Die samelewing verander en om standpunt in te neem oor iets wat jy weet verkeerd is verg besondere dapperheid. Is u gereed om alles prys te gee?
Wanneer die tyd aanbreek, sal u alles op die spel plaas?
Vroeër of later sal dit nodig wees dat ons almal tot aksie oorgaan wat óf dapperheid óf lafhartigheid te kenne sal gee.
Om moed aan die dag te lê is die altyd-teenwoordige metgesel van grootheid. Boeke vol word aan die onderwerp gewy. In Undoubted Courage vertel die geskiedkundige Stephen E. Ambrose die verhaal van Meriwether Lewis, wie se moedige leierskap van die Lewis en Clark Ekspedisie die Amerikaanse Weste die geleentheid geskep het vir verdere verkenning. Profiles in Courage met eerbetoon aan voormalige president John F. Kennedy, beskryf die dapper dade van agt Amerikaanse senatore. Die deugde van manmoedigheid kom op alle vlakke van die lewe voor en deur alle omstandighede heen. Ons vind dit dikwels in tye van oorlog, veral op die slagveld, maar dit word ook op die gebied van besluite deur ’n direksie gevind en in diegene wat dapper genoeg is om stroomop teen die gety van gewilde opinies te swem.
Verkenners soos Lewis en Clark word algemeen geprys in die annale van die geskiedenis. Netso ook die dapper mans en vroue wat die aarde agterlaat om die ruimte te verken. Wie kan ontken dat die eerste man in die ruimte asook die eerste manne wat op die maan geloop het, ’n spesiale eienskap besit het? Tog kry die meeste dade van dapperheid geen erkenning nie. Soms gaan dit selfs ongesiens verby. Kan ons weier om die etiket “moedig” toe te ken aan die man wat sy vrees vir hoogtes oorkom het, deur met sweefvlieg te begin, of die jong vrou wat besluit om ’n kind te hê wanneer pyn en onsekerheid op haar wag?
Ons almal bewonder manmoedigheid, maar by tye skram ons daarvan weg om dit aan die dag te lê. Dit begin op ’n vroeë ouderdom. Vir geslagte lank is dit aan Amerikaanse kinders vertel dat toe ’n jong George Washington gevra is, “Wie het die kersieboom afgekap?” hy geantwoord het: “Ek kan nie ’n leuen vertel nie. Ek het”. Helaas, die storie is blote fiksie. Inderdaad, baie kinders “verdraai” die feite wanneer hulle met die waarheid gekonfronteer word wat pyn kan meebring indien dit erken word. Ongelukkig gedra baie volwassenes hulle soos klein kinders onder soortgelyke omstandighede, alhoewel met groter nagevolge.
Dapperheid is ook moeilik om te voorspel. Waarom kan iemand in een geval sy man staan en by ’n ander geleentheid wegskram? Ons kan dit by die profeet Elía sien waar hy koning Ahab gekonfronteer het, asook 450 profete van Baäl, 400 profete van Astarte en ’n bevolking wat nie kon besluit watter kant om te kies nie. Tog het dieselfde Elia, kort ná sy dapper optrede teen so ’n menigte, lafhartig na die ander kant van die land gehardloop toe koningin Isébel hom gedreig het. Waarom soveel moed aan die dag lê teenoor ’n menigte, maar so ’n gebrek daaraan hê teen slegs een persoon?
Botsende motiewe
Dit is nie maklik om motiewe te onderskei nie. Ons lees in Profiles of Courage:
Natuurlik sal die dade van dapperheid wat in hierdie boek beskryf word, meer inspirerend wees en meer skitter met die tradisionele glans van heldeverering indien ons sou aanvaar dat elke mens heeltemal van homself vergeet in sy toewyding aan hoër beginsels. Dit mag egter wees dat president John Adams – sekerlik die onpartydigste sowel as verstandigste staatsamptenaar was wat ons ooit gehad het – baie nader aan die waarheid gekom het toe hy in sy Defense of the Constitutions of the United States geskryf het: “Dit is inderdaad nie waar dat daar ooit enige mense ooit bestaan het wat die publiek meer as hulleself liefgehad het nie” (bl. 238).
