Die mens het 50 jaar gelede vir die eerste keer sy voete op die maan gesit. Dit was ’n merkwaardige prestasie maar wat is volgende? Wat is die volgende “groot sprong” vir die mensdom?
Vyftig jaar gelede het mense vir die eerste keer in die geskiedenis hulle voete op ’n ander wêreld geplaas. Die V.S. het ’n ambisieuse doel bereik. Waarheen gaan ons daarna? Idees en ambisies is volop.
“That’s one small step for [a] man, one giant leap for mankind”. Op 20 Julie 1969 om 9:56 nm Oos-Daglig-Tyd het die Apollo 11 ruimtevaarder, Neil Armstrong daardie bekende en dikwels aangehaalde frase uitgespreek, toe hy sy eerste spore op die maanoppervlakte getrap het. Ná ’n angswekkende daling – byna ’n ramp – in ’n landingstuig met ’n byna leë brandstoftenk, het Armstrong die eerste mens geword om voete op die maan te sit. Sy mede-ruimtevaarder Edwin “Buzz” Aldrin het 20 minute later buite hulle ruimtetuig by hom aangesluit. Na net minder as twee ure se verkenning van die maanoppervlakte, het Aldrin na die maanmodule teruggekeer. Hy is kort daarna deur Armstrong gevolg en hulle het in minder as ’n dag opgestyg om weer by bemanningslid Michael Collins in die Apollo 11 bevelmodule aan te sluit.
Vanaf die oomblik dat Armstrong gepraat het, kon luisteraars nie saamstem of hy die “’n” wat hy in daardie bondige sin bedoel het, uitgespreek het nie. Min mense betwis dit egter dat Armstrong se klein treetjie ’n belangrike mylpaal was. Wat het egter van die mensdom se reuse sprong geword?
Sien die aarde, bereik die maan
In 1975 het die skrywer Norman Cousins die beroemde woorde aan die V.S. kongres gerig: “Wat die belangrikste van die maanreis was is nie dat die mens sy voete op die maan gesit het nie, maar dat hulle die aarde kon sien”. In Desember 1968 het Apollo 8 se William Anderson die wêreld se verbeelding gaande gehad, toe hy in ’n wentelbaan om die maan die beroemde foto geneem het wat nou bekend staan as “Aard-opkoms”. Terwyl hulle die eerste keer die gekleurde uitsig van ons planeet uit die ruimte gesien het – die ryk, lewendige skakerings in skrille kontras met die maan se eentonige grys oppervlak, het baie mense gevoel dat die grootsheid en skoonheid van “Aard-opkoms”, ons planeet se internasionale konflikte so onbeduidend laat lyk.
Tog het Armstrong nie ’n vlag van die Verenigde Nasies op die maan se oppervlak geplant nie; dit was die Verenigde State se vlag. Die maanlanding self was aangespoor deur ’n uitdaging van die Koue Oorlog. Op 25 Mei 1961 het die V.S. president John F. Kennedy ’n uitdaging aan sy nasie gerig – ’n doelwit wat baie mense as onbereikbaar beskou het. Kennedy het die V.S. Kongres toegespreek en ’n onbeskroomde voorgestel gemaak: “Ek glo dat hierdie nasie homself behoort te verbind om voor die einde van hierdie dekade die doel te bereik, om ’n man op die maan te laat land en hom veilig na die aarde te laat terugkeer”. Nouliks meer as agt jaar later het twee Apollo 11 ruimtevaarders hulle voete op die maan gesit.
