Die idee dat Aarde plat is – in plaas van die wonderlik ronde “afgeplatte sferoïed” wat die meeste van ons ken en liefhet – het die afgelope paar jaar verbasend baie aandag gekry. In April 2022 het die Universiteit van New Hampshire berig in verband met ’n meningsopname wat bevind het dat 10 persent van die respondente in die Verenigde State glo dat “Aarde plat is, nié rond nie”. Die opnamemaatskappy YouGov het bevind dat slegs 66 persent van jong mense tussen die ouderdomme 18 tot 24, ten tye van die peiling, “vas glo” dat Aarde rond is. YouGov het verder bevind dat diegene wat glo dat Aarde plat is, meer geneig is om godsdienstig te wees as die algemene publiek.

Trouens, terwyl sommige mense beweer dat hulle op grond van “wetenskaplike” redes glo dat Aarde plat is, sien ander mense die argument wat betref ’n plat Aarde teenoor ’n ronde Aarde onderskeidelik as ’n saak van geloof in God teenoor ’n ateïstiese siening van die wêreld en die skepping. ’n Paar mense wat glo Aarde is plat het selfs vir ons hier by Tomorrow’s World geskryf om ons aan te moedig om ons lesers te leer dat Aarde plat is – of die teenoorgestelde, om ons te berispe omdat ons die ronde Aarde “leuen” aanhang.

Is “plat teenoor rond” op een of ander manier ’n vraag wat nie beantwoord is nie? Vereis die Bybel van ons om te glo dat Aarde plat is?

Kom ons beskou die vraag noukeurig.

 

Bewyse wat enige enigiemand kan sien

Daar moet van die heel begin af duidelik gemaak word dat daar eenvoudig geen verskynsel op Aarde gevind kan word wat nie deur ’n ronde Aarde verduidelik kan word nie, terwyl daar terselfdertyd – geen logiese verduideliking is vir ’n plat-aarde-teorie wat alle verskynsels so eenvoudig en vindingryk verklaar nie. Die meeste idees van ’n aarde wat plat is, is dikwels ad hoc-uitsprake wat nie as ’n geheel bymekaar pas om die wonderbaarlike versameling ervarings te verduidelik wat ons daagliks op hierdie planeet beleef nie. Indien ons verstaan, dat Aarde rond is, verklaar dit egter alles.

Dink net aan ’n paar voorbeelde – geen ingewikkelde toerusting word selfs benodig nie.

Die meeste “plat” modelle het die son en maan wat in ’n sirkel bokant ’n skyfvormige Aarde beweeg. Elke sonsopkoms en -ondergang, sowel as elke maanopkoms en -ondergang is ’n weerspreking van ’n plat aarde idee. Daar is geen plat model wat dit moontlik sou maak dat die helfte van die maan duidelik sigbaar is op die horison en die helfte daarvan daaronder nie. Dieselfde argument geld vir die son. Dit is ’n feit dat die son en maan nooit die horison sal sny nie. Diegene wat probeer om hulle oortuigings van ’n plat aarde op een of ander wetenskaplike grondslag te baseer, werk hard om dit te regverdig, deur maniere uit te vind om lig te buig en om voorwerpe dieselfde grootte te laat vertoon, maak nie saak hoe ver hulle is nie en hulle skep nog ander verbeeldingryke verduidelikings. Niks kom egter naastenby ooreen met die eenvoud wat ’n ronde Aarde bied nie.

Beskou die Maan ’n bietjie aandagtiger. Indien Aarde plat was, sou iemand aan die een kant van die planeet, wat na ’n opkomende Maan kyk en iemand aan die ander kant van die planeet wat na die Maan, wat besig is om onder te gaan, kyk, sou heeltemal verskillende dele van die Maan sien, aangesien hulle dit vanuit heeltemal verskillende hoeke sien. Wat egter die ronde Aarde-model perfek pas, sien albei individue feitlik identiese gedeeltes van die maan, net soos hulle dit sou sien indien die aarde rond en die maan ver weg was, terwyl dit om die aarde wentel. (Dieselfde kan gesê word van sonvlekke, hoewel dit nie met die blote, onbeskermde oog gesien kan word nie.)

