Hoewel die Shariawet as streng en hardvogtig beskryf word, verkies baie Moslems regoor die wêreld hierdie wet. Waarom? Hulle motiverings sal u verbaas.
In verslae uit baie lande waar Moslems in die meerderheid is word berig van streng strawwe wat opgelê word vir die oortreding van die Shariawet. Dit is ’n samestelling van godsdienswette wat dikwels in die burgerregte wet van Moslem-samelewings opgeneem word. Die hewigheid van die straf verskil baie van land tot land maar in sommige nasies kan dit lyfstraf of steniging wees of ’n hand wat afgekap word. Selfs die ligter strawwe vir kriminele aktiwiteite lyk dikwels streng vir Westerse waarnemers. Afhangende van die land, kan die Shariafamiliewet gereëlde huwelike van jong meisies toelaat en die regte van vroue ernstig inperk.
Word sulke wette op hierdie samelewings afgedwing – teen die wil van die mense – onderwerp die mense hulle moontlik gewilliglik aan hierdie maatreëls? Dit mag dalk moeilik wees vir iemand in ’n Westerse liberale demokrasie om dit te begryp maar baie mense in Moslem-samelewings is groot ondersteuners van die Sharia regstelsel. Die toonaangewende Pew Research Center for Religion and Public Life het ’n omvattende studie gedoen wat die hoë persentasie mense aandui in verskeie Moslemlande wat ten gunste is daarvan dat die Shariawet amptelik gemaak word in hulle nasies. Hierdie studie het meer as 38,000 aangesig-tot-aangesig-onderhoude in meer as 80 tale behels, met Moslems in Europa, Asië, die Midde-Ooste en Afrika. Selfs in Westerse demokrasieë wil Moslem-enklaves soms die Shariawet in hulle Islamitiese gebiede toepas.
In die verslag van die Pew Research Center word gesê: “Oorweldigende persentasies Moslems in baie lande wil Islamitiese wet [Sharia] as die amptelike wet van die land hê”. Ons behoort daarop te let dat baie ondersteuners van Sharia sê dat dit net van toepassing behoort te wees op hulle land se Moslem-bevolking.
Die persentasie Moslems wat sê dat hulle Sharia wil hê as “die amptelike wet van die land”, wissel wêreldwyd – van byna eenstemmigheid in Afghanistan (99%) tot minder as een-uit-tien in Aserbeidjan (8%). Stewige meerderhede in meeste van die lande, wat strek oor die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Afrika suid van die Sahara, Suid-Asië en Suidoos-Asië, is ten gunste van die vestiging van Sharia. Dit sluit in, 71% van die Moslems in Nigerië, 72% in Indonesië, 74% in Egipte en 89% in die Palestynse gebiede. In die studie word egter ook opgemerk dat daar in die meeste lande wat ondervra is, aansienlik minder steun was vir ernstige strawwe, soos om die hande van diewe af te kap of om mense tereg te stel wat van Islam na ’n ander geloof verander. (The World’s Muslims: Religion, Politics and Society, bl. 9, 30 April 2013).
Afgesien daarvan dat hierdie opname daarop dui dat baie Moslems ten gunste van ’n demokratiese volksregering is, eerder as ’n outoritêre staatsregering, toon dit ook dat hulle ’n demokratiese samelewing verkies wat deur Shariawetgewing beheer word.
In die Weste vra mense: “Waarom Sharia?” Waarom sou so ’n oorweldigende hoeveelheid Moslemlande, die Shariaregstelsel vir hulle land verkies? Baie mense in Islam antwoord luidkeels maar dit lyk nie of die Weste hoor nie.
Sayyid Qutb, Jahiliyyah en morele chaos
Die meeste mense in die Weste het nog nooit gehoor van die Egiptiese geleerde met die naam, Sayyid Qutb (foneties, syjid ku-teb) nie, maar hy word allerweë beskou as die vader van moderne radikale Islam. Hy was ’n vroeë en hoogs invloedryke lid van die Moslem-Broederskap en is in 1966 in Egipte tereggestel omdat hy teen die Egiptiese regering saamgesweer het. Qutb was ook ’n produktiewe skrywer en ’n voorstander van gewelddadige djihad [heilige oorlog] om ’n Islamitiese staat te vestig. Hy het jare lank in die Verenigde State studeer en gereis en was vies oor wat hy beskou het as morele laksheid en materialisme. Hierdie ondervinding het sy latere geskrifte wat baie krities oor die Weste was beïnvloed. Vir Qutb was die Shariawet nie net noodsaaklik vir die aanbidding van Allah nie, maar dit was ook ’n magtige wapen wat die Weste se morele permissiwiteit kon teenstaan en weerstaan.
