Wat is vandag normaal op die gebied van seks, geslag en seksualiteit? Wat is 'n normale huwelik en 'n normale gesin?

Die antwoorde was voorheen vanselfsprekend. Terwyl sommige mense mag huiwer oor besonderhede, sou die meeste mense oor die algemeen saamgestem het oor wat normale standaarde van sulke basiese fasette van die menslike lewe verteenwoordig: Die huwelik was voorheen beskou as 'n lewenslange verbintenis tussen 'n man en 'n vrou, wat 'n gesin beskryf het en die gesondste omgewing geskep het vir kinderopvoeding. Die mensdom was georganiseer in mans en vrouens. Die feit dat seks ontwerp was om tussen 'n man en 'n vrou plaas te vind, was 'n vanselfsprekende biologiese feit – dikwels eenvoudig, maar dalk ongemaklik verduidelik deur 'n storietjie te vertel van blommetjies en bytjies. Die oorgrote meerderheid ouers – terloops een pa en een ma – het kennis geneem van hulle kind se geslag die oomblik toe hy of sy gebore is.

Dit was die samelewing wat die meeste van ons die afgelope 20 jaar – of selfs tien jaar gelede – geken het. Dit is nié die samelewing waarin ons vandag leef nie. Trouens, in hierdie “uitdagende” nuwe wêreld vind baie mense dit beledigend indien iemand net vra wat normaal is. Dit mag dalk selfs vir sommige van u wat hierdie artikel lees, aanstoot gegee het. Dit is omdat ons in die finale stadiums van 'n langdurige aanslag teen normaliteit leef. Maatskaplike manipuleerders het 'n aggressiewe veldtog – oor 'n tydperk van verskeie dekades – op tou gesit en het probeer om enige idee uit te roei dat sommige dinge as normaal en ander as abnormaal gesien behoort te word.

Die aanslag is in en deur gewilde media, vermaak, opvoedkundige instellings en regeringskringe gevoer en dit was suksesvol. Die gesegde wat deur die grapmaker Patsy Clairmont gewild gemaak is dat “normaal net 'n verstelling op u tuimeldroër” is, het stelselmatig verander in 'n basiese beginsel vir 'n splinternuwe benadering tot beskawing – voorheen ongehoord op die planeet Aarde – met die moontlike uitsondering van samelewings soos Sodom en Gomorra, waarvan die vernietiging so vinnig was dat die besonderhede van hulle kulture uit die rekord van die menslike geskiedenis uitgewis is.

In hierdie aanslag teen normaal is dit duidelik dat normaliteit buitengewoon vinnig besig is om die stryd te verloor. Soos wat normaliteit uit die samelewing verdryf word, is 'n verdraaide en abnormale samelewing vinnig besig om die ruimte wat agterbly, te vul. Dit is daardie laaste samelewing wat ons kinders sal erf – 'n samelewing waarin daar nie iets soos “normaal” bestaan nie en dit is die grootste oortreding om enigiets anders voor te stel.

Hoe het ons tot op hierdie punt gekom? Hoe erg is dit en kan dit erger word? Laastens, wat dink God van 'n kultuur waarin enigiets wat normaal is die vyand geword het?

 

Die opkoms van die “queer”-teorie

Moenie 'n fout maak nie: Alhoewel die aanvallers van normaliteit nie so gekoördineerd en sameswerend is as wat baie mense dink nie, is daar algemene leerstellings en doelwitte wat hulle voortdryf en verenig. Die invloed van filosowe wat begeer om die Westerse beskawing te “verander” en dit ooreenkomstig hulle eie beeld te herskep, is voorheen in hierdie tydskrif se artikels bespreek. Dr. Douglas Winnail het in sy artikel in Julie 2021 se Tomorrow's World, “What's Behind the War on History?”, in besonderhede die “lang opmars deur die instellings” beskryf wat “sieners” oor baie dekades onderneem het. Die sogenaamde “kritiese teorie” wat in verskillende vorms ontstaan het in die akademie van die berugte Frankfurt Skool in die 1920's, het hoog mode geword. Die 1970's het die opkoms van die kritiese regsteorie beleef. Meer onlangs het die kritiese rasteorie die algemeen gewilde onderwerp van bespreking geword. Hierdie onderwerp word bespreek in die September 2021 Tomorrow's World-artikel “The New Racism”.