Indien ons deesdae se politieke ingesteldheid in oënskou neem, is dit nie moeilik om die wysheid van Amerika se tweede president te aanvaar nie, maar beteken dit ook dat daar geen ware edelheid buite die politiek is nie? Dink aan die man wat op ’n handgranaat val om die lewens van mede-soldate te red of wat van die man wat sy sitplek op ’n reddingsboot aan sy vrou of kind afgestaan het en saam met die Titanic ondergegaan het? Ons mag moontlik nie al die name of omstandighede ken nie, maar die geskiedenis is vol van mense wat hulle lewens gewillig vir ander mense opgeoffer het. Selfopoffering verg moed en is dikwels onbaatsugtig – maar nie altyd nie. Selfmoordbomdraers mag dalk hulle lewens vir ’n saak opoffer, maar is dit regtig ’n opoffering wanneer hulle ’n beloning in die hiernamaals verwag en ook om roem op die aarde te verkry? Dit kan sekerlik nouliks vergelyk word met die grootste daad van selfopoffering van alle tye (Johannes 3:16; Filippense 2:5-8).
Ja, daar is motiewe agter dapperheid – sommige edel en ander nie so edel nie. Manne en vroue het in seilbote van hout oor die wye oseaan gevaar na die vasteland wat ons nou Noord-Amerika noem, sonder om te weet of hulle sou oorleef of wat hulle daar sou vind. Hulle motief was dikwels ’n begeerte na beter lewens vir hulleself en hulle kinders. Hulle kom nog steeds en hulle reise verg steeds moed en deursettingsvermoë. Ek het al ’n hele paar hedendaagse immigrante na Kanada en die Verenigde State ontmoet. Die begeerte na ’n beter lewe vir hulle kinders bly ’n algemene tema, selfs al weet hulle dat hulle eie lewens moeilik sal wees.
Baie motiewe kan die menslike gees motiveer om groot struikelblokke te oorkom. Soos hierbo genoem, die dryfkrag vir party mense is ’n doel wat groter as hulleself is. Party mense bly aktief besig om die vrees vir die dood of om te sterf te onderdruk. Sommige mense soek roem en geluk, en soms die hoop op ’n beter lewe. Sommige mense soek na niks meer as ’n adrenalien-inspuiting en “die opwinding van dit alles” nie.
Ons kan aan klein dade van dapperheid dink, soos om van ’n hoë duikplank in die diep kant van ’n swembad in te spring. Vir baie mense verg dit selfs ’n bietjie moed om iemand te nooi vir ’n afspraak of om ’n uitnodiging te aanvaar. Selfs skynbaar gewone gebeurtenisse soos om te trou, verg ook moed. Alhoewel ons ’n paartjie se plan om kinders te hê as vanselfsprekend mag aanvaar, verg dit ook ’n tipe moed vir man en vrou om die verpligtinge en opofferings te maak wat die plan moontlik sal maak. Hierdie situasies is nie die dinge waaroor geskiedkundiges skryf wanneer hulle aan dapperheid dink nie. Is hierdie en honderde ander dade egter enigsins minder manhaftig vir die individue wat hulle vrees oorkom?
Plaas dit alles op die spel
Dit sal vroeër of later vir almal van ons nodig wees om dinge te doen wat óf moedigheid óf lafhartigheid te kenne sal gee. Ons kan Jack Phillips as voorbeeld hiervan neem. Selfs al onthou u hom nie by name nie, het u waarskynlik gehoor van die standpunt wat hy ingeneem het teen die staat van Colorado as die eienaar van Masterpiece Cakeshop in Lakewood. Nadat Phillips geweier het om ’n koek te versier om ’n “huwelik” tussen twee mense van dieselfde geslag te vier, is hy voor die Colorado Burgerregtekommissie gedaag. Daar is ’n vonnis teen Phillips gevel ten gunste van die betrokke diesefde-geslag paartjie. Hy kon voor die druk swig, maar hy het besluit om teen die vonnis te appelleer. Uiteindelik, in Junie 2018, ná ses jaar van stres en trauma, het die Amerikaanse hooggeregshof in Phillips se guns beslis.
