Johannes 3:16 is waarskynlik die gewildste vers in die Bybel. Net ’n paar mense verstaan die diepsinnigheid en die ware omvang van hierdie vers.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Dit is van die bekendste woorde in die Bybel – Johannes 3:16 – wat hierbo uit die Ou Afrikaanse vertaling aangehaal is. Selfs baie mense wat nie persoonlik vertroud is met die Bybel nie, het dit waarskynlik al op advertensieborde bokant snelweë of op reusagtige baniere by sokkerwedstryde wat nasionaal gebeeldsend word, gesien. Minstens twee bekende Amerikaanse kitskos kettingwinkels druk daardie woorde asook ander Bybelverse op hulle koppies en voedselhouers.

Ongelukkig bly die vers ’n blote slagspreuk vir heeltemal te veel mense en relatief min van hulle verstaan ooit die diepere betekenis van die waarheid wat gevind word in daardie woorde wat deur die apostel Johannes geskryf is. Waarom? Die meeste belydende Christene vertolk hierdie vers na aanleiding van die invloed van eeue se menslike tradisies – wat dikwels met heidense valsheid deurdrenk is, in plaas daarvan om dit deur die lens van die Skrif te sien.

Daar is inderdaad, duisende verskillende vertolkings en menings oor hierdie vers – selfs onder belydende Christene. Die 2001 World Christian Encyclopedia identifiseer meer as 33,000 Christelike denominasies en hierdie duisende denominasies verskil onder mekaar in baie van hulle leringe en menings. Hulle kan sekerlik, nie almal reg wees nie!

Kan dit wees dat baie selfs in ’n valse Jesus Christus glo wat nie die Jesus van die Bybel is nie? Jesus Self het ons gewaarsku dat “valse christusse en valse profete [sal] opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matthéüs 24:24). Aangesien hierdie duisende denominasies sulke wyd uiteenlopende leringe onderrig, kan dit wees dat baie van hulle onwetend in ’n vervalste Christendom glo?

Wanneer ons Johannes 3:16 verstaan, kan dit ons help om hierdie vraag te beantwoord. In hierdie artikel gaan ons kortliks kyk na vier wonderlike waarhede wat in hierdie kragtige en inspirerende vers vervat is. Ons sal egter slegs die oppervlak aanraak oor wat gesê kan word. Om selfs meer te wete te kom, kan u ’n gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie: Johannes 3:16 – Verborge waarhede van die goue vers, aanvra. U kan ’n gratis gedrukte kopie bestel of dit aanlyn lees by wvm.co.za. Ek sal regdeur hierdie artikel daaruit aanhaal.

Christene noem Johannes 3:16 dikwels “die goue vers”. Om die waarheid te sê, dit is ’n vers wat baie kosbaarder is as goud. Wanneer hierdie een vers verstaan word sal dit aan ons dieper insig gee in God se natuur, Sy geregtigheid, die toekoms van die mensdom en die lot van die goddeloses.

 

Wie en wat is God?

Daar is baie verskillende oortuigings wat betref die aard en bestaan van God. Kom ons begin dus by die begin – die eerste vers in u Bybel. “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Génesis 1:1).

Hoe eenvoudig! Sonder om hierdie vers te verstaan, is dit egter maklik om Johannes 3:16 verkeerd te verstaan. In sy insiggewende en inspirerende boekie wat hierbo genoem is, gee die skrywer, Gerald E. Weston – my mede TV-aanbieder en die hoofredakteur van hierdie tydskrif – ’n baie belangrike verduideliking vanaf die heel eerste vers in u Bybel: Die eerste plek waar die term ‘God’ in die Skrif gebruik word (Génesis 1:1), kom van die Hebreeuse woord Elohim, ’n meervoudwoord. Die meervoud van God word in vers 26 bevestig: Toe het God [Elohim] gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.

Let op “Ons” – dit is meervoud. God is nogtans ook een. Ons lees in Deuteronómium 6:4: “Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here.” Wat openbaar u Bybel oor die verhouding van Jesus Christus en God die Vader? Jesus het verklaar: “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30).

