Baie mense smag daarna dat die venynige bitterheid van politieke konflik tot ’n einde kom. Daardie einde sal kom, maar nie deur mense se toedoen nie!

Die politieke gesprekke van vandag is ’n kanker wat besig is om ons samelewing te vernietig.

Kan dit reggestel word?

Teen die tyd dat baie van u hierdie artikel lees, sal Verkiesingsdag in die Verenigde State verby wees. Ons sal weet of president Donald Trump herkies is en of die voormalige vise-president Joe Biden as president verkies is.

Of sal ons? ’n Skokkende aantal waarnemers het beweer dat die nasie ryp is vir ’n nagmerrie-scenario waartydens 3 November 2020 sal kom en gaan met Amerikaners wat onseker is oor wie regtig gewen het. Die tydskrif Economist het dit “America’s Ugly Election” genoem en opgemerk: “Baie Amerikaners is bekommerd dat November 2020 nie ’n gladde oorgang van demokrasie kan wees nie, maar ’n gewelddadige onenigheid en ’n grondwetlike krisis” (3 September 2020).

Wat die resultaat ookal mag wees, daar rus een vloek op ons wêreld wat ’nie deur ’n president reggestel kan word nie: politiekery. Dit geld nie net in die VS nie, maar ook in al die nasies van hierdie wêreld. Verkiesings kom en gaan, maar politiekery duur voort. Tog is daar ’n oplossing. U Bybel het lank gelede die koms van ons moeitevolle dae van teëspoed voorspel en ons gewaarsku oor die gevare wat voorlê wanneer ons die einde van hierdie era nader. Ongelukkig sal die vloek van politiekery vererger, wat ongekende verwoesting sal meebring wat net deur Jesus Christus se Wederkoms reggestel sal kan word. Tog sê Hy aan ons dat ons nie vir Sy Wederkoms hoef te wag nie. God is nou besig om ’n handjievol mense te roep, selfs te midde van ons wêreld se vele probleme, om die seëninge van daardie raat vandag te kan ervaar, jare voor die res van ons wêreld.

Wen – ten alle koste

Dit het absoluut afskuwelik geword, het dit nie? Negatiewe advertensieveldtogte, venynige persoonlike aanvalle, kinderagtige “twiets” en sosiale mediaplasings, wedywerende “onbevooroordeelde” nuuslesers wat hulle gunsteling kandidate bevoordeel – dit lyk of daar geen uitkoms is nie. Dit lyk asof diegene wat ’n amp wil beklee, enige skyn van fatsoenlikheid of waardigheid laat vaar en bereid is om teen byna elke prys hulle verlangde posisie te verwerf. Geen gerug oor ’n teenstander kan té onbehoorlik of vergesog wees om te herhaal (of uit te dink) nie en geen belediging is té vernederend om rond te slinger nie. Die politieke haatdraendheid het versprei na elke vorm van die media – televisie, radio, die internet en verder. Moenie verwag om binnekort ’n politiekvrye sone te vind nie.

Dit is net die begin van van die verkiesingsveldtog – wat al hoe meer lyk asof dit nie gaan eindig nie. Selfs ná ’n verkiesing gaan die politiek voort: Toesprake wat teenstanders as vyande uitkryt, perskonferensies gevul met skinderstories en laster, beloftes wat kiesers aanmoedig en inspireer, gevolg deur kompromieë wat ontmoediging en wanhoop meebring. Soos advokaat-digter John Godfrey Saxe eenmaal gesê het: “Dit mag ’n vreemde vergelyking wees maar die maak van wette is soos om geprosesseerde vleisprodukte te vervaardig – indien u daarvan hou is dit beter om nie te sien hoe morsig die proses is nie.

Indien ons nogtans dink dat die politiek nos g nooit só sleg was nie, verstaan ons nie die politiek nie. Persoonlike aanvalle en karakter-sluipmoord is nie in 2016 deur Donald Trump en sy “twiets” uitgevind nie – ook nie in 1988 deur Lee Atwater en sy wrede “Willie Horton”-advertensies teen Michael Dukakis nie en ook nie in 1964 deur Bill Moyers, wie se beroemde “Daisy”-advertensie, wat Barry Goldwater beswadder het sonder om eers die kandidaat se naam te noem nie. Politieke moddergooiery was eintlik van die vroegste tye af ’n belangrike deel van die Amerikaanse politiek.