Dit was nie die einde vir Phillips nie. Nadat hy geweier het om ’n “koek te ontwerp wat pienk aan die binnekant was en blou aan die buitekant om ’n manier van geslagsverandering van manlik na vroulik te vier”, is ’n ander klag teen hom gelê (“Masterpiece Cakeshop, Colorado Settle Legal Battle”, ColoradoPolitics.com, 5 Maart 2019). Wat was die resultaat? “Minder as ’n maand later het die staat ’n waarskynlike rede gevind om te glo dat die staat se wet vereis dat Phillips die koek met die geslagsveranderingstema soos versoek sal skep”. Phillips en ’n paar ondersteuners het hierdie nuwe aanklag moedig beveg. Hulle het dit beskou as niks minder nie as ’n geboelie en teistering en het die mag van die staat gebruik teen ’n enkele individu wat bereid was om standpunt in te neem vir sy oortuigings van reg en verkeerd. Gelukkig is hulle manmoedigheid beloon. In Augustus 2018 het “Alliance Defending Freedom, ’n nie-winsgewende regsorganisasie wat mense verdedig op grond van hulle godsdienstige oortuigings, ’n federale regsgeding aanhangig gemaak teen die afdeling, die kommissie en die Colorado-goewerneur en prokureur-generaal. Hulle het beswaar gemaak en gekla dat die staat ‘op ’n kruistog is om die eiser Jack Phillips te vernietig omdat sy amptenare dit wat Phyllips glo en hoe hy sy geloof beoefen, verag’” (ibid).
Dit is een ding vir ’n staatsregering, met sy groot beskikbare hulpbronne en die vermoë om ander mense se geld te spandeer, om bloot ’n private burger te dagvaar. Danksy die teenklag, het Phillips se vervolgers ook iets gehad om te verloor. Colorado het sonder twyfel versekering gehad om die staat teen groot verliese te beskerm, maar gevegte in hofsake kan steeds sy tol eis. In effek het reguleerders van die staat besluit om dit ’n gelykop spel te noem, aangesien albei partye hulle regsgedinge laat vaar het.
Ons behoort dankbaar te wees vir die moed en vasberadenheid van Jack Phillips en diegene soos hy. Hy het ’n prys betaal vir verlore inkomste en het geweldige spanning op homself en sy gesin verduur as gevolg van sy opregte godsdienstige oortuigings. Gelukkig is hy nie alleen nie. In die staat Washington het die prokureur-generaal ’n saak verhoor waarin ’n bloemis van Richland betrokke was, omdat hy geweier het om deel te neem aan ’n huwelik tussen twee mense van dieselfde geslag. Barronelle Stutzman, eienares van Arlene’s Flowers, was ’n vriend van Robert Ingersoll, ’n jong man aan wie sy blommerangskikkings voorsien het vir belangrike geleenthede in sy lewe. Sy was bewus van sy lewenstyl en hy het geweet van haar Christelike geloof. Alles het goed gegaan totdat sy geweier het om deel te neem aan sy huwelik met Curt Freed, wat sy nie met ’n rein gewete kon doen nie, gebaseer op haar opregte godsdienstige oortuigings. In 2013 het die prokureur-generaal die volle mag van die staat Washington op die 70-jarige ouma uitgeoefen. Die Alliance Defending Freedom het in ’n regsdokument aan die hof geskryf:
“Die prokureur-generaal het dieselfde ongelyke behandeling hier getoon [soos in die Phillips-saak]. Nadat hy in mediaberigte van mev. Stutzman se godsdienstige konflik gehoor het, maar sonder enige klagte van die individuele respondente, het die prokureur-generaal mnr. Freed gekontak om sy besorgdheid uit te spreek. Hy het ’n brief gestuur waarin hy gedreig het om mev. Stutzman te dagvaar. Sy kantoor het ’n ongewone plan beraam om hierdie regsgeding aanhangig te maak en het weliswaar in ’n erkende ongeëwenaarde gebruik, die CPA genader om dit te doen en mev. Stutzman in haar persoonlike hoedanigheid te dagvaar. In duidelike teenstelling hiermee, het die prokureur-generaal baie verskillend opgetree toe ’n storie van die media baie vinnig die rondte gedoen het in verband met die gay-eienaar van Bedlam Coffee in Seattle wat in Oktober 2017 ’n groep Christelike klante uitgeskel, uitgegooi en teen hulle diskrimineer het”.
