Skynbaar openbaar wetenskaplikes toenemende bewys daarvan dat ons heelal nie ’n natuurfrats is nie maar eerder ontwerp is. Waarom word hierdie gevolgtrekking nie aanvaar nie?
Die wetenskaplike wêreld het ’n skok gekry om en by die draai van die nuwe millennium, aangesien ontwikkelings in fisika en kosmologie begin bewys het dat ons heelal nie per toeval kon ontstaan het nie. Dit het geblyk dat die basiese konstantes van fisika ontwerp en op mekaar “ingestel” is. Hierdie bevindings was nie maar net ’n blote vermoede nie, maar was eerder op wetenskaplike feite gegrond. Die vraag wat gevra moes word: Is dit moontlik dat ons heelal nie verstaan kan word sonder om te erken dat dit ontwerp is nie? Hierdie vraag het baie wetenskaplikes verwar omdat dit hulle heel basiese aannames uitgedaag het – nie net wat betref die heelal nie, maar ook wat hulleself betref.
Net ses nommers
Wat die wetenskaplike gemeenskap geskud het, kan opgesom word deur te fokus op ’n stel van ses baie belangrike nommers, waarvan sommige baie groot en ander weer baie klein is. Ons heelal word deur hierdie ses nommers beheer – konstantes wat op die oomblik van die “Oerknal” [Big Bang] vasgestel is. Indien enige van hulle net effens verskil het, sou sterre, planete, die elemente self en alle lewensvorms nie kon bestaan nie. Indien hierdie konstantes enigsins anders was, sou ons heelal eenvoudig nie in sy huidige vorm kon bestaan nie. Dit verskyn nie as eenhede van lengte, massa, tyd of temperatuur nie, maar as eenvoudige, onmeetbare nommers wat uit die meet van sulke dinge voortspruit. Weereens, om te beklemtoon, as ’n wetenskaplike feit sou die heelal soos ons dit ken, nie kon bestaan as hierdie konstantes sou wissel of verander met meer as die heel kleinste hoeveelheid nommers nie!
Die situasie is ’n bietjie soos die ou storie van “Gouelokkies”. Nadat sy die huis van die drie bere binnegegaan het en een van die drie bakkies pap geproe het, sê Gouelokkies, “Hierdie pap is te warm!” Daarna proe sy aan die pap uit die tweede bakkie. “Hierdie pap is te koud”. Sy proe dan aan die laaste bakkie pap. “Hierdie pap is net reg”, sê sy gelukkig en eet dit alles op. Ons heelal moes ’n Gouelokkies heelal gewees het – “net reg” – om enigsins iets soos die heelal te wees waarin ons bestaan.
Hierdie feit word baie goed deur sir Martin Rees verduidelik in sy prysenswaardige boek, Just Six Numbers: The Deep Forces That Shape the Universe. Rees was ’n Royal Society Research-professor, is emeritus [afgetrede] professor in Kosmologie en Astrofisika aan die Universiteit van Cambridge en het die titel van Astronomer Royal. Hy is ook lid van die Royal Society, die Verenigde State se Nasionale Akademie vir Wetenskappe en die Russiese Akademie vir Wetenskappe. Hy is goed gekwalifiseer om kommentaar te lewer op die konstantes wat die fisika van die heelal beheer.
Dr. Rees verduidelik hierdie belangrike ses konstantes en hoe hulle werk. “Aan die begin van die een-en-twintigste eeu het ons ses nommers geïdentifiseer wat veral betekenisvol lyk. Twee van hulle het betrekking op die basiese kragte; twee bepaal die grootte en algehele ‘tekstuur’ van ons heelal en of dit vir ewig sal voortduur; en nog twee bepaal die eienskappe van die ruimte self” (Rees, Just Six Numbers, bl. 2). Sedert Just Six Numbers in 1999 gepubliseer is, is ’n aantal soortgelyke konstantes geïdentifiseer. (Lees “’n Heelal spesiaal vir u ontwerp” in die September-Oktober 2019-uitgawe vir meer inligting.)
Die volgende is een van die ses konstantes wat kortliks deur professor Rees beskryf word:
Epsilon [ε], is 0.007 en definieer hoe stewig atoomkerns saambind en hoe al die atome op aarde gemaak is. Die waarde van epsilon beheer die krag wat van die Son af kom en, meer sensitief, hoe sterre waterstof omskakel in al die atome van die periodieke-tabel. Koolstof en suurstof is algemeen en goud en uraan is skaars, as gevolg van wat in die sterre gebeur. As epsilon 0,006 of 0,008 was, sou ons nie kon bestaan het nie (Rees, bl. 2, klem bygevoeg).