Dink daaraan dat Thomas Jefferson na bewering die koerantverslaggewer, James Thomson Callender gehuur het om valse gerugte en persoonlike aanvalle oor sy politieke teenstander, John Adams, te publiseer. In sy pamflet The Prospect Before Us, beweer Callender dat Adams oor “’n afskuwelike hermafroditiese karakter beskik wat nie die krag en standvastigheid van ’n man óf die sagtheid en sensitiwiteit van ’n vrou het nie”.

Jefferson self was nie immuun teen sulke aanvalle nie. Op 4 Julie 1798 het die president van die Yale-universiteit, Timothy Dwight, ’n goed gepubliseerde “preek” gegee waarin hy vir die skare gesê het: “Indien Jefferson verkies word, kan ons dalk vind dat ons vrouens en dogters die slagoffers van wettige prostitusie word, skandelik onteer, hulle skoonheid besoedel, die uitgeworpenes van ordentlikheid en deug, die afsku van God en die mens”.

Let op dat die voormalige VS kongreslid, Kenneth Rayner, enkele jare voordat die burgeroorlog uitgebreek het, nie gehuiwer het om in ’n koerant in Noord-Carolina te skryf dat die destydse president Franklin Pierce “die koppelaar [pimp] van die Withuis was nie ... ’n Man wat so laag gesink het dat ons hom nouliks kan haat. Ons het niks anders as afsku, jammerte en minagting nie” (The Weekly Standard, 4 Julie 1855).

Nee, die aard van die politiek het nie verander nie. Wat ons vandag onder ons politici betreur – naamskending, beledigings en smeerveldtogte – was nog altyd meer die norm as die uitsondering.

Nou is elkeen ’n politikus

Soos ’n liggaam wat heeltemal deur ’n virus ingeneem is of vol bakterieë is, só lyk ons lewens vandag asof dit heeltemal deurdrenk is met politiek. Politici baklei voortdurend vir ons stemme en ons geld. Betogings deur politieke partygenote vul ons nuusberigte – soms letterlik ook ons strate – namate hulle probeer om ons te bedrieg in ons heel alledaagse keuses van politieke verklarings:

Besoek u ’n kitskosrestaurant? Wees versigtig — die eienaars van Chick-fil-A het geld geskenk om ongewilde wetgewing te ondersteun, pas dus op vir betogers.

Op soek na ’n nuwe hoed? U beter seker maak dat dit nie die verkeerde kleur is nie – iemand kan u dalk verkeerdelik as ’n “Trump-ondersteuner” aansien.

Koop u ’n blikkie boontjies? Indien die handelsmerk Goya is, het u dieselfde bekommernis.

Dra u ’n masker om die infeksie van die corona-virus te verminder? Wees bereid om ’n “swakkeling” genoem te word wat maar te inskiklik is om te voldoen aan regeringstoesig.

Sit u om na sport te kyk? Verwag om die huidige gewilde politieke slagspreuk te sien wat op die vloer van die arena geskilder is of die mees onlangse name van politieke martelare wat op die spelers se truie of helms aangebring is.

Laai u u kind by die skool af? Is u “omgewingsbewus” in ’n elektriese motor of ontneem u ons eie burgers van werk as ’n bestuurder van ’n ingevoerde motor? Selfs u kinders op skool kan nie politiek vryspring nie – van kos in die kafeteria, die boeke in die biblioteek tot die lesse in die klaskamer. Selfs wiskundeklasse kan vandag ingekleur word deur onderwysers se politieke neigings en wêreldbeskouings.