Iets wat minder openlik genoem word, maar nie minder deurdringend in die invloed op moderne kultuur is nie, is die queer-teorie. Soos ander kritiese teorieë, is die mikpunt van die queer-teorie om algemene denkwyses af te “takel” en om wydverspreide norme uit te daag en om elemente van die samelewingstruktuur in 'n voorbeeld van mag te herskep: Sommige mense word as die “onderdruktes” [previously disadvantaged] en ander as die “onderdrukkers” beskou. Dit is ontwikkel in LGBT-studies en studieprogramme vir dames by kolleges en universiteite regoor die Westerse wêreld. Die queer-teorie fokus spesifiek op die aftakeling van seksualiteit en geslag – gevolglik alles wat deur daardie fasette van die lewe geraak word, soos byvoorbeeld die gesinstruktuur.

Akademici wie se denke deurdrenk is met hierdie idees probeer om dít wat as normaal beskou was te ondermyn en om dít wat voorheen “abnormale” idees en praktyke was, op te hemel. Vir hulle is dit nie genoeg dat die samelewing bloot die totale moontlike spektrum van seksuele gedrag en “geslagsamestellings” aanvaar of toelaat nie. Hulle wil die redevoering heeltemal “vernietig”, met die doel om hoofstroom denke in die samelewing te verander sodat daar selfs nie eers 'n gedagte van “normaal” of “abnormaal” by mense sal opkom nie.

Dr. Roberta Chevrette van die Middle Tennessee State University, het byvoorbeeld geskryf van die noodsaaklikheid om “queer gesinskommunikasie” – denke en besprekings binne gesinne – te verander sodat heteroseksualiteit nie langer as die norm beskou word waarmee ander seksualiteite vergelyk word nie. Die doel van hierdie maatskaplike manipuleerders is om sosiale denke te verander sodat alle vorms van seksuele aktiwiteit as ewe “normaal” beskou word. Wanneer alles dus normaal is, is niks werklik normaal nie.

Die vooroordeel teen normale, gesonde seksualiteit en geslagsuitdrukking kan in wese ondervind word in die ontwikkeling van 'n nuwe woordeskat. Is u vertroud met die nuwe woorde? U kollege-opgeleide kinders is waarskynlik daarmee vertroud – in toenemende mate ook selfs u jonger kinders. Nog belangriker is dat diegene wat u skool se beleid en programme opstel beslis daarmee vertroud is.

Een nuwe woord is hetero-normatief. Vanaf November 2022 definieer die Merriam-Webster woordeboek, die woord as, “verband hou of gebaseer op die houding dat heteroseksualiteit die enigste normale en natuurlike uitdrukking van seksualiteit is”. 'n Belangrike aspek daarvan om dit wat normaal is abnormaal te laat lyk, is om dit te etiketteer sodat dit aangeval kan word en 'n vinnige Internet soektog genoeg is om u daarop te wys dat “heteronormatiewe denke” – dit is om te dink dat die normale uitdrukking van seksualiteit tussen 'n man en vrou is – nie meer “korrekte denke” is nie. Met ander woorde, indien u dink dat seksuele verhoudings tussen mans en vroue méér normaal as ander verhoudings is, is u nou skuldig aan heteroseksisme.

Indien u 'n man of 'n vrou is wat soos byna alle mense op die planeet uself steeds as dieselfde geslag beskou as wat u by geboorte verklaar is, is dit nie genoeg om uself 'n man of 'n vrou te noem nie. Nou moet u 'n cisgender man of cisgender vrou wees, om u te onderskei van 'n transgender man of transgender vrou. Indien u byvoorbeeld 'n man is wat dink dit is onnodig om na uself as 'n “cisgender-man” te verwys (u is immers manlik gebore en u weet u is 'n man, waarom het 'n mens ekstra woorde nodig?), wees versigtig – u is besig met cisgenderisme. U beter ook nie dink dit is natuurlik en normaal vir iemand in 'n manlike liggaam om te dink dat hy 'n man is nie, want wanneer u dit doen, beoefen u nou cisnormatiwiteit. Hoe durf u dink énigiets – enige seksualiteit, enige verhouding tussen seks en geslag, enige soort gesinstruktuur – is normaal?

 

“Normaal” as 'n instrument van onderdrukking?

Vir 'n vlugtige blik op hoe houdings teenoor normale seksualiteit en gesinstruktuur as euwels verdraai is, hoef 'n mens net te kyk na die Black Lives Matter beweging – glo dit of nie.