Tydens die vyf daaropvolgende Apollo sendings het tien mans op die maanoppervlak geland, maar in die byna 47 jaar sedert Apollo 17 se maanmodule van die maan af opgestyg het, was niemand weer daar nie. Om dit in perspektief te stel: Slegs twee ander nasies – die Volksrepubliek van China en die voormalige Sowjet-Unie – het ’n onbemande sending suksesvol op die maan “laat land”. Israel het gehoop om vroeër in 2019 die vierde te word, maar sy Beresheet landingstuig het geval toe ’n enjin op 11 April tydens daling onklaar geraak het. China het vroeër gedurende 2019 ’n mylpaal bereik toe sy Chang’e 4-vaartuig op 3 Januarie die eerste vaartuig – sover dit bekend is – geword om op die maan se “donker kant” te land. Omdat die donker kant altyd van die aarde weggedraai is, maak die vaartuig daarop staat en is dit noodsaaklik dat ’n maanomwentelende satelliet inligting aan die wetenskaplikes van die Chinese se Volksbevrydingsleër (People’s Liberation Army) oordra. Amerika beplan nie om ’n maanomwentelende ruimtestasie te hê tot en met die middel van 2020 nie. Hulle beplan om dan die “Lunar Orbital Platform-Gateway” te lanseer. Dit sal tot vier werkers op ’n slag vir wetenskaplike en militêre sendings huisves.
In Maart 2019 het die Amerikaanse president, Donald Trump, die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie (NASA) versoek om nog ’n bemande maanlanding vir 2024 te beplan – wat die vorige skedule met vier jaar vervroeg het. Die plan het ’n twispunt onder wetgewers geword wat nog nie die bykomende $1,6 miljard aan NASA gegee het nie. Dit is die bedrag wat NASA se hoof, James Bridenstine, gesê het, in 2020 nodig sal wees om op datum te bly met die beplanning van president Trump se doelwit. Dié afjak het die bestuurder van die sending, Mark Sirangelo, genoodsaak om te bedank. (“Moon mission leader leaves NASA after 45 days,” UPI, 24 Mei 2019). Is die plan te ambisieus? Geen ander nasie het planne vir so ’n landing voor 2030 nie, hoewel Rusland hoop om teen 2025 ruimtevaarders in ’n maanwentelbaan te stuur voordat hulle ’n maanlanding-sending in die 2030’s van stapel stuur. China en Japan beplan ook bemande landings voor 2040. Ten minste vir nog ’n rukkie sal V.S. ruimtevaarders die enigstes bly wat tot dusver hulle voete op die maan gesit het.
Vordering teen ’n prys
Ruimtevaart lyk dalk glansryk, maar die Apollo 11-bemanning het geweet dat hulle sending baie gevaarlik sou wees. Soos John Young, Apollo 10 se vlieënier en Apollo 16 se maan-wandelaar later sou opmerk: “Enigeen wat bo-op die grootste waterstof-suurstof-aangedrewe stelsel in die wêreld sit, met die wete dat die onderkant aan die brand gesteek gaan word en nie ’n bietjie bekommerd raak nie, begryp nie die situasie ten volle nie”. John Glenn, wat sy Friendship 7 ruimtetuig geloods het wat in Februarie 1962 NASA se eerste Aardomwentelende sending voltooi het, het na bewering droogweg opgemerk: “Ek het gevoel presies soos ’n mens sou voel wanneer mens gereed maak om gelanseer te word en besef dat hy bo-op 2 miljoen dele sit wat alles gebou is deur die laagste tenderaar op ’n regeringskontrak”. NASA het wel omvattende veiligheidsmaatreëls geïmplementeer, maar dit was nogtans gevaarlik. Die Apollo 11-bemanning het geweet dat drie Apollo 1 ruimtevaarders tydens toetse in ’n rampspoedige vuur gesterf het, toe hulle nie die deurluik in hulle bevelmodule kon bereik nie. Drie ander NASA ruimtevaarders het gesterf in straalvliegtuie tydens opleiding. Hierdie dapper manne was deeglik bewus van die gevare wat hulle in die gesig gestaar het.