Qutb en ander skrywers het die term jahiliyyah (jah-he-lee-ah) gebruik om te verwys na die morele chaos en verdorwenheid van die heidense wêreld soos wat dit was voor die koms van Islam en Islamitiese wet in die 7de eeu n.C. Qutb en ander Islamitiese denkers het ook volgehou dat jahiliyyah weer te voorskyn gekom het in die morele chaos van die Westerse sekulêre samelewing as gevolg van ’n gebrek aan Shariawet. Hulle het geglo dat slegs deur Shariawet, Moslems die morele chaos van Westerse sekularisme kan bestry. Qutb se geskrifte het die ontwikkeling van radikale Islamitiese sienings in die moderne tyd sterk beïnvloed.
Sayyid Qutb het hierdie idees van ’n vroeë Moslem-intellektueel, Abu’l-Hassan ‘Ali Nadwi, bekom. ’n Akademiese studie beskryf sy invloed op Qutb:
Die term wat Nadwi verkies vir onderwerping aan valse gode en vir die morele verdorwenheid en chaos wat noodwendig daaruit voortspruit, is jahiliyyah ... Nadwi gebruik hierdie term in ’n baie breër sin wanneer hy verwys na pre-Islamitiese kulture en beskawings in die algemeen. Hy gebruik dit vir moderne, Westerse kulture, wat hy beskou as deurtrek met materialisme, goddelose ideologieë en seksuele losbandigheid. Nog opvallender is dat hy die hedendaagse Moslems beskou as mense wat teruggeval het in ’n nuwe jahiliyyah, wat verwerplik is, nie net vir die morele chaos wat dit tot gevolg het nie, maar ook omdat dit in werklikheid die verwerping van Islam sélf aandui (Princeton Readings in Islamist Thought, bl. 108, klem bygevoeg).
Vinnig veranderende morele waardes
Alhoewel die Westerse wêreldlike samelewing sy demokratiese politieke tradisie behou het, het dit sy morele grondslag verloor. Dit bou nou sy moraliteit op die dryfsand van menslike redenasie eerder as op die absolutes van die Joods-Christelike etiek wat vroeër die Westerse siening van reg en verkeerd help vorm het. Dus is enigiets aanvaarbaar. Die Moslem-wêreld kyk na die moderne Westerse kultuur en sien hoe geniet hulle aanskoue van geweld in flieks, die feitlike verwerping van seksuele grense, grafiese uitbeeldings van seksualiteit in pornografie en selfs in hoofstroom vermaak, geslagsverwarring en chaos, asook die bespotting van tradisionele gesinstrukture. Die moraliteit wat eens die Westerse openbare lewe beheer het, word opsy geskuif en selfs bespot. Christofobie – die vrees of afkeur van Christelike geloof of invloed – word openlik uitgespreek deur openbare amptenare en akademici. Ortodokse Christelikheid word nou bespot in blatante openbare vertoon van partydigheid. Hierdie aksies word begroet met hoegenaamd geen openbare afkeuring nie. Indien u saamstem met hierdie veranderings of nie, dit is moeilik om die spoed en omvang daarvan te ontken.
Goddelike Wet is God se openbaring van reg en verkeerd en die Bybel waarsku: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy” (Spreuke 29:18). Wanneer daar afstand gedoen word van die Bybelse morele erfenis ten gunste van ’n “enigiets is toelaatbaar” sekulêre moraliteit, het die Westerse samelewing “bandeloos” geword.
Die Moslem-wêreld is besig om dit dop te hou.
Baie mense in die Weste beskou moraliteit nou as niks anders nie as ’n “sosiale konsep”. Wêreldse mense beweer dat “’n mens nie moraliteit met wetgewing kan beheer nie”, maar op die een of ander manier weerspieël burgerlike wette tog die samelewing se siening van reg en verkeerd. Indien ons byvoorbeeld dink dat dit verkeerd is om banke te beroof, maak ons ’n wet daarteen. Dus, in ’n belangrike sin, word moraliteit in wetgewing vervat. Dit gaan nie oor die vraag of ons moraliteit met wetgewing kan beheer nie, maar dit is eerder ’n vraag van wié se moraliteit ons in wetgewing gaan beheer. Die poging om hierdie vraag te beantwoord, word die “kultuuroorlog” genoem en die Joods-Christelike moraliteit in die Weste is vinnig besig om ten gronde te gaan. Die Moslem-wêreld kyk toe en vrees dat Islam die volgende is – net soos Qutb gesê het, dit die geval sal wees. Vir Islam is die morele chaos – die jahiliyyah – van die Weste vandag baie erger as toe Qutb in die 1950’s en 1960’s geskryf het.