In watter opsig is God “een”? Soos mnr. Weston ons herinner:

Die nag waarin Hy verraai is, was Jesus op aarde en Hy het tot Sy Vader in die hemel gebid. Let op hierdie duidelike woorde oor eenheid wat in hierdie gebed gevind word: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees” (Johannes 17:20-21). Ons sien dus dat Hy wil hê dat ons almal een moet wees, maar op watter manier? So “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees” (verse 21-23) .

Hoe word ons “een” met God die Vader en Jesus Christus? God is besig om ’n gesin voor te berei. Christene sal weer gebore word en ten volle deel word van daardie gesin by die Eerste Opstanding. Selfs nou ontvang Christene deur handoplegging na die doop, God se Heilige Gees.

Ons het almal die gawe van die Heilige Gees van God nodig, die krag van God, soos Jesus dit in Handelinge 1:8 gestel het en soos die apostel Petrus ons in Handelinge 2:38 vermaan het. Ons dank God dat Hy aan berouvolle sondaars die gawe van die Heilige Gees sal gee, die gees van “krag en liefde en selfbeheersing”, soos aan ons in 2 Timótheüs 1:7 vertel word. God is die Vader “van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efésiërs 3:15). My vriende, bid dat julle ook God as julle Vader kan hê. Jesus het ons geleer om tot die Vader te bid in Matthéüs 6:9-13.

Ons weet nou dat God die Vader en Jesus Christus een is. Hulle is die twee Wesens wat op die oomblik in die een God-gesin is en getroue Christene sal by hulle aansluit wanneer hulle wedergebore word by die opstanding tot onsterflikheid.

Daar is baie meer ontsagwekkende eienskappe van God as waarvoor ons hier ruimte het om te bespreek. Ons is verheug daarin dat God liefde is (1 Johannes 4:8, 16) soos die goue vers beklemtoon. God is ook die Skepper, soos dit hierbo genoem word (vergelyk Génesis 1:1). Vir meer inspirerende aspekte van God se natuur, vra verseker ons gratis studiegids Die Ware God – Bewyse en Beloftes, aan. U kan ’n gratis gedrukte eksemplaar bestel of dit aanlyn lees by wvm.co.za.

 

Is God regverdig?

Wanneer ons God begin verstaan, wonder ons natuurlik: Is Hy regverdig? Sommige algemene “hoofstroom Christelike” idees oor God is werklik ernstige foutiewe menings wat daartoe lei dat baie mense glo dat God nie regverdig is nie.

Baie belydende Christene het ’n verkeerde idee dat God miljarde mense vir ewig in ’n helse vuur sal laat brand – bloot omdat Hy toegelaat het dat hulle gebore word en sterf sonder dat hulle ooit die Naam of van die Evangelie van Christus gehoor het nie. Is dit regverdig? Mnr. Weston werp lig op hierdie vraag in sy insiggewende boekie:

Die apostel Johannes het duidelik onderrig: “Want so lief het God die wêreld gehad ...” (Johannes 3:16). Hier is “die wêreld” nie ’n verwysing na planeet Aarde nie, maar eerder na die mense wat hier woon. Dit maak nie saak hoe u dit tel nie, volgens enige berekening was daar nog altyd baie meer “ongeredde mense” as “gereddes”. Indien God dus die wêreld liefgehad het, hoe kan dit wees? Is Hy so swak dat Hy nie die meerderheid van Sy skepping kan red nie? Dit lei tot ’n vraag: “Is God regverdig? Is Hy ’n aansiener van persoon? Het almal – of sal almal – ’n opregte en regverdige geleentheid vir redding hê?”

Bybelgeleerdes weet dat redding slegs moontlik is deur die Naam van die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus. Soos Handelinge 4:12 dit vir ons duidelik maak: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

God het ’n plan vir diegene wat nooit die Naam van Jesus Christus gehoor het nie. Hy sal hulle nie veroordeel nie, soos wat baie van die wêreld se belydende Christene glo. Vra u predikant of geestelike leier hierdie vraag: Indien ’n stam mense in ’n afgeleë oerwoud nooit die Naam van Jesus Christus gehoor het nie en dus nooit Jesus Christus as hulle Verlosser aanvaar het nie, sal hulle veroordeel word tot die helse vuur wanneer hulle sterf? U mag dalk geskok wees deur die antwoord.