Sommige waarnemers het die byna godsdienstige ywer opgemerk waarmee baie mense nou politiek beoefen. In die afwesigheid van ’n ware God in mense se lewens, is politici aan alle kante gereed om daardie leemte te vul. Daar is ’n rede waarom so baie mense oproerig is en die onluste in die openbaar verdedig, ongeag die skade wat hulle veroorsaak en die lewens wat hulle met godsdienstige ywer vernietig: Wanneer God afwesig is, vul verskriklike dinge die lugleegte.

Politiek as ’n spansport?

Hierdie is nie die manier om ’n beskawing te bestuur nie. Die verpolitisering van bykans elke aspek van die lewe en ook ’n atmosfeer wat selfs die geringste meningsverskil gelykstel aan ’n persoonlike aanval, het presies die soort omgewing geskep wat ons sou kon verwag: ’n Groot deel van die moderne lewe is nou ’n venynige kompetisie en ’n wrede slagveld van ideologieë.

In ’n artikel vir die VS-uitgawe van die VK se tydskrif, Spectator, het die Amerikaanse komediant en politieke kommentator Bridget Phetasy geskryf oor die lelike wêreld van “politiek über alles”, waarin burgers van die VS hulleself tans bevind: “Demokrasie sterf nie in die donker nie; dit sterf wanneer politiek ’n spansport word, ten aansien van ’n bloeddorstige, juigende kieserskorps ... Terwyl albei kante al hoe meer die rede as wapen gebruik en samesweringsteorieë opdis ten einde kranksinnigheid te verdedig, worstel miljoene verstandige, gematigde Amerikaners met die keuse om by ’n volksgroep aan te sluit, hulle heeltemal te onttrek of om kranksinnig te word” (“The battle cry of the politically homeless,” 16 Augustus 2019).

Phetasy se opmerkings is merkwaardig omdat hulle die rol van die volk erken – die burgers self. Demokrasie – ongeag die verskillende vorms en samesmeltings – verbind die kwaliteit van ’n volk se leierskap direk aan die kwaliteit van sy mense. Die magtiges beklee hulle posisies omdat “hulle span” – die jongste politieke meerderheid – hulle daar wil hê. U kry die leiers wat u kies – wat in die politieke arena wen of anders gestel, u kry die leiers wat u verdien. Selfs wanneer die burgers in ’n demokrasie hulle leiers se geskiktheid, persoonlikhede en bekwaamheid minag, verseker die aard van demokrasie dat die leiers die karakter van “hulle span” – die mense – weerspieël wat hulle daar geplaas het.

Die huidige toestand van sake laat ons dink aan die apostel Paulus se waarskuwing van lank gelede, dat wanneer ons die tweede groot Gebod vergeet: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, en ons begin mekaar byt en opeet, sal ons uiteindelik die een deur die ander verteer word (Galasiërs 5:14-15). Die nare, wrede, selfvernietigende omgewing waarin baie demokrasieë en demokratiese republieke hulleself tans bevind – die sieklike en verrottende aard van openbare gesprekke en interpersoonlike verhoudings – is nie heeltemal nét die politici se skuld nie. Daardie leiers is ’n produk van die euwels wat onder hulle mense heers en hulle leiers dra daartoe by om die euwels van hulle mense te vererger – ’n bose kringloop wat besig is om tot ’n verskriklike einde te lei, tensy iets gedoen word om die kwaal hok te slaan.

Die Bybel het hierdie dae voorspel!

Wanneer ons na die Bybel kyk, sien ons dat die antieke profesieë hierdie leierskapkrisis voorspel het. In ’n boodskap aan “Jerusalem” en “Juda” wat vandag nog op ons nasies van toepassing is, sê Jesaja vir ons dat God die “stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water, die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die oudste; die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder” sal verwyder (Jesaja 3:1-3).

Wat sê God hier? Hy sal bekwame leiers heeltemal wegneem uit ons sondige nasies en ons sonder enige sinvolle leiding laat. In plaas daarvan sal ons nasies gelei word deur “seuns” – die moedswilliges en onvolwassenes (Jesaja 3:4) wat sal lei tot ’n bevolking wat teen homself draai: “En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop” (vers 5). In daardie beskrywing kan slegs blindes nie ’n volmaakte uitbeelding sien van die samelewing wat ons besig is om rondom onsself te skep nie.

