuld en ekonomiese onderdanigheid (Deuteronómium 28:44). Israel het in 721 v.C. in ballingskap gegaan en toe is God se beloftes van seën vir 2,520 jaar uitgestel (Levítikus 26:18), maar selfs nadat die seëninge heringestel is, het Efraim en Manasse dit verkwis en het hulle voortgegaan om ongehoorsaam te wees aan hulle Skepper.

Is die Amerikaanse kultuur besig om toe te neem in groter goddeloosheid of is hulle besig om dieper te verval in losbandigheid? Hou in gedagte dat die V.S. vandag ’n politieke stelsel het wat deurtrek is met skynheiligheid en gierigheid. Die strate en stede raak al hoe gevaarliker. Baie van die kinders word groot met géén morele rigting of leiding nie. God se Wette word bespot en van die openbare platforms verwyder. Die vermaaklikheidsbedryf maak Christendom openlik belaglik, terwyl die media onsedelikheid onderskryf en bevorder. Miljoene mense het onbeteuelde gierigheid en selfsug aanvaar as “die Amerikaanse manier”.

Waarheen sal dit alles lei? Moses het gewaarsku dat indien Israel in die eindtyd sou weier om hulle te bekeer, dit ’n algehele en totale ineenstorting sou ervaar, wat sou lei tot nasionale slawerny. Let op sy waarskuwing aan Israel: “Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en Hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het” (Deuteronómium 28:47-48).

Die boodskap is duidelik: Tensy Amerika ’n drastiese koersverandering maak, sal dit tot sy ondergang lei. Jesus Christus waarsku oor ’n komende tyd wat bekend staan as die Groot Verdrukking (Matthéüs 24; Markus 13; Lukas 21). Dit is ’n tyd wat ook bekend staan as “’n tyd van benoudheid vir Jakob”, wanneer Israel weer in ballingskap sal gaan (Jeremia 30:7). Die geprofeteerde “dier”-mag sal hedendaagse Israel oorval en verower, net soos wat sy antieke voorganger Assirië, in 721 v.C. gedoen het. Hierdie “dier”-mag sal ’n bondgenootskap met ’n groot valse kerk hê en vir ’n kort tydjie sal hierdie godsdienspolitieke mag voorspoed vir nasies oor die hele wêreld bring (Openbaring 18:11-15).

Hierdie voorspoed sal egter teen ’n verskriklike prys kom. Hierdie kortstondige, godslasterlike wêreldmoondheid sal genadeloos regeer en totale onderwerping aan sý wil eis (Openbaring 13:1-8). Godsdiens- en persoonlike vryhede, wat vandag in baie lande as vanselfsprekend aanvaar word, sal verdwyn (vers 15). Kort voor Jesus Christus se Wederkoms, sal hierdie mag ’n verwoestende militêre optrede van vyf maande in die Midde-Ooste uitvoer, soos dit beskryf is in Openbaring 9:9-12. Dit sal ’n vernietigende teenaanval deur ’n leër van 200 miljoen man uit die ooste tot gevolg hê (Openbaring 9:15-18).

Hierdie eindtydse oorlogsbrand sal lei tot ’n algehele kernoorlog, wat ’n derde van die planeet se bevolking sal laat sterf. Die wêreld sal tot op die rand van selfvernietiging gebring word. Was dit nie vir Christus se terugkeer na die aarde nie, sou geen vlees gespaar word nie (Matthéüs 24:22). God sal egter in sy genade nogtans nie toelaat dat die mensdom homself vernietig nie. Jesus Christus sal na die aarde terugkeer, Sy Koninkryk vestig en met billikheid en geregtigheid vir duisend jaar regeer (Openbaring 20:6). Dit sal egter nie gebeur voordat die wêreld deur ’n tyd van ongekende rampspoed gegaan het nie (Matthéüs 24:21).

 

Verootmoedig tot grootheid

So, kan ek en u gespaar word van die komende gruwels van die Groot Verdrukking en die Dag van die Here? Die bemoedigende antwoord is ’n uitdruklike “Ja!”

Dink weer aan die voorbeeld van Josef. As jong man het hy buitengewone deursettingsvermoë getoon om sukses te behaal. Dit kan gesien word in sy diens aan Pótifar en sy werk vir die tronkbewaarder (Génesis 39:2-3, 5, 21-23). Selfs vóór Josef se verblyf in Egipte, het God hom laat droom oor sy uiteindelike leierskapsrol oor sy broers wat voorspel is (Génesis 37:5-11). Josef het nogtans baie gehad om te leer voordat hy gereed was om die beheer oor te neem. Dit was vir God nodig om hom te toets en te onderrig. Hy het toegelaat dat Josef verootmoedig word en sy trots en ydelheid verpletter word. Josef het God getrou gehoorsaam en soos elke dag verbygegaan het, het hy geleer om geduldig op God te wag en op Sy wil te vertrou – hy het ’n man geword wat God kon gebruik in die hoogste regeringsvlakke in die grootste nasie van daardie tyd.

Die dringende oproep vir ons vandag is duidelik: Indien ons ons Verlosser, Jesus Christus liefhet, moet ons daarna streef om Hom en Sy Wette te gehoorsaam (Johannes 14:15). Ons moet op Hom vertrou vir ons seëninge – in plaas daarvan om op ons eie vindingrykheid en krag staat te maak (Deuteronómium 8:18). Ons moet waarlik God se wil eerste stel, sonder enige voorwaarde, soos Jesus dit Self gedoen het (Matthéüs 26:39).

Is ons werklik bereid om verootmoedig te word, soos Josef verootmoedig was? Dit is die hoogste toets! Die profeet Maleági het geskryf: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees” (Maleági 4:1). Jesus Christus het vir Sy volgelinge gesê: “En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; [in opregte en volkome bekering]; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel” (Matthéüs 21:44). God het groot beloftes aan hedendaagse Christene gegee – selfs dat hulle saam met Hom in Sy Koninkryk sal regeer (Openbaring 20:6). Ons moet egter eerstens soos Josef, absoluut toegewyd wees om God se wil in ons lewens uit te voer!

Die apostel Johannes skryf: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:8-9). Dit is nou die tyd vir diegene “Wie ore het om te hoor” om hulle te bekeer (Matthéüs 13:9) – want selfs in hierdie laaste dae, beloof God hulp en verlossing aan diegene wat Hom van harte soek.

Die Amerikaanse era sal binnekort eindig, soos deur die Bybel voorspel. In baie opsigte het dit rééds geëindig. Moet dus nie dat die ondergang van die V.S. u onverwags oorval nie! Jesus Christus het bemoedigende instruksies gegee oor hoe ons die komende onstuimige tye met moed en geloof tegemoet kan gaan: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie ... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Maak seker dat u en u geliefdes die lesse van Jakob leer en gereed is vir die wêreld ná die ondergang van Amerika!