Die wêreldwye omwenteling behoort niemand wat bekend is met die Woord van God te verbaas nie. Wat sal gebeur indien ons God nie gehoorsaam nie?
Die meeste belydende Christene het al die Bybelse boodskap gehoor: “God is liefde” (1 Johannes 4:8) en dat God sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om vir die sondes van die wêreld te sterf (Johannes 3:16). Dit lyk egter of baie mense vandag vergeet het dat God elke seun [mens] “tugtig” wat Hy liefhet (Hebreërs 12:5-7). Die Bybel het baie voorbeelde wat daarop wys hoe hierdie waarskuwing deur die geskiedenis van toepassing was op individue sowel as nasies.
Belydende Christene glo oor die algemeen dat die Ou Testament deur die Nuwe Testament vervang is en dat ons nie meer bekommerd hoef te wees oor daardie gedeelte van die Skrif nie – behalwe miskien om die boek Psalms af en toe te lees vir inspirasie en die boek Spreuke vir raad. Dit word egter in die Nuwe Testament duidelik gestel: “Maar al hierdie dinge [opgeteken in die Ou Testament] het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Die duidelike betekenis van hierdie vers is dat indien ons hierdie voorbeelde en hierdie vermanings vergeet of ignoreer, dit tot ons nadeel sal wees – veral wanneer die einde van die eeu nader kom.
Ons leef ook in 'n tydperk waar baie kritici beweer dat die Bybel nié 'n Goddelik geïnspireerde boek is nie en sê dat dit slegs deur mense geskryf is en ook dat niemand die toekoms met sekerheid kan voorspel nie. Daar is egter belangrike bewyse wat die apostel Paulus se duidelike bewering ondersteun naamlik “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timótheüs 3:16). God openbaar deur die profeet Jesaja dat slegs Hý alleen die toekoms kan voorspel en dit dan kan uitvoer (Jesaja 46:8-11). Alhoewel baie mense Bybels besit, besef min van hulle dat byna 'n derde van die Bybel profesieë is, dat baie van daardie profesieë tweeledig is en dat baie daarvan gefokus is op die eindtyd waarin ons leef.
Hierdie profesieë bevat belangrike waarskuwings aangaande belangrike wêreldgebeure wat spesifieke volke gaan tref omdat hulle belangrike lesse vergeet of geïgnoreer het wat hulle voorouers gefaal het om te leer.
Lesse uit die geskiedenis
Daar word deesdae aan baie mense vertel dat die Bybel slegs 'n versameling van mites en stories is wat nie meer van belang is vir die hedendaagse wêreld nie. Die waarheid is egter net die teenoorgestelde (vir besonderhede, sien ons insiggewende boekie Die Bybel: Feit of Fiksie?). Die Bybel is in werklikheid 'n noukeurig bewaarde opgawe van onder andere God se betrokkenheid met die aartsvader Abraham en sy nageslag. As gevolg van Abraham se gehoorsaamheid aan God se instruksies, het God aan Abraham en sy nageslag beloof dat hulle 'n spesiale volk sou wees wat vir 'n wonderlike doel gekies is (Exodus 19:3-6). Die Israeliete het God se Wette ontvang om hulle van ander nasies te onderskei sodat hulle 'n lig kan wees vir die wêreld – 'n positiewe voorbeeld. Om dit te bevestig, het God 'n verbond met die Israeliete gesluit dat indien hulle Sy Wette gehoorsaam, hulle seëninge sal erf wat aan Abraham beloof is. Indien hulle egter ongehoorsaam is, sal hulle gestraf word (Levítikus 26; Deuteronómium 28).
Die hartseer verhaal wat in die Skrif opgeteken is, is dat die Israeliete hulle van God begin distansieer het kort nadat hulle uit ballingskap in Egipte gekom het – hulle het afgode opgerig, vreemde gode aanbid, teenoor Moses gekla en God se Wette oortree. Uiteindelik is die meeste van die eerste geslag Israeliete wat deur God uit ballingskap in Egipte verlos is, verbied om die beloofde land binne te gaan en hulle het in die woestyn gesterf (Numeri 14:26-34). Hierdie straf is in die Skrif opgeteken as 'n les vir hulle nageslag.