Dit behoort duidelik te wees vir ’n persoon met enige kennis van wat aangaan – in ons Westerse nasies en in ander dele van die wêreld – dat alles wat as “Christelik” beskou word, bedreig word. Dit is nie te sê dat alles wat as Christelik beskou word, werklik Christelik is nie, net dat alles wat op enige manier aan Jesus Christus, die Bybel of die God van die Bybel verbind is, as “geoorloofde wild” beskou word. Terselfdertyd draai owerhede dikwels ’n “blinde oog” na misdrywe van diegene wat enigiets haat wat met Christelike geloof of uitlewing te doen het.
Die Boek is beter!
Elke jaar rondom die vakansie van Paasfees word die Cecil B. DeMille-rolprent The Ten Commandments op Amerikaanse televisie herhaal. Hierdie bykans vier-uur-lange topverkoper was revolusionêr wat betref tydsduur en omvang. Die hoofakteur, Charlton Heston, het die rol van Moses vertolk. Die bekende verhoogakteur Yul Brynner het die rol van Farao vertolk. Die styl van toneelspel verander natuurlik mettertyd en sommige van vandag se jonger geslag mag dit moeilik vind om hulle te vereenselwig met vroeër jare se toneelspel.
Ongelukkig, danksy meer onlangse rolprente wat op Bybelse karakters gebaseer is, soos Noag, kan toevallige kykers verskoon word indien hulle dink The Ten Commandments is niks meer as net fiksievermaak nie. Die regisseur DeMille het egter probeer om die Israelitiese uittog akkuraat uit te beeld, deur die Bybelse verhaal, die werke van Josephus en ander historiese en argeologiese bronne na te slaan. Desnieteenstaande weeg dit nie op teen die werklike gebeure nie. Ons hoor so dikwels van boeke waarvan rolprente gemaak is: “Die Boek is beter”.
Een tema wat in God se Woord uitstaan, is dat die menslike natuur wanneer dit genoeg tyd gegee word voortdurend terugval in afgodery en losbandige lewenswyses. Selfs ’n toevallige lees van die Bybel maak dit duidelik. Aan die einde van Moses se lewe is die leierskap oorgedra aan ’n man met die naam Joshua, aan wie Moses hierdie belangrike opdrag gegee het: “Wees sterk en vol moed” (Deuteronómium 31:6-7, 23). Dit was beslis belangrike advies vir die man wat ’n onopgeleide leër in ’n land sou inlei wat deur magtige manne bewoon was (Deuteronómium 7:1).
Ná Moses se dood het God Self hierdie boodskap aan Josua oorgedra en ’n verdere rede bygevoeg om moedig te wees: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan ... Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:7, 9). Moses en God het geweet dat Josua sterk moes staan teen die openbare mening en die menslike natuur.
Ja, gehoorsaamheid aan goddelik geïnspireerde instruksies verg moed. Jack Phillips en Barronelle Stutzman het daardie soort moed openbaar. Moed om gehoorsaam te wees word egter normaalweg nie so algemeen bekendgemaak en geprys nie.
Nou kom ons nader aan onsself
Neem een belangrike Bybelse opdrag in oorweging wat aan die Israeliete gegee is voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het:
As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie. (Deuteronómium 12:29-32).
In die laaste hoofstuk van die boek wat na Josua vernoem is, lees ons: “En Israel het die Here gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank ná Josua nog in die lewe was en met al die werke van die Here bekend was wat Hy vir Israel gedoen het” (Josua 24:31). Dit weerspieël egter nie ten volle die ingesteldheid van die volk nie, want hulle gehoorsaamheid was oppervlakkig en was van sterk leierskap afhanklik. Josua het die Israeliete bestraf omdat hy geweet het wat hulle sou doen. Hy het geweet dat, net soos God hulle vir gehoorsaamheid geseën het, so sou Hy vanweë hulle ongehoorsaamheid, probleme oor hulle bring. Hy het gewaarsku: “As julle die verbond van die Here julle God wat Hy julle beveel het, oortree en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam, en julle sal gou omkom uit die goeie land wat Hy aan julle gegee het” (Josua 23:16).