Gesamentlik word hierdie ses nommers beskryf as ’n soort “resep” vir ons heelal. Soos professor Rees beklemtoon het, indien enige van hulle net effentjies gewissel het of as hulle nie “fyn op mekaar ingestel” was nie, kon die heelal en lewe soos ons dit ken, nie bestaan het nie. Die kans dat hierdie konstantes almal hulle spesifieke waardes as gevolg van blote toevalligheid kon hê, is uiters klein – amper nul. Daarom moet die bestaan van ’n kosmiese ontwerper oorweeg word. Baie wetenskaplikes verkies egter om ’n ander verduideliking na te streef.
’n Veelal
Indien die wiskundige waarskynlikheid dat ons lewensvatbare, lewensondersteunende heelal toevallig kon ontwikkel byna oneindig klein is, hoe kan enigiemand sy bestaan sonder ’n ontwerper verduidelik? Die enigste manier om dit te doen is om aan te neem dat ’n oneindige aantal heelalle gevorm het en dat ons s’n – deur blote toeval – net die een is wat werk! Indien ons heelal nie bestaan het soos dit tans is nie – redeneer hierdie wetenskaplikes – sou ons nie hier gewees het om dit te weet nie. Dit is nie ’n baie bevredigende antwoord nie.
Hierdie veronderstelling steun “die veelal” (in teenstelling met “die heelal”). Dit is spekulatief en heeltemal net ’n veronderstelling, maar kry nogal baie aandag van wetenskaplikes wat verstaan dat sonder die moontlikheid van ’n soort veelal (en baie verskillende konsepte van ’n veelal is al voorgestel), die enigste logiese gevolgtrekking kan wees dat ons heelal ontwerp is. Die implikasies hiervan sal enorm wees. Sommige wetenskaplikes redeneer dat die wetenskap inderdaad dan die bestaan van God sou bewys!
Weereens verduidelik professor Rees sy siening:
Hierdie ses nommers vorm ’n “resep” vir ’n heelal. Daarbenewens is die resultaat sensitief vir hulle waardes: Indien enigeen van hulle “nie ingestel” sou wees nie, sou daar geen sterre en geen lewe wees nie. Is hierdie instelling net ’n redelose feit, ’n toevalligheid? Is dit dalk die voorsiening van ’n goedhartige Skepper? Ek is van mening dat dit nie een van die twee is nie. ’n Oneindigheid van ander heelalle mag wel bestaan waar die nommers verskil. Die meeste sou doodgebore of nie lewensvatbaar wees nie. Ons kon net ontstaan het (daarom bevind ons ons natuurlik nou hier) in ’n heelal met die “regte” kombinasie (Rees, bl. 4, klem bygevoeg).
Professor Rees gee voorkeur aan hierdie “veelal” siening, maar erken dat “dit eenvoudig niks meer as ’n voorlopige veronderstelling is nie” (Rees bl. 150, klem bygevoeg). Hy het nie sy siening oor hierdie aangeleenthede verander nie. In sy 2018 boek, On the Future, skryf hy oor die veelal-teorie: “Dit is hoogs spekulatief ... maar dit is opwindende wetenskap en dit mag dalk waar wees” (bl. 188, klem bygevoeg).
Hoogs spekulatief? Mag dalk waar wees?
Met ander woorde, hy hoop dat die mens eendag sal bewys dat ons gemaklik in ’n “Gouelokkies-heelal” leef – een wat “net reg” is – omring deur ’n oneindige aantal ander heelalle wat (om dit so te stel) “te warm” óf “té koud” is.
Dr. Rees verduidelik dat een van die reaksies van mense wat met hierdie feite gekonfronteer word, is dat “ons nie sou kon bestaan as hierdie nommers nie op die toepaslike ‘spesiale’ manier gerangskik was nie: Dit is duidelik dat ons hier is, dus is daar niks om oor verbaas te wees nie. Baie wetenskaplikes gebruik hierdie argument, maar dit bly vir my onbevredigend”. (“Just Six Numbers”, bl. 148). Hy is nie al een vir wie dit onbevredigend is nie!
George F.R. Ellis is ’n Templeton-pryswennende kosmoloog, wiskundige en uitmuntende emeritus professor van komplekse stelsels aan Kaapstad se Universiteit. Hy was ook mede-outeur van The Large Scale Structure of Space-Time saam met ’n ander bekende kosmoloog, wyle Stephen Hawking. Wat betref die moontlikheid van ’n veelal, het Ellis opgemerk
... dat geen moontlike sterrekundige waarnemings ooit daardie ander heelalle sal kan sien nie. Die argumente is op sy beste indirek. Selfs indien die veelal sou bestaan, bly die diep geheimenisse van die natuur onverklaarbaar ... Ek is skepties oor hierdie aanname. Ek glo nie dat die bestaan van daardie ander heelalle bewys is of ooit bewys sal kan word nie. Parallelle heelalle mag óf mag nié bestaan nie; die saak is nie bewys nie. Ons sal met daardie onsekerheid moet saamleef. Niks is verkeerd met wetenskaplik gefundeerde filosofiese spekulasie nie en dit is wat veelal-voorstelle is. Ons behoort dit egter te noem vir wat dit is (“Does the Multiverse Really Exist?” Scientific American, Augustus 2011, klem bygevoeg).