Die sterre in die ruimte bo ons is nog ’n getuie. In die noordelike halfrond wentel die sterre elke nag om Polaris, die Noordster. Mense wat glo die aarde is plat beweer dat dit bewys dat die Noordster bokant die pool in die middel van die plat aarde lê. Indien ons die feit ignoreer dat mense so ’n verskillende gedeelte van die lug sien, afhangende van waar hulle in die noordelike halfrond is, laat ons die parallelle feit in die suidelike halfrond in oënskou neem. Diegene in die verste suidelike dele van die wêreld sien hoe die lugruim om ’n vasgestelde punt in die suidelike lugruim wentel – naby ’n konstellasie wat die Suiderkruis genoem word. In die meeste modelle van ’n plat aarde, behoort dit egter onmoontlik te wees, aangesien daardie modelle glad nie ’n suidpool het nie. Dit is duidelik dat die sterre van die suidelike halfrond nie aanhangers van die plat-aarde-modelle is nie.

Sommige mense wat glo die aarde is plat, bied verduidelikings, maar weereens is dit dikwels, ad hoc verduidelikings of voorbeelde van “spesiale pleidooie” – nie konsekwente wiskundige modelle wat inpas by al die ander beskikbare bewyse nie. ’n Ronde aarde-model bevestig weereens maklik al daardie bewyse en meer.

 

Bybelse argumente vir platheid?

Bewerings van wetenskaplike ondersteuning vir ’n plat aarde slaag eenvoudig glad nie die toets van enige uitgebreide ondersoek nie. Verduidelikings gebaseer op ’n ronde aarde is egter nie net eenvoudig nie, maar ook op sigself konsekwent en het die toets van tyd deurstaan.

Wat van bewerings dat die Bybel ons van ’n plat aarde leer? (Dra sulke eise enige gewig?) Ja, die bevindings van die fisiese wêreld – nie net dié wat deur groot instellings soos NASA ontwikkel word nie, maar waarnemings en eksperimente wat ons as “gewone leke” kan doen – ondersteun konsekwent die bestaan van ’n ronde aarde, maar is daar Bybelse bewyse wat ons behoort te noodsaak om sulke bevindings as van nul en gener waarde te beskou en te verklaar?

Nee, daar is nie. Geen Bybelverse, indien dit reg verstaan word, verg geloof in ’n plat aarde nie.

Sommige mense verwys byvoorbeeld na verse soos Jesaja 11:12, wat die “vier hoeke van die aarde” noem. Selfs plat aarde aanhangers glo nie dat die aarde ’n plat vierkant met vier letterlike hoeke is nie. Dit is duidelik dat dit ’n verwysing is na die vier kompasrigtings wat bedoel dat dit die hele wêreld insluit. Selfs vandag gebruik baie mense die uitdrukking “die vier uithoeke van die aarde” sonder enige sweempie van spot en met volle begrip van wat ons sê.

Net so sal sommige mense verwys na gedeeltes wat die “uiteindes van die aarde” noem, soos Psalm 67:8, Miga 5:3 en Handelinge 1:8. Wanneer ons noukeuriger kyk, sien ons dat die Bybel praat van mense wat op die eindes van die aarde woon (bv. Psalm 67:8, Jesaja 45:22, Lukas 11:31). Is daar enige mense op aarde wat op die rand van ’n plat oppervlak woon? Nee. Die uitdrukking beteken duidelik om tot die verste moontlike uiterstes te gaan – soos om te verseker dat die Evangelie na elke deel van die wêreld uitgaan.

Sommige mense sal verwys na die “uitspansel” – in die woorde van Génesis 1:6-8 in die Ou Afrikaanse Vertaling – wat bo die aarde geplaas is en beweer dat dit bewys dat die sterre, son en maan as deel van ’n harde koepel bokant ons koppe bestaan, asof ons in ’n reuse sneeubol leef. Hierdie woord word in Hebreeus ook vertaal as “uitspansel” of iets wat uitgerek is (sien die English Standard Vertaling of die New American Standard Bible). Daarom kan gedeeltes soos Génesis 1:20 sê: “... laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel” – want dit is nie ’n harde koepel nie, maar die breë hemelruim bokant ons koppe. Weereens word geen plat aarde geverg nie.

Ander mense sal verwys na die “pilare van die aarde” wat in ’n paar verse genoem word, maar word dit letterlik bedoel? Een voorbeeld kom in Psalm 75:4 voor: “Al wankel die aarde en al sy bewoners – Ék het sy pilare vasgestel.” Slegs vyf verse later, praat hierdie Psalm ook van ’n beker in God se hand, wat gevul is met rooi, gemengde wyn wat Hy uitgooi, wat die goddeloses van die wêreld laat “opslurp, [en] uitdrink” (vers 9). Hy voed nie letterlik die goddeloses nie en die wyn is duidelik beeldspraak vir Sy toorn (vers 9). Terwyl baie mense versuim om die Bybel letterlik op te neem wanneer dit nodig is, is dit ook moontlik om nie beeldspraak te sien wanneer God dit gebruik nie en Hy gebruik dit wel. God is nie letterlik ’n rots nie (Psalm 18:3) en Israel is ook nie letterlik ’n wingerd nie (Jesaja 5:5). Versuim om dit te respekteer wanneer God sommige van Sy uitsprake digterlik uitdruk, dui daarop dat Sy Woord net soveel geminag word soos om Hom nie letterlik op te neem wanneer Hy wel letterlik praat nie.