Die ruimteprogram het verseker die tempo van wetenskaplike en ingenieurs-innovasie versnel. Die geïntegreerde stroombaan – die hart van vandag se mikrorekenaars, wat noodsaaklik is vir baie elektroniese verbruikerstoestelle, was gepatenteer twee jaar voor president Kennedy se oproep tot aksie. NASA se behoeftes het ingenieurs egter aangespoor tot nuwe prestasies ten opsigte van miniaturisasie en doeltreffendheid en die Apollo Guidance Computer was die eerste rekenaar om geïntegreerde stroombane in sy ontwerp te gebruik. Vandag se selfone is baie kragtiger as wat Apollo 11 se rekenaar was. Dit het sy doel gedien met net 2 kilobytes lees-skryf geheue en 36 kilobytes lees alleen geheue om die programme te stoor waarop die ruimtevaarders staatgemaak het vir navigasie- en vlugbegeleiding en selfs vir opstyg en landing. Hierdie “state-of-the-art” rekenaar het die meeste van Apollo 11 se loodsing gedoen – met die noemenswaardige uitsondering van Armstrong se spanningsvolle maanlanding.
Ons behoort egter realisties te wees met betrekking tot president Kennedy se motivering om ’n bemande maanlanding aan te spoor. Soos mnr. Gerald Weston, hoofredakteur van die Wêreld van Môre, in die vorige uitgawe van hierdie tydskrif aangedui het, daar is ’n ontnugterende kant van die ruimte-wedloop en ons mag selfs besef dat ...
... ruimteverkenning ons wêreld gevaarliker gemaak het. Van die begin af was militêre belange verstrengel met die verkenning van ons omgewing. Die rolprent Sputnik was oulik, maar bevat nie die hele storie van waaroor satelliete handel nie. Die publiek was betower deur maan-wandelings en mikro-swaartekrag, maar agter dit alles was militêre eksperimente en sendings ... Om na die maan te gaan het die aandag van die publiek vasgevang, maar om die strategiese hoë vlak te bereik was die spel wat gespeel is tussen die Sowjet-Unie en die Verenigde State (“Vir watter rede?” Wêreld van Môre, Mei-Junie 2020, bl. 16).
Was dit nie vir Amerika se begeerte om die Sowjet-Unie ’n nederlaag toe te dien en die Koue Oorlog te wen nie, sou president Kennedy waarskynlik glad nie sy uitdaging gerig het nie.
Vir die mensdom of vir militêre oppergesag?
Vyftig jaar nadat Armstrong ’n Amerikaanse vlag op die maan se oppervlak geplant het, is nasionalisme nog steeds die dryfkrag agter die ruimtewedloop. In Maart 2019 het die V.S. se visepresident, Mike Pence, verklaar dat “die eerste vrou en die volgende man op die maan albei Amerikaanse ruimtevaarders sal wees, wat deur Amerikaanse vuurpyle vanaf Amerikaanse grondgebied gelanseer sal word” (“Pence calls for human return to the moon by 2024,” SpaceNews.com, 26 Maart 2019).
In Desember 2018 het die V.S. president, Donald Trump, ’n uitvoerende bevel onderteken wat ’n voorlopige stap was vir die vestiging van ’n nuwe “Ruimtemag”-tak van die V.S. Weermag. Ter erkenning van die groeiende belangrikheid van die buitenste ruimte vir die aarde se militêre magte, het die bevelvoerder van die V.S. Strategiese Beheer, John Hyten, in April 2019 aan ’n senaatskomitee gesê: “Die buitenste ruimte is fundamenteel vir ons ekonomiese groeikrag en die Amerikaanse lewenswyse, met inbegrip van hoe ons oorlogstrategie aanvoer. Natuurlik verstaan ons teëstanders dit nie en hulle is aktief besig om wapens te bou en te ontplooi om ons in die ruimte te bedreig. Ons moet hierdie aksies ernstig opneem”.
Die Chang’e 4-landing wat in Januarie 2019 plaasgevind het, het bekommernis laat ontstaan dat, deur hulle bedrywighede op die maan se “donker kant”, China wapens en ander tegnologieë onopgemerk kan versamel, in stryd met internasionale verdrae. Tog is sommige mense optimisties. “Die Chinese gaan nie begin om ons vanaf ’n militêre buitepos op die maan met maanrotse te gooi nie”, het die Heritage Foundation se geleerde, Dean Cheng, gesê. (“China’s moon landing boosts Trump’s Space Force”, Washington Times, 9 Januarie 2019). Ander lande is bekommerd dat China en Rusland reeds die V.S. intelligensie- en kommunikasiesatelliete kan teiken. “Dit is daardie bates waarvan ons gebruik maak vir kommunikasie en verkenning en projektielwaarskuwing en posisionering, tydsberekening en navigasie – ’n hele klomp aspekte wat ons vir oorlogvoering gebruik”, het die V.S. Departement van Verdediging se ondersekretaris, Michael Griffin, gesê (ibid.).