Die verslag van die Pew Research Center verklaar:
“Alhoewel baie Moslems Westerse Pop-kultuur geniet, is ’n duidelike meerderheid in meeste van die lande waar meningspeilings gedoen is, van mening dat Westerse vermaak, moraliteit in hulle land benadeel. Dit is nie net Moslems wat persoonlik nié van Westerse musiek, flieks en televisie hou wat so voel nie. In vier van die ses streke sê die gemiddelde van minstens die helfte van diegene wat beweer dat hulle hierdie soort vermaak geniet, ook dat Westerse kultuur-invoere, moraliteit ondermyn: Afrika suid van die Sahara (65%), Suid-Asië (59%), Suidoos-Asië (51%) en die Midde-Ooste/Noord-Afrika-streek (51%)” (The World’s Muslims: Religion, Politics and Society, bl. 9, 30 April 2013).
Waarom kies baie van hulle dus Sharia? Een belangrike rede is dat dit ’n maatskaplike beskerming teen die Westerse wêreldlikheid se morele chaos bied. Die Islamitiese wêreld verkondig hierdie antwoord luidkeels aan die Weste maar die Westerse wêreld hoor dit nie! Die Weste stel glad nie belang om van koers te verander of sy morele mislukkings te erken nie. Baie Westerse beleidmakers het die vermetelheid om te dink dat die oplossing vir Islamitiese radikalisme daarin lê om geleidelik hulle eie sekulêre waardes in Moslem-samelewings in te stel. Om egter te probeer om Islamitiese radikalisme in Moslem-samelewings te temper deur Westerse sekulêre waardes te bevorder, is om olie op die vuur te gooi. Die morele chaos wat hulle sien en wat uit daardie waardes voortspruit – Sayyid Qutb se moderne jahiliyyah – is waarvoor Moslems vlug. Hulle neem hulle toevlug na Sharia.
Westerse sekulêre imperialisme?
Die Westerse wêreld kyk na Islamitiese terrorisme en djihad en sien Islamitiese imperialisme. Islam kyk na die verspreiding van Westerse morele waardes en sien Westerse wêreldse imperialisme – nie in die onverbiddelike mag van militêre of politieke oorheersing nie, maar in die subtiele mag van media-oorheersing wat kulturele verandering voortdryf. Emmanual Sivan, ’n geskiedkundige en deskundige op die gebied van Islam, wys daarop dat elektroniese media, in die Moslem-wêreld vurig veroordeel word weens die insypelende aard daarvan. Hy skryf dat Moslems “die Westerse gif” ontdek van onsedelikheid wat hulle gewilde liedjies onopgemerk infiltreer. Hierdie liedjies moedig losbandige moraliteit en onmiddellike bevrediging asook liefde en lewe en plesier bo enigiets anders aan Dit is heeltemal sonder inagneming van godsdienstige geloof of straf en beloning in die hiernamaals wat in lynregte teenstelling met Arabiese en Islamitiese konsepte is” (Radical Islam: Medieval Theology and Modern Politics, bll. 3-4).
Die Christendom se ooreenstemmende besorgdheid
Soortgelyke magte is aan die werk in die wêreld van die belydende Christendom. Sommige mense in die Christendom het probeer om hulleself met die vinnig veranderende morele landskap van die Westerse samelewing te versoen en het die ou Joods-Christelike beginsels in die proses opgeoffer. Ander mense weerstaan die wêreldse magte en hou vas aan hulle onveranderbare beginsels.
Sal dwangmaatreëls sekulêre sosiale manipulasie, die belydende Christene dryf om godsdienstige toevlug te soek, soos sekulêre imperialisme aan Moslems gedoen het? Tendense in die onderwys is belangrike aanwysers.