Die Black Lives Matter-beweging het wêreldwyd opslae gemaak na die tragiese dood van George Floyd en daarna was sommige mense wat daarin belanggestel het om die saak te ondersteun, ontsteld oor wat hulle op die organisasie se webblad “About Us” gevind het. Onder die opskrif “What We Believe”, het hulle opgemerk dat Black Lives Matter trots verklaar: “Ons is selfondersoekend en doen die werk wat nodig is om die cisgender-voorreg af te takel”. “Ons ontwrig die Westerse voorgeskrewe intieme familiestruktuur,” en “ons bevorder 'n queer bevestigende netwerk. Wanneer ons bymekaarkom, doen ons dit met die bedoeling om onsself te bevry van die stewige greep van heteronormatiewe denke”.

Daardie bladsy was ver-wyder in die dae voor die V.S. presidentsverkiesing in 2020, maar die vraag het nie verdwyn nie: Wát het die poging om diskriminasie en geweld teen swart mense te beëindig, te doen met die transgender-ideologie? Waarom sou die ondersteuning van swart lewens afhang van stellings teen “heteronormatiwiteit” of tradisionele gesinstrukture?

Die antwoord is dat die aanklag teen alles wat normaal is suksesvol verweef is in byna elke poging om sosiale verandering te skep. Namate kritiese teoretici alle elemente van menslike verhoudings onredelik klassifiseer as uitdrukkings van gedwonge mag, enige poging om onregverdigheid aan te spreek moet op een of ander manier gekonnekteer word aan alle ander onregte – werklik óf waarneembaar. Wanneer geglo word dat daar 'n normale gesinstruktuur, 'n normale menslike seksualiteit en 'n normale begrip van seks en geslag is, word dit toenemend gelykgestel aan die handhawing van magstrukture wat ontwerp is om te verpletter en te onderdruk.

Aan vandag se selfaangestelde maatskaplike manipuleerders, wat glo dat familie die beste gevestig is in 'n huwelik tussen 'n man en 'n vrou, dat seks tussen daardie man en daardie vrou normale en natuurlike seksualiteit verteenwoordig en dat dit in werklikheid in alle gevalle moontlik is om 'n kind se geslag by geboorte te identifiseer, is om uself in die kategorie te plaas van fasciste soos Mussolini en Hitler of die aanhangers van die Ku Klux Klan. Die veronderstelling dat iemand se geslag gebaseer is op hulle voorkoms, word bestempel as 'n daad van onkunde op sy beste en geweld op die slegste. Wanneer 'n jong meisie geteister word deur gedagtes dat sy dalk transgender is en mens haar dan help om gemakliker te voel omdat sy 'n meisie is, is om die onvergeeflike sonde van “bekeringsterapie” te pleeg.

Dinge is al erg soos dit is, maar dit gaan nog baie erger raak.

 

Kinders word geteiken

Die aanslag teen normaliteit is 'n oorlog teen grense. Mense smag na seksuele “vryheid”, ongebondenheid aan enige reëls, definisies, wette en selfs gevoelens van skaamte deur seksualiteit te definieer wat uitsluitlik op individuele begeertes gebaseer is. Grense moet dus afgebreek word – die grense wat seks binne die huwelik hou, moet wegval, die grense wat die huwelik definieer as tussen een man en een vrou moet wegval en die grense wat verskille tussen geslagte definieer, moet ook vernietig word.

Onder die finale grense wat nog oorbly en wat een van die finale terreine is wat nog deur die aanslag teen normaal verower moet word, is die ouderdomsgrens. Baie mense beskou die kinderjare steeds as 'n tyd vir beskerming teen die invalle van moderne seksuele “vryheid”. Selfaangestelde maatskaplike en akademiese meerderes meen dat hierdie grens ook afgebreek moet word. Ontstellende tekens dui daarop dat dit inderdaad besig is om vernietig te word.