U Bybel openbaar dat God sulke mense ’n geleentheid vir redding sal gee in die Tweede Opstanding en daarna geoordeel sal word. Hierdie oordeel vind plaas ná die duisendjarige heerskappy van Christus op aarde. “En die ander dode” [die res van die afgestorwenes] wat in Openbaring 20:5 genoem word, wat in die tweede, algemene opstanding uit die dood opgewek word.

“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan” (Openbaring 20:11-12). Wanneer die dooies voor God staan, is hulle uit die dood opgewek. U kan ’n beskrywing vind van hierdie opstanding tot fisiese lewe in Eségiël 37, wanneer lewe in die dal van droë bene kom.

In Openbaring 20:12 lees ons “die boek van die lewe, is geopen.” Die oorspronklike Griekse woord vir boeke is biblia, waarvan ons die woord “Bybel” aflei. Ons lees verder: “... en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke” (verse 12-13). In die Wit Troon Oordeel sal miljarde mense wat nooit die Naam van Christus gehoor het nie, hulle eerste werklike geleentheid vir redding hê. Daardie opstanding tot oordeel kan vriende en familie insluit wat u dalk gedink het vir ewig verlore is!

Baie Christelike denominasies baseer hulle oortuigings meer op tradisie as op die Bybel. Hulle glo nie die eenvoudige stellings van u Bybel nie, al is dit die bron van ware Christenskap.

 

Wat beteken dit om te vergaan?

Baie mense wat deesdae lewe, aanvaar dat hulle nooit sal vergaan nie en glo die heidense leerstelling waarvolgens hulle sogenaamde onsterflike siel nie by die dood sal vergaan wanneer hulle sterf nie. Mnr. Weston skryf verder in sy insiggewende boekie:

Webster’s Revised Unabridged Dictionary definieer “perish” as: “Om vernietig te word; om te sterf; om niks te word … om te sterf” (“Perish,” Websters1913.com). Ons weet wat dit beteken wanneer kos ‘vergaan’. Ons praat van mense wat in ’n vliegtuigongeluk vergaan. Wanneer dit dus kom by die Bybelse sake, waarom hang mense ander, verkeerde betekenisse aan op die woord vergaan? Die Bybel stem konsekwent en ondubbelsinnig saam met die standaard woordeboek se definisie van vergaan! Dit leer ons duidelik dat lewe en dood teenoorgesteldes is! Nêrens beskryf die Skrif ooit menslike lewe as inherent onsterflik nie. Soos ons reeds gesien het, kan selfs die siel – wat ’n mens ook al dink dit is – sterf (Eségiël 18:4, 20). God se Woord openbaar dat onsterflikheid nie iets is wat ons reeds het nie, maar eerder dat dit iets is wat ons moet soek (Romeine 2:6-7) en “moet met onverganklikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:53-54).

Die Bybel openbaar duidelik dat nét God onsterflikheid besit (1 Timótheüs 6:16) en dat onsterflikheid iets is waarmee ons in die toekoms “beklee [sal] word” (1 Korinthiërs 15:53). God se doel is om ons te red van die ewige dood – om ons te red van verganklikheid. Die Skrif maak dit egter duidelik dat diegene wat hulle karakter met boosheid verseël, in die poel van vuur sal vergaan: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7).

Die hardnekkige goddeloses sal in ’n poel van vuur vergaan. Hulle sal gestraf word met die tweede dood waaruit daar geen opstanding is nie. Dit is die straf van die ewige dood. Paulus het geskryf: “... die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Ons het nog nie onsterflikheid nie. Die ewige lewe is ’n gawe van God.

Ons sien dus die kontras tussen vandag se tradisionele “Christelikheid” en ware Bybelse Christelikheid. Tradisionele “Christelikheid” leer ons dat ons ’n onsterflike siel het wat vir altyd sal leef en nooit sal vergaan nie, nooit sal ophou bestaan nie. Bybelse Christelikheid leer ons dat onboetvaardige sondaars in ’n poel van vuur sal vergaan, die tweede dood sal ervaar – die ewige dood – en sal ophou bestaan.

