Vraag: Ek lees al vir 'n geruime tyd u tydskrif en kyk na u TV-uitsendings. Ek het opgemerk dat u klaarblyklik nie oor die Heilige Gees as persoon praat nie. Waarom nie? Wat is die Heilige Gees, indien dit nie 'n derde persoon in 'n Goddelike drie-eenheid is nie?
Antwoord: Die apostel Johannes verskaf insig oor die aard van God: “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Johannes 1:1). Wanneer ons enige vooropgestelde idees tersyde stel, sien ons hier twee Wesens. Johannes openbaar dat die Een wie bekend is as die Woord, Jesus Christus geword het (Johannes 1:14) en dit was deur Jesus dat alles gemaak is (Johannes 1:3; Kolossense 1:15-18). Die Heilige Gees word nooit genoem as deel van hierdie gesin nie.
Baie belydende Christene neem bloot aan dat die Bybel die Heilige Gees as 'n persoon aandui. Die skrywers van die Nuwe Testament het egter nié so 'n aanname gemaak nie. Ons merk op hoe hulle in verskeie van hulle sendbriewe begin met groete namens God die Vader en Jesus Christus (vgl. Romeine 1:7; 1 Korinthiërs 1:3; Jakobus 1:1; ens.). Indien die Heilige Gees 'n persoon soos die Vader en die Seun was, kan ons seker wees dat daardie persoon nie van daardie groete uitgesluit sou wees nie.
Hoe behoort ons dan Johannes 14:16-17 te verstaan, wat sê: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Die woord wat as “Trooster” vertaal is kom van die Griekse woord parakletos. In Grieks word aan die voornaamwoorde geslag toegeken (manlik, vroulik of geslagloos). Die geslag wat toegeken word aan die voornaamwoord weerspieël nié die werklike geslag van die voorwerp nie – 'n tafel is nie manlik of vroulik bloot as gevolg van die selfstandige naamwoord en lidwoord nie. Die selfstandige naamwoord parakletos is manlik en dus vind ons in die meeste Engelse vertalings die voornaamwoord daarvan as die manlike “hy” – alhoewel “dit” beide grammatikaal sowel as leerstellig aanvaarbaar sou wees.
Nie 'n persoon nie, maar Sy krag
Met die voornaamwoord “dit”, lei sommige lesers nogtans af dat hierdie gedeelte oor 'n persoon praat. Hulle laat die algemene literêre gebruik bekend as verpersoonliking, waarin persoonlike of menslike eienskappe aan nie-menslike dinge toegeskryf word, buite rekening.
Doen die Bybel dit ooit? Die antwoord is 'n duidelike ja! Sien Spreuke 8:1-3: “ROEP die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie? Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy, aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop.” Dink enigiemand nou dat wysheid 'n persoon is? Natuurlik nie, tensy “Wysheid” toevallig iemand se naam is.
Neem ook in ag dat die Skrif die Heilige Gees beskryf as dit wat uitgestort is (Handelinge 10:45) en as die krag van God (Lukas 1:35; Romeine 15:13). Dit word ook figuurlik beskryf as wind (Handelinge 2:2-4; Johannes 20:22) en water (Johannes 7:37-39). Dit sou vreemde beskrywings van 'n goddelike persoon wees, maar word op 'n baie natuurlike manier beskryf as die vloei van God se kragtige Gees.
Jesus het gesê dat Hy die Trooster sou stuur (Johannes 14:16-17) en Hy het toe die gedagte in die volgende vers afgesluit: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Die Heilige Gees is die krag wat uit God die Vader en Jesus Christus vloei. Dit is die middelaar waardeur Christus na hulle sou kom en waarom Paulus verkondig, “Christus leef in my” (Galásiërs 2:20). Dit is die Gees van die waarheid wat ons in die waarheid sal lei (Johannes 16:13-14), net soos wysheid ons opdrag gee (Spreuke 9:1-6).
Ja, Johannes 3:16 sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Daardie einste God het vir ware Christene Sy Gees gegee – Sy eie krag – waardeur hulle op Sy manier kan leef ter voorbereiding vir daardie ewige lewe wat kom.
Vir meer inligting, sien ons gratis boekie, Johannes 3:16: Verborge waarhede van die goue vers.