Kongreslid Michael Waltz (R-FL) het onlangs aan ’n onderhoudvoerder gesê,
Die 21ste-eeu se ruimte wedloop is aan die gang ... Die maan gaan die middelpunt hiervan wees. Die Israeli’s het so pas gelanseer, die Indiërs beplan om na die maan te lanseer, die Chinese het dit sopas na die agterkant van die maan gedoen. Dit is altyd die moeite werd om te onthou dat die Chinese nie ’n burgerlike NASA-verkennings-komponent het nie. Dit is suiwer militaristies ... Dit is dus ’n gebied waar dit nodig is dat ons mededingend sal wees en leierskap sal behou (“The 21st Century Space Race Is On”, ForeignPolicy.com, 10 April 2019).
Vandag aanvaar ons byna as vanselfsprekend dat ruimte-satelliete bestaan en die voordele daaraan verbonde. Of dit wentelende teleskope, kommunikasie-satelliete of navorsingsplatforms is, die mensdom het die lugruim met tegnologiese wonders gevul. Hoeveel is daar? “Sedert 2018 is reeds meer as 1,800 aktiewe satelliete in wentelbane, wat besit en bedryf word deur meer as 50 lande en multi-nasionale organisasies. Nege lande en een internasionale organisasie kan ruimte-vaartuie onafhanklik lanseer: China, Indië, Iran, Israel, Japan, Rusland, Noord-Korea, Suid-Korea, die Verenigde State en die Europese Ruimte-agentskap” (“Challenges to Security in Space,” V.S. Defense Intelligence Agency, Februarie 2019, bl. 7). ’n Potensiële maan-gebaseerde bedreiging vanaf China of enige ander nasie kan die veiligheid en handel van die V.S. verwoes en die nasie veral kwesbaar laat wat betref ekonomiese en militêre verowering.
’n Inval vanuit die ruimte?
Wat gebeur egter as ’n bedreiging nie van Rusland of China kom nie, maar vanaf verder in die ruimte? Dr. Stephen Hawking, die Universiteit van Cambridge se voormalige astrofisikus, was bekommerd oor presies hierdie scenario. Let op hierdie nuusberig:
Die ruimtewesens is daar buite en die aarde beter op sy hoede wees, ten minste volgens Stephen Hawking. Hy het beweer dat buite-aardse wesens byna verseker bestaan, maar in plaas daarvan om hulle op te soek, behoort die mensdom alles moontlik te doen om kontak te vermy. Hy bespiegel dat ruimtewesens die aarde eenvoudig net vir sy hulpbronne kan aanval en dan sal voortbeweeg ... Hy kom tot die gevolgtrekking dat om te probeer om kontak te maak met buite-ruimtelike wesens, “’n bietjie te riskant is”. Hy het gesê: “Indien ruimtewesens ons ooit besoek, dink ek die uitkoms sal omtrent wees soos toe Christopher Columbus die eerste keer in Amerika voet aan wal gesit het, wat nie baie goed vir die inheemse Amerikaners uitgedraai het nie”. (“Don’t talk to aliens, warns Stephen Hawking,” The London Sunday Times, 25 April 2010).
Dit kan herinnerings oproep van die 1996 wetenskap-fiksie rolprent, Independence Day of die bekende Twilight Zone-episode “To Serve Man”. Indien die mensdom ruimtewesens sou ontmoet, sal baie mense verwag dat hierdie wesens vyande sal wees soos in die ou televisiereeks V, nie die sagmoedige en wyse weldoeners van 1977 se Close Encounters of the Third Kind nie.