Die goeie nuus is egter dat diegene wat werklik in Jesus Christus van die Bybel glo, wie hulle bekeer en gedoop word soos Handelinge 2:38 sê en getrou bly, nie sal vergaan nie – aan hulle sal die gawe van die ewige lewe gegee word. Ons Verlosser openbaar dat Christene wat werklik volgens Johannes 3:16 leef, “nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

 

U moet weer gebore word

Hoe kan ek en u die ewige lewe hê? Johannes 3:3 leer ons dat ons wedergebore moet word, maar wat beteken dit? Baie mense het ’n verkeerde idee.

Die meeste belydende Christene is bekend met die verhaal van Nikodémus die Fariseër, wat in die nag na Jesus toe gekom het en erken het dat Jesus deur God gestuur is. Jesus het vir hom gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Die algemene oortuiging is dat indien u Jesus in u hart as Verlosser aanneem, u op daardie oomblik “weer gebore” word.

Wat het Jesus vir die Fariseër wat stomgeslaan was gesê? “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” (Johannes 3:5-6).

’n Mens kan eenvoudig die vraag vra: “Is ek gees of is ek vlees?” Fisiese Christene sal verander word en geestelike wesens word tydens die opstanding. Lees wat Paulus skryf oor die wonderbaarlike verandering met die eerste algemene opstanding:

“Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korinthiërs 15:50-54).

Dit is die tyd waarna Jesus in Johannes 3 verwys het toe Hy gesê het, “wat uit die Gees gebore is, is gees.” Ons moet verstaan dat soos met die menslike verwekking en geboorteproses, daar ’n verskil is tussen die woorde “verwek” en “gebore”. Mnr. Weston skryf in sy boekie:

Waarom veroorsaak hierdie saak sulke verwarring? In hierdie Skrifgedeelte in die Woord wat as “gebore” vertaal word, is die Griekse woord gennao. Vertalers wat Grieks ken, maar nie die leerstellige implikasies verstaan nie, gee hierdie ongewone woord op verskillende maniere in Engels weer as “gebore”, “verwek”, “bevrug” of “voortbring”. Hierdie oënskynlike klein puntjie kan tot verwarring en tot beduidende misverstande lei, veral oor die konsep van “weer gebore” word.

Wanneer ons God se Heilige Gees by die doop ontvang, word ons Sy verwekte kinders. Ten spyte van die vertalers se leerstellige vooroordeel, word die woord gennao korrek vertaal waar ons lees: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode ...” (1 Petrus 1:3). Ons Vader in die hemel verwek ons as Sy kinders en as sodanig het ons al God se verwekte kinders lief. Om tydens die eerste algemene opstanding weer gebore te word, moet ons eers tydens die doop verwek word.

 

God se groot liefde vir ons

God se ontsagwekkende daad van liefde, deur sy Seun op te offer sodat ons sondes vergewe kan word, het ook die liefde van die Verlosser vereis wat Sy lewe vir ons gegee het. Dink aan Johannes die Doper se getuienis: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Ons Here het die Pasga-offer vir sondaars geword. “... want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7).

Mnr. Weston skryf breedvoerig oor hierdie grootste liefde in ons gratis studiegids Johannes 3:16: – Verborge waarhede van die goue vers. Hy sluit af:

Johannes skryf hierdie woorde van Jesus op die nag waarin Hy verraai is: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:12-14). Johannes 3:16 herinner ons daaraan dat God die Vader ons so liefgehad het dat Hy vrywillig Sy Seun gegee het om ons Vriend te wees – om Homself te ledig van Sy goddelike voorregte sodat ons die dood kan vryspring en die ewige lewe kan hê. Kan daar enige groter liefde in die hele heelal wees as wat op daardie Pasgadag byna 2,000 jaar gelede uitgespreek is?

Geagte Leser, u kan vergewe word van u sondes en die genade van God ontvang. Op die Pinksterdag in 31 n.C. het die apostel Petrus ’n groot gehoor toegespreek wat Christus se kruisiging ondersteun het. Hy het in Handelinge 2 gesê:

“Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (verse 36-39).

Indien u voel dat God u lei na bekering en die Bybelse doop, kontak asseblief een van ons streekverteenwoordigers by die kantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif). Met die Heilige Gees wat in u werk as ’n getroue gedoopte Christen, kan u self die verborge waarhede van Johannes 3:16 begin ondervind!