Hoe maklik is dit om terug te kyk en verwaand neer te sien op die arme siele wat weer en weer terugval in afgodery. Hoe kon hulle so dwaas gewees het? Tog doen baie van ons presies dieselfde!
Onthou dat God Sy volk opdrag gegee het om nie te aanbid op dieselfde wyse as wat die heidense nasies rondom hulle gedoen het nie. “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:32). Hoe het dan gebeur dat die naam van ’n heidense vrugbaarheidsgodin gekoppel is aan die dag waarop mense dink dat Jesus uit die dood opgewek is? Hoe het simbole van vrugbaarheid – soos hase, eiers en lelies – deel geword van die vieringe? Hoe het 25 Desember, die dag wat in antieke tye gevier is as die geboortedag van die songod Mithra, die dag geword om Jesus se geboorte te vier? Wat het versierde bome en ’n menigte ander heidense gebruike te doen met die aanbidding van Jesus?
Dit is ’n geskiedkundige feit dat vandag se belydende Christelikheid ver verwyder is van dit wat die Stigter daarvan en Sy Apostels geglo en beoefen het. Ons lees in The Story of the Christian Church, geskryf deur die gerespekteerde geskiedskrywer Jesse Lyman Hurlbut:
Die gebruike en seremonies van die heidendom het geleidelik in die erediens ingesluip. Van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword, met ’n verandering van naam en aanbidding. Sowat 405 n.C. het beelde van heiliges en martelaars in die kerke begin verskyn, eers as gedenkwaardighede, om daarna een na die ander vereer, verafgod en aanbid te word. Die aanbidding van die Maagd Maria het die aanbidding van Venus en Diana vervang; die Nagmaal het ’n offer geword in die plek van ’n herdenking; ’n ouderling het van ’n prediker na ’n priester verander ... die kerk het geleidelik die mag van die staat oorgeneem. Die gevolg was nie Christelikheid nie, maar ’n min of meer korrupte hiërargie wat die nasies van Europa beheer en die kerk hoofsaaklik ’n politieke masjien gemaak het (bll. 79-80).
’n Ontelbare aantal soortgelyke aanhalings kan in gerespekteerde bronne gevind word om te wys dat dit wat die meeste mense “Christelik” noem, vandag niks meer as heidens is nie, geklee in nuwe klere. Waarom pla dit mense nie? Bring dit ons nie terug na die onderwerp van moed nie?
Die Jesus Christus van die Bybel is baie anders as wat die meeste mense – selfs die meeste belydende Christene – hulle voorstel. Hoeveel het die moed om hierdie waarskuwing te aanvaar van die Een wat hulle Here en Verlosser noem? “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26).
Prakties kom dit daarop neer dat elkeen van ons bereid moet wees om Jesus en Sy leerstellings bo alles in die lewe te stel, wat beteken dat ons die moed sal hê om stroomop teen die gety van populêre tradisies te swem. Hoeveel mense verstaan die heidense oorsprong van baie godsdienstige praktyke, maar weens familie, vriende en werk, weier hulle om te verander sodat hulle nie dalk beskou word as vreemd en buitengewoon nie? Om ’n mens se man te staan teen die state van Colorado of Washington? Dalk nog om op te staan teen familie en vriende? Dit kan beslis moeiliker wees.
Die Christelikheid wat Jesus ons geleer het, vereis ’n soort moedigheid wat vandag baie skaars is. Dit verg moed om die konflikte wat ontstaan wanneer ons standpunt inneem, te weerstaan. Soos Jesus ons waarsku: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Matthéüs 10:34-37).
U het seker al die vraag gehoor, “Is jy ’n man of ’n muis?” Te dikwels kom die antwoord terug, “Gee die kaas aan”.
Wel, wat sal dit vir u wees – cheddar, gouda of manmoedigheid?