Aangesien daar ’n waarneembare vyandigheid teenoor geloof in openbare onderwys en populêre kultuur is, floreer openbare privaatskole in die Verenigde State en tuisonderrig is ’n toenemende verskynsel. ’n Verslag van die Nasionale Sentrum vir Onderwys statistiek het in 2013 bevind dat 1,770,000 kinders in die VSA tuisonderrig ontvang teenoor 850,000 in 1999. Tuisonderrig neem vinnig toe onder minderjariges. In ’n opname het 77% van die ouers gesê dat morele voorskrifte ’n belangrike faktor in hulle besluit was om tuisonderrig te doen.
Wat privaatskole betref, het The Wall Street Journal berig: “Gedurende die 2014-2015 skooljaar het 500 nuwe openbare privaatskole landwyd geopen, met ’n totaal van 6,700 skole waar sowat 2,9 miljoen studente ingeskryf het, volgens die National Alliance for Public Charter Schools” (“Charter-School Movement Grows – for Real-Estate Investors”, WSJ.com, 13 Oktober 2015). Dit is nie noodwendig ’n “massa-uittog” uit die openbare skoolstelsel nie, maar dit dui daarop dat ’n toenemende aantal ouers baie bekommerd is oor die openbare skoolomgewing – moontlik oor die samelewing as geheel en hulle word gedwing om stappe te neem. Inskrywings by godsdienstige en wêreldse privaatskole neem toe namate ouers “daadwerklik optree”.
Sommige mense dink dat hierdie besorgdheid van moderne ouers ’n antieke voorbeeld navolg. In die 6de eeu n.C. het ’n geleerde Italiaanse man, Benedictus van Nursië, op sy dag die morele agteruitgang van Rome onaanvaarbaar gevind. Gevolglik het hy ’n klooster asook ’n beweging gestig wat gehelp het om die besondere deugde van die Christendom déúr die chaos van die donker Middeleeue te bewaar. In die New York Times se top verkoper, The Benedict Option: A Strategy for Christians in a Post-Christian Nation, beskryf skrywer Rod Dreher, ’n na-Christelike wêreld waarin moraliteit en waardes wat lank met Christelikheid vereenselwig was, aangeval en as minder belangrik beskou is en diegene wat sodanige waardes onderskryf word gedwing om ’n toevlugsoord te vind in veilige gemeenskappe waar tradisionele deugde in stand gehou kan word. Hy en andere sien ’n wêreld wat ’n tweede, geestelike Donker Eeue betree. Dreher se oplossings sluit ’n herinstelling van Evangeliese Christelikheid in die liturgie en tradisionele onderwys van die Ortodokse en Katolieke Kerke in met ’n onderliggende motief – ’n eenvoudige oproep deur die “moederkerk” na sy dogter-denominasies. In die New York Times het Dawid Brooks, Dreher se werk “die mees bespreekte en belangrikste godsdienstige boek van die dekade” genoem. Baie belydende Christene oorweeg oorlewingstrategieë vir hulle geloof en waardes en die “Benedictus opsie” is besig om ’n beweging te word.
Alasdair MacIntyre is ’n prominente Skotse morele filosoof en akademikus wie se geskrifte baie invloedryk in die bekendstelling van die idees was wat Dreher in die Benedictus opsie ontwikkel het. Hier is ’n uittreksel uit MacIntyre se boek, After Virtue, wat hierdie siening weerspieël:
Wat op hierdie stadium van belang is, is die samestelling van plaaslike vorms van gemeenskappe waarbinne beleefdheid en die intellektuele en morele lewe in stand gehou kan word deur die nuwe Donker Middeleeue, wat reeds op ons is. Indien die tradisie van hierdie deugde, die gruwels van die laaste donker Middeleeue kon oorleef, is ons nie heeltemal sonder hoop nie. Hierdie keer wag die barbare egter nie op die grense nie – hulle beheer ons reeds vir ’n geruime tyd. Dit is ons gebrek aan bewustheid hiervan wat deel van die haglike toestand is waarin ons ons tans bevind. Ons wag ... vir ’n ander – ongetwyfeld baie ander – St. Benedictus (bl. 263, klem bygevoeg).
Moslems kyk na die Westerse wêreld en sien morele chaos. Al hoe meer belydende Christene in die Weste kom tot dieselfde gevolgtrekking. Die Wêreld van Môre bepleit nie die oplossings wat in die Benedictus opsie voorgestel word nie en verkondig beslis nie die Shariawetgewing nie. Dit is egter opvallend dat die ingrypende morele veranderings in Westerse samelewings albei die Westerse godsdienstige gemeenskappe sowel as Moslem-godsdienstige gemeenskappe aanspoor om radikale alternatiewe te oorweeg. Jesus Christus het gesê: “Waak” (Lukas 21:36) en dit is nodig om hierdie massiewe kulturele ontwikkeling dop te hou!