Laastens, gebruik ander mense gedeeltes soos Daniël 4:11, wat ’n boom beskryf wat “tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was” of Matthéüs 4:8, waarin die duiwel aan Jesus Christus die hele wêreld wys vanaf “’n baie hoë berg”. Sommige lees hierdie gedeeltes en vra: Hoe kan dit moontlik wees as die wêreld rond is?

Dit is egter duidelik visioene. Lukas 4:5 noem selfs “in ’n oomblik se tyd” – wat die bonatuurlike element van die visioen beklemtoon. Dit verg geen vereiste om ’n plat aarde te aanvaar nie, net so min as wat dit ’n letterlike bergspits vereis om te bestaan waar sulke uitsigte moontlik is – ’n uitsig wat selfs diegene wat bo-op Mount Everest is nie kan sien nie.

Ander gedeeltes kan vereis word deur diegene wat probeer om ’n plat aarde in die bladsye van hulle Bybel te laat inglip, maar hulle verteenwoordig almal soortgelyke misverstande. Daar is eenvoudig géén gedeelte in die Bybel wat van ons verwag om te glo dat die aarde plat is nie en almal van hulle, wanneer dit reg verstaan word, stem ooreen met die fisiese waarnemings van ’n ronde wêreld wat reeds duisende jare lank aangedui het die waarheid te wees.

 

Deel van die geskape orde, nie afsonderlik daarvan nie

Wanneer u daaraan dink, is die mensdom se tuiste baie soos die mensdom self. Neem in ag: Die mens is op dieselfde dag as die landdiere gemaak (Génesis 1:24-31). Hy is fisies gemaak, net soos die diere. Baie van die besonderhede wat ons oor diere leer, met inbegrip van feite oor iets so belangrik soos die brein se struktuur, is op die mens van toepassing. Die mens is deel van die geskape orde en het baie in gemeen daarmee.

Ons planeet het ook baie in gemeen met ander planete van die hemele wat daarmee saam geskape is (Génesis 1:1). Dit wentel om ’n ster, saam met ander planete, wat almal weerstoestande, nag en dag asook seisoene ondervind.

Die mens is egter nie bloot ’n dier nie. Hy is na God se eie beeld geskape. Hy is toegerus met vermoëns wat dié van enige dier verreweg oortref en ook aangedryf deur die krag van die Gees van God (Job 32:8), wat hom in staat stel om in gemeenskap met die Skepper te leef. Die mens is duidelik iets baie besonders onder al die lewensvorme van die aarde.

So is die aarde ook iets besonders. Dit is ’n wêreld wat geskik is om as die tuiste van die mens te dien (Jesaja 45:18) en eendag sal dit as hoofkwartier van die ganse heelal dien (Openbaring 21). Al die bewyse tot ons beskikking, toon dat ’n skitterende juweel tussen planete en hemelse voorwerpe is – ryk aan geografiese diversiteit en wemel van lewe, pragtig en glansryk.

Dit is nie ’n “afgradering” van ons planeet om dit as maar net een geskape planeet onder baie te sien nie – net so min as wat dit is om die mens as net nóg een geskape lewensvorm onder baie te sien. Inteendeel, die spesiale toewyding en aandag aan besonderhede wat die Skepper aan Aarde bestee het, net soos Hy dit ook aan die mensdom bestee het, is skitterend duidelik sigbaar vir almal wat hulle oë wil oopmaak.

Ja, ons einste bolvormige Aarde is deel van die geskape orde, net soos Venus, Mars, Jupiter en die ander planete. Soos die mens, troon Aarde uit as iets werklik besonders: Die uniek ontwerpte tuiste van die mens – die toppunt van God se skepping – die handgemaakte middelpunt van die Almagtige se verlossingsplan. Daardie plan wat nou besig is om op Aarde te ontvou, sal eendag die ganse heelal beïnvloed en die hele skepping sal weergalm met die vreugde daarvan (Romeine 8:18-21).

Ons tuiste hier in die kosmos is inderdaad ’n verstommende plek en ’n merkwaardige juweel in die kroon van die skepping. Die feit dat dit rond en nie plat is nie, verminder nie die pragtige waarheid in die minste nie.