Sedert die ontstaan van die moderne staat Israel op 14 Mei 1948, ongeveer 73 jaar gelede, het diplomate en politici probeer om vrede na Jerusalem en die omgewing te bring. Tog het die nasie gedurende daardie tyd talle oorloë, terreurdade en burgerlike ongehoorsaamheid gesien – wat heelwat lewensverlies tot gevolg gehad het. Vrede bly steeds onbereikbaar.

Dit behoort dan nie ’n verrassing te wees dat die Bybelse Psalmdigter ons aanmoedig om te bid vir die vrede van Jerusalem nie, wat nou nog noodsaakliker is vir hierdie plek as ooit tevore (Psalm 122:6). Die ironie is natuurlik dat die naam van die stad in die Hebreeuse taal bloot “stad van vrede” beteken – dit is nodig om vir die stad van vrede soos wat die naam dit definieer, te bid. Wat gaan aan?

Die Abraham-ooreenkomste, ’n diplomatieke deurbraak waaroor daar onderhandel is tydens die regering van die Verenigde State se president, Donald Trump, is vernoem na die Bybelse patriarg, Abraham. Hy was die vader van twee seuns, Ismael en Isak, wat op hulle beurt die stamvaders van die Arabiese en Joodse volke was. Vir die eerste keer sedert Israel se ontstaan in 1948, het hierdie ooreenkomste, Israel in staat gestel om diplomatieke betrekkings aan te knoop en bande met die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein te normaliseer, asook met ander Islamitiese lande regoor die Moslem-wêreld.

Aangevuur deur ’n diepgaande haat, het ’n groot deel van die Arabiese en Islamitiese wêreld die reg van die Staat van Israel ontken. Voor die Abraham-ooreenkomste kon Israel slegs vredesooreenkomste met Jordanië en Egipte aangaan. Ander state het nog nie formele diplomatieke verhoudings met Israel aangeknoop nie, maar deur die Abraham-ooreenkomste dra hulle aanvaarding van Israel se teenwoordigheid op ’n ander wyse dieselfde boodskap oor. Saoedi-Arabië laat byvoorbeeld aan die Israelse nasionale lugdiens, El Al, oorvlug-regte toe om die lande van die Persiese Golf te bereik. Onlangs het die Verenigde Arabiese Emirate ’n belegging van US $1 biljoen (miljoen miljoen) in die gasvelde aan die kus van Tamar in Israel gemaak. Tegnologiese vennootskappe met Arabiese finansiers floreer in Israel, terwyl die strande van die Golfstate gewild geraak het vir Israeliese toeriste.

 

Selfgesentreerde politiek?

Die Abraham-ooreenkomste is egter nie die enigste veranderings waardeur Israel geraak word nie. Ander veranderings in verhoudings vind plaas tussen state in die gebied. Hoe revolusionêr die Abraham-ooreenkomste ookal mag wees, vorm dit deel van ’n geheelbeeld van veranderende verhoudings. Terwyl die Verenigde State sy betrokkenheid in die gebied afskaal, wil Rusland en China die vakuum vul. Dit veroorsaak ’n verskuiwing van belange tussen die verskillende state in die streek.

In Israel self lyk dit asof ’n politieke dooiepunt voortduur na die vierde verkiesing in twee jaar. Israel se langsdienende premier, Benjamin Netanyahu, sukkel om genoeg steun te verkry om ’n nuwe regering te vorm, maar tog lyk dit asof geen ander politikus of politieke party ’n beter kans het nie. Netanyahu se probleme as leier van die Likud-party weerspieël die aktief-veranderende bewegings en verskuiwings wat regdeur die Midde-Ooste plaasvind en wat ons daaraan herinner dat die vrede van Jerusalem van beide binnelandse en buitelandse faktore afhang.

Die opposisiepartye in Israel word deur slegs een idee verenig – om Netanyahu uit die rol as premier van die land te verwyder. Waarnemers het die huidige dooiepunt beskryf as “die politiek van selfidentiteit” (“Israel is entering the era of self identity politics,” Arutz Sheva, 26 April 2021). Waarom? Anders as die VSA met sy twee groot politieke partye, is daar in die jongste verkiesing in Israel, tien politieke partye verkies tot sy parlement, die Knesset. Kiesers het hulle keuse gemaak – nie vir ’n party wat noodwendig die beste geskik is om ’n funksionerende regering te lei nie, maar eerder vir die party wat hulle individuele etniese, godsdienstige, politieke en sosiale identiteit die beste verteenwoordig. Ander nasies ervaar dit tot ’n ander mate, maar Israel is die voorloper – moontlik tot sy eie vernietiging.