Die resultaat sal wanhoop wees! Jesaja verduidelik dat mense nie na kwalifikasies of geloofwaardigheid sal kyk nie, maar na die geringste aanduidings dat iemand moontlik kan leiding neem. Sommige mense sal na ander in hulle huishouding draai en sê: “Jy het ’n kleed, jy moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig wees” (vers 6). Waarlik, hoeveel “nikswerd leiers” begin die volke van die wêreld nie kies nie? Dit is nie toevallig dat die VS presidentsverkiesing neerkom op ’n wedloop tussen ’n bekende van die werklikheidstelevisie en ’n man wat die swakste in sy regsklas op universiteit presteer het en ook as ’n voorgraadse student. Baie mense het gesê dat hulle van plan is om nie vir ’n gunsteling te stem nie, maar teen die kandidaat van wie hulle die minste hou!

God het die profeet Eségiël geïnspireer om kragtig te spreek tot ons tye om die “vorste”, die “priesters” en die “profete” wat die samelewing om die bos lei, te veroordeel (Eségiël 22:26-28). In moderne terme is dit die regeringsleiers wat veronderstel is om te regeer, die godsdienstige leiers wat veronderstel is om te preek en die media persoonlikhede wat veronderstel is om “die waarheid kragtig te spreek” – wie se joernalistieke leuse vroeër was “om die wat geteister was gerus te stel en die wat gerus is te teister”.

Dit is egter nie net ’n beskuldiging teen leiers nie. In dieselfde gedeelte veroordeel Eségiël die volk self, aangesien hulle net so skuldig is soos hulle leiers (vers 29). Dit behoort ons nie te verbaas nie; Paulus waarsku die jong evangelis Timótheüs, dat mense in die laaste dae (dit wil sê in ons tyd) liefdeloos sal wees, lasteraars, trotsaards, wreed en onheilig – verteer deur geldelike gewin en sonder selfbeheersing (2 Timótheüs 3:1-4). Paulus waarsku dat die mense “’n gedaante van godsaligheid” sal hê, maar die krag van egte, Bybelse godsaligheid ontken – ’n ontkenning wat ons oral rondom ons sien (vers 5).

Sommige mense wonder hoe die mense van die wêreld die slagoffer van die geprofeteerde “dier” en die valse profeet sal kan word. Onthou dat hulle goddelose godsdienstig politieke masjinerie, wat deur die duiwel self aangedryf sal word, baie mense ongelooflik ryk sal maak (Openbaring 18:3). Baie mense sal voorspoedig wees, onaangeraak deur die ondenkbare lyding wat ander mense aangedoen word (Openbaring 13:4-7, 11-15), totdat hierdie vereniging van tiranniese politieke mag en vervalste “Christelikheid” ons wêreld tot op die randjie van selfvernietiging sal neem.

Hiermee sal die gees van politiekery sy natuurlike hoogtepunt bereik. Gesetel in kompetisie en die begeerte om te sien hoe die eie wil op ander mense afgedwing word – ongeag die koste – sal die siekte van politiek versprei totdat dit die lewe van die mensdom self in gevaar stel, so erg dat geen vlees op aarde sal kan oorleef nie (Matthéüs 24:22).

Die oplossing is aan die kom – Hy is nie ’n politikus nie!

Ja, dinge sal vererger voordat dit beter sal word en ons sal ons wêreld op die rand van vernietiging sien. Gelukkig sal daardie dae verkort word voordat ons wêreldvernietiging pleeg. Jesus Christus sal na die aarde terugkeer om as Koning van die konings en die Here van die here te regeer. Tog, anders as enige koning, president of eerste minister voor Hom, sal Sy Regering die reëls heeltemal verander en dit sal die plaag van politiekery genees!