Neem in ag die stroom van seksuele inhoud wat in skoolbiblioteke beskikbaar is. Die American Library Association het bevind dat agt van die top tien boeke in skoolbiblioteke, waarteen die meeste mense uitgevaar het in 2021, was weens die seksueel eksplisiete aard daarvan. Die boek waarteen die meeste beswaar gemaak is – wat ons nie sal noem nie, as gevolg van die risiko om dit per ongeluk te bevorder – bevat voorstellings wat enige redelike persoon as pornografies en onwelvoeglik sou beskou. Enige onderwyser wat so 'n boek met 'n kind sou deel sou nie lank gelede nie, as 'n pedofiel, 'n rower en 'n seksuele “groomer” bestempel gewees het wat probeer om kinders fisies voor te berei vir seksuele aktiwiteit en daardie onderwyser sou dan gedissiplineer of afgedank word.

Dit was egter voordat die volgehoue aftakeling teen normaliteit intensief toegeneem het. In die hedendaagse samelewing is die skrywer van hierdie spesifieke boek met 'n onderhoud deur die Time tydskrif vereer – met opgemaakte voornaamwoorde en al. Om die boek se plasing in skoolbiblioteke teen te staan, brandmerk 'n persoon as “skynheilig”, “homofobies” of “trans-fobies”.

Dink ook oor die verskynsel – wat 'n mens se verstand te bowe gaan – van die Drag Queen Story Hour, wat Tomorrow's World/Wêreld van Môre se hoofredakteur, Gerald E. Weston, gedek het in sy September-Oktober 2019-artikel, “Ongelukkig vir altyd daarna?” Vir diegene wat geseënd is om nie daarmee vertroud te wees nie, behels Drag Queen Story Hour die volgende: Mans wat soos vroue aantrek – dikwels in oordrewe en soms seksueel suggestiewe kleredrag – wat vir kinders uit boeke voorlees in plekke waar hulle toegang kan kry. Die uitermatige, skokkende aard van Drag Queen Story Hour is presies hulle doel. Indien dit regtig gegaan het daaroor om geletterdheid onder jong kinders te bevorder in 'n omgewing wat gesonde verhoudings oor diversiteit voorstaan, sou enige aantal vrywillige lesers kon dien.

Die feit dat “drag” 'n noodsaaklikheid is by hierdie gebeure, openbaar dat die onderliggende doel van Drag Queen Story Hour is om kinders te oortuig dat hulle geslags- en seksuele grense opsy kan skuif en die perversiteit van “drag”-optrede as normaal aanvaar. Om die twee uiterstes naas mekaar te stel – die onskuldige onervarenheid van kinders en die perversiteit van mans wat vroue op vreemde en oordrewe maniere naboots – is bedoel om seksuele en geslagsgrense in kinders se ontvanklike gedagtes te laat vervaag sodat hulle grootword met 'n begrip dat alles net so “normaal” soos enigiets anders is.

Sulke doelwitte word hoofsaaklik deur diegene erken wat by hierdie geleenthede betrokke is. In die akademiese joernaal Curriculum Inquiry (2021, vol. 50, uitgawe 5), het Harper Keenan, navorser van kritiese opvoedkunde en 'n drag queen [fopdosser] bekend as “Lil Miss Hot Mess” saamgewerk aan 'n referaat met die titel “Drag pedagogy: The playful practice of queer imagination in early childhood”. In hierdie referaat, wat diegene aanspreek wat bekommerd is dat die inherente “gewaagde aard” van drag-optredes by hierdie geleenthede “gesuiwer” is, verduidelik hulle dat Drag Queen Story Hour “minder van 'n suiweringsmetode is as wat dit 'n voorbereidende inleiding tot alternatiewe maniere van verwantskap is” (beklemtoning ons eie).

Hulle verseker ons dat die omgekeerde, seksueel “gewaagde” en perverse waardes wat in die drag-aanbieding vertoon word, nie afgewater word nie. Dit is eerder die einste instrumente wat gebruik word om die denke te verander van die kinders wat onskuldig deelneem – om hulle te leer dat daar geen seksuele of geslagsgrense is nie en dat niks normaal is nie. So 'n benadering sou help om te verduidelik waarom die poging so vinnig uitgebrei het na sogenaamde “gesinsvriendelike” optredes by drag-kroeë waar kinders geld aan kunstenaars gee net soos wat kliënte by 'n ontkleeklub doen. Daarom is daar geleenthede en televisieprogramme waarin kinders self aangemoedig word om in drag-aanbiedings op te tree.

Die doel is nie bloot net “aanvaarding” nie en dit was ook nooit die geval nie. Dit was om kinders te programmeer om te vergeet wat normaal is en 'n samelewing sonder geslags- of seksuele grense te aanvaar. Soos die skrywers van die Curriculum Inquiry referaat opmerk: “Terwyl “drag” sekere byeenkomste het, het dit uiteindelik geen reëls nie – die kenmerkende kwaliteit daarvan is dikwels om soveel reëls as moontlik te oortree”!