Nadat Israel die beloofde land binnegegaan het, het hulle tot 'n mate 'n soort senioriteit bereik onder koning Dawid se seun Salomo. Hulle het egter die les vergeet wat hulle veronderstel was om by hulle voorvaders te leer, naamlik dat God hulle nasie geseën het wanneer hulle Sy Wette gehoorsaam en gevolg het. Uiteindelik het Israel in twee twisgierige, sondige nasies verdeel – Israel in die noorde en Juda in die suide. God het toe albei ongehoorsame nasies in ballingskap gestuur – Israel na Assirië en Juda na Babilon. Namate die tyd verbygegaan het, het die nasie Israel asook die nasie Juda nie die belangrike beloftes geërf wat God aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Dit was die beloftes om die poorte van hulle vyande te besit (Génesis 22:17) en ook in die geval van Josef se seuns – Manasse en Efraim – om 'n groot nasie en 'n groot menigte of gemenebes van nasies te word (Génesis 48:8-20).
In die Bybel is opgeteken hoe God die kinders van Israel op bonatuurlike wyse uit slawerny van Egipte verlos het, dat Hy hulle Sy uitverkore volk gemaak het en aan hulle Sy Wette gegee het sodat hulle 'n lig vir die wêreld kon wees. God het hulle egter gestraf omdat hulle Sy Wette oortree en verwerp het en ander gode aanbid het. Hierdie belangrike lesse is opgeteken as 'n waarskuwing vir die hedendaagse afstammelinge van die antieke Israeliete.
Antieke profesieë is vandag van toepassing
Ons begin dus besef wat die sondes en straf van die antieke Israeliete vandag met ons te doen het. Geskiedkundige bronne openbaar dat die afstammelinge van die Bybelse kinders van Israel niemand anders is nie as die mense van die hedendaagse Verenigde State van Amerika, die mense van Britse afkoms asook die mense van ander nasies van Noordwes-Europa (sien ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Hierdie nasies was die ontvangers van seëninge wat aan Abraham, Isak en Jakob beloof is. Min mense verstaan egter dat die voortbestaan van die seëninge wat hierdie nasies geniet, afhanklik is van hulle gehoorsaamheid aan die God wat daardie seëninge gegee het, net soos dit vir hulle voorvaders was.
Meer as 3 000 jaar gelede het Moses die antieke Israeliete gewaarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:29). In die Westerse wêreld van vandag, bevorder nasies wat op Bybelse beginsels van moraliteit gegrond was, doelbewus gedrag wat die Bybel veroordeel: egskeiding (Maleági 2:16), egbreuk en hoerery (Exodus 20:14; 1 Korinthiërs 6:9-10), homoseksualiteit en dieselfdegeslag “huwelike” (Levítikus 18:22; Romeine 1:26-27), fopdossers (drag queens) (Deuteronómium 22:5), tatoëermerke (Levítikus 19:28) en aborsie – die moord van hulle eie kinders (Exodus 20:13; Jeremia 2:34). Voor die 1960's is baie van hierdie bose gedrag nie net afgekeur nie – dit was onwettig. Die meeste mense het dit nie gewaag om hierdie dinge openlik te doen nie. Gedurende die afgelope dekades is hierdie gedrag egter bevorder en aangemoedig – in 'n daadwerklike stryd teen God se Wette.
Die profeet Jeremia, wat omstreeks 600 v.C. geskryf het, het daarop gewys dat hoewel heidense nasies nie hulle gode oor die eeue heen verander het nie, het die Israeliete, ten spyte van God se beloofde seëninge, verskillende en valse gode aangehang en in die voetspore van hulle antieke voorvaders gevolg (Jeremia 2:11-13). Dit is deesdae ook die geval. In plaas daarvan om hulle Bybelse erfenis aan te hang en te bewaar, het die hedendaagse afstammelinge van Manasse en Efraim (bv. Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika) hulle eie selfgemaakte “gode”, soos sekularisme, evolusie, materialisme en ateïsme aangehang. In plaas daarvan om die Bybel en die Wette van God as 'n riglyn vir gedrag te gebruik, beskou hierdie hedendaagse post-Christelike nasies nou die Bybel as “iets vreemds” (Hoséa 8:12).