Het u al gedink oor hoe die wêreld op Jesus Christus se Wederkoms sal reageer? Aanvanklik sal nie almal Hom as hulle Verlosser aanvaar nie. Sommige mense sal mislei word en vrees dat Hy ’n indringer is wat gekom het om hulle van hulle vryheid en mag te ontneem. Kan u u voorstel hoe die wêreld se gesamentlike militêre magte almal teen Christus losgelaat sal word, terwyl Hy uit die hemel neerdaal? Ja, die leërs van rebelse nasies sal teen die Messias veg wanneer Hy weer kom! Die skrikwekkende hemelse tekens waarvan u Bybel ons vertel, wat Sy Wederkoms sal voorafgaan, sal nog vars in hulle geheue wees. Onder hierdie tekens lees ons: “Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Handelinge 2:20). Het u enige van die “bloedmane” gesien wat met vier maansverduisterings gepaard gegaan het in 2018 en 2019? Alhoewel opvallend en ontsagwekkend, is dit ’n herhalende astronomiese verskynsel en is slegs ’n voorsmakie van die hemelse tekens wat nog gaan kom wanneer God direk in die hemele ingryp.
Dit is uit daardie hemele dat Jesus Christus uiteindelik sal terugkeer. U Bybel beskryf die toneel:
“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.
En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).
Wie is die “leërs in die hemel”? Hulle sal die “eerstelinge” insluit – vandag se getroue Christene wat by die eerste opstanding tot onsterflike geestelike lewe opgewek sal word! Wat sal die uitslag van daardie stryd wees? Ons lees: “En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ’n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot” (verse 17-18)
Jesus Christus sal die finale oorlog aan die einde van hierdie tydperk wen en die oorlewende massas van die mensdom oorwin wat sal saamspan om hulle teen Hom te verset. Ons lees van hulle nederlaag:
“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (verse 19-21).
Die seëvierende Vredevors sal terugkeer om Sy regering te vestig en oor alle nasies te heers. Hy sal elke mens wat nog ooit geleef het ’n geleentheid gee om Sy ware leerstellings te hoor en te beoefen en om Christus as Here en Verlosser te aanvaar en die Heilige Gees te ontvang! Daarna sal nog ’n verstommende verskynsel plaasvind wanneer God se eie Nuwe Jerusalem uit die hemel na die aarde sal neerdaal. Die apostel Johannes beskryf die konteks: “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; ... En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel” Openbaring 21:1-2). Die Nuwe Jerusalem sal met die glorie van Sy Heerser skyn. “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (vers 23). Kan u u voorstel hoe dit sal wees?
Na die maan ... en verder!
Ironies genoeg, was die 50ste herdenking van Apollo 11 se maanlanding geskeduleer en het ons ’n ander V.S. ruimtevaarder in die ruimte gesien, maar hy het dit in ’n Russiese Soyuz-ruimtetuig gedoen wat bestem was vir die Internasionale Ruimtestasie! Die Weermag se chirurg Andrew Morgan het nege maande aan boord van die ISS deurgebring; dit was sy eerste reis in die ruimte, maar hy hoop dat dit nie sy laaste een sal wees nie. Morgan is optimisties oor die doelwitte wat president Trump en NASA gestel het. Hy het gesê: “Om oor vyf jaar na die maan se oppervlak terug te keer, is ’n ambisieuse doelwit. Ek weet dit is een wat ons kan bereik”. (“Army astronaut set to blast off on moon landing 50th anniversary,” Stars and Stripes, 22 April 2019).
Van die twaalf mense wat voet op die maan gesit het, leef nog net vier. Apollo 11 se Edwin “Buzz” Aldrin was die oudste oorlewende maan-wandelaar op die ouderdom van 89 in 2019; Harrison Schmitt (84 jaar op 3 Julie 2019) is die laaste oorlewende van Apollo 17, die laaste bemande maansending. Die vier maan-wandelaars wat nog in 2019 geleef het mag dalk almal al gesterf het teen die tyd dat ’n ander mens sy voete op die maan sit.