Die huidige druk om kinders seksueel bewus te maak herinner ons aan koning Salomo se waarneming dat daar werklik “niks nuuts onder die son [is] nie” (Prediker 1:9) en die aanval op die samelewing se seksuele grense tussen kinders en volwassenes dateer terug na die filosowe en akademici wie se idees die grondslag van vandag se queer-teorie is. In 1977 het “verligtes” soos Paul-Michel Foucault, Jean-Paul Sartre en Jacques Derrida die bekende petisie aan die Franse regering onderteken om volwassenes toe te laat om met “wedersydse toestemming” deel te neem aan seksuele verhoudings met kinders. Hulle het geëis dat Franse wetgewing, “die reg van kinders en adolessente behoort te erken om verhoudings te hê met wie hulle wil”.

Gemotiveer deur die gees van daardie tyd – voordat dit tydelik in onguns geraak het – het die Franse skrywer Tony Duvert, in die openbaar ten gunste van die “groot avontuur van pedofilie” geargumenteer en die “fascisme van moeders” bestraf. (Nee, om 'n mens se ideologiese opponente as “fasciste” te bestempel, is nie 'n hedendaagse verskynsel nie en ook nie 'n besonder kreatiewe een nie.) Terwyl hierdie geleerdes hulle tyd vooruit was, het hulle idees nie verdwyn nie en die tyd het hulle ingehaal. Terwyl hierdie ideologiese konflik voortwoed, word die voortdurende aanvalle teen die seksuele grense tussen kind en volwassene gemaak sonder selfs die skyn van subtiliteit.

Tony Duvert se Diary of an Innocent, wat geskryf is tydens die vrydenkende seksuele atmosfeer van die 1970's, eindig met die gevolgtrekking wat, soos dit deur sy Engelstalige uitgewer, MIT Press beskryf is, “'n fantasievolle dog streng konstruksie van 'n omgekeerde samelewing waarin grensgevalle van seksualiteit die norm geword het” – met ander woorde, vandag se samelewing. Om die minste te sê, ons selfverklaarde beterweters probeer hartstogtelik om rondom ons 'n samelewing te skep, terwyl hulle daaraan werk om die laaste oorblywende elemente van weerstand in hulle aanslag op normaal uit te wis.

 

'n God van grense

Die sosiale chaos wat geskep is deur die normalisering van perversiteit en die perversie van normaliteit, weerspieël nie die gedagtes van die Almagtige God, die Skepper van menslike lewe, wat die instelling van die huwelik as die grondslag van die gesin gevestig het nie. Die heel eerste bladsye van die Skrif, waarin ons aan ons Skepper voorgestel word, is trouens voldoende om lig te werp op wat Hy dink van grensvernietigende chaos, want dit is presies wat hulle illustreer – dat Hy chaos hanteer deur grense te skep.

Die openingsgedeelte van Génesis beskryf 'n chaotiese wêreld: “En die aarde was woes en leeg” (Génesis 1:2). 'n Wêreld “woes en leeg” – sonder leidrade van onderskeie vorms en ideale – is presies die soort samelewing wat vandag se maatskaplike manupileerders probeer skep. (Waarom die wêreld in so 'n toestand was, word uiteengesit in ons boekie: Evolution and Creation: What Both Sides Miss, wat slegs in Engels beskikbaar is by enige streekkantoor. Besonderhede verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif.)

In daardie omgewing het die Skepper orde in die chaos geskep deur duidelike grense daar te stel. Hy het skeiding gemaak tussen lig en duisternis (Génesis 1:4). “God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is” (vers 7). “God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem” (vers 10). Met die skep van lewe op land het Hy 'n duidelike grens tussen die diere en die mensdom vasgestel – mense is geskape wesens, maar tog uniek volgens die vorm van God se eie beeld (Génesis 1:25-26). Hy het mense as twee geslagte geskep: manlik en vroulik (vers 27).