Selfs in die Weste het Moslems gemeenskappe gevorm waarin hulle sekere aspekte van Shariawetgewing geïmplementeer het, met verskillende mates van aanvaarding of afkeur deur plaaslike en nasionale owerhede. Hulle kom agter, net soos die moderne Christendom, dat die morele deugde van hulle geloof aangeval is deur die waarneembare morele chaos van die wêreldlike kultuur. Baie mense wat ywerig is om hulle waardes teen sekulêre verval te beskerm, soek en vind hulle eie vestings.
Dinamiese magte op die spel
Alasdair MacIntyre maak melding daarvan dat ons “wag ... vir ’n ander – ongetwyfeld baie verskillende – St. Benedictus”. Hoe sou hierdie “baie verskillende Benedictus” daar uitsien?
In Islam beïnvloed die druk van die Westerse wêreldlike kultuur baie Moslems om na Sharia terug te keer en party van hulle neem radikale vorms van Islam aan. Baie mense wat Christus bely, is op soek na hulle eie antwoorde en die geestelike winde van verandering wat deur Islam waai, kan ook deur die Christendom waai. Meer as vyftien jaar gelede het Pous Johannes Paulus II beweer dat die Christendom die identiteit van Europa omskryf. Sal die uitdaging van Islam of ’n onbeheerde sekulêre moraliteit, ’n herhaling van die “Christelike” identiteit op Europa afdwing wat deur ’n baie charismatiese godsdienstige figuur gelei word? So ’n persoon mag al gereed en besig wees om voor te berei om op die wêreldtoneel te verskyn. Bybelse profesieë voorspel sulke gebeure en baie mense in Islam wag ook op hulle eie sonderlinge individu.
Deur middel van die internasionale media is ’n onbestendige en ontwikkelende Westerse wêreldlike moraliteit besig om die kulturele waardes regoor die wêreld uit te daag. Moslems neig na Shariawet, nie slegs vir konserwatiewe leerstellige redes nie, maar ook as die groot bewaarder van hulle morele waardes en baie mense, in wat as ortodokse Christelikheid beskou word, soek ook ’n toevlug vir die waardes van hulle geloof. Die morele stelsels van Islam, Christelikheid en Westerse wêreldlikheid, is drie groot magte wat op ’n botsing afstuur!
--------------------------------------------------------
Sayyid Qutb oor Sharia en Islam
Alhoewel die verwerping van Westerse morele waardes ’n belangrike rede vir baie gewone Moslems is om die Sharia aan te neem, is die teologiese redenasie van radikale Islamiete baie dogmaties. In sy gesaghebbende boek, Milestones, wat aanvanklik in Arabies in 1964 gepubliseer is, het Sayyid Qutb geskryf: “Dit lei geen twyfel dat die Shari’ah die beste is nie, want dit kom van God [Allah] en die wette van mense kan nouliks vergelyk word met die wette wat die Skepper gee. Hierdie argument is egter nie die basis van die Islamitiese versoek nie. Die grondslag van die boodskap is dat ’n mens die Shari’ah sonder enige vrae behoort te aanvaar en alle ander wette in enige vorm verwerp. Dit is Islam. Daar is geen ander betekenis van Islam nie” (Qutb, Milestones, bl. 36).
“Die Profeet – vrede is met hom – het dit duidelik gestel dat volgens die Shari’ah, die betekenis van ‘om te gehoorsaam’, is ‘om te aanbid’ ... Hierdie verduideliking ... deur die Profeet ... maak dit duidelik dat gehoorsaamheid aan [nie-Islamitiese] wette en geregtelike uitsprake ’n soort van aanbidding is en enigeen wat daaraan gehoorsaam is, word beskou as nie deel van hierdie [Moslem] godsdiens nie” (bl. 60).
“Dit is juis die aard van Islam om die inisiatief te neem om die menslike wesens regoor die aarde te bevry van gehoorsaamheid aan enigiemand anders as God [Allah]; dus kan dit nie tot enige geografiese of rassegrense beperk word en sodoende die hele mensdom in die geheel aan boosheid, in chaos en in diensbaarheid aan here anders as God [Allah] oorlaat nie” (bl. 73).
--------------------------------------------------------