Alhoewel NASA onlangs planne aangekondig het om in 2024 na die maan terug te keer, waarom was daar in die afgelope 48 jaar geen ander bemande maan-sendings nie? Sommige skeptici neem dit as bewys dat die Apollo-landings ’n bedrogspul was. Nie-regeringsinstansies het egter suksesvol laserlig terug weerkaats vanaf die weerkaatsers wat na bewering deur die Apollo sendings op die maan geplaas is. Dit is dus duidelik dat iemand dit daar geplaas en noukeurig ingestel het! In 2008 het Japan se SELENE maanpeiler fotografiese bewyse van grond teruggestuur wat op die Apollo 15-landingsplek, deur die maanmodule se ontploffingstowwe, versteur is. Amptenare van die Chinese en Indiese ruimteprogramme – mededingers wat daarby sou kon baat vind, indien valse V.S. aansprake ontmasker word – rapporteer ook bewyse van grondstoornisse op die maan se oppervlak wat NASA se vroeëre teenwoordigheid bevestig.
Tog bly sommige mense skepties. Moontlik sal hulle nie die maanlandings aanvaar totdat hulle dit nie self kan sien nie. Wat van u? Wil u die maan – en verder – van naderby met u eie oë sien? Die wonderlike waarheid is dat vandag se Christene voorberei word om die maan te beërf en nog baie meer! In antieke tye het God aan Sy volk hierdie belofte gegee: “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:7). In die Nuwe Testament lees ons: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Wat bedoel God met “alle dinge”? Let op hoe die Weymouth-weergawe Hebreërs 2:8 vertaal, wat weer Psalm 8 aanhaal: [direk in Afrikaan vertaal] “’U het alles onder sy voete gestel.’ Want hierdie onderwerping van die heelal aan die mens impliseer dat Hy niks uitlaat het wat nie aan hom onderworpe is nie. Maar ons sien nog nie dat die heelal aan hom onderwerp is nie.” Dis verbasend, maar die Griekse frase ta panta wat dikwels in ons Afrikaanse Bybelvertalings voorkom as “alles” of “alle dinge”, openbaar dat wanneer vandag se Christene geestelik gebore sal word in die Gesin van God, as die eerstelinge, hulle erfenis niks sal uitsluit nie. Die hele heelal sal ons s’n wees om te verken, te waardeer en selfs te verfraai op maniere wat ons ons nou nog nie kan indink nie!
Net nie nou al nie! Vandag se Christene is erfgename wat wag om ’n groot erfenis te ontvang. “Luister, my geliefde broeders – het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5). Hoe berei ons voor vir daardie erfenis? Nie deur sterrekundiges of ruimtevaarders te word nie, alhoewel dit wonderlike strewes kan wees. In plaas daarvan berei ons voor deur te leer om God lief te hê. Selfs die armes van hierdie wêreld word voorberei om die heelal te beërf indien hulle leer om God lief te hê. Hoe leer ons om God lief te hê? “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).
Nee, God se Gebooie is nie swaar nie! Christene wat hulle van hulle sondes bekeer, die ware doop aanvaar en die Heilige Gees ontvang, het die inwonende krag om hulle te help om God te gehoorsaam en geniet vandag ’n voorsmakie van wat die res van die mensdom eers in die toekoms sal beleef. Indien u voel dat God u dalk roep, wil ek by u aanspoor om een van ons Wêreld van Môre-verteenwoordigers te kontak by u naaste streekkantoor, soos verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Hulle sal u vrae graag beantwoord of u op u versoek selfs ontmoet.
Het die ervaring om op die maan te loop, die lewens van die mans verander wat daarheen gegaan het? Hulle reis was sonder twyfel ’n ontsagwekkende en verootmoedigende ervaring wat aan hulle ’n nuwe perspektief op die lewe gegee het. Dit was egter ’n kort ervaring voordat hulle weer na die aarde en al sy probleme teruggekeer het. Indien u egter ’n dissipel van Jesus Christus is, berei God u nou voor om ’n “reuse sprong” te neem wat veel meer as die aarde en meer as die maan sal insluit. Hy berei u voor om die heelal te beërwe!