Waarom? Daar is ’n ingeboude probleem met mense wat oor ander mense regeer, soos wat die politieke wetenskaplikes Bruce Bueno de Mesquita en Alastair Smith opmerk in hulle siniese, maar insiggewende boek, The Dictator’s Handbook: Why Bad Behavior Is Almost Always Good Politics:

“Geen leier is monolities nie. Indien ons sin wil maak oor hoe mág werk, moet ons ophou om te dink dat Noord-Korea se Kim Jong Il kan doen wat hy wil. Ons moet ophou glo dat Adolf Hitler óf Joseph Stalin of Genghis Khan of enigiemand anders alleen heerskappy oor hulle onderskeie nasies gehad het ... Al hierdie idees is heeltemal verkeerd omdat hoegenaamd géén keiser, koning, sjeik, tiran, hoofuitvoerende beampte, gesinshoof of leier, alleen kan regeer nie” (bl. 1).

Mense wat oor ander mense regeer, kan dit slegs doen omdat sleutelondersteuners hulle in daardie magsposisies wil hê. Wanneer daardie ondersteuning afneem, is daar altyd iemand wat alte graag die leier se plek wil inneem. Dit geld ook vir presidente, senatore en ministers van die parlement asook vir konings, diktators en alleenheersers. In menslike stelsels van heerskappy is politiek onvermydelik, net soos politici. Selfs die magtigste menslike heersers moet soms witvoetjie soek by hulle ondersteuners of brose koalisies van bondgenootskappe onderhou, elkeen met hulle eie begeertes en planne.

Die verheerlikte Christus sal egter nie ’n politikus wees nie. Jesaja 9:6 beskryf hoe die volke van die aarde die Messiaanse regering van Jerusalem af oor die hele wêreld sal beskou en let daarop dat Hy genoem sal word: “Wonderbaar, Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors”. Alhoewel politici poog om hulle doelwitte te bereik deur manipulasie, uitgeslapenheid en bedrog, sal die Een wat die titel “Magtige God” met reg dra, Homself nooit tot sulke taktiek wend nie.

Die VS president Theodore Roosevelt is bekend daarvoor dat hy sy buitelandse beleid beskryf het as weldeurdag en gesaghebbend. Wel, Jesus Christus sal die hoogste gesag in die skepping hê – in werklikheid sal Hy die mag in die hele heelal tot Sy beskikking hê! Geen “politiekery” sal nodig wees nie. Indien ’n volk besluit om te rebelleer, sal die Een wat vanuit Jerusalem regeer, eenvoudig verklaar dat die ongehoorsame volk geen reën op sy land mag hê nie (Sagaría 14:17-19). Die natuurkragte sal gehoorsaam wees! Wanneer die land verdroog en sy mense én hulle leiers, die vooruitsigte van droogte en swaarkry in die gesig staar, sal hulle hul aan hierdie nuwe Koning onderwerp.

Jesus Christus sal met absolute gesag regeer. Vir die Seun van God sal absolute gesag egter nie absolute korrupsie wees nie, dit sal glad nie korrup wees nie. Die sondelose lewe wat Christus geleef het ter wille van die hele mensdom gedurende Sy drie dekades op aarde voor Sy kruisiging, toon die karakter wat Hy met Sy rol sal hê. Hy sal die wysste, liefdevolste en beste Heerser wees wat die wêreld nog ooit geken het. Diegene wat onder Sy leiding sal leef, sal ’n nuwe wêreld ervaar wanneer die Skepper met nederigheid en geregtigheid oor Sy skepping regeer, terwyl Hy die armes en sagmoediges versorg en beskerm en Sy koninkryk met geregtigheid vul. Hy sal selfs die aard van die diere verander, sodat hulle nie meer skade sal aanrig nie en in die diereryk uitbeeld wat Hy uiteindelik onder mense in Sy Koninkryk sal bereik: ’n Volledige verandering van die menslike natuur. Orals sal mans en vrouens uiteindelik lewens leef van ware godvrugtige liefde vir mekaar, wat regeer sal word deur die Wette van God. Die wêreld sal blom onder die hand van sy Goddelike Koning, soos ons in baie gedeeltes vind (bv. Jesaja 11:1-10).

Môre se wêreld – vandag?