Navorsers het nie naastenby ’n antwoord op die veelal vraag nie. In sy nuutste boek sê dr. Rees ook: “Ons mag dalk teen die einde van hierdie eeu in staat wees om te vra of ons in ’n veelal woon of nie en hoe groot die verskeidenheid is wat die samestelling van ‘heelalle’ vertoon” (On the Future, bl. 186, klem bygevoeg). Is dit egter vir die wêreld nodig om te wag tot “die einde van hierdie eeu” om te erken dat daar ’n baie groot waarskynlikheid is dat ons heelal ’n ontwerper het?
Die Kanadese filosoof, John Leslie, het geskryf dat indien hy voor ’n 50-man vuurpeleton staan, hy nie later daar sou wees om te bespiegel oor die feit of elke lid hom gemis het nie, tensy hulle hom almal gemis het! Indien hulle hom almal gemis het en hy die ervaring oorleef het, sou hy natuurlik tot die gevolgtrekking kom dat daar ’n rede was waarom hulle hom gemis het en hy sou dalk die rede daarvoor wou weet. Wanneer ons na ons “fyn ingestelde” heelal kyk, sal ’n rasionele persoon die moontlikheid oorweeg dat dit geskep is. In die lig van die feit dat die alternatief vir ’n ontwerpte heelal – in die woorde van bekende kosmoloë – “wetenskaplik gefundeerde filosofiese spekulasie”, ’n “tentatiewe hipotese” en “nie bewys” is nie, blyk dit irrasioneel te wees om al voor die tyd die idee te verwerp dat ons heelal ontwerp is, soos so baie mense doen. Ironies genoeg, wanneer feite aan hulle voorgehou word wat teenstrydig met hulle persoonlike oortuigings is, kan mense wat hulleself beskou as mense met gesonde verstand, baie irrasioneel wees.
Die olifant in die kamer
.Moderne kosmologie verstaan gewoonlik dat die keuse tussen (1) ’n ontwerpte heelal en (2) ’n veelal van een of ander aard is. Selfs baie wetenskaplikes wat godsdienstige geloof verwerp, erken onwillig dat, tensy definitiewe bewyse van ’n oneindige aantal heelalle gevind word, ons heelal moontlik ’n ontwerper kon gehad hê.
Professor Ellis vervolg: “Voorstanders van die veelal opper een laaste argument: dat daar nie goeie alternatiewe is nie ... indien ons die veelal-teorie prysgee, het ons ’n lewensvatbare alternatief nodig. Hierdie soektog na alternatiewe hang af van watter soort verduideliking ons bereid is om te aanvaar” (“Does the Multiverse Really Exist?” Klem bygevoeg) Baie wetenskaplikes is baie teësinnig om die alternatief te oorweeg dat daar ’n ontwerper van ons heelal was, omdat hulle slegs verduidelikings aanvaar wat heeltemal op die materiële wêreld gebaseer is – verduidelikings wat hulle voel gemeet en getoets kan word. Indien hulle tot die slotsom sou kom dat ons heelal ontwerp is, behoort hulle te vra: “Wie het dit ontwerp?” Die meeste van hulle sou liewer nie vra nie.
Is diegene wat in ’n Skepper glo, irrasioneel?
Mense sê dikwels dat hulle net iets sal glo tot die mate dat hulle bewyse daarvan kan sien. Moontlik het u dit self al gesê. Die stelling is afkomstig uit ’n filosofie wat “bewysleer” (evidentialism) genoem word en wat die oorheersende siening van moderne wetenskap en die algemene onderwysstelsel is. Filosofies gesproke dateer bewysleer (evidentialism) uit die 1700’s en daar is ’n aantal vrae oor presies wat so ’n filosofiese benadering werklik beteken en hoe dit toegepas word. Laat ons egter vir nou hierdie beginsel op die kwessie rakende die heelal/veelal toepas.
Soos vroeër aangedui, is die kans dat ons heelal deur toeval kon ontstaan het, so te sê nul. Die bewyse van ’n kosmiese ontwerp asook van ’n ontwerper, is diepgaande.