Diegene wat vertroud is met die Bybel, mag dalk oplet dat hierdie situasie klink na ’n herhaling van ’n ander tydperk in Israel se geskiedenis, soos wat dit uiteengesit is in die Bybelboek, Rigters. Die slotvers van daardie boek som ’n situasie op wat twee keer in vorige hoofstukke uiteengesit word en som die hele boek op: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25).

 

Bondgenootskappe tussen volke wissel vinnig

“Self-identiteit politiek” is egter nie net ’n binnelandse Israeliese probleem nie. Regdeur die Midde-Ooste verander bondgenootskappe vinniger as ’n verkleurmannetjie om by sy omgewing aan te pas.

Danksy president Biden raak die V.S. weer betrokke by Iran met hulle kern-ambisies, ’n rede tot kommer onder die ander Midde-Oosterse state sowel as in Israel. Nuusberigte verbind Israel aan ’n aantal aanvalle teen die Iranese kernprogram, wat terugdateer na die Stuxnet-virus van 2010 en meer onlangs, in 2020, na die sluipmoord op Iran se voorste kernkundige. ’n Voorval in April 2021 by die Iranse verrykingsaanleg by Natanz het baie van sy sentrifugale toerusting wat gebruik word om uraan te verryk, verlam of vernietig. Israel het nie verantwoordelikheid vir hierdie gebeure aanvaar nie en dit het Iran se onverbiddelike begeerte om Israel te vernietig, verskerp. Israel is egter ook duidelik betrokke by optredes teen die Iranese skeepvaart wat volgens hulle, wapens aan Sirië of aan Hezbollah, Iran se verteenwoordiger in Libanon lewer. Israel teiken lank reeds Iran se fasiliteite en aktiwiteite openlik in Sirië.

Die klimaat vir die Abraham-ooreenkomste is versterk toe Saoedi-Arabië in 2016 die diplomatieke betrekkings met Iran verbreek het. Omdat hulle nie net bekommerd was oor Iran se kernambisies nie, maar ook as gevolg van sy [Iran] steun aan Houthi-rebelle in Jemen, aan die suidelike grens van Saoedi-Arabië. Meer onlangs het die Saoedi’s egter weer met Iran gesprekke gevoer. Sal die Saoedi’s daarin slaag om met Iran sowel as sy mees gehate vyand, Israel, bevriend te raak? Intussen reik die NAVO-lid, Turkye – ’n nasie wat al lank reeds ’n wêreldse of westerse benadering tot Islam ondersteun – uit na Iran as die leier van Sjiïtiese Islam en na Saoedi-Arabië as die spilpunt in die wêreld van die Soennitiese Islam. Sal die voormalige drierigting-verdeling tussen wêreldse, Soennitiese en Sjiїtiese belange bly bestaan of sal die verskuiwing van bondgenootskappe, kleiner rolspelers in staat stel om hulle eie belange te bevorder?

Om een of ander rede blyk dit dat vrede in die Midde-Ooste buite bereik bly. Deur Sy profete het God, antieke Israel gewaarsku om versigtig te wees vir aansprake van vrede (Jeremia 4:10; 6:14; 8:11; Eségiël 13:10). In die tye van Jeremia en Eségiël het Jerusalem voor die onafwendbare onderwerping en uiteindelike ballingskap deur die Babiloniese Ryk te staan gekom. Vandag mag iemand ’n “Jeremia” genoem word omdat hy herhaaldelike, smeekgebede doen – net soos Jeremia sy nasie vurig en herhaaldelik gewaarsku het om verby die aanloklikheid van mensgemaakte vredesverdrae te kyk.

Vrede van binne en van buite, sal mettertyd na Jerusalem en Israel kom. Dit sal egter nie deur menslike politiek en diplomasie teweeg gebring word nie. Die profeet Sagaría het ná die ballingskap in Babilonië geskryf en gewaarsku dat Jerusalem ’n baie swaar klip sal wees waardeur alle nasies wat hulle met haar sake bemoei, seergemaak sal word (Sagaría 12:2-3).

Die vrede waarvoor die Psalmdigter ons gevra het om te bid, sal nie voortvloei uit ’n vredesooreenkoms wat deur mense opgestel is nie, maar sal in harmonie met die geopenbaarde wil van God wees. Daardie geopenbaarde wil word in die bladsye van die Bybel uiteengesit, wat aantoon dat Jerusalem die middelpunt van wêreldvrede sal wees ná die Wederkoms van Jesus Christus. Indien u meer wil weet oor die wonderbaarlike veranderings wat binnekort in hierdie omgewing sal aanbreek, kan u ons gratis boekie Die Midde-Ooste in Profesie aanvra.