Sou u nie graag ’n voorsmaak wou hê van daardie toekomstige wêreld nie, selfs al is God se Koninkryk en die heerskappy van Jesus Christus nog nie op die aarde gevestig nie? God is besig om ’n klein groepie mense nou te roep om ’n voorsmakie te ondervind van daardie tyd – ’n voorsmakie van ’n wêreld sonder politiek.

Diegene wie Jesus Christus volg, is “vreemdelinge en pelgrims” op die aarde (Hebreërs 11:13). Hulle neem nie deel aan die wêreld se politiek nie, aangesien hulle “burgerskap” is van die toekomstige Koninkryk van God, wat tans in die Hemel is (Filippense 3:20). Soos ambassadeurs wat hulle lande verteenwoordig terwyl hulle in die buiteland woon, streef Christene daarna om God se Koninkryk te verteenwoordig, selfs terwyl hulle in hierdie verdorwe wêreld woon (vergelyk 2 Korinthiërs 5:20). Net soos ambassadeurs nie stem in die lande waar hulle gestasioneer is nie, neem Christene nie deel aan die politiek van die lande waar hulle woon nie.

Soos Jesus vir Pontius Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:36). Jesus se volgelinge het nie geveg om Hom van Sy kruisiging te red nie en ook nie om die Romeinse regering te verander nie. Vandag verstaan hulle dat hulle nie hierdie wêreld kan regmaak deur die wêreld se eie politiek nie. Slegs Jesus Christus kan ons wêreld regstel wanneer Hy weer kom om Sy geprofeteerde Koninkryk op die aarde te vestig. Tot dan streef Christene daarna om uit hierdie wêreld se korrupte manier van selfregering uit te kom (2 Korinthiërs 6:17). In plaas daarvan om die minste van twee (of meer) euwels te kies elke verkiesingsiklus verkies hulle om die goeie nuus te versprei dat ’n ware Leier binnekort sal kom om alles te bereik wat die leiers van vandag nie kan doen nie!

Die Christene van vandag besef dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17). Hulle hoef nie aan die wêreld se politiek deel te neem nie, want hulle sien die groter prentjie. Daar is ’n diepe en kragtige gemoedsrus wat volg wanneer ons uitstap uit die politieke stryd en onsself toewy aan die groter saak van God die Vader! Dit verteenwoordig ’n voorsmaak, hoe gering ookal, van die gemoedsrus wat oor die hele wêreld sal kom wanneer die heeltemal nie-politiese Vredevors Sy regering in Jerusalem sal vestig in die jare wat voorlê. Daardie groepie wat op God se roeping reageer, kan daardie voorsmaak nou al kry! Indien u dink dat God u moontlik nou roep, oorweeg dit om die webwerf wvm.co.za te besoek en te soek vir die Tomorrow’s World-beeldsending, “Is God Calling You?

Geen rede om te wag nie!

Ek skryf hierdie artikel aan die einde van September 2020, meer as ’n maand voor die deurslaggewende VS presidentsverkiesing. Soos ek al genoem het, is baie waarnemers bekommerd dat die verkiesing nie werklik op 3 November sal eindig nie. Sal die uitslae vertraag word soos in 2000, deur geskille oor watter stemme getel behoort te word en op watter manier? Sal geregtelike gevegte oor posstemme of toegang tot stemlokale – of watter ander twispunte die desperate verloorders ookal mag opper – die land se trauma met weke of maande uitrek voordat daar ’n beslissing gemaak kan word? Sal hierdie trauma oorgaan na meer onrus in Amerika se strate – Mainstreet net soos Wallstreet? Onthou dat Amerika se trauma dikwels die wêreld s’n word.

Gelukkig is God se Woord duidelik. Alhoewel die vloek van politiek, politiekery en politici slegter sal word voordat dit beter sal word, sal dit tot ’n einde kom. Wanneer Jesus Christus weer kom, sal Hy ’n einde maak aan politiek. Dit maak nie saak watter veranderings ná die verkiesing in Amerika aan sy politieke stelsels gemaak mag word nie, net Hy is die oplossing. Hoe wonderlik is dit dat die genesing vandag kan begin vir diegene wat Hom toelaat om nou in hulle lewens te regeer!