Génesis 1:31: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed.” Ons geniet vandag die goedheid van daardie ordelikheid. Ons kyk op na die hemel en geniet die verskeidenheid wolke in die lug – die “waters wat bo die uitspansel is” – soos 'n uitgestrekte luglandskap wat oor die aarde hang. Ons kyk na die see en verwonder ons aan die verskillende vorms van die natuurlewe onder die golwe. Afgesonder van lug en see, verskaf die land die fondament waarop ons leef en baie van die kos wat ons eet, asook verskillende vergesigte van skoonheid en prag.

Ons verlustig onsself ook in die verskil tussen die mensdom en diere. Selfs terwyl ons samelewing in waansin op hierdie pad voortgaan om diere wettige “regte” te gee asof hulle mense is, in plaas daarvan om bloot die menslike verpligting te erken naamlik om diere menslik te behandel (Deuteronómium 25:4; Spreuke 12:10). Ons erken steeds fundamenteel dat mense totaal verskillend is. Daardie begrip word verduidelik in elke bewering dat mense mekaar se Godgegewe waardigheid moet respekteer – 'n vlak van respek en kondisionering waaraan wolwe en haaie nooit sal kan voldoen nie. Daar is 'n rede waarom ons dit “menslik” noem om goedhartig te wees teenoor diere en uiterste geweld [deur mense gepleeg] “dierlik” te noem. Vir al ons wetlike, ideologiese skelmstreke verteenwoordig die grense wat God gestel het die werklikheid en diep in ons harte weet ons wel wat die verskil is.

Ten slotte is die verskil tussen man en vrou duidelik vir selfs die mees ongeërgde waarnemer. Hulle is verseker nie dieselfde nie en soos die ou spreekwoord sê, vive la différence!

Om die grense te aanvaar wat God self in die materie van die werklikheid ingeweef het, is nie voldoende om net 'n ordelike, vreedsame, gesonde samelewing te skep nie, maar dit is 'n noodsaaklike eerste stap. Die vestiging van daardie grense is dus ook die eerste stap wat God self geneem het om ons wêreld te skep. Om daardie grense te aanvaar beteken om te erken dat sommige dinge normaal is en ander dinge is eenvoudig net nie normaal nie.

 

'n Ware nuwe normaal

Op die ou einde is dit baie ironies dat so 'n groot deel van die samelewing só 'n driftige stryd voer teen wat normaal is, want Jesus Christus self is van voorneme om die definisie van wat normaal is, fundamenteel reg te stel wanneer Hy 'n nuwe wêreld met Sy Wederkoms tot stand sal bring.

Selfs daardie “tradisionele” standaarde waaroor vandag se maatskaplike manupileerders uitvaar – soos Bybelse gesinne, die huwelik, seksualiteit en geslagsrolle – is besoedel en verontreinig in 'n samelewing wat nie werklik op God se leiding staatmaak nie. Sommige mense het probeer om Bybelse geslagsrolle te gebruik om vroue te onderdruk en hulle minder as 'n volwaardige mens te behandel. Selfs wanneer eggenotes en vaders in staat is om as die hoofsaaklike broodwinners en leiers van hulle gesinne op te tree, kom hulle werk te dikwels tussen hulle en hulle vrouens en kinders wat hulle oënskynlik dien. Hulle verdraai dus wat dit beteken om 'n gesin te lei. Lank voordat “alternatiewe” seksualiteit aanvaar en verheerlik is, het baie mans en vrouens seksuele verhoudings tussen 'n man en 'n vrou verdraai en verkeerd beoefen om onwettige perverse begeertes te bevredig – heeltemal verskillend van die ontwerp en voorneme van die Skepper.

Die Koninkryk wat Jesus sal vestig, sal nie soos die 1950's se Amerika lyk nie, ook nie soos die Judea van Jesus se tyd nie. Om terug te verlang na 'n beter verlede is geen plaasvervanger vir die volheid van verandering wat in Sy Evangelie vereis word nie en die lewe waartoe Christene geroep word, gaan alle verstand te bowe wat ooit in eeue deur die geskiedenis geleef is. Om God se lewenswyse te volg, vereis 'n algehele en totale verandering in hoe ons onsself, ons verhoudings en ons verpligtings sien: “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:9).

Na Jesus se Wederkoms sal die wêreld leer wat familie, seksualiteit, verhoudings en die samelewing kan wees wanneer mense die oorspronklike ontwerp en bedoeling van die Skepper van menslike lewe volg. Die mensdom sal uiteindelik die seëninge wat sal volg verstaan waarom niemand ooit God se normaal vir iets minder sal wil verruil nie.