Is daar egter werklike proefondervindelike bewyse van ’n veelal? Bewyse wat waargeneem kan word? Daar is niks nie, alhoewel sterrekundiges, fisici en kosmoloë al baie jare lank ywerig daarna soek. Trouens, voorstanders van ’n veelal het nie eens ’n soliede, operasionele teorie daarvoor nie; hulle erken dat die veelal net ’n veronderstelling bly – ’n idee wat nie bewys is nie. Tog glo hoogs-opgeleide mense steeds vas dat ’n veelal bestaan, terwyl hulle die idee van ’n ontwerpte heelal verwerp – ondanks die oorweldigende bewyse vir laasgenoemde.
Wie is dus hier irrasioneel? Die bewyse is grootliks ten gunste van ’n ontwerper.
Indien mens iets kan glo tot die mate dat daar bewyse voor is, het die wetenskap sulke getuienis vir die bestaan van God verskaf of ten minste, vir ’n ontwerper van die heelal?
Rasioneel sal mens moet erken dat sonder ’n stewige, wetenskaplike bewys van ’n veelal, ’n ontwerpte heelal hoogs waarskynlik ’n wetenskaplike moontlikheid is – en inderdaad die primêre alternatief is. Hierdie alternatief het “die olifant in die kamer” geword wat min mense in die wêreld van wetenskap graag wil raaksien. Die meeste van hulle tree op asof dit nie daar is nie.
Laat ons saam redeneer
Kom ons wees rasioneel en oorweeg die moontlikheid dat daar ’n universele ontwerper is. Sou ’n ontwerper sonder ’n rede ontwerp? Sou ’n ontwerper bedoel het dat ons buitengewone blou juweel van lewe – die Aarde – losstaande moes wees van ’n groter ontwerp? Sou hierdie ontwerper opgehou het by “net ses nommers Just six numbers” of is dit moontlik dat komplekse proteïene en DNS ook ontwerp kon wees? Sou ’n ontwerper nie kommunikeer met diegene wat vrae oor die ontwerp sou vra nie?
God openbaar inligting wat ons nie net kan weet deur die fisiese wêreld te ontleed nie. By die Wêreld van Môre verstaan ons dat ons ingelig kan word deur te glo in wat God sê. Die apostel Johannes skryf: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3). Die Bybel openbaar Wie daardie ses nommers vasgestel het.
Die apostel Paulus het reguit met die kritici gepraat toe hy geskryf het “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:19-22). Paulus verduidelik verder: “... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28). Daardie ses konstantes is ontwerp en deur Hom ingestel en selfs in die onwaarskynlike geval dat daar bewyse van ’n veelal gevind word, sou dit nie bewys dat God dit nie geskep het nie.
Wat het die Ontwerper gesê?
Diegene wat skep, doen dit vir ’n rede. Waarheen werk die Skepper van die heelal? Sy Woord antwoord: Die God van Abraham, Isak en Jakob sê aan ons dat Hy die skepping asook die “fyn instelling” daarvan gedoen het en Hy openbaar Sy groot doel vir die skepping en vir die menslike bestaan. Geen kosmoloë, filosowe, teoloë of fisici kan aflei wat God doen nie. God se doelstelling moet geopenbaar word.
Deur die profeet Jesaja plaas God dinge in perspektief. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55: 8-9). Hy het oneindige kennis en wysheid en het vir ewig geleef.
God rig ’n uitdaging aan diegene wat dink dat hulle meer as Hy weet: “Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:8-10).
Wat is die rede?
God openbaar dat Hy ’n plan gehad het vanaf die heel begin van die heelal. Die apostel Paulus verduidelik: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes [Grieks telos – finale resultaat] van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Die finale stadium van God se plan behels in besonder ’n volk wat Hy gedurende hierdie tydperk uitsonder.
Hierdie groot plan is nie iets wat mense wetenskaplik kan waarneem of self kan uitredeneer nie. Hierdie plan is openbarend. Die apostel Matthéüs berig: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 13:34-35).
Wat is hierdie goed bewaarde geheim? Dat God besig is om kinders te skep! Seuns en dogters van God! “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Romeine 8:18-22). Hierdie groot gebeurtenis – die geboorte van die kinders van God – sal plaasvind wanneer Jesus Christus weer kom om Sy Koninkryk op aarde te vestig.
Hierdie onsterflike kinders sal ’n Koninkryk ontvang wat die hele wêreld sal insluit en die seëninge van God se waarheid aan die hele mensdom sal bring. “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 25:34).
Aan die einde van sy boek van 1999, vra professor Martin Rees die groot vraag wat die meeste wetenskaplikes eerder wil vermy. “Is daar ’n oneindigheid van ander heelalle wat ‘sleg ingestel’ en dus nie lewensvatbaar is nie? Is ons ganse heelal ’n ‘oase’ in ’n veelal? of behoort ons ander redes te soek vir die toevallige waardes van ons ses nommers?” (Just Six Numbers, bl. 161, klem bygevoeg).