Die profeet Hoséa het die Israeliete gewaarsku dat “omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp” en hy het hulle beskuldig want “Hulle het troueloos gehandel teen die HERE, want hulle het onegte kinders verwek” (Hoséa 4:6; 5:7). Vandag verskyn daar berigte oor die skerp afname in belydende Christendom in Engeland en Wallis (Telegraph, 29 November 2022) en die massa-uittog van die belydende Christendom wat in Amerika aan die gang is (Grid News, 17 Desember 2022). Studies toon ook dat meer as 40 persent van jong volwassenes geen godsdienstige verbintenis het nie – in skrille kontras met koloniale Amerika 200 jaar gelede, toe meer as 90 persent van die mense belydende Christene was.
Jeremia het die Israeliete ook gewaarsku dat ómdat hulle hulle God verlaat het en hulle afvallig geword het (Jeremia 2:17; 3:2), sê hy: “Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp” (Jeremia 6:19). Daardie ramp sal “skielik” kom (Jeremia 6:26). Moses het die antieke Israeliete gewaarsku dat indien hulle nie na die stem van hulle God sou luister nie, hulle nasionale agteruitgang sou ervaar en in ballingskap sou gaan op 'n manier wat die wêreld sou verstom (Deuteronómium 28:15, 37-48). Hierdie is wat voorlê vir hedendaagse Israelitiese nasies wat God en hulle ware nasionale identiteite vergeet het.
Wêreldse geskiedkundiges stem saam
Dit is ook ontnugterend om op te let dat wêreldse geskiedkundiges oor dieselfde dinge skryf wat hierdie antieke profesieë lankal voorspel het. Byna 30 jaar gelede in 1994, het die navorser Jim Nelson Black besef wat besig was om te gebeur en skryf in When Nations Die oor tien waarskuwingstekens van Amerika se kultuur in krisis, wat voorsien het dat Amerika dieselfde pad van kulturele agteruitgang volg as antieke Griekeland en Rome. In 1996 het Harvard-professor Samuel Huntington die boek Clash of Civilizations and the Remaking of World Order geskryf waarin hy die agteruitgang van die Weste en die opkoms van ander nasies beskryf. In 2000 het die Europese historikus Jacques Barzun From Dawn to Decadence geskryf – 'n katalogus wat die laaste 500 jaar van die Westerse beskawing opsom – 'n tydperk waartydens Israel se afstammelinge die wêreld oorheers het. In 2011 het die Britse historikus Niall Ferguson Civilization: The West and the Rest geskryf waarin hy sê: “ons leef gedurende die einde van 500 jaar van Westerse vooruitgang” (bl. xv).
Hierdie skrywers is nie alleen in hulle beramings, nie. In 2011 het Patrick Buchanan, 'n adviseur van drie V.S. presidente, Suicide of a superpower: Will America survive 2025, geskryf. Hy het gewaarsku dat Amerika besig is om homself uitmekaar te skeur. “Amerika het die aspek van 'n dekadente samelewing en 'n kwynende nasie aangeneem ... Wat ons voorheen verenig het, is besig om tot niet te gaan. Dit is waar van die Westerse beskawing” (bl. vii, 7). Dit is die wêreld waarin ons vandag leef en Bybelprofesieë waarsku al vir 'n paar duisend jaar oor dieselfde gevare.
Vandag voel baie mense dat iets ernstigs verkeerd is in die wêreld, maar hulle verstaan nie dat Bybelprofesieë lank reeds waarsku dat 'n tyd van benoudheid sou aanbreek vir die nasies wat van Israel afstam, in die laaste dae nie (sien Jeremia 30) omdat hulle hulle van God sou distansieer en sal maai wat hulle gesaai het (Jeremia 2:17-19). Inderdaad, “hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hoséa 8:7). Jesus het gewaarsku dat Sy volgelinge op die uitkyk moet wees vir die ontstaan van wêreldtoestande wat hierdie antieke profesieë sal vervul net voor Sy beloofde Wederkoms (Matthéüs 24; Markus 13; Lukas 21).
Die skrif is aan die muur vir die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel. Dit is nodig dat ons onthou dat ons God 'n God van liefde is en dat Hy 'n plan met alle mense het. God tugtig egter ook diegene wat Hy liefhet, om hulle te leer dat seëninge voortspruit uit gehoorsaamheid aan Sy Wette, terwyl die verontagsaming van die waarskuwings wat God voorsien die ernstige gevolge van ongehoorsaamheid meebring. Die vraag wat ons elkeen behoort te vra is, sal ons ag slaan op daardie belangrike waarskuwings of sal ons die foute van ons voorvaders herhaal?